Showing posts with label Ruben-idiome. Show all posts
Showing posts with label Ruben-idiome. Show all posts

Tuesday, 18 August 2026

Ruben-idiome: Vlieë

* Vlieë vang.
Betekenis: Met jou mond oop sit en niks doen nie (dit beteken ook om doelloos om jou te staar).

* Twee vlieë in een klap slaan.
Betekenis: Om twee take op dieselfde tyd of met net een aksie af te handel. 

* Iemand is nie hier om vlieë te vang nie.
Betekenis: Die persoon is daar met 'n spesifieke doel.

* 'n Arend vang nie vlieë nie.
Betekenis: 'n Belangrike of hoogstaande persoon sal hom nie steur aan beuselagtige of kleinsielige kritiek nie.

* 'n Hand vol vlieë.
Betekenis: Om baie swaar te kry of in groot moeilikheid te wees.

* Dit lyk asof die vlieg oor sy lewer geloop het.
Betekenis: Dit lyk asof hy omgekrap is.

Tuesday, 11 August 2026

Ruben-idiome: Vlieg

* Iemand in die hare vlieg.

Betekenis: Om baie kwaad te word en woes met iemand te stry of te baklei.

* Hoër vlieg as wat jou vlerke lank is.
Betekenis: Meer onderneem of aanpak as wat jou vermoëns, kragte of finansies toelaat.

* Die tyd vlieg.
Betekenis: Dit is 'n algemene uitdrukking wat beteken dat tyd baie vinnig verbygaan.

* Gebraaide duiwe vlieg niemand in die mond nie.
Betekenis: Niks kom vanself nie; jy moet hard werk vir sukses.

* Hoog vlieg, laag val.
Betekenis: Bo jou inkomste lewe en dan bankrot speel. 

Tuesday, 4 August 2026

Ruben-idiome: Vlieg

* Hy/sy sal geen vlieg kwaad doen nie.
Betekenis: Hy/sy is besonder goedhartig

* ‘n Vlieg in die salf.
Betekenis: Iemand wat moeilikheid maak/ onaangenaamheid veroorsaak

* Van 'n vlieg 'n olifant maak.
Betekenis: Om iets wat klein en onbelangrik is, geweldig te oordryf.

* Soos 'n vlieg wat in die karringmelk geval het.
Betekenis: Word skertsend gebruik vir iemand wat spierwit aangetrek is.

* Iemand 'n vlieg afvang.
Betekenis: Om iemand uitoorlê, of voor te spring en hul planne in die wiele te ry.

Tuesday, 21 July 2026

Ruben-idiome: Vleis

* Vleis braai voor jy 'n bok skiet.
Betekenis: Op iets staatmaak voor jy daaroor sekerheid het.

* Iemand 'n pond vleis skuld.
Betekenis: Dit beteken letterlik om iemand baie geld of 'n groot guns te skuld.

* Nog vis nog vlees.
Betekenis: Word gebruik om iets te beskryf wat nie duidelik inpas by 'n spesifieke groep of kategorie nie (iets tussenin, of sonder 'n besliste karakter). 

* Die vleis het 'n krakie.
Betekenis: Dit word gesê wanneer vleis begin sleg word, of wanneer iemand (of iets) nie meer aan die normale standaard voldoen nie. 

Tuesday, 14 July 2026

Ruben-idiome: Brood

* Die een se dood is die ander se brood.
Betekenis: Een persoon se ongeluk of verlies hou vir 'n ander persoon 'n geleentheid of voordeel in.

* Wie se brood 'n mens eet, dié se woord jy spreek.
Betekenis: Dit beteken dat jy die persoon wat jou betaal of onderhou, moet ondersteun en nie teen hulle moet praat nie.

* As krummels brood geword het.
Betekenis: Dit word gebruik as iemand iets bereik het en dan dink hy is nou beter as die ander.

* Om iets op jou brood te kry.
Beteken: Om baie verwyte te hoor.

* 'n Mens kan nie van brood alleen lewe nie.
Betekenis: 'n Mens het behoefte aan meer as kos en die alledaagse dinge.

Tuesday, 7 July 2026

Ruben-idiome: Brood

* By gebrek aan brood, eet 'n mens maar korsies van pastei.
Betekenis: Dit beteken dat wanneer jou gewone behoeftes of gunsteling-opsies nie beskikbaar is nie, jy tevrede moet wees met wat jy het—selfs al is dit 'n minderwaardige of dalk duurder plaasvervanger.

* Van brood en water alleen lewe.
Betekenis: Die mens kan nie net van fisiese kos alleen lewe nie, maar van die geestelike voeding en leiding wat van God af kom.

* Droë brood eet: 
Betekenis: Dit is 'n uitdrukking wat beteken dat iemand baie arm is.

* Om net van brood en water te lewe.
Betekenis: Om 'n hongerbestaan te voer.

* Iemand se brood uit sy mond neem.
Betekenis: Om iemand se inkomste, werk of bestaan van hom af weg te neem.

Tuesday, 23 June 2026

Ruben-idiome: Brood

* Iets om den brode doen.
Betekenis: Dit beteken om iets vir 'n inkomste te doen om sodoende 'n bestaan te kan maak.

* Mooi broodjies bak.
Betekenis: Om iemand te vlei of mooi te praat om sodoende 'n guns of voordeel by hulle te verkry.

* Iemand se brood uit sy mond neem.
Betekenis: Dit beteken om iemand se inkomste of werk van hulle af weg te neem.

* Kla met 'n wit brood onder die arm.
Betekenis: Om sonder enige werklike rede te kla, of wanneer dit te goed gaan met iemand en hulle onnodig mor.

* Jou brood op die water werp.
Wanneer jy goed doen, sonder 'n gedagte aan beloning.

Tuesday, 16 June 2026

Ruben-idiome: Koek

Op hierdie stadium word daar koekies in die kombuis gebak asof dit uit die mode gaan. (Klik HIER om te sien watter soorte alles beskikbaar is.)

Ouma Annie se resepte word ingespan en kort-kort maak Tommie 'n draai by die kombuis om 'n sogenaamde kwaliteitstoets te doen. Ek dink dis net 'n verskoning om weg te lê aan die heerlike tuisgebakte koekies. 

Nou sal julle verstaan hoekom ons vandag na idiome kyk waarin die woord koek(ies) voorkom.

* Dit is so skaars soos koekies in die weeshuis.
Betekenis: Dit is baie skaars (behalwe hier by Christina Kiddie!)

* Kom ons kyk hoe die koekie krummel.
Betekenis: Jy wag om te sien hoe sake gaan verloop of watter uitkoms 'n bepaalde situasie gaan hê.

* Iemand vat die koek.
Betekenis: Iemand oortref almal, of is die grootste sondebok/presteerder.

*Die koek het in die as geval.
Betekenis: 'n Bepaalde saak of onderneming het misluk.

* Die koek is in die was.
Betekenis:  'n Informele uitdrukking (veral in sekere streke) wat beteken alles is verlore, dit is 'n mislukking, of dinge loop skeef.

Tuesday, 26 May 2026

Ruben-idiome: Koffie

'n Ou Ethiopiese idioom lui: een, twee, drie koppies, en dan is ons vir altyd vriende. Ek hoop, liewe maats, dat ons aan die einde van twee maande se koffie-idiome kan sê: "Ons is vriende."

* Jy is sommer op die koffie.
Betekenis: Jy praat sommer onsin.

* Sy geheue is op die koffie.
Betekenis: Hy onthou nie baie goed nie.

* Vat jy die koffie soos die kan hom skink.
Betekenis: Berus jy in jou lot. (Tevrede wees met wat jy kry)

* Hy drink die koffie van sy mamma af.
Betekenis: Hy drink sy koffie swart en bitter.

* Hy koffie maar aan.
Betekenis: Hy sukkel maar voort.

* Hy jaag sy koffie deur die vlei.
Betekenis: Hy gooi warm koffie in ’n piering, blaas daaroor om dit te laat afkoel voordat hy dit drink.

* Haar ma se koffie smaak nie meer lekker nie.
Betekenis: Gesê van 'n kêrel wat nie meer by die meisie wil gaan kuier nie.

Tuesday, 19 May 2026

Ruben-idiome: Koffie

Ilse Zietsman skryf in haar blog: 'n Ethiopiese legende lui dat ‘n bokwagter genaamd Kaldi eeue gelede koffie ontdek het. Of om meer spesifiek te wees - Kaldi se bokke het die koffiebone ontdek. Kaldi het opgelet dat sy bokke ekstra woema gehad het na hulle helderrooi bessies van 'n sekere boom geëet het.

Kaldi het vir die ab van die plaaslike klooster (abdy) hiervan vertel. Die ab het dieselfde bessies gebruik om 'n drankie voor te berei en toe agtergekom dat hy vir langer kon bid ná hy dit gedrink het. Van hier het die woord versprei tot waar koffie vandag een van die gewildste drankies ter wêreld is.

'n Ou Ethiopiese idioom lui: Een, twee, drie koppies, en dan is ons vir altyd vriende.

* By haar is sy koffie bitter.
Betekenis: Sy hou nie baie van hom nie.

* Hulle is lief vir koffie drink.
Betekenis: Hulle skinder graag.

* Hy is so skelm, hy sal die melk uit jou koffie steel.
Betekenis: Hy is uiters geslepe.

* Haar koffie vlek die koppie.
Betekenis: Sy maak haar koffie baie sterk.

* Hy het êrens 'n trekseltjie koffie gaan vra.
Betekenis: Hy gaan kuier iewers by 'n nooi.

* Hy sal nog sy koffie kry.
Betekenis: Daar sal nog met hom afgereken word.

Tuesday, 12 May 2026

Ruben-idiome: Koffie

Week 19 en ons is amper op die hond se stert met die koffie-idiome. Nog twee sessies en ons verander 'n bietjie die spyse.

* Jy kan die koffie met 'n mes sny.
Betekenis: Die koffie is baie sterk.

* Sy kan darem al koffie skink.
Betekenis: Sy is oud genoeg om te trou.

* Jou koffie stort nou-nou.
Betekenis: Jou probleme is baie naby.

* Wanneer kry ons dan soet koffie.
Betekenis: Wanneer trou julle?

* Hy lieg die melk uit jou koffie.
Betekenis: Hy vertel geweldig leuens. 

* Hy drink swart koffie sonder suiker.
Betekenis: Hy is erg swartgallig.

Tuesday, 28 April 2026

Ruben-idiome: Koffie

Ouma Annie van Petrusburg is baie lief vir idiome en saam met ons koffie en ouma se spesiale kleinkoekies, het ons ook idiome op 'n daaglikse basis ingekry. Ouma Annie se reëls was maklik en verstaanbaar. Jy leer jou idiome en jy kry koekies saam met jou koffie ... óf jy ken nie jou idiome nie, dan is die koekies in die was.  

* Hy kom altyd op die koffie daaraan.
Betekenis: Hy kom ongenooid op etenstyd daar aan.

* Ek is op die koffie met my werk.
Betekenis: Ek het agtergeraak met my werk.

* Sy koffie is vroeg reeds omgeroer.
Betekenis: Daar is lank gelede vir hom geldelike voorsiening gemaak.

* Die koffie ruk jou agteroor.
Betekenis: Die koffie is baie sterk.

* Die koffie is moeg.
Betekenis: Die koffie is baie flou.

* 'n Storm in 'n (koffie)koppie.
Betekenis: 'n Geskil oor 'n nietigheid.

Tuesday, 21 April 2026

Ruben-idiome: Tee

Maats, na 'n heerlike koppie Vyf Rose tee, het ek besluit om vandag na tee-idiome te kyk. Tot my verbasing kon ek net 5 idiome kry. Julle huiswerk vir vandag is om nog idiome oor tee te gaan soek en dit dan vir my te e-pos. 

* Dis nie almal se koppie tee nie.
Betekenis: Dit val nie in almal se smaak nie.

* Teeblare lees.
Betekenis: Iemand se fortuin vertel.

* Hy is bo sy teewater.
Betekenis: Dronk wees.

* Iemand se tee bitter maak.
Betekenis: Iemand se nooi afvry.

* In iemand se tee blaas.
Betekenis: Iemand se nooi van hom afvry.

Tuesday, 14 April 2026

Ruben-idiome: Koffie

Maats, maak 'n koppie koffie en kyk hoe logies is vandag se idiome. Net een deurlees en jy het jou koffie-idiome onder die knie. Geniet dit!

* Iets is op die koffie. 
Betekenis: Dit is stukkend.

* Alles is nie suiwer koffie nie.
Betekenis: Iets is nie pluis nie. 

* Is daar moer in die koffie? 
Betekenis: Daar is onmin. 

* Jou koffie is vol vlieë.  
Betekenis: Jy misgis jou.

* Ek koffie maar huis toe.  
Betekenis: As jy êrens heen koffie, verkas jy soontoe.

Tuesday, 7 April 2026

Ruben-idiome: Koffie

Vandag kyk ons na koffie-idiome. Dit lyk vir my na die maklikste idiome en terwyl jy aan jou koppie koffie sit en teug, leer jy sommer jou idiome.

* Oppas vir hom, hy sal die room uit jou koffie steel!
Betekenis: Hy is skelm.

* Hy is so maer, hy moet swart koffie drink om ’n skaduwee te gooi.
Betekenis: Dit word gewoonlik van iemand gesê wat baie maer is.

* Hy is 'n regte koffiepot. 
Betekenis: Iemand wat lief is vir koffie.

* Kaal koffie of koue koffie of koffie sonder ketel.
Betekenis: Bogenoemde verwys na brandewyn of ander sterk drank.

* Jou koffie stort nou-nou - is ’n waarskuwing. 
Betekenis: Jy soek skoor; pasop dat jy nie nou-nou huil nie.

Tuesday, 31 March 2026

Ruben-idiome: Katte

Maats, sonder om nou katterig te wees, maar hierdie afgelope maand het julle 25 kat-idiome onder die knie gekry. Ek het gedink ek gaan vir Aprilmaand die spyse 'n bietjie verander en kyk ons na idiome wat iets met koffie te doen het. Nou wonder julle seker hoe ek hierdie som maak. Wel, kyk 'n bietjie mooi na die foto - Krummels het vir my 'n koppie koffie gemaak.

Hier is die laaste vyf idiome oor katte - ek sal die ander idiome oor so drie maande plaas - ek moes dit hart en mond vir Krummels belowe het.
  
* As die kat dik is, smaak die muis bitter.
Betekenis: As iemand genoeg geëet het, smaak die kos nie meer lekker nie

* Die kat die bel aanbind.
Betekenis: Die gevaarlike en onplesierige in 'n onderneming of stryd doen.

* Hy is 'n ramkat.
Betekenis: 'n Flink, bekwame kêrel in sy werk.

* Hy kerm soos 'n kat oor 'n derm.
Betekenis: Oor onsin kla en neul.
 
* Vir die kat kwaad wees en die hond skop. 
Betekenis: Jou op ‘n onskuldige persoon wreek as jy kwaad is.

Tuesday, 24 March 2026

Ruben-idiome: Katte

Vandag is week 12 van idiome. Ons ken sowaar 60 meer idiome as wat ons op 1 Januarie 2026 geken het. Die mooi hiervan is dat ons nog net idiome oor katte en honde nadergesleep het. Daar is 'n skatkis vol idiome in Afrikaans. Andrej Ignatenko, 'n Afrikaanse professor aan die Lomonosov Universiteit in Moskou, het gesê dat die hart van Afrikaans in sy idiome lê.
   
* Te laat vir die kat se afval kom.
Betekenis: Opdaag wanneer almal al klaar geëet het.

* Die kat in die donker knyp.
Betekenis: Iets verkeerd in die geheim doen. (Skynheilig wees.)

* Katjies deur die water dra.
Betekenis: 'n Netelige saak oplos.

* Daar is meer as een manier om 'n kat dood te maak.
Betekenis: 'n Mens kan 'n saak op verskillende maniere aanpak en tog 'n sukses daarvan maak.

* Die kat aan die stert beet hê.
Betekenis: Verkeerd wees.

Tuesday, 17 March 2026

Ruben-idiome: Katte

Maats, ek is seker julle is al kenners van kat-idiome. Krummels bring selfs vir my idiome wat ek moet plaas. Ek het nou al soveel idiome oor katte, dat ek ook Aprilmaand daaraan gaan afstaan.

* Soos kat en hond lewe.
Betekenis: In onenigheid lewe, voortdurend rusie maak (veral van man en vrou gesê)

* Soveel van iets weet soos 'n kat van saffraan.
Betekenis: Daar niks van weet nie.

* Sy is 'n kat.
Betekenis: Vals of snipperige vrou of meisie.

* Hy lyk of die katte sy kos afgeneem het.
Betekenis: Hy is terneerdruk of stil; sien daar verleë uit.

* Jy het die kat aan die stert beet.
Betekenis: Jy het nie 'n benul wat hier aangaan nie; jy weet niks nie.

Tuesday, 10 March 2026

Ruben-idiome: Katte

Let op: Krummels hou 'n
wakende oog oor my!
Hierdie is ons tweede week wat ons aan kat-idiome afstaan. Krummels kan nie genoeg kry van haar naam op die blog nie en ek het sowaar gehoor by een van die kinders dat sy hulle idioomkennis toets.

Geniet die tweede sarsie kat-idome. Onthou: memoriseer dit en gaan sê dit vir Krummels op. 

* 'n Kat val altyd op sy pote.
Betekenis: Hy kry homself altyd uit die moeilikheid uit.

* 'n Kat kan ook na 'n koning kyk.
Betekenis: Die eenvoudigste mens het ook sekere regte.

* Nie 'n kat se kans hê nie.
Betekenis: Geen kans op sukses hê nie.

* So nat soos 'n kat.
Betekenis: Baie nat, papnat ... papsopnat.

* So welkom soos 'n kat in 'n melkkamer.
Betekenis: Baie onwelkom.

Tuesday, 3 March 2026

Ruben-idiome: Katte

Kyk, Maats, Krummels kom loer kort-kort oor my skouer, hier waar ek sit en skryf. Ek het mos vir haar belowe dat Maart se idiome net oor katte sal gaan. Ek is op hierdie oomblik besig om idiome oor katte in die woordeboek te soek. Kyk gerus op die foto - julle sal my dik woordeboek sien.

Vandag begin ek met die letter K. En julle kan natuurlik raai hoekom. Elkeen van die volgende paar weke se idiome gaan die woord KAT of KATTE inhê. Ek wil kyk hoeveel van hierdie idiome julle kan memoriseer. Doen dit asseblief, ter wille van Krummels. Geniet dit!  

* Die kat uit die boom kyk.
Betekenis: Dinge eers goed deurkyk voordat jy iets aanpak (byvoorbeeld voordat jy ’n transaksie beklink).

* Geen katjie om sonder handskoene aan te pak nie.
Betekenis: ‘n Baie moeilike persoon.

* Gooi die kat in die duiwehok.
Betekenis: Veroorsaak ‘n groot konsternasie.

* Jou ‘n kat in die sak koop.
Betekenis: ‘n Slegte koop sluit; jou laat verkul. As die kat dik is, smaak die muis bitter.
Betekenis: As iemand genoeg geëet het, smaak die kos nie meer lekker nie.