Hier is my beloofde brief waarin ek my superduper goeie nuus met julle wil deel. Geeneen van vanjaar se hoogtepunte (en daar was baie) kan kers vashou by Vrydag, die 13e Desember nie. Eers kon ek my oë nie glo nie en baie versigtig dog ek dis 'n kuiergas, want kuiergaste kom en gaan, maar toe Tannie Christelle vir my kyk en knik, toe weet ek hierdie kuiergas het gekom om te bly.
Met drie bokspringe, wou ek dit aan die wêreld uitblaf, maar Tannie Christelle het gesê dat dit eintlik my Kerspresent is wat 'n bietjie vroeër gekom het, sodat ons kan sien of hy sal aanpas. Maar ek moet nie nou al vir almal vertel dat ek my Kerspresent gekry het nie - dit kan dalk groot ongelukkigheid tot gevolg hê! So my verstand het my tot stilswye gemaan, as my hart wou hand uitruk.
Maats, my borskas het dubbeld die grootte geswel van vreugde en trots. Ek kon glad nie my kraaghemde dra nie, want 'n trotse man, sukkel om sy hemp se knope toe te kry. Ek voel asof ek sweef en geen werk was die afgelope twee weke moeite nie!
Ja, Tommie het Vrydag, die 13e, in my lewe en in my hart ingestap!
Bitter groot was my blydskap toe ek hoor dat ons nie net van dieselfde dorp af kom nie, maar dat ons bloedfamilie is. Ons is volbloed Vrystaters, Petrusburgers, maar word in die Noord-Kaap getoë.
Ek is nou 'n ouboet! Tommie is my eerste prioriteit. Genugtig maats, skielik het my verantwoordelikheidsmeter die hoogte ingeskiet. Besef julle dat ons mekaar se prioriteite is? Dat ons moet uitkyk vir mekaar, mekaar moet bemoedig, mekaar moet aanmoedig en sorg dat ons die spieël is waarin die ander een na sy of haar weerkaatsing kan kyk?
My eerste gedagtes in die oggend is Tommie en in die aand as ek my moeë oë toemaak, is dit met 'n glimlag, want Tommie was deel van my besige dag!
Tommie was vreemd en onseker en ek onthou my eerste dag by Christina Kiddie soos gister. Bangerig - vreemd - alleen en half verlore - en julle outjies het my dadelik ingetrek, en my 'n volbloed Christina Kiddie-inwoner gemaak - want elkeen van julle onthou julle eerste dag soos gister!
Ons is die Christina Kiddie-familie - ongeag - en met hierdie wete het ek Tommie se skaduwee geword. Voorwaarts ontdek hy sy nuwe wêreld, nuuskierig toets hy grense en tandeknersend laat ek alles net tot op 'n punt toe voordat ek voel ek moet ingryp. Saam met vryheid, kom verantwoordelikheid. So het julle outjies my leer ken. Ons moet mekaar voortdurend motiveer, aktiveer, en werklik inspireer, maar beslis ook dissiplineer.
Die wêreld lê oop voor Tommie, daar is soveel leergeleenthede en dis ons elkeen se plig om goeie spore in Tommie se lewe te trap.
Ons praat gou weer. En intussen moet ons seker maak dat ons gekalibreer is vir 2025.
Ruben-groete!