Showing posts with label Binnekringnuus. Show all posts
Showing posts with label Binnekringnuus. Show all posts

Monday, 10 November 2025

Binnekringnuus: Matilda Muis

Interne korrespondent: Matilda Muis het 'n besige dag agter haar blad. Gelukkig kan sy helpers uitstuur om haar te help. Sy loop elke aand baie laat op haar tone van kamer tot kamer om in elke inwoner se skoen te loer of daar dalk 'n tandjie is. Dan, net om seker te maak dat sy nie iewers 'n fout gemaak het nie, stuur sy haar helpers uit om te gaan seker maak. Hulle is nog nie so ervare nie en eintlik is Matilda Muis besig om hulle in die tandebesigheid op te lei. 

Eerstens is dit belangrik om baie saggies op hul tone te loop. Daarom hulle oefen elke dag na ontbyt in die kombuis om saggies te loop. En as Matilda Muis net 'n effense geluidjie hoor, moet hulle van vooraf begin. Die groot geheim vir 'n tandemuisagent lê in hoe hy loop.

'n Ware tandemuis beweeg onhoorbaar - en dit verg baie oefening en baie geduld.  

Die tweede belangrike punt om te onthou is om altyd waaksaam te beweeg. Matilda Muis wil nie hê dat een van haar agente katkos of hondekos moet word nie. By Christina Kiddie is dit werklik 'n uitdaging om lewend van jou sending af terug te kom. Met Ruben, die hoof van sekuriteit en sy energieke kleinboet, Tommie, is elke sending 'n nagmerrie. Dan is daar natuurlik Krummels - gelukkig slaap Krummels die meeste van die tyd voor die televisie en is sy minder van 'n gevaar as haar Petrusburg-huisgenote. 

Die derde belangrike punt is om te onthou in watter skoen jy die tandjie gekry het, want die briefie en geldjie moet by die regte persoon afgelewer word. En deesdae met die skoolskoene wat almal eenders lyk, is dit ook 'n uitdaging. 

So lei Matilda Muis haar melktand-agente op met die presisie van 'n AI-robot.
 

Sy skryf elke briefie self. Sy hou daarvan om nog steeds persoonlike kontak met haar klante te hê. Dan neem sy een van die jongelinge saam met haar as sy die briefie in 'n skoen gaan sit, met die monetêre waarde styf in haar regterpoot vasgeklem.

Gister moes een van die inwoners se kiestand getrek word. Matilda Muis het hom só jammer gekry, maar was terselftertyd baie opgewonde. Dit was regtig 'n groot tand vir 'n tienjarige outjie. Sy wou vir hom 'n ekstra geldjie gee om te kompenseer vir die pyn, maar toe besef sy dat daar 'n yslike gat in die tand is en toe is sy reguit tuin toe met daardie tand. Matilda het haar hen-met-die-kuikens in daardie tand geplant en op haar voorstoep gesit.

André se tandjie was 'n spierwit gesonde tandjie en sommer baie werd vir Matilda. 

Sy het vir elkeen 'n briefie geskryf en die geld in 'n sakkie gesit en vir haar melktand-agente gevra om baie subtiel die sakkies by die onderskeie huismoeders te gaan afgee.

Groot was tannie Christelle se verbasing toe die twee skenkers vir haar kom vertel van die briefies en die geld wat Matilda Muis in die sakkies gesit het. 

'n Bewys dat tandemuise bestaan en aktief agter die skerms werk.   

Tuesday, 4 November 2025

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep - Soetkoekies

Ek en ouma Annie is spreekwoordelik weer op goeie poot. Ek het besef ek het nie my belofte nagekom nie en het weer by ouma Annie gaan kuier om die saak op te klaar. Dis so lekker om hierdie spesiale verhouding met ouma te hê en die beleid by Koester Karos is juis om die verhouding tussen kleinkinders en grootouers te koester

Ek en ouma het 'n hele baksel soetkoekies gebak en hierdie deeg kan op 'n verskeidenheid maniere aangepas word sodat die nederige soetkoekie steeds 'n plekkie op vandag se moderne tafel kan kry. Ek plaas volgende maand so 'n paar variasies. Hierdie deeg is 'n wenner!! En daarom plaas ek vandag ouma se soetkoekieresep met 'n lekker hart.

Bestanddele:
6 koppies meel
2 koppies suiker
2 teelepels kremetart
1 teelepel bakpoeier
1 teelepel koeksoda
1 teelepel vanielje
1 koppie botter (250 g)
4 eiers

Metode:
Klop botter en suiker tot room.
Sit eiers een vir een in en klop goed na elke byvoeging,
Gooi geursel in.
Sif die meel en voeg by.
Voeg rysmiddels by.
Voeg ekstra meel by indien deeg te slap is.
Bak teen 180°C tot koekies gaar is (ongeveer 15 minute).

Wenk:
Ouma Annie klits haar botter eers alleen en dan voeg sy die suiker by en klits dit tot dit donsig geel is.

Geniet dit en gaan groot!!!

Tuesday, 7 October 2025

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep - Rice Crispy

Mensig, maats, ek is goed oor die kole gehaal en deur niemand anders as my eie ouma Annie waarvoor ek so lief is nie. Die korterige vakansie is só volgeprop met aktiwiteite dat ek en Ruben net gou so 'n vinnige draai by ouma Annie gemaak het. Petrusburg is per slot van rekening die plek waar ons wortels lê. En daar lees ouma Annie vir my die leviete baie deeglik voor. Dag en datum is voor my kop gegooi toe haar laaste resep op Koester Karos verskyn het. Die ergste verwyt van haar kant af is dat ek poot en bek belowe het om dit te plaas en op hierdie manier ons familieresepte vir die nageslag te bewaar en ek het nie woord gehou nie. Kyk, ek voel so sleg dat ek en Ruben besluit het om ons kuiertjie maar kort te knip, want ons sal ons agteroor moet buig om weer in haar goeie boekies te kom.

Voordat ek die resep plaas, 'n waardevolle stukkie ongevraagde advies van my en Ruben.
* Moet nooit iets vir jou ouma of oupa belowe en dit dan nie nakom nie.
* As jy iets belowe het en dit nog nie gedoen het nie, stel dit dadelik reg.
* As jy drooggemaak het, vra verskoning en verander die situasie. Verskoning sonder onmiddellike aksie, is vals en toon duidelik dat jy nie respek vir jou ouma of oupa het nie.
* As kleinkinders het ons sekere voorregte in oupa en ouma se huis. Ongehoorsaamheid laat ons sekere voorregte verbeur.
ONTHOU: Ons preek nie net vir julle nie - ons is self in die moeilikheid en ons deel maar net ons gedagtes met julle.        
SKRYF vir ons - dalk kan ons mekaar motiveer om beter kleinkinders te word!

Hier volg my ouma Annie se resep wat sy nog by haar ouma gekry het.
(Die oorspronklike resep sê: Sit die pot op die vuur en gebruik 1 pond dadels! Ek het die resep bietjie aangepas!) 
 
Bestanddele:
7 koppies Rice Crispies
2 koppies suiker
450 g dadels
4 eiers
2 eetlepels botter
Klapper soos nodig

Metode:
Sny dadels fyn.
Gooi botter, suiker en geklitste eiers by.
Roer in pot vir ongeveer 10 minute.
Haal af, gooi Rice Crispies by en roer goed.
Maak bolletjies en rol dit in die klapper. 

Wenk:
Fyn klapper werk beter as die growwe klapper.
Geniet dit en gaan groot!!!

Ek gebruik my ouma Annie se gunstelingfoto - al lyk ek lankal nie meer so nie!!

Tuesday, 29 July 2025

Resep: Tommie deel vandag meer as net 'n Ouma Annie-resep

My nuuskierigheid strek baie verder as net koekies en koekierespte! Met Ruben as my mentor het ek geleer om wyd te lees.

Ek kom toe op 'n artikel af: REDES OM SJOKOLADE TE EET. Dit is wel 'n ou artikel, maar dit het my aan die dink gesit. Ek deel graag hierdie dinkstukkie met julle - dit kan dalk net goeie nuus vir party van julle wees. Ons is mos almal lief vir sjokolade!

"Die meeste van ons het geen aanmoediging nodig om aan ʼn sensuele, romerige happie sjokolade weg te lê nie. En nou dui al meer navorsing dat jy maar gerus kan.

Ons verbind sjokolade met liefde. As jy sjokolade eet, stimuleer dit jou goedvoelhormone en dit laat jou emosioneel beter voel. Sjokolade bevat baie magnesium wat help met die beheer van die goedvoelstowwe serotonien en dopamien.

As jy in die oggend ʼn stafie bittersjokolade eet nadat jy heelnag gevas het, kan dit jou selfs help om gewig te verloor, het navorsers aan die Universiteit van Kopenhagen bevind. Mans wat dit gedoen het, het die res van die dag 15% minder geëet as dié wat dit nie gedoen het nie.

Wetenskaplikes ondersoek die verband tussen sjokolade en hart- en bloedvatgesondheid nou al meer as ʼn dekade en al hul navorsing dui daarop dat donkersjokolade hoë bloeddruk help verlaag en so hart- en ander siektes help voorkom.

Die vermoë van sjokolade om bloedvate te verwyd, kan ook komplikasies van lewersirrose help voorkom. Mense met lewersirrose het harde lewerweefsel wat die vloei van bloed na en deur dié lewensbelangrike orgaan belemmer."

En op hierdie sjokoladenoot, gaan ek 'n vinnige sjokoladeresep met julle deel.

Ouma Annie se sjokoladesplinterkoekies (chocolate chip cookie)
 
Bestanddele:
125 g (135 ml) botter
100 g (125 ml) suiker
100 g (125 ml) bruinsuiker
2 ml vanieljegeursel
1 eier, effens geklits
184 g (330 ml) bruismeel
1 ml sout
125 g sjokoladesplinters
60 g okkerneute, grofgekap (opsioneel)

Metode:
* Verhit jou oond tot 180 ºC. 
* Room die botter en albei suikers met jou elektriese menger saam tot lig en romerig. 
* Gooi die vanieljegeursel by en meng. 
* Voeg die geklitste eier geleidelik by en klits goed ná elke byvoeging. 
* Sif die bruismeel en sout saam. 
* Voeg dit by die suikermengsel. 
* Voeg die sjokoladesplinters en (okkerneute) by en meng goed. 
* Skep teelepelsvol van die mengsel en vorm in balletjies. 
* Plaas balletjies op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer en goed gesmeer is, sowat 5 cm van mekaar. 
* Bak vir 15-20 minute.

[Hierdie resep lewer sowat 20 koekies.]

Geniet dit en gaan groot!!!

Sunday, 27 July 2025

Binnekringnuus: FNB-verrassing op 'n sonskyn Saterdag


Interne korrespondent: FNB-vrywilligers weet net wat klein handjies nodig het om 'n Saterdagoggend korter te maak - emmertjies en grafies ... dit klink mos nou soos 'n seevakansie in Kimberley. Die kombinasie van son, sand en speel is die perfekte skakelaar om gedagtes te verplaas na 'n vrolike en onvergeetlike strand-aktiwiteit. 


Emmertjies en grafies vorm al jare deel van eendag se ontelbare kinderjare-onthou. Dankie, FNB-vrywilligers, dat julle ons Saterdag en ook sommer die Saterdae wat kom, speellekker maak.


Die dogters het onmiddellik die moontlikhede van modderkoekies raakgesien, terwyl die seuns grootskaalse grondverskuiwingsmoontlikhede met grafies en emmertjies kon raaksien. Daar is niks soos vars lug, son, sand en verbeelding om van al die skoolkommernisse te vergeet nie. 


Tannie Maria het skil-skil gesorg dat al die bakkers, bouers en brouers genoegsame vitamine C (by die "see") inkry, terwyl Tommie 'n wakende oog oor al die gebeure hou.

Foto's: Christelle Hattingh

Saturday, 26 July 2025

Binnekringnuus: Saterdagmiddag in die Noord-Kaapse winterson


Interne korrespondent: Wat 'n heerlike Saterdagmiddag het die klomp nie gehad nie. Die wintersonnetjie het warm geskyn en die kleinspan het besluit om modderkoekies te bak - die eindresultaat het die voorkoms van sjokoladekoekies gehad. Nie almal was so ingenome om hul hande vuil te mors nie, gevolglik het hulle die spyseniering in die hande van die jongeres gelos. Dié was glad nie onwillig om dit te doen nie, want die afgelope week het 3 van die maats verjaar en daar is eenparig onder die kleinspan besluit dat tuisgebakte modderkoekies die kersie op hulle verjaardagkoek sou wees.

Die groter dogters het besluit dat papierpoppe 'n meer kreatiewe manier is om hul oggend in die wintersonnetjie deur te bring en het die koekbakkery so op 'n afstand dopgehou ... en dan was daar ander wat net in die son gesit en bak het en af en toe gedink het! 

Aanbod: Daar kan op spesiale aanvraag modderkoekies gebak word. Dit kan egter net op 'n Saterdag gebeur aangesien skoolwerk al die vrye tyd in die week opslurp.      

Monday, 21 July 2025

Binnekringnuus: Innerlike motivering

Interne korrespondent: Hierdie gesprek het in een van die senior meisies se kamers net voor skool plaasgevind. Ek deel dit met julle omdat ons almal 'n bietjie innerlike motivering nodig het.

"Al draai die hele wêreld teen jou en jy loop die pad alleen en jy kan steeds in hierdie omstandighede die Here loof en prys, dan sal jy oorwin. Jy is nie vanmôre alleen nie, al moet jy alleen jou rapport gaan haal, jy stap nie alleen in daardie eksamenlokaal in nie, al voel dit soms of jy niemand het wat jou in jou donkerste uur by staan nie, weet net daar is Een Ware Vriend wat ons het, en Jesus is Sy Naam! Hy het belowe om jou nooit te begewe of te verlaat nie, Hy is die een wat jou hand vashou en sê: 'Kom, jy kan' as jy wil moed opgee ... Hou vas in die Here,want partykeer is Hy jou Enigste Hoop in hierdie deurmekaar wêreld wat nie altyd sin maak nie. Tel jou kop op en glimlag vir die wêreld, want jy weet dat jy 'n Bondgenoot het, wat die wêreld vierkantig in die oë kan kyk."  

Sunday, 6 July 2025

Binnekringnuus: Pre-24 September braaidag in die hartjie van die winter


Korrespondent: 'n Mens hoef nie vir 24 September te wag om te braai nie. Nee wat, by Christina Kiddie verander 'n gewone koue Sondag in Julie in 'n heerlike braaidag, danksy tannie Mittah en 'n skenking wat hierdie bederf moontlik gemaak het. Heerlike paptert het die ete afgerond. In die Noord-Kaap is braaibroodjies die inding, maar vandag het dié tert die botoon gevoer, met die liplekkerresep van tannie Mittah.  

Tuesday, 24 June 2025

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep - Outydse speserykoekies

Hierdie outydse speserykoekies is Petrusburg se nasionale koekie. By elke sportbyeenkoms en kerkbasaar is dit die koekies wat die eerste uitverkoop. En dan word daar bestellings geneem vir die vale - amper soos 'n post-basaarverkope. 

Ek het vir ouma Annie belowe dat ek 'n resep sal plaas wat al vir generasies in ons bakgeskiedenis is. Ouma is nie so lief vir die vinnige gekrummelde koekieresepte nie. Dit grens vir haar aan afskeep. Sy verstaan ook dat die jong kinders van kitsresepte hou. Sy praat mos van ons as die kits-kinders of die gou-gou-generasie. Alles moet mos vinnig en gou gebeur en volgens haar verdwyn kwaliteit in die drein. (Ouma hou nogal daarvan as haar woorde rym.)

Ouma Annie, ek is 'n hond van my woord en ek het hierdie eeue-oue gunsteling betyds vir die wintervakansie- koekblikke geplaas.

Outydse speserykoekieresep van ouma Annie 

Bestanddele:
425 g koekmeel
3 ml sout
3 ml koeksoda
3 ml fyn naeltjies  
5 ml fyn kaneel
200 g karamelbruinsuiker
125 g botter
1 eier (geklits)
90 ml sjerrie of port
5 ml lemoenskil 
gerasperde amandelsplinters vir versiering

Metode:
* Sif meel, sout, koeksoda, kaneel, naeltjies en suiker saam.
* Vryf botter in. 
* Voeg eier, sjerrie en skil by.
* Bedek deeg en laat ongeveer 1 uur lank staan.
* Rol deeg uit tot 3 mm-dikte.
* Druk ronde koekies uit,
* Druk ‘n stukkie amandel in die middel van elke koekie vas.
* Plaas op ‘n gesmeerde bakplaat.
* Bak ongeveer 15 minute lank in voorverhitte oond by 200ºC.

Geniet dit en gaan groot!!!

Monday, 16 June 2025

Binnekringnuus: Cave Canem - eerste reaksies van ons lesers

* Ruben en Tommie het Vrydagmiddag tydens die storie-uur doodstil sit en luister na die storie van die Drie Varkies wat groot byval by die kinders gevind het. Met die nodige rekwisiete het die drie varkies elkeen 'n lewe van hulle eie gekry. Die moontlikheid bestaan dus dat Ruben en Tommie ook 'n huis wou bou soos die drie slim varkies en dat hulle besef het dat 'n mens geen werk kan aanpak, as jy nie beskerm is teen die aanslae van die uitdagings nie.

** 'n Ander leser meen dat die twee manne 007 van Kimberley in wording is. Maar dis natuurlik 'n groot geheim en daarom is almal aan die raai. 

[Klik HIER vir die oorspronklike berig.]

Binnekringnuus: Cave Canem

Korrespondent: Verlede week het die geheime fotograaf* van Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum op 'n interessante verskynsel afgekom. Ruben, die hoof van sekuriteit, en sy regterpoot, Tommie, is afgeneem met geel veiligheidshoede op. Die fotograaf was baie gelukkig om hierdie rare verskynsel in beeld vas te vang. Dié foto's het op my tafel beland, maar die rede agter hierdie foto's kon nog nie uitgesnuffel word nie. Dus wend ek my nou tot die lesers vir moontlike verklarings. Die twee se kom en gaan word egter nou met valkoë dopgehou.  

Allerhande stories en moontlike verklarings vir hierdie drag en gedrag word in die koshuisgange gefluister. Die volgende stories het my ore bereik wat ek graag met julle deel, maar as een van julle lesers meer weet,  laat weet ons, asseblief.  
  • Daar is 'n moontlikheid dat die twee op 'n geheime sending was om die speurders te help om saam met die polisiehonde belangrike leidrade uit te snuffel.
  • Hulle kan ook besig wees met nagopleiding om saam met die honde-eenheid te werk wat deur bourommel snuffel.
  • Ruben en Tommie is buitengewoon intelligent wat goeie geselskap, liefde en lojaliteit aan mense bied. Hulle sal dus uitstekende diens- of gidshonde wees. (Weet net nie hoe dit die geel harde hoede verklaar nie. Red.) 
  • Ten slotte kon hulle bloot net deur die speelkamer op hul rondtes geloop het en hierdie hoede waarmee die seuntjies só graag speel, sien lê het en die kind (of liewer ... klein hondjie) se spelerige aard in hulle wakkergemaak is.
* Die geheime fotograaf en die geheime korrespondent werk saam. Soms is dit die foto wat aanleiding gee tot die berig en ander kere is die berig eerste en moet die fotograaf  'n foto kry wat die berig onderstreep. Die vrou agter die lens is eintlik 'n kommersiële fotograaf wat spesialiseer in dokumentêre fotografie. Koester Karos is baie dankbaar dat hulle met 'n omweg die dienste van hierdie professionele kunstenaar kon bekom.

Volgens die geheime fotograaf het die baie bekende Diane Arbus die kuns van fotografie raak opgesom in haar bekende woorde: "Fotografie is 'n geheim van 'n geheim." 

[Klik HIER vir die eerste reaksies.]

Monday, 26 May 2025

Binnekringnuus: 'n Tommie-gerug wat die inwoners hond se gedagtes laat kry ...

Korrespondent: Woensdag, 19 Maart 2025, is daar berig dat Tommie vermoedelik 'n kantoorhond is. Ons het egter nou bewyse dat dit wel die geval is en dat Tommie opleiding ontvang om nie net die ore van die koshuis te wees nie, maar ook die oë! 

Met Ruben wat buite diens doen, is dit net logies dat Tommie die agterhoede binne moet dek om sodoende op hoogte te bly van die doen en late van die inwoners.

Uit hierdie foto blyk dit duidelik dat Tommie geen hondelewe lei nie en sy houding spreek van waaksaamheid, oplettendheid en duidelike nuuskierigheid.

Die inwoners sal voortaan op hulle hoede moet wees en in hulle spore trap.  

Tuesday, 20 May 2025

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep - Rice Crispy en BarOne blokkies

My vinnige resep van verlede maand, het die meeste van Koester Karos se jong lesers aan die rol gesit. Die feit dat hulle nie naby 'n stoof hoef te kom nie, was 'n bonus en daar was verskeie versoeke vir nog sulke maklike lekkernye. Ek het die lyne Petrusburg toe geslaan en ouma Annie het vir my hierdie gunsteling gestuur. Jy moet ongelukkig van die bestanddele oor lae hitte smelt, maar dan is die grootste deel van die werk agter die blad. 

Ouma het laat weet dat sy deur haar resepteboek sal blaai om te kyk of sy nog vinnige kulkoekieresepte het. Sy het egter gevra dat ek volgende keer weer 'n opregte koekieresep sal plaas. Dis nou ons oumas se oumas se oumas se resepte. En as ek dit op Koester Karos publiseer, is dit 'n manier om die koekieresepte te bewaar. Ek het poot en bek belowe dat ek dit sal doen, ek kan nie waag om in ouma Annie se slegte boekies te kom nie. Julle weet mos dat die pad na 'n kleinkind se hart loop deur sy ouma se koekieblikke of het ek nou die kat aan die stert beet?? 

Van katte gepraat ...

Tannie Christelle het 'n steelfoto van my geneem waar ek Krummels se pad versper - hy was mos reguit op pad na my koekieblik toe en sonder om slapende honde wakker te maak, het ek net eenvoudig met 'n uitgestrekte lyf op die vloer gaan lê - ek wou soort van 'n stelling gemaak het - skoon vergeet van tannie Christelle se skerp kameraoog ..!

Volgens Krummels is die Petrusburg-koekies baie lekkerder as Friskies of Whiskas s'n, maar dit kan 'n mens nou nie loop en verkondig nie.

Rice Crispy en BarOne blokkiesresep van ouma Annie 

Bestanddele:
1 BarOne
60 ml botter
80 ml suiker
15 ml goue stroop
500 ml Rice Crispy

Metode:
Smelt BarOne en botter saam oor lae hitte. 
* Voeg suiker en stroop by en roer tot suiker opgelos is. 
* Verwyder van hitte en voeg Rice Crispies by. 
* Meng vinnig deur en skep in voorbereide gesmeerde pan.
* Druk stewig vas en verkoel tot hard.
* Sny in blokkies.
Geniet dit en gaan groot!!!

Tuesday, 22 April 2025

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep - Cream Cracker-verrassing

Dankie, oupa Willie, vir my kinderfoto's. Nou kan ek van my foto's gebruik as ek ouma Annie se resepte met die lesers deel. Na verlede maand se fopfoto, is daar party van die ouer lesers wat gedink het dat ek nie rêrig is nie.

Hierdie CC-verrassing is nie my eerste keuse nie ... daarvoor is daar heeltemal te veel lekker koekies, maar hierdie koekies flop nooit nie!!
As ons skielik kuiermense kry of my maats kom by ons speel, het ek vinnig hierdie koekies aanmekaar geslaan, verder het jy net drie bestanddele nodig en 'n mens kan maklik die Cream Crackers met Marie-beskuitjies of Tennis-beskuitjies vervang. Ek het al selfs die balletjies in droë versiersuiker of duisend lekkertjies gerol, as ouma se klapper op is. Daar is net een probleem - dis só soet, dat jy baie minder eet as wat jy graag sou wou.  

Bestanddele:
1 pak Cream Crackers
1 blik gekookte kondensmelk (Caramel kan ook gebruik word.)
Klapper 

Metode:
* Rol Cream Crackers fyn
* Meng beskuitjies met kondensmelk. 
* Vorm balletjies en rol in klapper. 
* Sit in yskas om styf te word. 

Wenk:
Meng fyngemaakte grondboontjie in mengsel in of selfs 'n bietjie vrugtekoekmengsel om die resep 'n bietjie op te gradeer.
Geniet dit en gaan groot!!!

Tuesday, 25 March 2025

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie-resep - Soentjiekoekies

Die belangstelling in koekieresepte het ouma Annie se stoutste verwagtinge oortref. Sy het nooit gedink dat sy vir Petrusburg op die koekiekaart sou sit nie. Sy het van die lesers se resepte beproef en dit selfs ingesluit by haar gereelde Dinsdag-aflewering by die tuisnywerheid. Lid 74 is nou die nr. 1-verkoper van koekies - almal kla steen en been in die winkel dat koekies nie gesond is nie, maar knyp die een oog toe en koop met die ander oog lekkernye wat in die mond wegsmelt.

Vandag se resep is my jonger sussie se gunsteling. Sy doop graag die een heflte van die koekie in gesmelte sjokolade. Is dit nou hemels?!

Soentjiekoekies van ouma Annie

Bestanddele:
500 g sagte margarien of botter (Ouma Annie gebruik net botter)
500 g suiker
4 eiers
500 g koekmeel
500 g mielieblom
10 ml bakpoeier
5 ml sout

Metode:
* Klits die botter, suiker en eiers tot lig en romerig.
* Sif die droë bestanddele saam en voeg by die bottermengsel. 
* Meng baie goed.
* Rol klein bolletjies, pak op bakplaat en druk met ‘n vurk plat.
* Bak goudbruin op 190°C vir ongeveer 8-10 min.

Wenk:
Sit koekies twee-twee opmekaar met versiersuiker indien jy van ekstra soet hou.

* Ek gebruik vir hierdie resep 'n fopfoto totdat oupa Willie vir my my foto's kan aanstuur. Dit wil voorkom asof die Vrystaters meer met krag sukkel as die res van die land. Hou gerus hierdie spasie dop en bak intussen 'n storm los. 
Geniet dit en gaan groot!!!

Wednesday, 19 March 2025

Binnekringnuus: 'n Tommie-gerug

Korrespondent: 'n Gerug doen die rondte dat Tommie deesdae 'n kantoorhond is. Ons is nie seker van ons feite nie, maar ons kon wel ons hande op 'n eksklusiewe foto lê. Daar word verder in die gange gegis dat Tommie opgelei word as 'n kantoorassistent. Met Ruben wat vir die sekuriteit verantwoordelik is, maak dit net sin dat Tommie ingetrek word in die binnekringe - die hart van die sentrum.

Hou hierdie spasie dop vir verdere Tommie-nuus. 

Tuesday, 25 February 2025

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep - koffiekoekies

Na my gesprek met ons jeugkorrespondent, is ek toegegooi onder die vrae. Dit lyk my die meeste van Koester Karos-lesers het 'n passie vir bak. Party wil my ouma Annie ontmoet en ander wou by my weet of ek weet van enige spesifieke wenke of bakgeheime van lid 74. Ek het ook 'n hele paar gemmerkoekieresepte gekry met die uitdruklike versoek dat ek dit vir my ouma moet gee. Ek stuur dit sommer hierdie naweek nog vir haar. Ek sê solank dankie vir al die resepte.

Vandag deel ek graag my oupa Willie se gunsteling. Ouma Annie sorg dat daar altyd genoeg koekies in die koffiekoekiekoekblik is. Kyk, met 'n koppie kondensmelkkoffie in die een hand en 'n koffiekoekie in die ander hand, is my oupa in die sewende hemel.

Koffiekoekieresep van ouma Annie (vleismeul)

Bestanddele:
8 koppies koekmeel
3 teelepels koeksoda
½ koppie stroop
500 g margarien of botter
2 koppies suiker
½ koppie baie sterk koffie
½ teelepel sout (na smak)
1 teelepel vanilla

Metode:
* Meng margarien en suiker
* Voeg stroop by
* Maak koeksoda aan met koffie
* Gooi vanilla by
* Meng alles met gesifte koekmeel
* Bak vir ongeveer 20 min @ 180ºC

Wenk: Maak mengsel styf genoeg aan om deur die vleismeul te gaan. 

Bestanddele vir vulsel:
½ pak versiersuiker
2 e hoogvol margarien of botter
1 t vanilla
2 e baie sterk koffie
knippie sout

Metode:
* Meng alles goed
* Sit die koffievloeistof laaste by
* Plak 2-2 koekies opmekaar met hierdie vulsel

Geniet dit en gaan groot!!!

Tuesday, 28 January 2025

Binnekringnuus: Tommie se eerste onderhoud met die pers

Interne korrespondent:
 Tommie is die nuutste toevoeging tot die Christina Kiddie Sentrum. Hy is nie net die nuutste en die jongste nie, hy is loshande ook die oulikste. Hy doen mee met oorgawe. Hy speel saam totdat hy van moegheid sommer in rat doodruk en omval. En dan slaap Tommie die slaap van dooies, want as hy daar opstaan, is daar nie tyd vir lamlendig wees nie. Die lewe moet geleef word en so kruip Tommie onder ons vel in en met sy lomp peuterpote trap hy 'n yslike modderpad in jou hart. Ongenooid, ongevraagd, maar tog só welkom.

Christina Kiddie se junior korrespondent het met Tommie 'n onderhoud gevoer, sodat ons lesers ook so 'n proesel van die klein Tommie kan kry, voordat die tienerjare inskop.

CK junior korrespondent: Ons het in een van Ruben se briewe gelees dat jy van Petrusburg af kom. Vertel ons meer van jou geboorteplek.

Tommie: Petrusburg is so 'n klein dorpie tussen Bloemfontein en Kimberley, met vriendelike, gasvrye, plat op die aarde mense wat altyd bereid is om die ekstra myl te loop. Almal ken almal. En op so 'n klein plekkie moet jy jou eie besigwees skep. My ouma Annie het altyd gesê dat die duiwel orals leeglê, maar die jongetjies van Petrusburg het niksdoen vervolmaak. 

CK junior korrespondent: Nou wat doen julle Petrusburgers om besig te bly?

Tommie: Wel, die grootmense beoefen natuurlik 'n stokperdjie of leef hulle passie uit. My tannie Tilla maak vetplantjies bymekaar. Sy is sowaar die vetplantkoningin van die dorp. Sy het 'n aardige versameling. Kan jy glo dat die TV-mense dit kom afneem het en 'n hele onderhoud met haar gevoer het? Daarna is tannie Tilla die bekendste mens op die dorp. Daardie program het haar nou eers aangespoor en vir elkeen wat by haar kom kuier, stop sy 'n plantjie in die hand. 

CK junior korrespondent: Tommie, waarmee het jy jouself besig gehou op daardie klein dorpie?

Tommie:
 Jy sien, ek en ouma Annie het 'n besondere verhouding. Ek het bedags by haar gebly as my ouers gaan werk het. Ouma Annie het resepte versamel - meer spesifiek - kleinkoekieresepte! Sy het lêers en lêers ennn lêers vol resepte. Ouma Annie bak vir 'n tuisnywerheid in Bloemfontein en my werk was om koekies te proe. Ai en ek het só daarvan gehou om ook die mengbakke uit te lek - dit was my skelm bederfie en ons twee se geheim. My ma sou die piep kry as ek dit durf waag doen by die huis. Ouma Annie is lid 74. En dit is die lid wie se koekies die heel eerste van die rakke afvlie. Ek dink dis omdat ek so 'n goeie proeër is. 

CK junior korrespondent: Tommie, noudat jy hier by Christina Kiddie is, het jou lewe totaal verander. Wat mis jy die heel meeste van jou geboorteplek?

Tommie: Ek mis my maats die heel meeste. Jy weet, Saterdae was ons kaskardag. Dan het ons almal by Willem se huis bymekaar gekom en gery dat die stof so staan. Daar het elke Saterdag 'n stofwolk oor daardie klein dorpie gehang. En dan mis ek ouma Annie se koekies ... daar sit mos baie liefde en omgee in elke koekie wat sy bak.

CK junior korrespondent: Ek hoor in die wandelgange dat jy 'n spesiale Kersgeskenk van jou ouma gekry het. Vertel 'n bietjie vir die lesers daarvan.

Tommie: Ek het een van my ouma se reseptelêers gekry, met die uitdruklike opdrag om dit met boetie Ruben se lesers te deel. Ek sal by tannie Christelle uitvind hoeveel resepte ek op haar blog mag sit, maar so een 'n maand is op hierdie stadium in die pyplyn.  

CK junior korrespondent: Wat is jou gunsteling koekie?
 
Tommie: Ek dink die lekkerste koekies suid van die ewenaar is gemmerkoekies. Ek gaan sommer ouma Annie se gemmerkoekieresep vir jou gee en dan kan jy dit met die lesers deel.

CK junior korrespondent: Dankie, Tommie, dis nou 'n heerlike manier om 'n onderhoud af te sluit. Mag jy wonderlike jare in die sentrum beleef. Miskien moet jy 'n resep of twee insmokkel kombuis toe.

Gemmerkoekieresep van Ouma Annie
Hierdie is ‘n vinnige gemmerkoekieresep vir ma's met min tyd!

Bestanddele:
Bruismeel: 500 ml (240 g)
Suiker: 250 ml (200 g)
Koeksoda: 3 ml
Fyn kaneel: 5ml
Fyn gemmer: ±20 ml (indien jou gesin van 'n gemmerkoekie met 'n byt hou, moenie spaarsamig met die gemmer werk nie.)
Margarien: 150 g
Gouestroop: 15 ml
Eier: 1 - geklits
Metode:
* Sif bruismeel, suiker, gemmer, kaneel en koeksoda saam en meng goed.
* Smelt die margarien en stroop saam. Roer in by meelmengsel. (Voorkoms: Lyk asof te droog)
* Roer geklitste eier in.
* Skep teelepelsvol op gesmeerde bakplaat. Dit sit uit, so nie te naby mekaar nie.
* Bak by 180°C tot goudbruin (ongeveer 15 min).
* Laat effens afkoel voordat van plaat verwyder.
En as jou gesin van hierdie lekker gemmerkoekieresep hou - gaan groot!!!

Sunday, 13 October 2024

My gedagtes: Wat is my droom vir my kinders?

My droom is dat hulle nooit sal ophou om te droom nie. Meer nog, ek sal graag wil hê dat hulle sal voortgaan om nie net in hulle drome en in hulself te glo nie, maar om dit met passie na te streef, ongeag  hul ouderdom en hulle omstandighede.

Ons as ouers het 'n verantwoordelikheid om die vonk van kinderlike drome en avontuur aan die brand te hou. Kom ons droom saam en glo saam met hulle!

Tuesday, 8 October 2024

Binnekringnuus: Speel is die boustene vir gevorderde funksies

Ons STEEL! Ons steel op groot skaal van ons kinders! 

Elkeen van ons wat kinders nie blootstel aan speel nie, steel speeltyd by kinders. Skermtyd en TV-kyk is nie deel van speeltyd nie! Speel maak juis deel uit van 'n kind se ontwikkeling.

Hier by Christina Kiddie word die geleentheid geskep om speel-speel aan belangrike vaardighede te werk. Speel bied die geleentheid vir die ontwikkeling van die boustene wat nodig is vir hierdie meer gevorderde funksies, soos lees, skryf en wiskunde.