Showing posts with label Dink hieroor. Show all posts
Showing posts with label Dink hieroor. Show all posts

Thursday, 27 August 2026

Ruben gesels oor wilde diere langs die pad: Die leeu (Panthera leo)

Maats, julle ken al die stories oor koning leeu - hy is die slimste van al die diere, hy kan sinvolle planne maak om ander uit die moeilikheid te kry, sy woord is wet en almal luister na die koning, selfs die stoutste diere in die diereryk.

Die leeu is al eeue lank ’n simbool van dapperheid en krag. Hy is bekend as die koning van die diere, maar ook as vuilbaard, terwyl hy onder sekere stamme bekend staan as die ou slappoot of die ou snuffelaar en vir dié wat die leeu en sy gewoontes ken, sal kan saamstem dat almal baie beskrywende name is. 

Die woord leeu, is afgelei van die Latynse leo en die antieke Griekse leon. Die plaaslike name wat in Suider-Afrika gebruik word sluit in: ngonyama in Zoeloe, tau in Suid-Sotho, shumba in Shona en simba in Swahili.

Uit Oerwoud en Vlakte van Sangiro, is seker die boek wat die meeste daartoe bygedra het dat die Suid-Afrikaner besef het dat die leeu werklik die koning van die diere is.

Sangiro laat sy lesers saamleef met 'n hoogs intelligente dier, wat soos dit 'n koning betaam, 'n ware heer in die jagveld is.

Volgens WRC Wallis (1860) was die leeu vroeër inheems in baie lande, maar hulle het later uitgewyk voor die ontwikkelende beskawing. Harris skryf van leeus wat o.m. in Griekeland, die hele klein-Asië en Indië voorgekom het. 

Die ou Romeine het blykbaar geen probleme gehad om leeus vir hul arenavertonings te bekom nie. Volgens ou geskrifte is daar tot 'n honderd leeus in een vertoning van die gras af gemaak.

Teen die derde eeu n.C. was die Romeine egter verplig om wetgewing uit te vaardig wat 'n verbod op die vang of doodmaak van leeus geplaas het, nadat veral die Arabiere van Noord-Afrika die leeus teen 'n geweldige tempo begin uitroei het.

Leeus word vandag in Afrika en in die Gir-woud van Indië aangetref.   

Leeus word in die natuur tussen 10 en 14 jaar oud, terwyl dié in gevangenskap tot oor die 20 jaar oud kan word. In die natuur sal leeumannetjies selde ouer as tien jaar word, weens die beserings wat hulle gedurig in gevegte met mekaar opdoen en wat hul lewensduur verkort. 

Leeus geniet 'n warm klimaat, is 'n sosiale spesie en word soms in groot troppe aangetref. Leeus is liefdevol. Hulle rus maklik 20 uur per dag en hulle het dieselfde gewoontes as huiskatte - hulle raak baie aan mekaar, skuur met hulle lywe en koppe teen mekaar, lek mekaar en spin. 

Toegerus met kragtige bene, ’n sterk kakebeen en 8cm-lange slagtande, kan ’n leeu groot prooidiere plattrek. Leeus jag gewoonlik in die nag, maar anders as die meeste ander lede van die katfamilie, is dit nie eienaardig om hulle in die dag te sien vang nie.

Die meeste plantetende diere, waaronder die kleiner boksoorte, die groot boksoorte soos gemsbokke, kameelperde, koedoes, ens., asook buffels, wildebeeste, jong seekoeie en jong olifante deel uitmaak van die leeu se spyskaart.  

Met die vang van die groter en gevaarliker diere, neem die hele trop gewoonlik aan die jag deel, maar dit bly nog die wyfies wat die meeste van die werk doen.

Gedurende die jag maak 'n leeu hoofsaaklik op sy gehoor- en gesigsvermoë staat. Hy bekruip sy prooi en spring dan op sy rug en breek die prooi se nek met een van sy kragtige voorpote. 'n Leeu hardloop ook byna nooit agter sy prooi aan nie, maar dit is moeilik om sy jagmetodes só eenvoudig te beskryf, want dit verskil van gebied tot gebied en hang baie daarvan af watter soort dier sy prooi is.

Die wyfie is vir sowat 105 dae dragtig en 'n werpsel bestaan uit twee tot ses welpies. Wyfies voed hul eie en mekaar se welpies vir tot ses maande. Na die geboorte word welpies ses weke weggesteek, waarna moeders hulle na die trop se ander jong leeus toe bring. Die jonges bly tot drie jaar afhanklik van die organisatoriese sukses van die trop.

Leeus word beskou as deel van die "Groot Vyf" in Suid-Afrika. Hulle is vandag nog 'n simbool van krag en koninklikheid. 

Foto's: Internet

Thursday, 20 August 2026

Ruben se een minuut gedig: Reën

Dis tog te lekker as die reën
so drup-drup op die blare,
en die druppels hang soos pêrels
aan ons toutjierige hare.

As dit weer buite skoon is
en al die slote loop,
dan kan ons tog te heerlik
ons voete daarin doop.

Mammie sê ons kinders
moet liewer binne bly,
want as ons natreën, sal ons dalk
‘n kwaai verkoue kry.

Maar wat van al die bome
wat altyd buite bly?
Nog nooit het ek gehoor
dat een ‘n seerkeel kry!

[Digter onbekend]

Thursday, 23 July 2026

Ruben gesels oor wilde diere langs die pad: Die jagluiperd (Acinonyx jubatus)

Maats, van al die diere in Suid-Afrika is daar seker geen ander dier wat groter gevaar van uitwissing in die oë staar as hierdie vlugvoetige vleiseter nie.

Die jagluiperd is bekend vir die geweldige hoë vaart waarteen hy hardloop. Hulle sterk en skraal geboude liggame stel hulle in staat om tot 120 km/h te hardloop wat hulle die vinnigste diere op land maak. Hoewel die liggaam hoogs gespesialiseerd is vir hoë spoed, het hy min uithouvermoë en is eerder aangepas vir kort afstande. Stormlope is selde meer as 250 tot 300 m.

Die jagluiperd lyk soos 'n groot langbeenkat met 'n kenmerkende hol rug. In verhouding is sy kop klein en sy ore kort. Die wyfies is bietjie kleiner as die mannetjies, met volwassenes wat in lengte van 1,8 m to 2,2 m lank is en 40 kg to 60 kg weeg.

Die opvallende “traanstrepe” (ingeboude sonbrille) wat vanaf die oë al langs die snoet na die bolip loop hou sonlig uit sy oë en kom goed te pas tydens jagtogte of waarneming oor lang afstande. 

Jagluiperds is een van die eksotiese katspesies wat die maklikste is om mak te maak. Hulle teel egter moeilik aan in gevangeneskap.

Die swangerskapperiode kan tot in die omgewing van 92 dae wees, met omtrent 4 welpies wat per werpsel gebore kan word. Die welpies word gebore met ʼn mantel van pels wat van die nek oor die rug hardloop tot by die agterbene en kruis, wat hulle help kamoefleer. Hulle word ook weggesteek in lang gras of onder bosse en blare.

In teenstelling met die ander groot katte in die katfamilie, kan die jagluiperd nie brul nie, maar maak hy ʼn tjirpgeluid as hy opgewonde is. Dit is een van die enigste katspesies wat kloue het wat hulle nie heeltemal kan intrek nie, daarom is die kloue sigbaar in hulle spore.

Jagluiperds jag gewoonlik in die dag, soggens vroeg of laat in die middag - net soms in helder maanlignagte. Die jagluiperd maak gedurende jagtogte eerder op sy sig- as sy reuksintuig staat. Die prooi word binne 'n afstand van 10-30 m bekruip en dan bestorm.

Sodra die prooi gevang is, word die groot prooi versmoor met ʼn byt aan die lugpyp en die klein prooi kan doodgemaak word met ʼn vinnige byt aan die kop. Hulle sal hul prooi gou vreet sodra die dier doodgemaak is, omdat hulle nie hul prooi van ander roofdiere kan beskerm nie. Die eindpunte van die ribbes sal afgeëet wees en die vel, bene en binnegoed sal gelos word. Jagluiperds gaan nooit terug na prooi wat hulle doodgemaak het nie en hulle eet nie die aas van die karkasse af nie.

Die jagluiperd is nie aggressiewe dier nie en is vir baie eeue in Asië makgemaak en gebruik om mee te jag. Die dier is ongelukkig ook so skugter dat hy nie die steeds veranderende omstandighede en steurnisse van die beskawing die hoof kan bied nie.   

* Foto's: Internet

Dr. JJ Malan

Thursday, 16 July 2026

Ruben se een minuut gedig: Eseltjie ry

Woorde: SAAR ENGELA
Musiek: J. KROMHOUT

Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pat,
die eseltjie ry ná die stad.
Hy pluk aan sy toompie
en sukkel met oompie
en trek sy twee lang ore plat.

Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pout,
maar kyk so ‘n esel is stout!
Toe, roer jou, Jan-dooi,
loop vinnig, loop mooi,
en klaps! kom ‘n raps op die bout!

Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pat,
maar nou laat so ‘n eseltjie spat.
Dit spring en dit skop,
en dit wip agter op,
en Oompie lê plat in die pad!

Bron: HIER

Thursday, 25 June 2026

Ruben gesels oor wilde diere langs die pad: Die gevlekte hiëna (Crocuta crocuta)

Maats, hierdie is nie 'n katjie om sonder handskoene aan te pak nie. Die massa van hierdie rondlopende vullis-opruimer van die Bosveld is gemiddeld 60 en 80 kg met 'n hoogte van ongeveer 75 cm.

Hulle lyk na hondagtige diere soos die wolf of honde, maar hulle behoort egter tot 'n heel ander familie.

Die gemiddelde lewensduur is ongeveer 25 jaar en die draagtyd is drie maande.

Hierdie vleis, been en ou-vel-vretende dierasie waaroor daar so baie legendes is en waarvan die toordokters altyd sekere dele soek vir dolosse, is baie sterk gebou met 'n rug wat agter laer is as voor.

Gevlekte hiënas het kort vuil-wit tot ligbruin kleur hare met baie oneweredige donkerbruin kolle of vlekke wat met die ouderdom vervaag. Daar is kort maanhare wat regop op sy rug staan. Gevlekte hiënas se ore is rond en nie gepunt soos die ore van die bruin hiëna nie. Daar word ook na hulle verwys as laggende hiënas oor die giggelende en kekkelende klank wat hulle maak as hulle diere aanval of onrustig is.

Met navorsing is data gevind wat wys dat die gevlekte hiëna meer jag as aas vreet in sekere areas, met groepe wat hulle prooi vir kilometers jaag totdat die prooi neerval van uitputting.

Hulle het die sterkste kake in vergelyking met hulle liggame se grootte, van enige van die ander soogdiere, wat hulle toerus om selfs die bene van kameelperde fyn te kan kou.

Die gevlekte hiëna het 'n loopsnelheid van 15 km/h, maar kan versnel tot 50 km/h wanneer hy hardloop.

Die hiëna is bekend vir sy opruimingswerk van ou karkasse, velle en verrotte vleis, maar waar leeus aangetref word, versamel hulle gewoonlik in troppe om die prooi. Waar hulle in groot genoeg getalle teenwoordig is, kan hulle wildehonde en selfs leeus verwilder.

Dr. JJ Malan

[* Foto's: Internet]

Thursday, 18 June 2026

Ruben se een minuut gedig: Visvang

Plaps! Dit was so amper
   of ek het nou een gehad.
Maar hulle is so vreeslik glad
van al die tyd se bad ...

Soe! Die water loop al straaltjies
   agter in my nek,
en onder by my skoen se sool
begin dit ook te lek.

Kaats! Hou op met knor en loer.
   Jy maak die visse bang!
En dan kan ek maar opgee
om hulle te wil vang.

Outjie! Nou kyk ʼn bietjie ...
   Hoe het ek dit reggekry?
Die mooiste, geelste van die vissies
het in ... my kous gegly!
 
* Anoniem 

[Bron: Klik HIER]

Thursday, 28 May 2026

Ruben gesels oor wilde diere langs die pad: Die nagapie

Liewe Maats, julle weet dat stede al groter en groter word en dat daar daagliks nuwe geboue gebou word. Hoe meer grond die mens opeis vir meer huise, winkels, fabrieke en ander geboue, hoe minder plek is daar vir diere in die natuur. Dit is die diere wat al verder teruggedryf word om plek te maak vir nuwe ontwikkeling. En in die proses van ontwikkeling word menige dier deur uitwissing in die gesig gestaar.  

Die nagapie , met 'n massa van omtrent 300 g, vind 'n tuiste in bome, en in oop woudlande, rivieroewers en bergklowe. In Suid-Afrika strek hulle verspreiding vanaf die Soutpansberge, die Krugerwildtuin tot Marico en Rustenburg.

Kenmerkend van die nagapie is sy groot ore, wollerige pels, lang stert en goed ontwikkelde agterbene. Om rats, so ver as tot vyf meter van tak tot tak te spring, is 'n besondere skerp stereoskopiese visie nodig. Daarvoor is die groot oë groot en naby mekaar geleë. Saans as daar met 'n lig op hulle geskyn word, gloei die oë helder as gevolg van 'n tapetum-lagie wat in die oog teenwoordig is. Hulle is uniek vir 'n aboreale leefwyse aangepas; vir dié doel is die duim opponeerbaar en die sole van sowel die hande en boete van kussinkies voorsien om oor 'n stewige grypvermoë te beskik. Die nagapie het die eienaardige gewoonte om in sy handpalms te urineer - moontlik hou dit die pootjies klam en klewerig om sy greep verder te verstewig.

Bedags slaap klein familie-eenhede saam in 'n nes van takkies en blare, of sommer in ou voëlneste. Saans breek die groep op om voedsel, wat hoofsaaklik uit insekte, bessies en boomgom bestaan, te bekom.

In die vroeë lente en laat somer gee die wyfie geboorte aan 'n tweeling, hoewel sy aan tot soveel as vier kleintjies, na 'n gestasie van 123 dae, geboorte kan skenk. Vir die volgende bykans 6 weke word die kleintjies gesoog aan een paar pektorale en twee paar laterale melkkliere. In die loop van 'n nag se aktiwiteite laat die wyfie haar kleintjies op verskillende takke agter om hulle weer teen slapenstyd bymekaar te maak.

Die nagapies se habitat word bedreig deur die landbou en die aanplanting van steriele plantasies. Verder word hulle voortbestaan bedreig deur die groot onwettige handel wat daar heers om hulle as troeteldiere aan te hou. Die tragiese uiteinde is dat nadat die woelige diertjies kosbare ornamente omgestamp het en op meubels geurineer het, 'n ongelukkige lot van verwaarlosing in 'n te klein hokkies hulle in die gesig staar.

Maats, 'n mens moet mooi dink oor troeteldiere - wilde diere hoort in die natuur.

[Inligting: E. Moolman, Nasionale Parkeraad, Pretoria]

Thursday, 21 May 2026

Ruben se een minuut gedig: Slaap

Maats, hierdie gedig plaas ek op versoek van my ouma Annie. 
(Sy het dit jare terug op skool geleer en sy het dit ook vir ons as klein hondjies geleer. Lees dit sommer drie keer deur.) 

Wat is die slaap ‘n wondersoete ding!
Sag op haar bloue oë daal die vaak
soos maneskyn diep waterkuile raak
om daar te droom in silwer skemering.

Vir laas beef oor haar lippe ‘n fluistering:
“Nag, Pappie.” Ek merk hoe langsaam hy genaak,
wat drome soet tot werklikhede maak:
in vaderarms rus my lieweling.
Sluit so my oë, God, wanneer vir my
u Engel wenk ter laaste, lange rus
en ek van wilde woeling hier moet skei;
dat my dan stille drome huis toe sus
en sterke Hand deur duisternisse lei.
Sluit so my oë, God, as ek gaan rus.

* DF Malherbe (1881-1969)

[Klik HIER]

Thursday, 14 May 2026

Ruben se een minuut storie: Tebo en sy besondere hond

Foto van my in die 
studeerkamer en 'n skets
van Arthur.
Ek het nou die dag vir Tebo in die straat raakgeloop en ons het 'n heerlike gesprek oor honde gehad. Ek plaas vir julle 'n gedeelte van die gesprek. Tebo is heelwat jonger as ek, en daarom het ek sommer 'n paar onlogiese vrae tussenin gegooi.

Ek: "Tebo, ek sien jy loop die laaste paar dae gereeld hier voor die skool verby met 'n hond aan 'n leiband. Watter soort hond is dit?"

Tebo: "Dis 'n opregte bloedhond."

Ek: "Waar het jy hierdie besondere hond gekry?"

Tebo: "By my oom. Dit is 'n baie nuttige soort hond. Die polisie hier in Kimberley het hom gebruik om diewe en kwaaddoeners op te spoor."

Ek: "En hoe het jy so 'n gesogte hond in die hande gekry?"

Tebo: "My oom is die man wat met die bloedhonde werk. Hierdie hond het seergekry en nou kan hy nie meer daardie soort werk doen nie. Dit verg intensie konsentrasie en hy moet die hele tyd gefokus bly."

Ek: "Dit is 'n baie mooi hond en hy lyk vir my sommer na 'n baie slim hond. Ek het ook so 'n slim vriend wat op 'n plaas bly. Maar dit is 'n skaaphond."    

Tebo: "Watter soort werk kan 'n skaaphond op die plaas doen?"

Ek: "Wel, hy word ingespan om met skape te werk. Wanneer die skape in die veld gaan haal moet word, jaag hy die skape aan. Hulle is bang vir hom en hardloop nie weg van die trop af nie. Hy weet presies wat om te doen. Hy is so fiks en fluks dat hy amper drie mense se werk gelyk kan doen. 

Tebo: "Ek het my hond nou twee maande en hy is lief vir my. Hy tjank soggens wanneer ek skool toe gaan. Hy is 'n baie goeie waghond. Snags pas hy die huis op. Hy knor en blaf wanneer hy iemand sien, maar hy byt darem nie. Hy baklei ook nie met ander honde nie. Hy hou daarvan om te stap en dit is hoekom jy my elke middag met Arthur aan die leiband sien. 

Ek: "Geniet jou hond en stuur asseblief vir my 'n foto. Ek is seker die maats wil graag weet hoe lyk 'n bloedhond." 

Thursday, 30 April 2026

Ruben se een minuut storie: Die lelike eendjie

Mamma Eend het op 'n plaas in die droë Noord-Kaap gewoon. Daar het 'n spruitjie deur die breedte van die plaas geloop. En nie ver daarvandaan nie, was 'n dam. Gedurende die reënseisoen het hierdie dam gewoonlik oorgeloop. Hierdie dam was baie belangrik vir Mamma Eend. Sy het gereeld daarin geswem en dis ook hier waar sy haar baba-eendjies vir swemlesse gevat het.

Vroeg vanjaar was daar vyf klein eiers in haar nes en een groot eier. Sy wonder al weke oor hierdie groot eier, maar kon geen antwoord kry nie. Intussen sit sy geduldig op haar nes en wonder hoe die groot eier in haar nes gekom het.

Eendag het die vyf klein eiers begin kraak.
Pik, pik, pik! Vyf mooi, geel baba-eendjies het uitgekom. Eers het hulle hul geel koppies by die eiers uitgesteek, die wêreld bekyk en gewonder of dit veilig is. Alles lyk só anders. Toe sien hulle vir Mamma Eend en hulle klouter uit hul eiers en vroetel onder Mamma Eend se veilige vlerke in.
  
Toe het die groot eier begin kraak. Klop, klop, klop! 

Een groot, lelike eendjie het uitgekom. "Dis vreemd," het Mamma Eend gedink.

Niemand wou met hierdie eedjie speel nie. 

"Gaan weg," het sy broers en susters gesê. "Jy’s lelik! Jy lyk nie soos ons nie."

Die lelike eendjie was hartseer. Hy besluit toe om nuwe vriende op die plaas te gaan soek en voeg dadelik die daad by die woord.
"Gaan weg!" het die vark gesnork.
"Gaan weg!" het die skaap geblêr.
"Gaan weg!" het die koei gebulk.
"Gaan weg!" het die perd gerunnik.
"Gaan weg!" het die waghond geblaf.
"Gaan weg!" het die huiskat gemiaau.
"Gaan weg!" het die vrolike mossies in die boom getjirp.
"Gaan weg!" het die die duiwe op die dak gekoer.

Niemand wou sy vriend wees nie. 

Dit het begin koud word. Die winter is hier. Die huiskat het vir die ander diere vertel dat hy op die TV gesien het dat dit vanjaar baie baie koud gaan word. Hulle voorspel selfs sneeu vir dele van die Noord-Kaap. 

Huiskat het nie gelieg nie. Dit het begin sneeu! Die lelike eendjie het 'n leë skuur gevind en daar gaan woon. 

Hy was koud, hartseer en alleen. 

Toe kom die lente. Die lelike eendjie het die skuur verlaat en teruggegaan na die dam toe. Hy was baie dors en het sy bek in die water gesit. Hy het 'n pragtige, wit voël gesien! "Sjoe!" het hy gesê. "Wie’s dit?"

"Dis jy," het 'n ander pragtige, wit voël gesê. 
"Ek? Maar ek is 'n lelike eendjie."
"Nie meer nie. Jy is 'n pragtige swaan, soos ek. Wil jy my vriend wees?"
"Ja," het hy geglimlag. 

Al die ander diere het gekyk hoe die twee pragtige swane wegvlieg, vriende vir altyd.

Wat het ek uit hierdie storie geleer:

* Niemand het van die lelike eendjie gehou nie, omdat hy anders gelyk het. Moenie op maats pik wat anders lyk of dink nie.

* Moenie soos die ander diere teenoor die lelike eendjie optree nie. Moenie iemand wegjaag nie. Wees altyd vriendelik. Dit kos jou niks.

* Onthou, as jy vandag soos die lelike eendjie voel, dis net tydelik. Eendag gaan jy die swaan wees en dan moet jy nie ander behandel soos jy behandel is nie.

Thursday, 23 April 2026

Ruben gesels oor wilde diere langs die pad: Die ratel

Liewe Maats, vandag gaan ons 'n bietjie kyk na die ratel. 'n Besondere brawe en vreeslose diertjie wat nie vir die duiwel stuit nie. Ons sê dankie aan dr. JJ Malan wat hierdie feite met ons deel.

Die ratel is besonder maklik om te identifiseer met 'n hoogte van ongeveer 30 cm, lengte 95 cm en het 'n lewensduur van nagenoeg 24 jaar. Die dratyd van die wyfie word geskat op ses maande.

Die ratel is dik en fors gebou, die kop massief met kleinerige ronde ore, die bene is kort en bevat besondere kragtige lang, skerp naels, met 'n kort borselagtige stert wat hy dikwels neig om regop te hou. Die "pels" is kort en grof met 'n treffende konstrasterende patroon. Die boonste helfte van die kop net bokant die oë en die ore sowel as die bo-dele van die lyf en die hele stert vertoon witterig, soms grys, ligbruin tot bruin, veral na die agterdele maar bykans nooit swart nie. Hierdie ligkleurige mantel konstrasteer skerp met die pikswart sye, onderdele en bene. Die punt van die witkleurige borselagtige wit stert is pikswart.

Die jong rateltjies se wit manel vertoon meer bruinerig van kleur. Dit moet duidelik gestel word dat daar heelwat intra-specie variasies by die ratel voorkom ten opsigte van die kleur van die ligte mantel. By party rasse tref mens die mantel net van die nek tot die stert aan, maar by ratels wat die digte vogtige woude bewoon, is hierdie ligte manel baie beperk tot net by die nek. In die uitsonderlike geval kan die wit mantel totaal afwesig wees.

Aangesien die ratel in bykans enige vorm van habitat aangetref word, van oop droë savannah-streke tot digte woude, lyk dit nie asof dit enige spesifieke habitat bo die ander verkies nie.

Hoewel die ratel 'n nagdier is, mag 'n mens as jy gelukkig is, hulle soms in die dag ook raakloop. Net soos die erdvark, besit die ratel ook die vermoë om met sy kragtige, lang naels gate in die grond te grawe, maar hulle maak merendeels gebruik van onbewoonde erdvarkgate. 

Die ratel mag enkel of in pare voorkom. Oor die algemeen is die ratel skaam en geneig om pad te gee as dit versteur word, maar die jagter of die natuurliefhebber moet dit vir geen oomblik as vrees interpreteer nie. Die ratel is volgens die meeste skrywers die enigste dier wat geen vrees ken nie, en is uitermatig braaf en heldhaftig en sal enige onwelkome indringer afgesien van grootte en gevaarlikheid, onmiddellik bestorm en aanval.

Die ratel leef van klein diertjies, knaagdiere, slange, voëls, groot insekte en per geleentheid selfs jonger en klein bokkies. Eienaardig genoeg is hierdie vleiseter, wat tot verrotte vleis sal eet, ook plantvretend, en eet wortels, knolle en vrugte.

Die ratel het 'n spreekwoordelike soettand - net soos ons almal. Hy het 'n voorliefde vir heuning, en die heuningkoeke wat reeds die papies van die wildeby bevat, is sy gunsteling. Enige nes word met sy sterk kloue oopgebreek en vanweë sy geweldige taai en sterk vel en 'n laag vet net onder die vel, is hy immuun teen bysteke. Die ratel klim met die grootste gemak bome, om by die byneste uit te kom, ten spyte van sy oënskynlike swaar massa.

Bron: HIER
Daar bestaan 'n baie eienaardige, amper simbiotiese bestaan tussen die ratel en die heuningwyservoël. Hierdie klein voëltjie, wat ook besonder lief is vir heuning, is altyd op soek na heuningneste, en trek die ratel deur sy eienaardige gedrag en voëlgeluide en lei die ratel na die bynes. Die ratel volg dan die wegaanwysende vlug en roepe van die voël, en terg soms die voëltjie deur te weier om te volg. Sodra hulle by die bynes aankom, haal die ratel natuurlik die heuning uit, en 'n spesiale paar jong koeke word vir die heuningwyser opsy gesit, en só vier hulle saam fees. Die bestaan van hierdie voël is vir die ratel egter nie noodsaaklik vir sy voortbestaan nie, aangesien die dier sonder die hulp van hierdie voël kan klaarkom, en self byneste kan opspoor. 
[Inligting: Dr. JJ Malan]

Thursday, 16 April 2026

Ruben se een minuut gedig: Om gesond te lewe

As ek my kos eet - elke dag -
(ook wortels, kool en avokadopeer)
en voor die nuus begin - elke nag
soet-stil bedwaarts keer ...
 
As ek en Pa net na werk
gaan oefen by die Sweet-en-Strek
dat my spiere groei en bult en rek
tot die meisies na hul asems snak -
 
dán sal ek nie moeg word of verkoue kry
en sonder sukkel spel én somme doen.
"Vriendelik, netjies, gemanierd is hy;
ʼn oulike kind" sal hul my noem!

Nou wil ek net weet:
Hoe’t die Grieke dit geweet?
Was daar toe dan reeds
TV, skool en somme?
 
* Anoniem 

[Bron: Klik HIER]

Thursday, 12 March 2026

Ruben se een minuut storie: Het hulle 'n kat se kans? Die laaste spoorwegkatte ...

Maats, ek blaai oor die naweek deur een van die koshuis se ou tydskrifte en was ek gefassineerd deur hierdie stukkie oor die katte. Ek dink dit het my aandag getrek omdat ek as viervoetige ook hier in die jeugsentrum werk. Ons posbeskrywings verskil egter drasties en as ek te oud is om verder te werk, mag ek op pensioen gaan. 'n Heerlike rusvoortuitsig!

Geniet hierdie stukkie:

Die Britse spoorweë se amptelike muisbestryders se dae is getel. Meer as 'n eeu lank het dié spoorwegkatte 'n skrikbewind onder rotte en muise op spoorwegstasies gevoer. Nou word die Britse spoorweë egter geprivatiseer en die katte asook 130 000 van hul tweebeenkollegas staar afdanking in die gesig.

Van die nagenoeg 2000 katte wat 50 jaar gelede op Brittanje se 2 400 stasies bedrywig was, is nog net 200 oor.

Na die Tweede Wêreldoorlog het so te sê elke spoorwegstasie 'n eie muisvanger gehad. 

Vandag word nog omgesien na die laaste spoorwegkatte: hulle word kos gegee, veearts toe geneem as hulle siek is. Elke stasie sit spesiaal geld opsy vir dié uitgawes. Of die spoorwegkatte dit werd is, is moeilik om te sê.

Onder hulle is daar gewis dodelike muisvangers - katte soos die legendariese Tiddles, 'n knewel van sewe kilogram wat by Londen se Paddington-stasie so te sê op die hande gedra is. Tiddles was so bekend dat toe hy in 1981 die emmer geskop het, sy doodsberig nogal in al die koerante verskyn het.

Maar katte soos Tiddles is bitter skaars; die meeste van die huidige katte is 'n blote instellijng en al so gruwelik bederf dat hulle geen jaginstink meer het nie.

Wat gaan nou van Brittanje se spoorwegkatte word?

Sal hulle die "eiendom" word van Railtrack, die organisasie wat ná privatisering die spoorwegnetwerk - stasies, treinspore, ens. - in stand sal hou? Hulle sien nie daarvoor kans om na die katte te kyk en elke jaar byna R300 per kat op te dok nie.

"Wat ons betref, is die katte nie werknemers nie," sê Colin May, een van Railtrack se kokkedore. "Die katte het seker in die verlede 'n doel gedien, maar ons gaan nie geld aan hulle bestee nie."

"Diegene van ons wat by die stasies aanbly, sal vir die katte sorg," sê Jonathan Probyn, Paddington-stasie se stasiemeester. "Die katte is 'n jarelange instelling en ons wil dit so hou. Ons sal self na hulle omsien, uit ons eie sakke vir hulle betaal."

[Keur 12 November 1993]    

Wat het ek uit hierdie storie geleer:

* Niemand is onmisbaar nie.
* As jy 'n werk het, doen jou uiterste bes, soos Tiddles wat jare na sy dood nog die media haal omdat hy so hardwerkend was.
* Moenie van ander verwag om vir jou te sorg nie - maak 'n plan en "vang" muise as dit moet. 

Thursday, 19 February 2026

Ruben se een minuut gedig: Kat en muis

ʼn Kat sê eendag vir ʼn muis:
"Ek voel tog so alleen,
kom speel hier met my in die huis,
dan gee ek jou ʼn been!"
 
"Nee dankie," sê die slimme muis.
"Ek bly maar weg van jou -
by katte voel ek glad nie tuis,
hul wil my beentjies kou!"

* Helena J.F. Lochner

[Bron: Klink HIER]

Thursday, 12 February 2026

Een minuut storie: Die slim haan en die jakkals

Naby die blou see is 'n groot bos. In die bos woon 'n stout jakkals. Hy vang muise, hase en ook skape. Hy is egter bang vir slange en leeus. Hy is deesdae baie lui om moeite te doen met sy kos.

Eendag sien hy 'n mooi swart haan, met 'n pragtige goue kraag. Die haan is baie mak, 'n mens sou kon sê hondmak. Die haan se gereelde sitplek is in 'n baie hoë boom met groot groen blare. Daarvandaan kan hy die wêreld ongesiens dophou en vroegtydig vir sy vriend wat onder die boom lê en 'n uiltjie knip, waarsku. Hulle twee se ongewone vriendskap het al tot vele stories aanleiding gegee. Hierdie twee maats is voordurend op die uitkyk vir mekaar en help ongevraagd.

Die jakkals loop so drentel-drentel en kyk of daar nie êrens 'n duif is wat sit en eet nie ... een wat sy waaksaamheid so 'n bietjie verslap het, wat hy kan bekruip nie. 

Sy oog val egter op die haan. Hy besluit om hom af te lok met valse beloftes en hom dan vir middagete op te eet. Hy vlei die haan deur sy kraaiery te prys. "Ek hoor jy kan baie mooi sing. Kom sit hier naby my op die grond en sing vir my. Ek wil jou mooi hoor as jy sing. Sing gerus vir my jou vroeë môrelied." 

"Goed," sê die haan, "maar roep my maat ook om saam te sing."
"Waar is jou maat?" vra die jakkals.
"Hy lê hier onder die boom," sê die haan.

Die jakkals dink dit is ook 'n haan of dalk 'n hen. Hy loop om die groot boom om te gaan kyk. Die groot hond sien die jakkals om die boom kom. Hy spring blitsvinnig op en byt die stout jakkals morsdood. 

Wat het ek uit hierdie storie geleer:
* Dit is handig om ongewone maats te hê. Maats wat sterker of groter of slimmer as jy is, sodat hulle jou kan help as jy in die moeilikheid is.

* Moenie na vreemdelinge luister nie. Jy kan hulle nie vertrou nie. 

* Jy is verantwoordelik vir jou eie veiligheid. Bly altyd waaksaam. Dit kan jou lewe red.

Thursday, 29 January 2026

Ruben se een minuut storie: Wolf leer vlieg

Wolf is moedeloos honger. Elke keer as hy by ‘n dooie dier kom, het Aasvoël lankal die lekkerste vleis afgeëet sodat net die kaal bene vir hom oorbly.

Wolf besluit om vir Aasvoël te vra hoe hy dit elke keer regkry.

"Ai, Aasvoël," kla Wolf, "kan jy dan nie vir my sê hoe jy so gou weet as daar iets te ete is nie?"

"Dis maklik," antwoord Aasvoël. "Ek vlieg hoog in die lug en kyk ver oor die aarde uit. Jy kan net tot by die bossies hier voor jou neus sien. Dan het ek al lankal die kos raakgesien en sommer vir my vrou 'n paar lekker stukke vleis gevat wat sy vir die kinders kan gee." 

"Leer my dan ook vlieg," soebat Wolf.

"Goed,” sê Aasvoël. "Kom klim op my rug, dan kyk jy mooi wat ek doen."

Aasvoël sprei sy kragtige vlerke, en Wolf moet net vasklou vir al wat hy werd is.

"Sien jy, Wolf?" roep Aasvoël toe hulle hoog oor ‘n lap doringbosse sweef. "Dis maklik. Spring nou af en klap met jou bene soos ek met my vlerke."

Wolf duik deur die lug, maar hoe hy ook al skop en spartel, hy val soos ‘n klip, reg in die doringbosse.

"Eina!" tjank Wolf terwyl hy tussen die klouende takke uitsukkel.

"Laat dit vir jou ‘n les wees!" roep Aasvoël van bo af. "‘n Dier is gemaak om te loop, en ‘n voël om te vlieg. En as diere probeer vlieg, kom daar moeilikheid."

Wat het ek uit hierdie storie geleer:
* Moenie iets of iemand anders probeer wees nie. Wees altyd jou unieke self.

[Bron: HIER. Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek & oorvertel deur Pieter W. Grobbelaar]

Thursday, 22 January 2026

Ruben se een minuut gedig: Oom Jakkalaas

Oom Jakkalaas, die slimme dier,
drafstap deur die Katrivier,
toe klink daar, droewig, ʼn geluid:
dis die boer wat vir sy honde fluit.

Oom Jakkalaas draf ʼn rant verby,
oom Jakkalaas trek sy stert opsy;
hy’t ʼn perdevel-hoed en ʼn wildekat-jas,
en styf om sy nek hang ʼn muishond-das.
 
Oom Jakkalaas vlug, oom Jakkalaas draai,
en die honde die byt dat die hare so waai,
maar iewers daarbo in die doringbos
het hond en sy maat die ou-oom gelos.
 
Die kinders die skree: “Oom Jakkals is dood!
Vanaand gaan ons hom in die kleinpotjie kook.”
Maar oom Jakkalaas draf waar die heuningvoël fluit,
en met die gefluit is my storietjie uit.
 
* Anoniem

Uit: Mallemeule, Perskor, 1989

Thursday, 8 January 2026

Ruben se een minuut storie: Optel se nuwe huis

Optel was 'n bitter klein ou skilpadjie toe hy en sy boetie vir 'n naweek by hul ouma gaan kuier het. Hulle was baie opgewonde, want hulle weet dat ouma nie so streng soos mamma is nie. Ouma vat gewoonlik 'n middagslapie en dan kan hulle twee lekker rondloop.

Hulle het deur die veld geloop en omdat dit afdraand na die spoorlyn se kant is, het dit baie vinniger gegaan as wat hulle verwag het. So halfpad in hulle rondlopery, besef Optel dat as hulle teruggaan na hulle ouma toe, sal hulle opdraand moet loop en dit gaan baie baie langer vat. Hy steek onmiddellik in sy vier spore vas en draai sy kop stadig na agter. Dis belangrik om te weet hoe ver hulle moet terugloop. Toe hy die afstand sien, skrik hy sy kop terug in sy dop. Sy boetie is haastig op pad en kom nie eens agter dat sy broer nie meer aan sy sy is nie.

Optel probeer sy broer se aandag trek - hy roep en roep, maar die trein wat op daardie oomblik teen 'n verbysterende spoed by hulle twee verbysnel, doof die kommerwekkende roep van Optel uit. Optel besluit om om te draai. Met of sonder sy boetie. Ten minste weet hy waar sy broer hom bevind en kan hy sy ouma oortuig om saam met hom te loop om sy avontuurlustige broer te kry.

Hy was nog nie op spoed nie, toe hy voel hoe 'n kragtige hand hom optel. Sonder om te kyk, trek hy hom terug in sy dop en met 'n kloppende hart luister hy of hy enige iets kan uitmaak. So uit die hoek van sy oog, sien hy sy boetie in die man se ander hand. Ten minste is hulle twee saam in die gemors. Hy wonder of sy ouma al wakker is. Hy wonder ook of sy na hulle soek en sal sy weet watter kant om te loop. Hy is so spyt dat hy maar nie net rondom die pappot gevroetel het nie. En hy wonder ook of dit sal help om te bid as jy deur jou eie toedoen in die moeilikheid beland het.

Hulle twee beland in 'n donker sak en hulle weet moeilikheid is hulle voorland. Wat hulle nie weet nie, is dat hulle twee op die swartmark verkoop gaan word. Tussen 'n magdom mense en groot lawaai, kom daar 'n lang bebaarde man na hulle aangestap. 

Onderhandelinge vind plaas en die man van die sak, oorhandig hulle twee aan hul nuwe eienaar. Hulle voel 'n bietjie meer gerus, maar besef dat hulle lewe vir altyd verander het. Hoe op aarde gaan hulle weer hulle ouma kry en wat gaan hulle ma sê.

Hulle weldoener sit hulle op 'n lowergroen grasperk neer. Maar o wee, hy het 'n yslike hond wat baie belangstel in hulle twee. Sy boetie wil nog weghardloop, maar sy voet haak vas en die hond kry hom in 'n stewige greep beet. Gelukkig hou hy kop en hy byt die hond 'n geniepsige byt aan die onderlip. Hond se kind laat val sy broer, maar hy het seergekry. Hulle moet maak dat hulle hier wegkom, terwyl Hond nog in pyn verkeer.

Twee huise verder kom hulle af op 'n pragtige tuin, met feetjieliggies, 'n voëltjiebad en hope heerlike groen plante waaraan hulle na hartelus kan kou. Daar is ook 'n hond in dié erf, maar jy kan aan haar houding sien dat sy 'n baie statige ou dame is. Sy jaag nie voëls nie en kyk katte uit die hoogte uit aan. Hulle weet nie presies wat haar doel is nie, maar hulle voel ten minste nie bedreig nie.

Arme boetie, met 'n stukkende dop en harsingskudding van die val, het hy net al swakker en swakker geword, totdat hy sy laaste asem snikkend uitgeblaas het. Sy laaste woorde aan my was dat ons nie só ongehoorsaam moes gewees het nie.

Nou is ek alleen. 

Stoksielskilpadalleen.

Gelukkig het ek al maats gemaak met die statige dame van die erf, en die vriendelike vrolike dame van die huis. Hulle het altwee het gesê ek is meer as welkom om saam met hulle daar te bly. Tot tyd en wyl ek nie ander planne bedink het nie, gaan ek eers van hulle gasvryheid gebruik maak. 

Tot weersiens!

Wat het ek uit hierdie storie geleer:

* Moenie by jou ouma gaan kuier met ander planne in jou kop nie.
* Moenie jou ouma se goedheid misbruik nie. Dink net hoeveel stres en kommernisse laai jy op jou
   ouma se skouers. Alles onnodig.
* Moenie ongehoorsaam wees nie, want niemand hou van 'n ongehoorsame skilpad nie.
* Moenie oop en bloot rondloop dat almal jou kan raaksien nie. Sluip van bossie tot bossie vir jou eie 
   skilpadveiligheid.
* Nie alle mense is vriendelik nie en beslis is alle honde ook nie vriendelik nie.

Thursday, 4 December 2025

Ruben se een minuut storie: Vat hom, Jakkals!


[Onthou om verlede week se storie te lees, voordat jy hierdie een lees. Dis goed om jou geheue te verfris, sodat jy kan sien wat Hasie weer in die mou voer.]

Party dae is Hasie glad nie waaksaam nie en is hy nie op die uitkyk vir gevare nie. Party dae vergeet hy eenvoudig om wakker en waaksaam te wees en loop dan sonder dat hy dink aan al die misdaad in die land.

Vandag is een van daardie dae. Hasie is glad te gerus. Sing-sing loop hy in die paadjie. Wirts warts vinnig om die bossies. Kyk nie waar hy loop nie; trap nie waar hy kyk nie. Skielik en onverwags! Woep! Daar sit hy. Jakkals het taai voëlent aan ‘n stomp gesmeer en dit in die paadjie neergesit. Hasie spook, maar hy sit net al hoe vaster. Hy ruk en pluk en skree.

Jakkals kom tussen die bossies uit. “Ha! Nou het ek jou, Haas!” sê hy. Sy lippe is nog altyd skeef geswel van die bysteke sodat dit lyk asof hy nie kan ophou lag nie. Jakkals het hom voorgeneem om Haas nie te vergewe vir die klomp bysteke nie. Hasie gaan beslis vandag op die Jakkals-gesin se tafel land!! 

Hasie word stil ... sommer doodstil!  

“Ja, jy het my, Jakkals,” sê hy. “Nou kan jy my maar opeet. Dis net jammer om so dorstig te sterwe. Ek was juis op pad rivier toe.”

“Nee, ons kan ‘n bietjie gaan drink,” sê Jakkals, wat hom heeltemal droëtong gehardloop het om die strik vir Hasie reg te kry. Hy pluk Hasie los van die voëllym af, gooi hom oor sy skouer en stap af na die drinkplek toe.

Ai, hoe stil en blink is die water nie. Jakkals laat sy kop sak om te drink. Maar kyk hoe ongeskik is hierdie ander jakkals! Hy druk sommer sy snoet tussenin. “Gee pad!” brom Jakkals.

“Wat is dit nou, Jakkals?” vra Hasie agter sy skouer.

“Kyk self,” sê Jakkals, en hy sit hom neer. En: “Staan soontoe!” sê hy vir die ander jakkals wat hom al weer skeef aankyk.

Hasie sien dadelik dat Jakkals met sy eie weerkaatsing baklei, maar hy sê niks nie.

“Loop weg hier!” sê Jakkals vir die derde maal, en hy wys tande, maar die waterjakkals wys terug.

“Moenie so met jou laat speel nie!” roep Hasie. “Kyk hoe staan daardie ander dier se mond soos hy jou uitlag. Vat hom, Jakkals!”

Toe Jakkals gryp, gryp die ander jakkals ook. Toe Jakkals duik, is hulle doems al twee binne in die water. Toe Jakkals verdwyn, is alles weg.

“Ha ha ha!” lag Hasie:

“Kwaai is kwaai,
en kwaai se voet:
ou Jakkals soek
sy eie bloed!”

En toe Jakkals hangstert uit die water klim, sing Hasie al ver in die paadjie af.

[Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek en oorvertel deur Pieter W Grobbelaar. Klik HIER vir tonekrulstories.]

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Wees altyd waaksaam - op hierdie manier bly jy uit die moeilikheid.
* Jy moet altyd 'n slim manier hê om uit die moeilikheid te kom.
* Moenie jou opponent onderskat nie - eendag is eendag dan gaan jou plannetjies nie werk nie.

Thursday, 27 November 2025

Ruben se een minuut storie: Die Byekerk


Elke dag is so vol en besig dat Hasie mooi moet beplan hoe hy sy dae gaan inkleur. Vroeg een oggend hardloop Hasie na die berg se kant toe, en daar sien hy ’n bynes diep in ‘n klipskeur. 

“Ai!” sê Hasie: “Lekker is lekker,
en goed is goed -
en die beste lekker
is heuningsoet!”

En Hasie druk sy kop diep in die skeur om die nes by te kom, maar hy het nie geweet dat Jakkals al weer spoorsny nie. Hy sit nog so, toe Jakkals hom aan die hakskeen gryp. “Ha! nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil hom sommer sy tande in Hasie se sagte vleis laat insink.

Maar Hasie het klaar geskrik. Hy sit sy brein in hoogste versnelling en dink baie vinnig. Hy weet Jakkals wag vir 'n geleentheid om van hom 'n maaltyd te maak. Gelukkig is hy strate slimmer as Jakkals en kry hy dit reg om elke keer vir Jakkals uit te oorlê.

“Sjuut, Jakkals,” sê hy. “Kan jy nie hoor my vriende hou kerk nie?”

“Waar?” vra Jakkals nuuskierig.

“Hier in die klipskeur,” sê Hasie. “Ai, hulle sing tog te pragtig!”

“Laat ek hoor, sê Jakkals, en hy druk sommer in. Dan trek hy sy kop weer uit en sê: “Nee wat, hulle kan nie sing nie. Dis net brom brom brom, al op dieselfde wysie.”

“Hulle is seker moeg,” sê Hasie. “Steek ‘n bietjie ‘n stok daar by die voordeur in dat hulle weet ons is hier. Dan moet jy hoor.”

En Jakkals gryp ‘n stok, en hy werskaf in die klipskeur rond, en toe druk hy sy kop in om goed te luister.

Nee kyk, dit was ‘n sonde. Die bye mors met Jakkals; hulle verniel hom; hulle steek hom byna dood. Hy spring om en hardloop, maar die bye het nie tyd nie. Dis net zoem tjiek! “Eina!” Zoem tjiek! Zoem tjiek! Zoem tjiek! “Eina! Eina! Eina!”

Hasie lê soos hy lag. Hy rol soos hy lag. Hy maak hom eintlik seer. Nee, Jakkals sal hom nie gou weer pla nie. Hy sal vir die volgende week heerlik kan rondloop, sonder dat hy voortdurend op die uitkyk vir Jakkals moet wees.

[Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek en oorvertel deur Pieter W Grobbelaar. Klik HIER vir tonekrulstories.]

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Maak seker dat jou nuwe vriende nie vals vriende is nie.
* Vals vriende lyk asof hulle in jou doen en late belangstel, maar eintlik kyk hulle net waar hulle jou      
    aan die hakskeen kan byt.
* Dink voordat jy enige iets doen.