Showing posts with label Honde. Show all posts
Showing posts with label Honde. Show all posts

Tuesday, 24 February 2026

Ruben-idiome: Honde

Maats, hierdie is voorlopig die laaste van die honde-idiome. Maartmaand gaan ek my woord aan Krummels gestand doen en 'n paar kat-idiome (katterige idiome) met julle deel. Viva idiome!

* Met onwillige honde kan mens g’n hase vang nie.
Betekenis: Met onwillige werkers bereik 'n mens nie jou doel nie.

* Moenie slapende honde wakker maak nie.
Betekenis: Dinge wat moeilikheid kan veroorsaak, moet liefs verswyg word.

* 'n Hondelewe lei.
Beteknis: 'n ellendige bestaan voer.

* Nie hond haaraf maak nie.
Betekenis: Niks uitrig nie.

* Oor die hond se stert wees.
Betekenis: Oor die ergste of die moeilikste wees.

Tuesday, 17 February 2026

Ruben-idiome: Honde

Maats, julle kan sien dat ek elke dag getrou my idiome neerskryf. Ek kan nie dat julle idiome leer wat ek nie ken nie. Dis vir my heerlik om by tannie Christelle se tafel te sit en my idiome uit te skryf. Ek hoop julle doen dieselfde.

* Jy kan ‘n hond die blaf nie belet nie.
Betekenis: Jy kan ‘n mens nie belet om sy mening uit te spreek nie.

* Kom ‘n mens oor die hond, dan kom jy oor die stert.
Betekenis: As jy oor die ergste moeilikheid kom, kan jy oor die kleineres ook kom.

* Lyk asof die honde sy kos afgeneem het.
Betekenis: Verleë, beteuterd lyk.

* Lyk soos ‘n hond wat vet gesteel het.
Betekenis: Sku, verleë, beteuterd lyk as gevolg van 'n skuldgevoel.

* Met alle honde saampraat.
Betekenis: Almal napraat.

Tuesday, 10 February 2026

Ruben-idiome: Honde

Ek weet julle is seker al moeg vir honde-idiome! Ek sal volgende maand iets oor katte sê. Krummels het juis gekla dat enige ander mens (en dis net hier waar die verskil inkom!) by die letter A sou begin en nie by H nie. Ek het nog baie honde-idiome, maar julle kry julle gewoonlike 5. Lekker leer! 

* Elke hond kry sy dag. 
Betekenis: Elkeen kry sy dag van geluk, teëspoed of vergelding.

* G’n hond kan dit hou nie.
Betekenis: 'n Mens kan dit verduur nie.

* G’n hond kan dit vreet nie.
Betekenis: Dit is baie sleg (gewoonlik van oneetbare kos gesê.)

* Groot (kwaai) honde byt nie sommer nie.
Betekenis: Sterk teëstanders laat mekaar met rus.

* Haastige hond verbrand sy mond.
Betekenis: Gesê wanneer iemand oorhaastig te werk gaan en sake verbrou.

Tuesday, 3 February 2026

Ruben-idiome: Honde

'n Nuwe maand - nuwe idiome. Geniet dit!

* Kommandeer jou eie honde en blaf self.
Betekenis: Voer jou eie voorstel uit/doen self wat jy vir ander sê om te doen.

* Ons het 'n hond uit 'n bos gekuier.
Betekenis: Ons het baie lekker gekuier.

* Mak honde byt die seerste.
Betekenis: Jou eie mense kan jou die seerste maak.

* Dit is nie om die hondjie nie, maar om die halsbandjie.
Betekenis: Iemand is agter iets anders aan as was hy voorgee.

* Geen hond of kat met rus laat nie.
Betekenis: Almal lastig val.

Tuesday, 27 January 2026

Ruben-idiome: Honde

Dit lyk my julle is goed op dreef. Julle ken reeds 15 honde-idiome. Onthou om dit te gebruik in julle opstelle. Hier is nog 5 mooi idiome.

* Ek kry nou hond se gedagtes.
Betekenis: Ek vermoed iets/agterdogtig raak.
 
* Behandel iemand soos 'n hond.
Betekenis: Iemand baie sleg behandel.

* Hulle baklei soos kat en hond.
Betekenis: Hulle baklei ewigdurend.

* Ek ruik hond.
Betekenis: Iets is iewers fout.

* Hy lei 'n hondelewe.
Betekenis: Hy kry swaar.

Tuesday, 20 January 2026

Ruben-idiome: Honde

My ouma Annie is so lief vir idiome. Ek het haar gevra om vir my 'n paar honde-idiome gestuur. Jy kan sommer sien hierdie idiome kom van iemand wat van goeie maniere en dissipline hou. Lekker leer!

* Elke hond is baas op sy eie werf.
Betekenis; Elkeen is die meester van sy eie huis/elkeen voer gesag op sy eie gebied.

* Dooie honde byt nie.
Betekenis: Dooies is onskadelik.

* Dag, hond.
Betekenis: Sê dit vir iemand wat nie groet nie.

* Dankie, hond.
Betekenis:  Teregwysing aan iemand, veral ‘n kind, wat nie dankie gesê het nie.

* Nie hond haaraf maak nie.
Betekenis: Niks uitrig nie.

Tuesday, 13 January 2026

Ruben-idiome: Honde

Vandag is die tweede sarsie idiome. Ek hoop julle onthou nog verlede week s'n. Geniet dit! 

* So siek soos ‘n hond wees.
Betekenis: Baie siek wees.

* Soos kat en hond lewe.
Betekenis: In onenigheid lewe, voortdurend rusie maak (veral van 'n man en 'n vrou gesê).

* Twee honde veg om een been, die derde loop daarmee heen.
Betekenis: Twee mense of partye twis oor iets en 'n derde trek die voordeel daaruit.

* Vir die kat kwaad wees en die hond skop.
Betekenis: Jou op ‘n onskuldige persoon wreek as jy kwaad is.

* Wors in ‘n hondehok soek.
Betekenis: Iets soek waar jy dit nie sal kry nie.

Tuesday, 6 January 2026

Ruben-idiome: Honde

Kyk, Maats, ek is lief vir stories, grappies, idiome en Afrikaans. Elke Donderdag deel ek met julle 'n storie waarvan die inhoud my op een of ander manier geraak het. En terwyl ek so sit en lees, dink ek daaraan dat julle nie meer idiome gebruik nie. Idiome raak skaars. Idiome is die blink juwele in 'n gesprek - die stukkie sin wat jou tone laat omkrul van die lekkerte, want 'n mens kan die prentjies in jou kop sien. 

Daarom het ek besluit om een maal 'n week na idiome te kyk en met julle te deel. Vandag begin ek met die letter H. En dit is nie om dowe neute nie. Elkeen van die volgende paar weke se idiome gaan die woord HOND inhê. Ek wil kyk hoeveel van hierdie idiome julle kan memoriseer. Geniet dit! 

* Agter elke hond aan blaf.
Betekenis: Ander napraat sonder om 'n eie mening te hê.

* As 'n mens 'n hond wil slaan, kry jy maklik 'n stok.
Betekenis: 'n Mens kan altyd 'n rede kry om ander kwaad aan te doen.

* Baie honde is ‘n haas se dood. 
Betekenis: Deur samewerking word veel uitgerig.

* Bekend soos die bont hond.
Betekenis: Alom berug.

* Blaf met die honde en huil met die wolwe.
Betekenis: Met persone van verskillende menings saampraat/met almal saampraat.