Leeus word in die natuur tussen 10 en 14 jaar oud, terwyl dié in gevangenskap tot oor die 20 jaar oud kan word. In die natuur sal leeumannetjies selde ouer as tien jaar word, weens die beserings wat hulle gedurig in gevegte met mekaar opdoen en wat hul lewensduur verkort.
Thursday, 27 August 2026
Ruben gesels oor wilde diere langs die pad: Die leeu (Panthera leo)
Leeus word in die natuur tussen 10 en 14 jaar oud, terwyl dié in gevangenskap tot oor die 20 jaar oud kan word. In die natuur sal leeumannetjies selde ouer as tien jaar word, weens die beserings wat hulle gedurig in gevegte met mekaar opdoen en wat hul lewensduur verkort.
Thursday, 23 July 2026
Ruben gesels oor wilde diere langs die pad: Die jagluiperd (Acinonyx jubatus)
Die swangerskapperiode kan tot in die omgewing van 92 dae wees, met omtrent 4 welpies wat per werpsel gebore kan word. Die welpies word gebore met ʼn mantel van pels wat van die nek oor die rug hardloop tot by die agterbene en kruis, wat hulle help kamoefleer. Hulle word ook weggesteek in lang gras of onder bosse en blare.
In teenstelling met die ander groot katte in die katfamilie, kan die jagluiperd nie brul nie, maar maak hy ʼn tjirpgeluid as hy opgewonde is. Dit is een van die enigste katspesies wat kloue het wat hulle nie heeltemal kan intrek nie, daarom is die kloue sigbaar in hulle spore.
Jagluiperds jag gewoonlik in die dag, soggens vroeg of laat in die middag - net soms in helder maanlignagte. Die jagluiperd maak gedurende jagtogte eerder op sy sig- as sy reuksintuig staat. Die prooi word binne 'n afstand van 10-30 m bekruip en dan bestorm.
Sodra die prooi gevang is, word die groot prooi versmoor met ʼn byt aan die lugpyp en die klein prooi kan doodgemaak word met ʼn vinnige byt aan die kop. Hulle sal hul prooi gou vreet sodra die dier doodgemaak is, omdat hulle nie hul prooi van ander roofdiere kan beskerm nie. Die eindpunte van die ribbes sal afgeëet wees en die vel, bene en binnegoed sal gelos word. Jagluiperds gaan nooit terug na prooi wat hulle doodgemaak het nie en hulle eet nie die aas van die karkasse af nie.
Thursday, 25 June 2026
Ruben gesels oor wilde diere langs die pad: Die gevlekte hiëna (Crocuta crocuta)
Met navorsing is data gevind wat wys dat die gevlekte hiëna meer jag as aas vreet in sekere areas, met groepe wat hulle prooi vir kilometers jaag totdat die prooi neerval van uitputting.
Die gevlekte hiëna het 'n loopsnelheid van 15 km/h, maar kan versnel tot 50 km/h wanneer hy hardloop.
Thursday, 28 May 2026
Ruben gesels oor wilde diere langs die pad: Die nagapie
Thursday, 14 May 2026
Ruben se een minuut storie: Tebo en sy besondere hond
![]() |
| Foto van my in die studeerkamer en 'n skets van Arthur. |
Thursday, 30 April 2026
Ruben se een minuut storie: Die lelike eendjie
Pik, pik, pik! Vyf mooi, geel baba-eendjies het uitgekom. Eers het hulle hul geel koppies by die eiers uitgesteek, die wêreld bekyk en gewonder of dit veilig is. Alles lyk só anders. Toe sien hulle vir Mamma Eend en hulle klouter uit hul eiers en vroetel onder Mamma Eend se veilige vlerke in.
Toe het die groot eier begin kraak. Klop, klop, klop!
Niemand wou met hierdie eedjie speel nie.
Die lelike eendjie was hartseer. Hy besluit toe om nuwe vriende op die plaas te gaan soek en voeg dadelik die daad by die woord.
"Gaan weg!" het die vark gesnork.
"Gaan weg!" het die skaap geblêr.
"Gaan weg!" het die koei gebulk.
"Gaan weg!" het die perd gerunnik.
Wat het ek uit hierdie storie geleer:
* Moenie soos die ander diere teenoor die lelike eendjie optree nie. Moenie iemand wegjaag nie. Wees altyd vriendelik. Dit kos jou niks.
* Onthou, as jy vandag soos die lelike eendjie voel, dis net tydelik. Eendag gaan jy die swaan wees en dan moet jy nie ander behandel soos jy behandel is nie.
Thursday, 23 April 2026
Ruben gesels oor wilde diere langs die pad: Die ratel
![]() |
| Bron: HIER |
Thursday, 12 March 2026
Ruben se een minuut storie: Het hulle 'n kat se kans? Die laaste spoorwegkatte ...
Thursday, 12 February 2026
Een minuut storie: Die slim haan en die jakkals
Wat het ek uit hierdie storie geleer:
* Dit is handig om ongewone maats te hê. Maats wat sterker of groter of slimmer as jy is, sodat hulle jou kan help as jy in die moeilikheid is.
Thursday, 29 January 2026
Ruben se een minuut storie: Wolf leer vlieg
"Ai, Aasvoël," kla Wolf, "kan jy dan nie vir my sê hoe jy so gou weet as daar iets te ete is nie?"
"Dis maklik," antwoord Aasvoël. "Ek vlieg hoog in die lug en kyk ver oor die aarde uit. Jy kan net tot by die bossies hier voor jou neus sien. Dan het ek al lankal die kos raakgesien en sommer vir my vrou 'n paar lekker stukke vleis gevat wat sy vir die kinders kan gee."
"Leer my dan ook vlieg," soebat Wolf.
"Goed,” sê Aasvoël. "Kom klim op my rug, dan kyk jy mooi wat ek doen."
Aasvoël sprei sy kragtige vlerke, en Wolf moet net vasklou vir al wat hy werd is.
"Sien jy, Wolf?" roep Aasvoël toe hulle hoog oor ‘n lap doringbosse sweef. "Dis maklik. Spring nou af en klap met jou bene soos ek met my vlerke."
Wolf duik deur die lug, maar hoe hy ook al skop en spartel, hy val soos ‘n klip, reg in die doringbosse.
"Eina!" tjank Wolf terwyl hy tussen die klouende takke uitsukkel.
"Laat dit vir jou ‘n les wees!" roep Aasvoël van bo af. "‘n Dier is gemaak om te loop, en ‘n voël om te vlieg. En as diere probeer vlieg, kom daar moeilikheid."
* Moenie iets of iemand anders probeer wees nie. Wees altyd jou unieke self.
[Bron: HIER. Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek & oorvertel deur Pieter W. Grobbelaar]
Thursday, 8 January 2026
Ruben se een minuut storie: Optel se nuwe huis
Hulle het deur die veld geloop en omdat dit afdraand na die spoorlyn se kant is, het dit baie vinniger gegaan as wat hulle verwag het. So halfpad in hulle rondlopery, besef Optel dat as hulle teruggaan na hulle ouma toe, sal hulle opdraand moet loop en dit gaan baie baie langer vat. Hy steek onmiddellik in sy vier spore vas en draai sy kop stadig na agter. Dis belangrik om te weet hoe ver hulle moet terugloop. Toe hy die afstand sien, skrik hy sy kop terug in sy dop. Sy boetie is haastig op pad en kom nie eens agter dat sy broer nie meer aan sy sy is nie.
Optel probeer sy broer se aandag trek - hy roep en roep, maar die trein wat op daardie oomblik teen 'n verbysterende spoed by hulle twee verbysnel, doof die kommerwekkende roep van Optel uit. Optel besluit om om te draai. Met of sonder sy boetie. Ten minste weet hy waar sy broer hom bevind en kan hy sy ouma oortuig om saam met hom te loop om sy avontuurlustige broer te kry.
Hy was nog nie op spoed nie, toe hy voel hoe 'n kragtige hand hom optel. Sonder om te kyk, trek hy hom terug in sy dop en met 'n kloppende hart luister hy of hy enige iets kan uitmaak. So uit die hoek van sy oog, sien hy sy boetie in die man se ander hand. Ten minste is hulle twee saam in die gemors. Hy wonder of sy ouma al wakker is. Hy wonder ook of sy na hulle soek en sal sy weet watter kant om te loop. Hy is so spyt dat hy maar nie net rondom die pappot gevroetel het nie. En hy wonder ook of dit sal help om te bid as jy deur jou eie toedoen in die moeilikheid beland het.
Hulle twee beland in 'n donker sak en hulle weet moeilikheid is hulle voorland. Wat hulle nie weet nie, is dat hulle twee op die swartmark verkoop gaan word. Tussen 'n magdom mense en groot lawaai, kom daar 'n lang bebaarde man na hulle aangestap.
Onderhandelinge vind plaas en die man van die sak, oorhandig hulle twee aan hul nuwe eienaar. Hulle voel 'n bietjie meer gerus, maar besef dat hulle lewe vir altyd verander het. Hoe op aarde gaan hulle weer hulle ouma kry en wat gaan hulle ma sê.
Hulle weldoener sit hulle op 'n lowergroen grasperk neer. Maar o wee, hy het 'n yslike hond wat baie belangstel in hulle twee. Sy boetie wil nog weghardloop, maar sy voet haak vas en die hond kry hom in 'n stewige greep beet. Gelukkig hou hy kop en hy byt die hond 'n geniepsige byt aan die onderlip. Hond se kind laat val sy broer, maar hy het seergekry. Hulle moet maak dat hulle hier wegkom, terwyl Hond nog in pyn verkeer.
Twee huise verder kom hulle af op 'n pragtige tuin, met feetjieliggies, 'n voëltjiebad en hope heerlike groen plante waaraan hulle na hartelus kan kou. Daar is ook 'n hond in dié erf, maar jy kan aan haar houding sien dat sy 'n baie statige ou dame is. Sy jaag nie voëls nie en kyk katte uit die hoogte uit aan. Hulle weet nie presies wat haar doel is nie, maar hulle voel ten minste nie bedreig nie.
Arme boetie, met 'n stukkende dop en harsingskudding van die val, het hy net al swakker en swakker geword, totdat hy sy laaste asem snikkend uitgeblaas het. Sy laaste woorde aan my was dat ons nie só ongehoorsaam moes gewees het nie.
Nou is ek alleen.
Stoksielskilpadalleen.
Gelukkig het ek al maats gemaak met die statige dame van die erf, en die vriendelike vrolike dame van die huis. Hulle het altwee het gesê ek is meer as welkom om saam met hulle daar te bly. Tot tyd en wyl ek nie ander planne bedink het nie, gaan ek eers van hulle gasvryheid gebruik maak.
Tot weersiens!
Wat het ek uit hierdie storie geleer:
* Moenie ongehoorsaam wees nie, want niemand hou van 'n ongehoorsame skilpad nie.
* Moenie oop en bloot rondloop dat almal jou kan raaksien nie. Sluip van bossie tot bossie vir jou eie
* Nie alle mense is vriendelik nie en beslis is alle honde ook nie vriendelik nie.
Thursday, 4 December 2025
Ruben se een minuut storie: Vat hom, Jakkals!
[Onthou om verlede week se storie te lees, voordat jy hierdie een lees. Dis goed om jou geheue te verfris, sodat jy kan sien wat Hasie weer in die mou voer.]
Party dae is Hasie glad nie waaksaam nie en is hy nie op die uitkyk vir gevare nie. Party dae vergeet hy eenvoudig om wakker en waaksaam te wees en loop dan sonder dat hy dink aan al die misdaad in die land.
Vandag is een van daardie dae. Hasie is glad te gerus. Sing-sing loop hy in die paadjie. Wirts warts vinnig om die bossies. Kyk nie waar hy loop nie; trap nie waar hy kyk nie. Skielik en onverwags! Woep! Daar sit hy. Jakkals het taai voëlent aan ‘n stomp gesmeer en dit in die paadjie neergesit. Hasie spook, maar hy sit net al hoe vaster. Hy ruk en pluk en skree.
Jakkals kom tussen die bossies uit. “Ha! Nou het ek jou, Haas!” sê hy. Sy lippe is nog altyd skeef geswel van die bysteke sodat dit lyk asof hy nie kan ophou lag nie. Jakkals het hom voorgeneem om Haas nie te vergewe vir die klomp bysteke nie. Hasie gaan beslis vandag op die Jakkals-gesin se tafel land!!
Hasie word stil ... sommer doodstil!
“Ja, jy het my, Jakkals,” sê hy. “Nou kan jy my maar opeet. Dis net jammer om so dorstig te sterwe. Ek was juis op pad rivier toe.”
“Nee, ons kan ‘n bietjie gaan drink,” sê Jakkals, wat hom heeltemal droëtong gehardloop het om die strik vir Hasie reg te kry. Hy pluk Hasie los van die voëllym af, gooi hom oor sy skouer en stap af na die drinkplek toe.
Ai, hoe stil en blink is die water nie. Jakkals laat sy kop sak om te drink. Maar kyk hoe ongeskik is hierdie ander jakkals! Hy druk sommer sy snoet tussenin. “Gee pad!” brom Jakkals.
“Wat is dit nou, Jakkals?” vra Hasie agter sy skouer.
“Kyk self,” sê Jakkals, en hy sit hom neer. En: “Staan soontoe!” sê hy vir die ander jakkals wat hom al weer skeef aankyk.
Hasie sien dadelik dat Jakkals met sy eie weerkaatsing baklei, maar hy sê niks nie.
“Loop weg hier!” sê Jakkals vir die derde maal, en hy wys tande, maar die waterjakkals wys terug.
“Moenie so met jou laat speel nie!” roep Hasie. “Kyk hoe staan daardie ander dier se mond soos hy jou uitlag. Vat hom, Jakkals!”
Toe Jakkals gryp, gryp die ander jakkals ook. Toe Jakkals duik, is hulle doems al twee binne in die water. Toe Jakkals verdwyn, is alles weg.
“Ha ha ha!” lag Hasie:
“Kwaai is kwaai,
en kwaai se voet:
ou Jakkals soek
sy eie bloed!”
En toe Jakkals hangstert uit die water klim, sing Hasie al ver in die paadjie af.
[Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek en oorvertel deur Pieter W Grobbelaar. Klik HIER vir tonekrulstories.]
Thursday, 27 November 2025
Ruben se een minuut storie: Die Byekerk
Elke dag is so vol en besig dat Hasie mooi moet beplan hoe hy sy dae gaan inkleur. Vroeg een oggend hardloop Hasie na die berg se kant toe, en daar sien hy ’n bynes diep in ‘n klipskeur.
en goed is goed -
en die beste lekker
is heuningsoet!”
En Hasie druk sy kop diep in die skeur om die nes by te kom, maar hy het nie geweet dat Jakkals al weer spoorsny nie. Hy sit nog so, toe Jakkals hom aan die hakskeen gryp. “Ha! nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil hom sommer sy tande in Hasie se sagte vleis laat insink.
Maar Hasie het klaar geskrik. Hy sit sy brein in hoogste versnelling en dink baie vinnig. Hy weet Jakkals wag vir 'n geleentheid om van hom 'n maaltyd te maak. Gelukkig is hy strate slimmer as Jakkals en kry hy dit reg om elke keer vir Jakkals uit te oorlê.
“Waar?” vra Jakkals nuuskierig.
“Hier in die klipskeur,” sê Hasie. “Ai, hulle sing tog te pragtig!”
“Laat ek hoor, sê Jakkals, en hy druk sommer in. Dan trek hy sy kop weer uit en sê: “Nee wat, hulle kan nie sing nie. Dis net brom brom brom, al op dieselfde wysie.”
“Hulle is seker moeg,” sê Hasie. “Steek ‘n bietjie ‘n stok daar by die voordeur in dat hulle weet ons is hier. Dan moet jy hoor.”
En Jakkals gryp ‘n stok, en hy werskaf in die klipskeur rond, en toe druk hy sy kop in om goed te luister.
Nee kyk, dit was ‘n sonde. Die bye mors met Jakkals; hulle verniel hom; hulle steek hom byna dood. Hy spring om en hardloop, maar die bye het nie tyd nie. Dis net zoem tjiek! “Eina!” Zoem tjiek! Zoem tjiek! Zoem tjiek! “Eina! Eina! Eina!”
Hasie lê soos hy lag. Hy rol soos hy lag. Hy maak hom eintlik seer. Nee, Jakkals sal hom nie gou weer pla nie. Hy sal vir die volgende week heerlik kan rondloop, sonder dat hy voortdurend op die uitkyk vir Jakkals moet wees.
Thursday, 20 November 2025
Ruben se een minuut storie: Vat hom, Jakkals, die ryperd
Jakkals is sommer smoorkwaad vir Hasie, want hy het stories by mevrou Jakkals gaan aandra, en nou het sy haar man die huis belet. Jakkals wil vir Hasie terugkry. Maar Hasie het baie planne. Op ‘n dag hoor hy Jakkals suutjies in die paadjie draf. Toe gaan lê hy in die bossies en kreun.
“Ha! Nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil net spring, maar Hasie antwoord met ‘n swak stem: “Vat my maar, Jakkals. Ek is te siek om te vlug. Tel my op jou rug, dan dra jy my huis toe.”
En Jakkals dink dis glad nie so ‘n slegte plan nie. Nou sal sy vrou sommer weer vir hom goed word as hy met ‘n lekker stuk haasvleis daar aankom. Jakkals laat loop in die paadjie af, en Hasie moet net klou.
“Jakkals, Jakkals!” roep hy later, “Die vlieë pla baie. Pluk tog vir my ‘n taaibostakkie dat ek hulle kan wegjaag.”
“Ai, jy is lastig,” sê Jakkals, en hy gaan pluk maar.
Toe hulle nog van ver af na Jakkals se huis toe aankom, staan sy vrou al op die stoep om te kyk wat haar man hier kom soek. “Vrou, vrou!” roep Jakkals. “Ek het vir jou ‘n lekker vet haas gebring.”
Maar kyk, nou sit Hasie regop, en die pyne is skielik uit sy lyf, en die taaibostak is ‘n lat. “Vrou, vrou!” koggel hy Jakkals, “Ek het vir jou ‘n lekker vet jakkals gebring!” En die lat gesels oor Jakkals se blaaie, en Jakkals bokspring en galop. Toe wip Hasie van sy rug af en verdwyn lag-lag in die bossies.
“Nee, so ‘n treurige man wil ek nie hê nie,” sê mevrou Jakkals. “Waar het jy al van ‘n jakkals gehoor wat hom deur ‘n haas laat ry? Maak dat jy wegkom hier voor my oë!”
Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek en oorvertel deur Pieter W. Grobbelaar. Klik HIER vir tonekrulstories!
Thursday, 6 November 2025
Ruben se een minuut storie: Die padda en die muis
'n Tienermuis was moeg om sy pa in die tuin te help en het besluit om na avontuur langs die oewer van die rivier te soek. Hy het geweet waar padda woon en in daardie rigting gehardloop. Toe die padda die muis sien, het hy na die oewer geswem en gekwaak: "Is jy nie lus om my te besoek nie? Ek belowe jou dat jy dit sal geniet. Ons kan TV kyk, rekenaarspeletjies speel of sommer net sit en gesels of beter nog, ons kan kyk wat aan die oorkant van die rivier aangaan."
Die muis het nie veel oorreding nodig gehad nie. Hy voel juis so ingehok daar by die huis. Sy ouers is baie streng en hy word nie toegelaat om in die straat rond te loop nie. Hy mag ook nie by sy maats gaan kuier as sy ouers nie hulle ouers ontmoet het nie. Nee, regtig, wat te erg is, is te erg. Hy is nou al mooi groot, maar dis nie asof sy ouers só dink nie. Ja-nee, hy sal regtig meer wil sien van die wêreld oorkant hulle. Gelukkig kan hy darem so 'n bietjie swem, maar hy is dankbaar padda het hierdie voorstel gemaak, nou hoef hy nie 'n kans te vat om alleen aan die anderkant te kom nie.
Maar padda het 'n plan gehad - 'n nare plan.
* Tieners weet nie so baie soos wat hulle dink hulle weet nie.
Sunday, 2 November 2025
Die storie van die Coca-Cola blikkie
Die storie van die Coca-Cola blikkie:
Wel hier is die storie:
"Die rooi stel die bloed van Jesus voor.
Die swart strepies is die sonde wat jy doen.
Die wit is reinheid, wanneer jy jou sonde bely dan word jy rein."
Coca-Cola staan vir die volgende:
C-Come
O-on
C-children
A-Accept
C-Christ
O-our
L-Lord
A-Amen
Die woorde Coke staan vir:
C-Christus
O-ons
K-Koning
E-Ewig
As jy dit doen, dan gooi jy jou sondes weg soos die mannetjie agterop. Dan is jy 'n koningskind. Dit word voorgestel deur die kroon. En as jy nog twyfel of jou sondes vergewe is, dan kyk jy na die SABS-handelsmerk. Dit is jou waarborg. Wanneer die blikkie toe is en jy skud dit en maak dit dan oop, dan kook hy oor - so is dit ook as jy tot bekering kom; dit borrel binne in jou."
Thursday, 30 October 2025
Ruben se een minuut storie: Die hond en sy been
Aan die buitewyke van 'n oulike, skilderagtige dorpie, omring deur welige weivelde en blomtuine woon 'n klein, honger hondjie. Omdat hy geen eienaar het wat na hom kyk nie, is hy altyd op die uitkyk vir iets lekkers om te eet. Hierdie hond, 'n skraal, lewendige en energieke dier, was altyd op 'n drafstappie terwyl hy die wêreld met sy oë fynkam vir sy volgende maaltyd.
Thursday, 23 October 2025
Ruben se een minuut storie: Die dwase dief
Baie baie jare terug, was daar 'n baie ryk handelaar wat in 'n groot paleis in Akbar in Indië gebly het. Hierdie man het 'n groot personeel gehad wat vir hom gewerk het. Die ryk man het op 'n dag besef dat een van sy personeellede van hom gesteel het.
Hy besluit toe om na Akbar se hof toe te gaan in die hoop om hulp van Raja Birbal te kry. Birbal was 'n baie wyse en slim man. Inteendeel, hy was wêreldbekend vir sy skerpsinnigheid en intelligensie.
Nadat die ryk man sy saak gestel het, het Birbal 'n plan bedink hoe om die skuldige uit te vang sonder dat hy besef sy optrede gaan hom verraai. Hy het vir al die handelaar se dienaars stokke van dieselfde lengte gegee. Hy het hulle ook meegedeel dat die dief se stok sou groei en teen môreoggend sou die skuldige se stok drie duim langer wees.
* Die waarheid sal altyd uitkom.
Thursday, 16 October 2025
Ruben se een minuut storie: Jou perspektief
Jou las kan eintlik 'n lus word, afhangende hoe jy na jou probleem kyk. 'n Klein mannetjie wat in 'n baie klein dorpie gewoon het, het 'n groot probleem gehad: hy kon nie ophou gaap nie. Hy het heeldag, elke dag, gegaap, maak nie saak wat hy gedoen het nie.
Die klein mannetjie was baie skaam, erg verleë en gefrustreerd deur sy konstante gegapery. Hy het alles probeer waaraan hy kon dink om dit te stop, maar niks het gewerk nie. Mense het vir hom oumensrate gegee - hy het selfs gegoogle, maar pure verniet! Hy was op die punt om moed op te gee, toe hy 'n ou wyse man ontmoet wat simpatiek na sy probleem geluister het en toe vir hom raad gegee het.ie ou wyse man het vir die klein mannetjie gesê dat sy konstante gegapery nie 'n probleem was nie, maar 'n geskenk. Hy het gesê dat gaap 'n teken was dat die klein mannetjie nuuskierig en oop was vir nuwe ervarings. Hy het die klein mannetjie aangeraai om sy gaap te omhels en dit te gebruik om die wêreld te verken en nuwe dinge te leer.
Die klein mannetjie het die ou wyse man se raad gevolg en sy gaap in 'n nuwe lig begin sien. Hy het die wêreld rondom hom begin verken en nuwe dinge leer. Hy het gevind dat sy gaap hom meer nuuskierig en avontuurlustig gemaak het, en hy was gelukkiger as ooit tevore.
* Soms kan dit wat ons as 'n probleem sien, eintlik 'n geskenk wees as ons op 'n ander manier daarna kyk.
Thursday, 18 September 2025
Ruben se een minuut storie: Die goue aanraking van koning Midas
Eendag was daar 'n baie belangrike Griekse koning. Sy naam was Midas. Hy was baie baie ryk. Goud was die rede vir sy rykdom. Hy het net een dogter gehad, vir wie hy baie lief was.





















