Showing posts with label Dwelms. Show all posts
Showing posts with label Dwelms. Show all posts

Monday, 8 July 2024

Gedig: Ma, moenie worry nie

Ma, moenie worry nie
die Tjaties is nie 'n war zone nie
os baklei mos net vir turf
soe lat os die drugs
verkoep kan kry
en as 'n anner gheng wil trade
oppie turf wat os lankal gekleim het
dan sal hulle moeligheit kry

Ma, moenie worry nie
wan ek het werk gekry
by 'n drug lord
wat my 'n vet pay check sal gee
en al wat ek moet doen
is die skool-laities encourage
om oek drugs te use

Ma, moenie worry nie
as djou meidikind
haar lyf wil verkoep nie
wan sy is tog 'n addict
wat nie sonner drugs kan leef nie
en Ma,
moenie worry nie
as ek die neighbour se huis inbriek nie
wan ek is addicted aan buttons en rock
al sit ek sonder 'n job

Ma, asseblief, moenie huil nie
wan djou trane
kom my nie toe nie
en as ek inni tronk beland
moenie worry nie
wan dis my verdiende loon
en as Ma
my liggaam inni strate vol bullets kry
moenie treur nie
wan geen traan is my lewe werd nie.

En laastens wil ek net sê
Ma, vergewe my
wan ek het nie geweet
hoe om vir ma te waardeer nie.

Magmoed Martins

[FAT 7/11: Vraestel 2 - Letterkunde]

Sunday, 2 June 2024

Gedig: My ma is mos aan tik verslaaf

"My ma is mos aan tik verslaaf, Juffrou
Sy't my en my klein broertjie gelos, Juffrou
En weggeloop
Ek moes my broertjie oppas
en toe kon ek nie skool toe kom nie, Juffrou
Hy gaan nog nie skool toe nie
en daar was niemand om 'n brief te skryf nie
Ja, sy kom soms huis toe: dan steel sy ons goed
Nee, Juffrou: ons is eintlik beter af van sy weg is."

Ek kyk na jou en kan nie glo jy lyk so normaal nie
dat dit nie bloei uit jou blou oë nie
dat dit nie jou jong vel laat afskilfer nie

Marianne Ross

[Bron: Klasgids 45:3 Augustus 2010 bl. 59 - klik HIER vir die jongste Klasgids]

Saturday, 1 June 2024

Terugflits: Hoekom vol seerkry?

As daar een vraag is waarop ek geen antwoord het nie, is dit dié van 'n vader en moeder oor hoekom hul kinders gekies het om 'n sekere pad te loop. Daardie vraag is maar soms 'n seer en bitter vraag.

So begin ek eenkeer met 'n ma gesels en haar heel eerste sin is: "Ek verstaan nie hoekom het hy daardie pad gevat nie."

Ons sou daarna baie gesels en baie wonder, baie spekuleer, dinge ontleed en analiseer, maar keer op keer moes ons erken dat ons nie die antwoord hierop gehad het nie. Ons kon nie verstaan dat 'n kind wat so mooi geleer het van die pad waarop hy moes loop, so anders gekies het nie.

Dit was vir ons onverklaarbaar dat iemand wat die ander weë ken, juis doelbewus daarteen geprotesteer het. Nie omdat pa of ma kwaai was nie, nie omdat daar 'n tekort aan iets was nie, nie omdat iemand of iets die skuld kon kry nie. Doodgewoon omdat hy gekies het om op die pad te loop.

Wat die hartseer in so 'n geval vererger, is wanneer ouers hul kinders teen die verkeerde pad en die slegte keuses gewaarsku het.

Wanneer die gevolge van die verkeerde keuse uitgespeel het, moet 'n mens maar oor begin. Sommige kies daarna reg, ander kies om weer dieselfde pad te loop.

Die ma wat bogenoemde openingswoorde so gesug het, was al moedeloos. Vir 'n hoeveelste keer moes ek haar oplaai, en met hom 'n gesprek probeer voer. Sy antwoord was egter altyd: "Dit is my keuse."

Toe ek die dag sy begrafnisdiens lei, ná sy dood weens 'n oordosis dwelms, het ek aan sy woorde gedink: "Dit is my keuse."

Ek het ook gedink aan sy ma se woorde: "Ek verstaan nie hoekom my kind hierdie pad gevat het nie." 

[Uit: Hannes Noëth, Twyfelhoekie, Noordkaap]