Showing posts with label Matilda. Show all posts
Showing posts with label Matilda. Show all posts

Monday, 10 November 2025

Binnekringnuus: Matilda Muis

Interne korrespondent: Matilda Muis het 'n besige dag agter haar blad. Gelukkig kan sy helpers uitstuur om haar te help. Sy loop elke aand baie laat op haar tone van kamer tot kamer om in elke inwoner se skoen te loer of daar dalk 'n tandjie is. Dan, net om seker te maak dat sy nie iewers 'n fout gemaak het nie, stuur sy haar helpers uit om te gaan seker maak. Hulle is nog nie so ervare nie en eintlik is Matilda Muis besig om hulle in die tandebesigheid op te lei. 

Eerstens is dit belangrik om baie saggies op hul tone te loop. Daarom hulle oefen elke dag na ontbyt in die kombuis om saggies te loop. En as Matilda Muis net 'n effense geluidjie hoor, moet hulle van vooraf begin. Die groot geheim vir 'n tandemuisagent lê in hoe hy loop.

'n Ware tandemuis beweeg onhoorbaar - en dit verg baie oefening en baie geduld.  

Die tweede belangrike punt om te onthou is om altyd waaksaam te beweeg. Matilda Muis wil nie hê dat een van haar agente katkos of hondekos moet word nie. By Christina Kiddie is dit werklik 'n uitdaging om lewend van jou sending af terug te kom. Met Ruben, die hoof van sekuriteit en sy energieke kleinboet, Tommie, is elke sending 'n nagmerrie. Dan is daar natuurlik Krummels - gelukkig slaap Krummels die meeste van die tyd voor die televisie en is sy minder van 'n gevaar as haar Petrusburg-huisgenote. 

Die derde belangrike punt is om te onthou in watter skoen jy die tandjie gekry het, want die briefie en geldjie moet by die regte persoon afgelewer word. En deesdae met die skoolskoene wat almal eenders lyk, is dit ook 'n uitdaging. 

So lei Matilda Muis haar melktand-agente op met die presisie van 'n AI-robot.
 

Sy skryf elke briefie self. Sy hou daarvan om nog steeds persoonlike kontak met haar klante te hê. Dan neem sy een van die jongelinge saam met haar as sy die briefie in 'n skoen gaan sit, met die monetêre waarde styf in haar regterpoot vasgeklem.

Gister moes een van die inwoners se kiestand getrek word. Matilda Muis het hom só jammer gekry, maar was terselftertyd baie opgewonde. Dit was regtig 'n groot tand vir 'n tienjarige outjie. Sy wou vir hom 'n ekstra geldjie gee om te kompenseer vir die pyn, maar toe besef sy dat daar 'n yslike gat in die tand is en toe is sy reguit tuin toe met daardie tand. Matilda het haar hen-met-die-kuikens in daardie tand geplant en op haar voorstoep gesit.

André se tandjie was 'n spierwit gesonde tandjie en sommer baie werd vir Matilda. 

Sy het vir elkeen 'n briefie geskryf en die geld in 'n sakkie gesit en vir haar melktand-agente gevra om baie subtiel die sakkies by die onderskeie huismoeders te gaan afgee.

Groot was tannie Christelle se verbasing toe die twee skenkers vir haar kom vertel van die briefies en die geld wat Matilda Muis in die sakkies gesit het. 

'n Bewys dat tandemuise bestaan en aktief agter die skerms werk.   

Tuesday, 9 July 2024

Ruben se vakansie-oorsig

Liewe Maats

Ek moet bieg, hierdie koue vakansie was ek werklik besiger as die hele tweede kwartaal. Daar het so baie dinge gebeur dat dit vir my voel asof ek nog steeds aan die hardloop is. Die derde kwartaal het vandag begin, maar voordat ek daaraan aandag kan gee, wil ek net vir julle so 'n neutedopopsomming gee van wat alles gedurende die vakansie plaasgevind het.

Ek begin sommer by die Bybelskool, met die kinderfeestema, wat regtig 'n besondere ervaring was. Drie van ons inwoners is tydens die eerste week opgelei as kringleiers en die tweede week was ons kniediep by alles betrokke wat die fees gebied het. Daarna het ons heerlike dankie-sê-koekies gebak vir die Bybelskoolorganiseerders en -deelnemers.

Tussendeur het ons 'n heerlike bederfbesoek van Dirk en Tinike gekry - gaan kyk asseblief na die artikels wat oor hulle kuier handel. Daarna het WOW 'n spesiale pretdag saam met ons deurgebring en het ons baie uit die kognitiewe speletjies geleer wat ons deur die loop van die dag gespeel het. Gaan lees gerus my briefie van 21 Junie 2024 waar ek breedvoerig oor die dag uitbrei. En dan het ons 'n verrassingsbesoek van Timney Greyling en Ben Burger gekry.

Ons klomp het 'n besoek aan die DBV gebring, maar ek moes by die Jeugsorgsentrum agterbly om die plek op te pas. Was ek nou spyt dat ek die enigste manspersoneellid daardie dag aan diens was. Ek sou so graag 'n draai by die DBV wou maak om te kyk wat hulle alles daar doen. En so 'n bietjie skinder tussen ons vierpotiges is mos nie te versmaai nie. Ek kan egter met trots sê dat Christina Kiddie nie met leë hande daar opgedaag het nie, maar kat- en hondekos saamgeneem het. Hou gerus ons webwerf dop, daar gaan nog foto's van hierdie besoek geplaas word.

Koekies bak een Saterdagmiddag was ook op ons lang vakansielys van doendinge en die versiering van kolwyntjies het ons kreatiewe kant na vore laat kom. 

En dan was daar speeltye ... sommer in hoofletters! Die seuns het paaie gebou, lughawens opgerig en plase uitgelê, terwyl die dogters heerlik pop gespeel het. Hulle babas is omtrent bederf. Elke ma moes met die hulp van tannie Christelle die bababedjies van karton met lap oortrek en vir elke bedjie was daar 'n matras, 'n kussing en 'n warm kombersie. Elke baba het ook 'n naam gekry en so al spelende is daar ook waarhede van kindergrootmaak onder die ma's uitgeruil. 'n Paar dae later het elkeen ook 'n bababottel gekry wat nuwe dimensie aan die spelery gegee het. Al spelende het ure van die vakansie net onder ons uitgeglip.

'n Groot verrassing was die besoek van Matilda Tandemuis. Ons het nie eens geweet dat sy by ons Jeugsorgsentrum ingetrek het nie. Die eerste sigbare tekens was toe sy vir haar boumateriaal betaal het en sommer 'n dankie-briefie in die skoen gelos het.

Gister het ons vrolike geraamde Portchie-skilderye opgedaag. 'n Hartskenking van die kunstenaar homself. Ek sou nie vir een oomblik kon dink dat hierdie wêreldberoemde man van Stellenbosch van ons klompie hier in die Noord-Kaap bewus is nie. Sy kleurvolle werke het my so geïnspireer dat ek lus voel om self 'n poot op papier te sit.

Ons het 'n begin gemaak met ons huisbiblioteek, en sal deur die loop van hierdie kwartaal daaraan aandag gee. My groot ideaal is om lesers van elke leerder te maak en ons weet almal dat lesers leiers is. Ek het so 'n paar planne gemaak, maar na hierdie vakansie sien ek duidelik dat ek my leesplanne sal moet hersien.

Die ACVV het ons bederf met 'n klomp kindertafeltjies en -stoeltjies, speletjies en 'n trampolien. Dit voel asof die seëninge hierdie vakansie op ons gereën het. Ons is regtig so dankbaar daaroor.

Die hoogtepunt aan die einde van die vakansie en die begin van die nuwe kwartaal is die jungle gym wat besig is om uit die grond te verrys. Ons klomp hou die grawery, plantery en aanmekaarsittery van hierdie klouterraam met valkoë dop. Binnekort is die oefenvoordele wat hierdie nuwe gym inhou, ons s'n. 'n GROOOOOT dankie aan Dirk en Tinike vir 'n langtermynbelegging in ons speeltoekoms. Julle is twee ware ysters. Ek gee sommer 'n ekstra blaf vir julle!! Binnekort gaan die foto's van hierdie aanmekaarsittery van die klouterraam op die web verskyn.   

Ek is seker ek het 'n aktiwiteit of drie uitgelos. Om so aan die gang te wees, het sy eie uitdagings aan my gestel. Ek dink ek moet in die aande as almal slaap, die jungle gym tot my fiksheidsvoordeel gebruik. 

Ek skryf binnekort weer vir julle oor 'n ander saak wat my na aan die hart lê, maar wat ek nie in my hoogtepuntbriefie wil aanraak nie.

Tot 'n volgende keer.

Ruben-groete!

             

Wednesday, 26 June 2024

Matilda Muis

Sy is aktief in die nag. Sy maak huis skoon, sit die vuilgoedsakke uit, hang haar wasgoed op die draad  en dan doen sy bedrondtes - amper soos 'n dokter wat saalrondtes doen, maar die dokter se werk is nie naastenby so gevaarlik soos hare nie. Sy beweeg grasieus en geluidloos op haar 20 tone. 

Hierdie skugter, geheimsinnige en waaksame inwoner het iewers gedurende die jaar haar intrek in Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum geneem. Wanneer dit gebeur het, kon nog nie vasgestel word nie en nog minder waar sy presies bly. Die enigste leidraad wat Matilda sover gelos het, is dat sy nog nie klaar met haar bouwerk is nie. Boumateriaal is skaars.

Sy handhaaf egter 'n uiters lae profiel, maar dat sy 'n groot liefde vir kinders het, blyk duidelik uit haar optrede. Sy moet blykbaar al 'n geruime tyd doenig wees, sonder dat sy 'n spoor gelos het. Twee van die jong inwonertjies het met groot opgewondenheid een oggend aan ontbyttafel oor die vreemde verwikkelinge gepraat, maar dis eers toe sy 'n briefie in Damion se skoen gelos het, dat die ander werklik van haar bewus geword het. Sy het 'n bewustelike papierspoor gelos, (as ons in vandag se jargon praat) en op hierdie wyse haar teenwoordigheid geruisloos bekend gemaak. 

Hierdie misterieuse werkswyse het die inwoners baie opgewonde, maar ook aan die raai. Daar is nou al selfs weddenskappe wie haar eerste gaan raaksien. Maar ... Matilda ... werk saam met Klaas Vakie en voordat Matilda haar voordeur agter haar toesluit, maak Klaas Vakie seker dat al die inwonertjies in droomland is, so nie, strooi hy vinnig slaapsand in hulle oë. 

Sy kies haar wandeltye en loopplekke baie goed, want met Ruben en Krummels in die omgewing is dit nie maklik om ongesiens deur die koshuis te beweeg nie. Hierdie vlugvoetige viervoetige inwoner maak op haar sesde sintuig staat om haar woonstel elke aand ongedeerd en ongesiens te bereik.  

Die foto's van die briefwisseling vertel hul eie verhaal.

Plaaslike verslaggewer