Showing posts with label Courier Guy. Show all posts
Showing posts with label Courier Guy. Show all posts

Tuesday, 18 February 2025

Ruben sê dankie vir sy verjaardagboodskappe


Liewe Maats 

Hierdie is net 'n kort briefie om vir julle dankie te sê vir die goeie verjaardagwense. Ek is skoon verras met die stortvloed van boodskappe. Dankie vir al die WA's wat ek op my mensma se foon gekry het. Elke een wat my op die stoep of in die tuin raakgeloop het, het vir my 'n kloppie op die rug gegee of my tussen die ore gevryf. Die belangstelling was verstommend. En dadelik het dit my getref: GESINDHEID! Wedersydse gesindheid teenoor mekaar maak die verskil. Julle goeie gesindheid teenoor my maak 'n verskil in my lewe.

Ek het werklik geliefd gevoel en om die dag af te kon hê, was al klaar vir my 'n groot present. Ek het egter nie my waaksaamheid verslap nie. Dis mos deel van my DNA en ek het nog steeds met gespitste ore deur die dag gegaan. 

Ek het vir tannie Christelle gevra om my verjaardagpartytjie klein te hou en 'n bietjie uit te stel. Na almal se vreugde, opgewondenheid en uitgelatenheid met Valentynsdag, gaan julle nie my verjaardagpartytjie met dieselfde entoesiasme benader nie. My verjaardag-in-aksie lê nog voor. Intussen suurdeeg ek sekere gedagtes by die inwoners wat met my kom hartsake gesels.

Ek het besluit my verjaardagpartytjie se tema moet gesindheid of gesindhede wees. Ek het besef hoe belangrik gesindheid is, veral in 'n koshuis soos hier by ons. Ons is een groot familie, elkeen met sy eie drome, probleme, agtergrond en aanpassingshekkies wat ons moet leer om te oorkom. Daarom moet ons ook mekaar help en dit vir mekaar makliker maak, al moet ons ook van ons kant af opoffferinge doen. Dink julle maats dat dit 'n goeie tema is? Julle moet weet in Petrusburg, my geboorteplek, is goeie karaktereienskappe by ons ingedril. My ouma Annie het gereeld gesê dat die dag wanneer ons die huis verlaat, word ons 'n lopende, blaffende en knorrende advertensie vir ons ouerhuis. My en Tommie se optrede op ander plekke weerspieël wat die wêreld van die jongmense van Petrusburg gaan dink.

As dinge in jou lewe sleg gaan, of die lewe se probleme en ongelukkigheid druk swaar op jou hart, kom praat met my. As ek nie op en af draf langs die heining om die pad te inspekteer nie, kan ons lekker op die gras onder die koelteboom sit en kuier. Ek is 'n baie goeie luisteraar en ek blaf nie mense se geheime uit nie. As van die kinders jou wegstoot, baklei of sleg behandel, skok hulle met jou gesindheid. Dis nie maklik nie, maar ek kan jou daarmee help en vir jou 'n bietjie van raad bedien. Onthou, ek het ook maar probleme gehad, ek was dikwels my blaf belet, ek was ook geboelie, maar my ondersteuningstruktuur het my deur hierdie kniehalterende probleme gedra. Wees mekaar se ondersteuningstruktuur.   

Maats, ek wil nie vir julle preek nie, maar ek is besig om vir Tommie die belangrikheid van goeie gesindheid te leer. En as julle my daarmee kan help, sodat Tommie kan sien hoe praat, speel en ondersteun outjies mekaar wat 'n positiewe gesindheid het, sal dit my werk ook makliker maak. Dis juis Tommie se opvoeding, die deel waarvoor ek verantwoordelik is, wat my aan die dink gesit het.

Op hierdie punt, my liewe maats, vra ek voorstelle vir my verjaardaggeselligheid. Hoe kan ek my tema gebruik dat ons hope pret en plesier kan hê, maar terselftertyd ook die Ruben-lewenslesse vir altyd sal onthou???    

Dankie, Petrusburg, vir die lekker koubene wat Courier Guy vir my afgelewer het. Tannie Christelle bêre dit vir my in die vrieskas en as ek op 'n Saterdag of Sondag wil herkou aan dinge wat my pla, dan kan ek dit al kouende aan 'n been doen.    

Maats, mag julle positiewe gesindheid die res van die week blom.

Ruben-groete tot 'n volgende keer!