Showing posts with label Eerste dag. Show all posts
Showing posts with label Eerste dag. Show all posts

Wednesday, 15 January 2025

Ruben spog met sy hartskinders se foto's


Liewe Maats

Dit was vir my heerlik om so 'n vinnige draai by elkeen van julle skole te maak. 'n Vinnige voëlvlug soos my ouma altyd gesê het, net om te sien of elkeen van my hartskinders reg is. 'n Mens voel mos maar die eerste dag van die nuwe skooljaar 'n bietjie onseker. En as al die skoenlappers in jou maag rustig geraak het, dan kyk jy mos met ander oë na jou klasmaats en in jou hart besluit jy: hierdie gaan my lekkerste klas en my beste jaar wees!! 

Ek het so 'n paar foto's geneem en ek deel dit graag met ons Koester Karos-lesers.


Mag 2025 goed wees vir ons hartskinders en hulle beloon met goeie punte!

Ruben-groete tot 'n volgende keer.


Monday, 30 December 2024

Ruben sê: "Ouboetwees is nie maklik nie."


Liewe Maats

Die dinamika hier op die CK-werf het drasties verander. Almal se sintuie is nou Tommie-skerp. 

Tommie is 'n boompie wat gebuig moet word, voordat slegte gewoontes kan kans kry om pos te vat. Ons moet kyk dat hy nie verdwaal nie, dat hy nie wegloop nie, dat hy nie baklei of ander terg nie, dat hy nie onnodig blaf nie, dat hy sy maats reg sal kies, dat hy besef wat is die gevare in en om die huis en nog hope ander dinge. Dis 'n verskriklike groot verantwoordelikheid om 'n ouboet te wees. En dan moet ek onthou dat ek eintlik die oë en ore van Tannie Christelle is, dat die sekuriteit van CK nog my belangrikste taak is en dan wil-wil my knieë knak onder die verantwoordelikheidsbesef.

Tommie se lekkerste tydverdryf is gate grawe. Baie gate. Orals. Daarom moet hy 24/7 dopgehou word, want om 'n gat onderdeur die heining te grawe, en stil-stil tussen neus en oë te verdwyn, is nie moeilik nie. En Tommie besef nie die gevare in die stad nie. Hy kan so maklik raakgery word, of ontvoer word of in 'n hondegeveg betrokke raak met die rondloper skolliehonde en die onderspit delf. Onthou, hy kom van Petrusburg af waar almal na almal se kinders, katte en honde kyk. En as jy jou dáár op 'n verkeerde plek bevind, word jy aangepraat, die lyne warm gebel en is jy spoedig terug onder jou ma se dak waar jy hoort. 

Nie in die stad nie. Hier raak 'n mens onsigbaar en verdwyn baie maklik tussen die skare. Hier moet jy 'n doelbewuste besluit neem om nie die hoofstroom te volg nie. Dit is dus noodsaaklik om 'n mentor of  'n "voorloper" te hê. Ek wil nie net Tommie se ouboet wees nie, ek wil 'n voorbeeld vir hom stel. Ek wil nie vir hom vertel wat reg of verkeerd is nie, hy moet dit in my lewe sien ... in my elke dag se doen en late.  

2025 gaan sy eie uitdagings aan my stel en Tannie Christelle se standaarde is hoog. Vir haar wil ek nooit teleurstel nie. Daarom is my grootste doel vir hierdie nuwe jaar om met soveel entoesiasme en blydskap te lewe dat ander jaloers gaan wees op my lewensvreugde, 'n voorbeeld vir Tommie te stel, en die beste sekuriteitsbeampte te wees wat ek kan wees. 

Ek kan nog baie byvoeg en ook vir julle maats 'n paar wenke en gedagtes gee om julle aan die dink te sit, maar dit moet so 'n dag of drie oorstaan. 'n Mens moet besin oor wat jy met jou lewe wil doen en op watter manier 'n mens 'n positiewe bydrae kan maak. Daar is genoeg moeilikheid en probleme in die wêreld. 2025 kan nie net 'n herhaling van 2024 wees nie, dan het 'n mens mos niks geleer nie en ook nie emosioneel gegroei nie.  

Ek groet eers - gaan 'n paar balle saam met Tommie skop en vir hom saamneem op my heininginspeksierondte. Hy moet sommer vroeg-vroeg al leer wat verantwoordelikheid is.  

Ruben-groete tot 2025!

Wednesday, 25 December 2024

Ruben se blink Kersfeesster


Liewe Maats

Hier is my beloofde brief waarin ek my superduper goeie nuus met julle wil deel. Geeneen van vanjaar se hoogtepunte (en daar was baie) kan kers vashou by Vrydag, die 13e Desember nie. Eers kon ek my oë nie glo nie en baie versigtig dog ek dis 'n kuiergas, want kuiergaste kom en gaan, maar toe Tannie Christelle vir my kyk en knik, toe weet ek hierdie kuiergas het gekom om te bly. 

Met drie bokspringe, wou ek dit aan die wêreld uitblaf, maar Tannie Christelle het gesê dat dit eintlik my Kerspresent is wat 'n bietjie vroeër gekom het, sodat ons kan sien of  hy sal aanpas. Maar ek moet nie nou al vir almal vertel dat ek my Kerspresent gekry het nie - dit kan dalk groot ongelukkigheid tot gevolg hê! So my verstand het my tot stilswye gemaan, as my hart wou hand uitruk.

Maats, my borskas het dubbeld die grootte geswel van vreugde en trots. Ek kon glad nie my kraaghemde dra nie, want 'n trotse man, sukkel om sy hemp se knope toe te kry. Ek voel asof ek sweef en geen werk was die afgelope twee weke moeite nie!

Ja, Tommie het Vrydag, die 13e, in my lewe en in my hart ingestap!

Bitter groot was my blydskap toe ek hoor dat ons nie net van dieselfde dorp af kom nie, maar dat ons bloedfamilie is. Ons is volbloed Vrystaters, Petrusburgers, maar word in die Noord-Kaap getoë.

Ek is nou 'n ouboet! Tommie is my eerste prioriteit. Genugtig maats, skielik het my verantwoordelikheidsmeter die hoogte ingeskiet. Besef julle dat ons mekaar se prioriteite is? Dat ons moet uitkyk vir mekaar, mekaar moet bemoedig, mekaar moet aanmoedig en sorg dat ons die spieël is waarin die ander een na sy of haar weerkaatsing kan kyk? 

My eerste gedagtes in die oggend is Tommie en in die aand as ek my moeë oë toemaak, is dit met 'n glimlag, want Tommie was deel van my besige dag!

Tommie was vreemd en onseker en ek onthou my eerste dag by Christina Kiddie soos gister. Bangerig - vreemd - alleen en half verlore - en julle outjies het my dadelik ingetrek, en my 'n volbloed Christina Kiddie-inwoner gemaak - want elkeen van julle onthou julle eerste dag soos gister! 

Ons is die Christina Kiddie-familie - ongeag - en met hierdie wete het ek Tommie se skaduwee geword. Voorwaarts ontdek hy sy nuwe wêreld, nuuskierig toets hy grense en tandeknersend laat ek alles net tot op 'n punt toe voordat ek voel ek moet ingryp. Saam met vryheid, kom verantwoordelikheid. So het julle outjies my leer ken. Ons moet mekaar voortdurend motiveer, aktiveer, en werklik inspireer, maar beslis ook dissiplineer.

Die wêreld lê oop voor Tommie, daar is soveel leergeleenthede en dis ons elkeen se plig om goeie spore in Tommie se lewe te trap. 

Ons praat gou weer. En intussen moet ons seker maak dat ons gekalibreer is vir 2025.

Ruben-groete!