Wednesday 24 July 2024

Verhoudings: Ma en dogter

'n Ma-en-kind-verhouding is baie spesiaal, maar meer spesiaal is 'n Ma-en-dogter-verhouding. Ek is gelukkig as my dogter gelukkig is. Ons verstaan mekaar - ons lag saam, droom saam, huil saam ... sy is my beste vriendin - maar ek bly nog steeds haar ma!

Ek sien so baie van myself in my dogter, my nuuskierigheid vir die lewe, en daarmee saam die versigtige manier wat ek die lewe verken. Die passie vir die lewe en die entoesiasme waarmee sy alles aanpak. Ek moet erken dit is soms vir my swaar om te sien hoe onafhanklik sy raak. Haar selfstandigheid is baie belangrik. Ek mis die tye toe sy klein was en nêrens sonder my wou gaan nie ... maar ek besef ook al te goed dat sy nou ‘n jong volwassene is wat besig is om haarself te ontdek en wat leer hoe om op haar eie voete te staan. 

In hierdie nuwe fase van ons albei se lewe, het ons verhouding ‘n nuwe dimensie bereik, ek moet die oue koester en onthou en die nuwe omhels. Ek geniet ons diep gesprekke, ons debatte en ons droomgesprekke. Dit is vir my heerlik om te sien hoe passievol sy oor die lewe en haar toekoms is. Drome oor môre glinster in haar bruin oë. My gebed vir haar is dat sy hoër hoogtes bereik as dit waarvan ek gedroom het. Om ‘n ouer te wees is die wonderlikste voorreg, maar dit bly ‘n reuse verantwoordelikheid. 

Ek bid daagliks vir insig en die regte leiding. 

No comments:

Post a Comment