Sunday 14 July 2024

Steelwings Kimberley besoek Christina Kiddies

Lede van die Steelwings Kimberley het Christina Kiddie se Sondag op sy kop gedraai. Vreugde, opgewondenheid en blydskap het gelyktydig op elke kindergesiggie verskyn. Fietse en motorfietse was die hoogtepunt van die dag. Dis elke seuntjie se droom om op 'n motorfiets te ry en vandag is daardie droom bewaarheid. Elkeen van hulle kon in die veiligheid van die erf 'n draai op 'n Harley-Davidson® kry. En net daar het elkeen besluit dat as hy groot is, gaan hy, sonder twyfel, vir hom 'n Harley-Davidson® koop. Die gesegde: There are two kinds of people - Harley® owners and sad people, het hulle besluit onderstreep dat hulle nie deel van die sad people gaan wees nie.

Die fietse wat hulle vandag as geskenke gekry het, het onmiddellik aftrek gekry en die GROOT voordeel is dat die fietse by Christina Kiddie kan bly - nie soos die motorfietse wat aan die einde van 'n heerlike dag hul weg weer teruggevind het na hul onderskeie huise nie.

Dan was daar ook die springkasteel - die kinders het hul hart uitgespring en deeglik van hierdie heerlike en kleurvolle geleentheid gebruik gemaak.

Middagete het verskuif van die eetsaal na die braai buite in die tuin. Wat 'n heerlike afwisseling. Hierdie opgewonde kinders het nie eens agtergekom dat dit winter is nie, want in almal se harte het die somer se son geskyn.

Vir elke besoeker wat vandag die vreugdesaad in kinderharte geplant het, 'n yslike groot dankie. Hierdie onbaatsugtige daad gaan nog vir ure se gesels verantwoordelik wees.

Dankie vir julle besoek vroeër in die week en die donasie van 10 sakkies aartappels, 2 skootrekenaars en die tweedehandse rekenaars. Julle maak die inwoners se speelvlak gelyk.

Mag julle seën ontvang op al julle 2024-uitreikaksies en dankie dat Christina Kiddie op julle lysie is. 

Hou gerus hierdie spasie dop - daar is nog hope foto's wat wag om gelaai te word!

No comments:

Post a Comment