Showing posts with label Advies. Show all posts
Showing posts with label Advies. Show all posts

Thursday, 21 August 2025

Drie minute dinkstorie: Groot wonderwerk vir ‘n klein boetie


Tessa gaan na haar kamer en agter in haar kas, in ‘n donker klein wegsteekhoekie, haal sy haar glas bottel met al haar spaargeldjies uit. Versigtig gooi sy die kleingeld op haar bed uit en begin die geld te tel. Sy tel die geld drie keer oor, om seker te maak dat die totaal korrek is. Sy gooi die munte terug in die glasbottel en draai die skroefdeksel terug. Versigtig plaas sy die glasbottel in haar rugsak en glip ongesiens by die agterdeur uit. Sy stap ses blokke ver om by die groot apteek in die stad uit te kom.

Geduldig wag sy dat die apteker haar help, maar hy was te besig om haar raak te sien. Tessa skuifel haar voete op die teëlvloer om ‘n skuurgeluid te maak, geen reaksie van die apteker nie. Sy maak op die onaardigste wyse keel skoon, maar steeds geen reaksie nie. Uiteindelik neem sy een van die munte uit haar bottel en tik daarmee op die glas toonbank. Die keer werk dit!
“En wat wil jy hê?” vra die apteker ongeduldig terwyl hy die gesprek met sy broer onderbreek wat kom kuier het. “Ek is besig om met my broer te gesels, wat ek jare laas gesien het,” sê die apteker, sonder om op ‘n antwoord te wag op sy vraag aan Tessa.
“Wel, ek wil met jou gesels oor my broer!,” antwoord Tessa in dieselfde geïrriteerde stemtoon as die apteker. “Hy is regtig baie siek ... ek wil ‘n wonderwerk koop vir hom.”
“Verskoon tog, wat sê jy daar kind?” vra die apteker. “Sy naam is Andries, en hy het iets slegs wat in sy kop groei en my pappa sê slegs ‘n wonderwerk sal hom nou kan red. So, hoeveel kos ‘n wonderwerk hier by julle?”
“Ons verkoop nie wonderwerke hier nie, meisie, ek is jammer ek kan jou nie help nie,” antwoord die apteker in ‘n baie sagter stemtoon.
“Oom, ek het geld om daarvoor te betaal. As dit nie genoeg is nie, sal ek die res in die hande kry. Vertel my tog net ... hoeveel kos so ‘n wonderwerk?”
Die apteker se broer, ‘n welgeklede middeljarige man, was ontroerd deur die klein meisie se pleidooi. Hy stap om die toonbank, gaan buk by die meisie en vra: “Watse soort wonderwerk het jou boetie nodig?”
“Ek weet nie,” antwoord Tessa terwyl die trane opwel in haar klein dogtertjie-oë.”Ek weet net hy is regtig baie siek en mamma sê dat hy ‘n operasie sal nodig hê. Maar my pappa kan nie vir die operasie betaal nie, so ek wil my geld gebruik om vir my boetie ‘n wonderwerk te koop.”
“Hoeveel geld het jy by jou?” vra die apteker se broer.
“Tien rand en vyf en vyftig sent,” antwoord sy in ‘n stemmetjie wat skaars hoorbaar is. “En dit is al die geld wat ek het, maar ek kan nog meer in die hande kry wanneer ek my sakgeld die einde van die maand kry.”
“Wel, wat ‘n toevalligheid is dit nou nie!” glimlag die man. “Tien rand en vyf en vyftig sent - die presiese prys van ‘n wonderwerk vir klein boeties.”
Hy neem Tessa se geld in die een hand en neem haar klein handjie in sy ander hand en sê: “Neem my na waar julle bly. Ek wil jou klein boetie sien en jou ouers ontmoet. Laat ons kan sien of ek die soort wonderwerk het wat jy benodig.”
Die welgeklede man was ‘n chirurg wat gespesialiseer het in neuro-chirurgie. Die operasie is gedoen sonder enige kostes en dit was nie lank daarna nie, toe is klein Andries terug by die huis en blakend gesond.
Ma en Pa het vol vreugde gesels oor hoe wonderlik alles uitgewerk het vir klein Andries. “Daardie operasie,” het Ma gefluister, “was ‘n werklike wonderwerk. Ek wonder wat so ‘n operasie sou gekos het?”
Tessa glimlag. Sy weet presies hoeveel ‘n wonderwerk kos ... tien rand en vyf en vyftig sent ... plus die geloof van ‘n klein kindjie.

‘n Wonderwerk is nie die opheffing van ‘n natuurlike wet nie maar die werking van ‘n hoër wet.

[Geleen op FB]

Thursday, 26 June 2025

Drie minute dinkstorie: Liefde maak ‘n verskil


Maats, ek het hierdie verhaal van ’n Kapenaar raakgelees en dit het my weereens die waarde van onvoorwaardelike liefde en aanvaarding laat besef. Ons daaglikse optrede maak 'n verskil. Ek deel dit graag met julle.

Sabina was elke dag laat vir skool. Soms het sy eers rondom 10:30 by die skool opgedaag.
Haar huiswerk was meestal nie gedoen nie, haar boeke was slordig en syself was geen prentjie van netheid nie. In die klas was sy die een wat oproerigheid veroorsaak het. Die onderwysers het mettertyd begin moed verloor dat sy ooit sal verander. Ná nog ’n hewige oproerig in die klas, het die onderwysers saamgespan en die skoolhoof versoek om Sabina uit die skool te skors. Daar was immers 30 ander klasmaats wat in aanmerking geneem moes word.

Wat hulle egter nie geweet het nie, was dat Sabina se ouers albei alkoholiste was. Wanneer
sy smiddae by die huis aangekom het, was hulle beide reeds dronk. Tussendeur die
konstante rusie in die huisgesin, sou haar pa, wanneer sy wel probeer het om huiswerk te
doen, haar skoolboeke opskeur of in die toilet afspoel. Sabina vertel dat haar toekoms so
donker soos haar hede gelyk het waarvan sy nie kon ontsnap nie.

In stede van ’n skorsing, het die skoolhoof besluit om ’n uitdaging aan Sabina se
onderwysers te gee: Vir een week lank moes hulle alles in hulle vermoë doen om
onvoorwaardelike liefde aan haar te betoon. Die skelwoorde moes plek maak vir woorde
wat motiveer, opbou en inspireer. Hulle moes daarna streef om ’n veilige omgewing vir haar te skep
en haar te laat voel asof hulle haar onvoorwaardelik aanvaar - ten spyte van haar optrede.
 
Dit het na ’n onmoontlike taak geklink. Tog het die onderwysers ingestem om dit vir een
week lank te doen.

Groot was die verrassing toe daar reeds binne ’n paar dae met hulle veranderende houding
teenoor Sabina, ook ’n verandering in haar optrede gemerk kon word.
 
Nie net het sy al vroeër begin skool toe kom nie, haar huiswerk was vir die eerste keer in
maande op datum en soos die een week-uitdaging in weke verander het, het die
onderwysers verstom gestaan oor hoe Sabina van ’n rebel in die klas in ’n presteerder
verander het.

Vandag is Sabina gelukkig getroud en ’n ma van ’n klein seuntjie. Sy het ook ’n suksesvolle
besigheid wat internasionaal sake doen. Wat het die verandering gebring?
 
Onvoorwaardelike liefde en aanvaarding.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Dat ons die ekstra myl onvoorwaardelik moet loop.
* Dat my optrede teenoor mense wat my pad kruis, ongelooflik belangrik is.
* Dat ek nie net vriendelik is teenoor mense wat met my vriendelik is nie, maar dat ek ook die boelies, die ongeskiktes en die wat lewensmoeg is, met dieselfde gesindheid sal benader as my beste vriende.
* Besef jy dat God ons elkeen ook onvoorwaardelik liefhet en dat Hy, terwyl ons nog vol
sonde was, sy Seun vir ons gestuur het? In Romeine 5:8 lees ons: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”

Thursday, 8 May 2025

Een minuut storie: Rose vir Mamma


Die middeljarige man stop by die bloemiste, hy wil gou ’n bestelling plaas vir blomme wat deur Interflora aan sy moeder gestuur moet word. Dit is môre haar sewentigste verjaarsdag, maar hy sal nie môre kans kry om die tweehonderd kilometer af te lê om die blomme vir haar te neem nie.

Terwyl hy uit sy motor klim, merk hy die dogtertjie op wat op die sypaadjie sit en huil. Hy vra haar wat fout is en sy antwoord: “Ek wil graag ’n rooi roos vir my moeder koop, maar ek het net een rand en die rose kos vyf rand ’n roos.”

Die man glimlag en sê: “Kom saam met my, ek sal vir jou ’n mooi rooi roos koop.” Hy koop toe vir haar die roos wat sy graag wil hê en plaas die bestelling vir sy ma se blomme. Terwyl hulle uit die winkel stap, bied hy aan om haar by die huis te gaan aflaai.

Sy antwoord: “Ja, asseblief! Maar sal u my na my moeder toe neem.”

Sy beduie vir die man die pad en weldra arriveer hulle by die begraafplaas. Sy klim uit en stap na een van die nuut opgemaakte grafte en plaas die roos op die vars hopie grond wat oor die graf is.

Die man het teruggegaan na die bloemiste, die Interflorabestelling gekanselleer, die grootste bos blomme in die blommewinkel uitgesoek en die tweehonderd kilometer gery na sy ma se huis.

Ons moet aan hulle vir wie ons lief is, blomme gee terwyl hulle lewe, wanneer hulle dood is, kan hulle dit nie waardeer nie.

Thursday, 3 April 2025

Drie minute dinkstorie: Die hande van 'n vriend


Aan die einde van die 15de eeu het twee leerjongens, Hans en Albrecht, in die houtsneebedryf in Frankryk studeer. Albei wou baie graag ook in die skilderkuns gaan studeer, maar nie een van die twee het geld gehad nie.

Hulle besluit toe op die volgende oplossing: Een van hulle sal eers gaan werk en genoeg geld maak sodat die ander van die inkomste kan studeer. Wanneer die eerste een dan klaar gestudeer is en ryk en beroemd geword het, sal hy weer geld voorsien vir die ander een om te studeer.

Die vraag was natuurlik net: Wie sou eerste gaan studeer? Uiteindelik het hulle 'n geldstuk opgeskiet om te besluit en Albrecht het gewen.

Terwyl Albrecht in Venesië gaan studeer, het Hans as 'n grofsmid gaan werk. Elke maand wanneer hy sy salaris gekry het, het hy 'n groot deel daarvan vir sy vriend se studie aangestuur.

Die maande het jare geword en uiteindelik was Albrecht behoorlik gekwalifiseer. Hy het na Duitsland, sy geboorteland, teruggekeer en as meesterskilder begin naam maak. Nou was dit sy beurt om sy vriend Hans finansieel te help met sy studie.

Die twee het 'n blye weerontmoeting gehad, maar toe Albrecht na sy vriend se hande kyk, het hy trane in sy oë gekry. Toe eers kon jy werklik die omvang van sy vriend se opoffering begryp: die baie jare van brute handearbeid as grofsmid het Hans se sensitiewe hande gekneus en vol eelte gelaat. Sy hande was nou so grof dat dit nooit weer die fyn kwas van 'n skilder sou kon hanteer nie.

In nederige dankbetoon vir die jare van opoffering wat dit vir hom moontlik gemaak het om 'n groot skilder te word, het Albrecht Durer 'n portret geskilder van sy vriend Hans se beskadigde hande - die hande wat so hard en so getrou gewerk het, sodat Durer sy talent kon ontwikkel.

Die dag toe hy aan sy vriende die skildery van die "Biddende hande" oorhandig, het hy nooit geweet dat die simbool van vriendskap en opoffering eendag aan miljoene mense oor die wêreld heen bekend sou raak as 'n simbool van gebed nie.

~Oorgeneem van die internet~

[Klik HIER vir nog wonderlike inspirasieverhale.]

Thursday, 6 March 2025

Drie minute dinkstorie: Hewige rusie tussen donkie en tier


Donkie en tier is in ‘n hewige rusie oor watter kleur die gras is. Vir ons klink dit na 'n onbenullige stryery, maar hierdie twee is doodernstig oor hulle onderskeie standpunte.

Donkie hou voet by stuk dat die gras blou is, en tier stry en sê dis groen. Dis tog net logies. Die hemel is blou. Na bykans ‘n uur se stryery maak donkie die voorstel: “Kom ons gaan na Koning Leeu - hy is die slimste van al die diere en hy sal vir ons die regte antwoord gee.”

By Koning Leeu aangekom, val donkie sommer met die deur in die huis. “Koning Leeu, ek sê die gras is blou, maar tier hou aan stry dat dit groen is. Watter kleur is die gras regtig?”

Leeu kyk die twee stip aan, dan gluur hy vir tier. “Donkie is heeltemal reg,” brul hy. “Die gras is blou! En Tier, vir jou onnoselheid, mag jy vir 5 dae lank niks sê nie!” Doodtevrede bulk en dans Donkie terug na sy grasland toe om verder te wei. 

Tier kyk geskok na Leeu en vra: “Mag ek iets sê voor ek stilbly vir 5 dae? Jy weet net so goed soos ek dat die gras groen is! Waarom sê jy vir Donkie dis blou??!!” 

“Omdat jy so dom was om met hom te stry oor iets wat ‘n voldonge feit was,” antwoord Leeu droog. “Jy het jou soos ‘n donkie gedra!”

Toepassing:  
Daar is nog ‘n voldonge feit waaroor niemand mag stry nie - ons het meer as genoeg rede om die Here te loof en te prys! Psalm 149 roep ons weer op om ‘n nuwe lied vir God te sing - kom ons kyk gou na wat die Psalm sê: Maak jou loflied elke dag nuut! Elke dag gebeur daar iets met ons wat nie gister gebeur het nie - gebruik dit om teenoor mense oor God te getuig (vers 1). Vind daardie nuwe ietsie elke dag.

En dit hoef nie net liedere te wees nie - dans voor die Here (verse 2-3)! Slaan ritme met jou borsel op die spieëlkas. Borsel jou tande met ‘n vrolike ritme! God geniet dit so as ons Hom loof en prys, dat Hy dan sommer namens ons veg en vir ons die oorwinnings behaal (verse 4-6). Dit alleen is al reeds meer as genoeg rede om Hom onophoudelik en met groot genot te prys!

Ons lofsange teenoor God bind kettings om ons vyande se enkels, vernietig ons omstandighede wat ons probeer onderdruk en tel ons op bokant alles sodat ons saam met Hom kan triomfeer (verse 7-9).
Moenie jou soos ‘n donkie gedra en probeer stry oor dinge wat jy rondom jou sien nie. Wéét wat die waarheid is: die Here leef en regeer! Maak nie saak watse twak die lewe vir jou probeer vertel nie - hou aan om die Here te loof, want Hy regeer! Moenie eens met die wêreld probeer redeneer nie - hou net aan om die Here te loof! 

As tier maar net die onderwerp verander het en God begin loof het ... maar toe wil hy sy punt bewys deur te stry. Daar is geen rede vir ons om ‘n punt te bewys nie – dis reeds vir ons aan die kruis gedoen. Al wat ons nou moet doen, is om net die Here te loof!

[Dankie, Rosetta!]

Thursday, 6 February 2025

Drie minute dinkstorie: 'n Pa se oë


In Derde Laan staan ‘n klein huisie met 'n pragtige roostuin en 'n groot populierboom. Dit is hier waar Theo en sy pa gebly het. Hulle het alleen daar gebly, want sy ma is jare gelede al oorlede.

Almal in die dorp het dié twee se verhouding bewonder. Theo se pa het nie een van sy rugbywedstryde misgeloop nie. Of dit nou mooiweer of stormweer was, jy kon verseker weet, Theo se pa was daar. Hy was sy seun se grootste aanhanger.

Ironies, Theo het nooit in ‘n wedstryd gespeel nie; hy was altyd die reserwe. Ná elke wedstryd was sy pa se woorde: “Miskien speel jy volgende keer.” Dan het sy pa altyd met sy arm om Theo se skouer daar weggestap.Sonder enige druk van sy pa se kant, het Theo aangehou oefen en het hy altyd sy beste by elke oefening gegee. Hy het egter deur sy hele hoërskoolloopbaan die reserwebank vol gesit, want - omdat die skool klein was - het hulle net een span in sy ouderdomsgroep gehad.

Maar sy pa het steeds getrou al die wedstryde bygewoon. Dit was voor een van die laaste wedstryde in sy matriekjaar dat ‘n tragedie Theo tref. Sy pa is skielik dood. Dit was vir hom ‘n baie groot skok. Hy het die afrigter gevra om dié week van die oefeninge verskoon te word. Die afrigter het vir hom gesê: “Theo, neem soveel tyd as wat jy wil, want dis ‘n groot verlies wat jou getref het.”

Die Saterdag met die wedstryd daag Theo in sy rugbyklere by die wedstryd op. Hy gaan staan voor die afrigter en pleit-vra: “Meneer, kan ek asseblief vandag speel?” Die afrigter het gevoel dat hy met so ‘n belangrike wedstryd nie kon bekostig om ‘n swak speler in te span nie, maar besluit toe tog om hom te laat speel. Hy het geredeneer: Hoeveel jare lank oefen hy nou al getrou sonder om te speel en boonop is sy pa dood. Ek sal hom ‘n kans gee.

Theo speel fantasties en druk selfs die wendrie. Na die tyd stap die afrigter na Theo: “Waar het jy al die tyd hierdie talent gebêre? Jy was briljant.” Theo het met trane in sy oë gesê: “Meneer, my pa is in die hemel. Meneer weet hy het getrou al die wedstryde bygewoon, al was hy blind. Wel, vandag was die eerste keer dat hy my kon sien speel. Ek wou vir hom wys … ek kán speel!”

[Klik HIER vir nog inspirasieverhale.]

Thursday, 9 January 2025

Die Mier, die gebed en die kontaklens


In die Mei/Junie 1994-uitgawe van haar nuusbrief, het Elizabeth Elliot ’n artikel gepubliseer waarin Brenda Folz van Princeton Minnesota ’n byna ongelooflike ware verhaal vertel. Brenda is as jong meisie uitgenooi om op ’n rotsklimuitstappie te gaan. Sy het nog nooit vantevore rotsklim gedoen nie, maar sy besluit om saam met die groep die groot granietkrans te gaan uitklim.

Ten spyte van haar vrees, het sy teen die rots begin opklim totdat sy ‘n lysie bereik het waar sy ‘n blaaskans kon neem. Terwyl sy daar gerus het, het die veiligheidstou teen haar oog geklap en haar kontaklens uitgestamp. Brenda was gestrand op ‘n rotslysie, met honderde meters steil granietrots onder haar en honderde meters bo haar. Sy het bly rondkyk in die hoop dat dit dalk naby haar geval het, maar dit was net nie daar nie.

Met haar sig wat dof was, het sy paniekerig geraak en die Here gevra om haar te help om dit te kry. Sy het later toe versigtig verder geklim tot bo, waar ‘n vriend haar oog en haar klere deursoek het, maar die kontaklens was weg. Terwyl hulle gewag het vir die res van die groep om ook tot bo te klim, het sy eenkant, weg van die groep gaan sit. Sy het gekyk na die omvang van die reeks berge om haar, en gedink aan die Bybelvers in 2 Kron. 16:9 wat sê, “The eyes of the LORD search the whole earth in order to strengthen those whose hearts are fully committed to him.” Sy het gedink: “Here, U kan al hierdie berge sien. U ken elke klip en blaar, en U weet presies waar my kontaklens is. Help my, asseblief. ”

Uiteindelik het hulle met die roete terug na onder geloop. Aan die onderkant van die berg het daar toe nog van die groep klimmers gestaan en wag om teen die rotswand op te klim. Een van hulle het geskreeu, “Haai, julle ouens! Het iemand dalk ‘n kontaklens verloor?”

Brenda het nie op haar laat wag nie en na die ander klimmer gehardloop, terwyl die kliphard skree: "Daar is 'n mier besig om 'n kontaklens bergaf te dra. Brenda was verstom om haar kontaklens, teen alle rede in, ongeskonde te vind.

Sy het vir haar ouers van hierdie wonderwerk geskryf en haar pa wat goed kon teken, het die mier met 'n kontaklens vyf keer sy eie grootte geteken.  

The LORD is gracious and compassionate ...
The Lord is good to all ...
The Lord is near to all who call upon Him ...
The Lord hears ...

Klik HIER om die oorspronklike nuusbrief te lees - pdf-lêer.

Thursday, 2 January 2025

Drie minute dinkstorie: Wat is jou naam?


Alexander die Grote was die koning van Masedonië. Hy het op 'n jong ouderdom beheer van Griekeland, Egipte en die meeste lande oos van die Middellandse See tot so ver as Indië oorgeneem. Vriend en vyand het hom gerespekteer as absolute strateeg as dit kom by oorlogvoering.

Niks kon voor Alexander die Grote staan nie! Van sy soldate het hy absolute dapperheid verwag, integriteit en lojaliteit tot die bitter einde toe. Hy het geen bangbroek of lafaard in sy leermag verdra nie.

Sulke manne is sommer summier tereggestel voor al die ander soldate!

Op ‘n dag word ‘n paar jong seuns voor Alexander gebring. Hierdie seuns het in die geveg omgedraai en bang weggehardloop van die slagveld.

Een vir een van die jong seuns is verhoor en toe voor al die soldate doodgemaak.

Die laaste seun was ‘n mooi fris geboude seun. Nadat die aanklag aan Alexander voorgelees is, vra Alexander aan die jong seun; “Jongman, wat is jou naam?”

Die jongman antwoord verskrik-sag-bang: “A ... A ... Alexander, my Heer!”

Ongeërg vra Alexander met ‘n harde driftige stem: “Jongman, skeer jy gek met my? Ek vra jou, WAT IS JOU NAAM?”

“A ... A ... Alexander, my Heer!” antwoord die seun.

Die volgende oomblik gryp Alexander die seun voor sy bors en lig hom van die grond op en skreeu-bulder sy dringende vraag uit: “Jongman, ek vra jou ... WAT ... IS ... JOU ... NAAM?”

Al hangende in hierdie sterk man se hande skreeu die seun so hard as wat hy ooit kan: “ALEXENDER, MY HEER!”

Alexander sit die seun weer op sy voete neer; “Jongman, verander jou NAAM of verander jou GEDRAG!”

Moenie bang wees in moeilike omstandighede nie. Glo en vertrou en praat met 'n sterk stem - dit boesem vertroue in! 

Thursday, 26 December 2024

Een minuut storie: Jy kies jou geluk


Ek het alles gehad ... 'n Huis, karre en duur klere. Ek was ryk ... baie ryk ... skatryk! Almal wou my vriend wees ... tot die dag waarop ek alles verloor het.

Die mense wat ek gedink het my ware vriende was, het my in die donkerste uur van my lewe op die heel donkerste plek van my lewe gelos. Op daardie stadium was ek nie net brandarm nie, maar ook skielik stoksielalleen. En ek het tot die besef gekom dat hoe donkerder jou dae word, hoe minder word jou vriende.

Ek het van die heel beste deel van die stad getrek na die heel slegste buurt in die stad ... mense het na die krotbuurt verwys. Dit het gestink. Die reuk het oral om die geboue gehang ... Die reuk van riool, papier en plastiek wat brand, dagga, ou kos en kool ... sommer net een groot bedompige wolk wat die woonbuurt omgewe. Kakkerlakke was orals. Rotte het tussen die swart sakke rondgeskarrel, maar ek was te moeg om regtig aandag hieraan te gee.

Ek het nie geld nie. Niks. Nie 'n sent op my naam nie. Ek het besef dat ek iewers 'n los werkie sal moet kry. Nie een mens wat ek in my dae van oorvloed gehelp het, gaan my help nie. Dit is die rede hoekom ek by die kinderhuis gaan werk het, want hulle het 'n gratis bord kos gegee en 'n klein donasie vir die dagwerkers. Om 'n plek aan die gang te hou met 157 kinders, het sy eie uitdagings gehad. Ek het geen geld of kos gehad nie, dit was my onmiddellike uitdaging - gevolglik het ek het geen keuse gehad as om daar te gaan werk nie.

Ek het die hoof van die kinderhuis ontmoet. Melissa ... 'n lang, skraal en mooi meisie, met groen oë wat eerder in die modewêreld hoort as hier.

Ek het elke dag teruggegaan om in die kombuis te werk en die skottelgoed te was. Elke dag voel ek ellendiger as die vorige dag, moeg na siel en liggaam. Ek sal nie vir lank hier kan werk nie, daar is geen kans vir vooruitgang nie en ek het sekuriteit só dringend nodig dat ek ander planne sal moet maak vir vorentoe. Die krotwoonbuurt is die eerste ding op my lysie wat moet verander.

Ek het vir Melissa dopgehou. Sy het altyd geglimlag as sy een van die kinders sien of met hulle 'n gesprek aanknoop. Sy het die kinderhuis haar roeping genoem - maar ek het haar nie geglo nie.

Een Saterdagaand, nadat ek al die skottelgoed gewas het en die kombuis aan die kant gemaak het, sit ek vir 'n wyle met haar en gesels. Ek wou by haar weet hoekom sy nie iets anders met haar lewe doen nie. Daar is 'n hele wêreld wat lê en wag vir jou talente. Hoekom is hierdie kinders só belangrik vir jou? Jy is 'n mooi mens, wat baie geld in die modewêreld kan maak. Hoekom kies jy hierdie plek om jou lewe weg te gooi?

Na 'n paar oomblikke van stilte het sy die volgende gesê: "Elke mens maak op 'n stadium in sy lewe 'n keuse. Vir 'n loopbaan verdien jy 'n salaris, maar nie noodwendig geluk nie. 'n Roeping is die keuse wat jou gelukkig maak. Nie alles in die lewe gaan oor geld en roem nie."

Daardie aand het ek die grootste les geleer. Ek was ongelukkig, want ek het gedink dat geld geluk kan koop.

My lewe sal beter wees ... as ek ander se lewe beter kan maak!

[Lefa Mofokeng 2015]

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
Innerlike geluk kan nie met geld gekoop word nie. Geld waarborg ook nie 'n gelukkige lewe nie. 
Jy help jouself as jy ander help.

Thursday, 19 December 2024

Een minuut storie: Die hemel se poskantoor


‘n Engel was besig om ‘n nuut gearriveerde Christen ‘n toer van die hemel te gee. Die twee het langs mekaar ingestap by ‘n groot poskantoor gevul met ander engele.

Die Engel het met die Christen gestop by die eerste afdeling: “Hierdie is die ontvangsafdeling. Hier word al die gebedsversoeke aan God ontvang”.

Die Christen het gesien dat hierdie afdeling baie besig is. Daar was engele besig om te sorteer deur blaaie en blaaie versoeke van mense regoor die wêreld.

Hulle het verder gestap en by die volgende afdeling gekom. Die Engel het aan die Christen vertel dat dit die verpakkings-en-aflewering afdeling is. “Hierdie is die seeninge van God in antwoord op die gebede en hier word dit verpak en afgesend aan die wat daarvoor gebid het op die aarde.

Die Christen het gesien hoe besig dit daar is. Daar was baie engele wat in daardie vertrek
gewerk het besig om die talryke seeninge van God te verpak om afgelewer te word.

Uiteindelik, in die verste hoek was ‘n kamer en hulle het gestop by daardie afdeling. Tot die Christen se verbasing, was daar net een engel en hy was besig om niks te doen.

“Hierdie kamer is die Dankie sê kamer,” het die Engel die Christen vertel.

“Hoe is dit dat hier niks aangaan nie?” het die Christen gevra.

“Dit is die hartseer ding,” het die Engel geantwoord.

“Nadat mense op die aarde die antwoorde op gebed en seëninge ontvang het waarvoor hulle gevra het, sê baie min van hulle dankie vir God.”

“Hoe wys ons dan ons dankbaarheid?” het die Christen gevra.

“Eenvoudig,” het die Engel geantwoord. “Jy sê net dankie, God.”

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
Wees altyd dankbaar.

Thursday, 5 December 2024

Drie minute dinkstorie: 'n Baie ryk pa se manier van dink @ sy seun se denke oor armoede


Partykeer dink ons dat ons lewe beter sal wees, as ons net ryker is, meer geld het, nie so sukkel om 'n bestaan te maak nie. Geld lyk en voel asof dit die oplossing van al ons probleme gaan wees. Hierdie manier van redeneer klink reg en daar is baie ander wat met jou gaan saamstem. Wayne se pa het ook so gedink. Daarom het hy een naweek vir Wayne na die platteland gevat om aan hom te wys dat die dinge wat hy in die stad ervaar, sien en beleef het, die beste is. Wayne se pa wou hê dat sy manier van dink ook sy seun se manier moet wees.  

Hy wou die plattelanders se manier van lewe duidelik onderstreep met dade en nie woorde nie. Hulle het die naweek spandeer op 'n plaas van doodgewone goeie mense, niks was uitspattig nie - nie die huis, werf of bakkie nie - die ideale situasie om sy standpunt te onderstreep.
 
Op pad terug huis toe vra die pa vir sy seun: “En wat het jy alles hierdie naweek geleer?”

Die seun het gesê: “Dit was eenvoudig net wonderlik, Pa.”

“Het jy toe gesien hoe arm mense lewe?” vra sy pa.

“O ja,” antwoord Wayne.

“En wat het jy alles geleer?” vra sy pa. 

Wayne het opgewonde geantwoord: “Ek het gesien dat ons net een hond het, maar hulle het vier. Ons het ʼn swembad in die middel van ons tuin, maar hulle het 'n hele rivier sonder ʼn einde. Ons het ingevoerde lampe in ons tuin, maar hulle het elke nag die helderste sterre. Ons het ʼn patio in ons binnehof, maar hulle het ʼn hele horison sonder einde. Ons woon op ʼn erf in die stad. Hulle het landerye wat eindeloos uitstrek. Ons het werkers om ons te help, maar hulle help mekaar. Ons het mure rondom ons erf om ons te beskerm. Hulle het goeie vriende en omgeebure wat hulle beskerm. Ons koop ons kos in die supermark. Hulle kweek hulle kos op hul eie grond - die organiese kos waarvoor ons só baie betaal.”

Die pa was eenvoudig net sprakeloos! Hy het nie geweet wat om sy seun te antwoord nie,

Wayne het die gesprek afgesluit: “Baie dankie, dat Pa vir my geleer het hoe arm ons eintlik is.”

Rykdom lê nie altyd in materiële dinge nie. Rykdom kan ook in goeie waardes en waardering lê!

Thursday, 7 November 2024

Drie minute dinkstorie: Die storie van Rowan Atkinson - Mr Bean


Hierdie storie handel oor ‘n man wat aan sy drome vasgeklou het ... 'n Bekende man ... iemand wat mense van alle ouderdomme laat lag het, hulle vir 'n oomblik laat vergeet het van hulle swaarkry ... iemand wat ook die pad van swaarkry gestap het ...

Wie sal kan raai dat die snaakse Rowan Atkinson, of Mr Bean soos hy beter bekend staan, dit baie moeilik en swaar as kind gehad het? Hy het as kind vreeslik gehakkel en is ook geboelie en gespot oor hoe hy lyk. Sy boelies het gesê dat hy soos ‘n ‘alien’ lyk. Boelies steel jou selfvertroue.
 
Dit was nie lank nie of almal het gedink dat hy vreemd is, wat hom baie skaam gemaak het en daarom het hy nie eintlik vriende gehad nie. Daar was niks besonders aan hom nie.

Terwyl hy op universiteit was het hy verlief geraak op drama, maar hy kon nie optree as akteur nie, omdat hy so gehakkel het. Hy het sy graad in elektriese ingenieurswese klaargemaak en toe besluit om sy droom om ‘n akteur te word na te jaag.

Sy spraakgebrek het nie sy verskoning geword om sy droom te begrawe nie. Hy het by ‘n dramagroep aangesluit en oudisie vir TV advertensies gedoen, maar is elke keer weggewys as gevolg van sy hakkel probleem. 

Dit het hom egter nie laat moed opgee om te probeer nie.

Rowan het geweet dat hy ‘n gawe het om mense te laat lag, en wanneer hy ‘n karakter gespeel het het hy nie gehakkel nie, en so is Mr Bean gebore. Hy het ten spyte van sy spraakgebrek en hoe hy lyk beroemd geraak en bewys dat jy nie ‘n Hollywood-gesig en -lyf nodig het om een van die geliefste karakters in die wêreld te wees nie.
 
Onthou altyd dat as jy ‘n passie het vir wat jy doen, bereid is om hard te werk, en nooit moed opgee nie, maak nie saak hoeveel struikelblokke daar in jou pad kom nie, kan jy soos Rowan sukses behaal. Niemand is perfek nie. Moenie bang wees nie. 'n Mens kan elke dag wonderlike goed doen
ten spyte van jou struikelblokke en swakhede. Moenie ophou probeer en tou opgegooi omdat dit moeilik is, of omdat jy misluk nie. So gaan en maak die beste met die een lewe wat jy het om te leef.

 Mense wat suksesvol is werk hard, en hou aan probeer totdat hulle dit regkry.

[Gaan kuier gerus by hierdie inspirerende webwerf - Jeug@Jesus - Klik HIER vir die skakel!]