Friday 29 September 2023

Ouers: Voordele van speel


Gewone speletjies
is die sleutel tot gelukkige, gesonde, vaardige en goed aangepaste kinders. - Anys Rossouw, opvoedkundige sielkundige
(Rooi Rose, 23-11-2019)

Bevorder jou kind se fisieke gesondheid en fiksheid. Dink terug aan al die speletjies wat jy as kind gespeel het en leer dit vir jou kinders. Deesdae wil kinders net op hulle selfone of voor die TV wees. Lekker hardloopspeletjies (met of sonder 'n bal) is nie net goeie oefening nie, dit verbeter ook onder andere die volgende:
  • Groot- en fynmotoriese ontwikkeling
  • Bou verbeelding en kreatiwiteit
  • Bevorder kognitiewe ontwikkeling (breinfunksie)
  • Verbeter geletterdheid
  • Help met probleemoplossing
  • Help met emosionele gedrag
  • Ontwikkel selfvertroue en selfbeeld
  • Help om sosiale vaardighede te ontwikkel en te verbeter
  • Verlig stres en angstigheid
Hier is 'n paar voorstelle van speletjies. Vra vir oupa en ouma hulp as julle vasbrand. Stuur gerus nog voorbeelde in.
  • Aartappelresies
  • Blikaspaai
  • Blindemol
  • Driebeenresies
  • Handjietennis
  • Telefoontjie
  • Toutrek
  • Vroteier
  • Wegkruipertjie
  • Wolf, wolf, hoe laat is dit?

Wednesday 27 September 2023

Rosetta se goeie wense:


Die lewe is kort - leef dit!
Die liefde is mooi - voel dit!
Kwaadwees is  lelik - los dit!
Probleme is tydelik - aanvaar dit!
Herinneringe is vir altyd - bewaar dit!
En jy is kosbaar - onthou dit!!

Tuesday 26 September 2023

10 lessons I want to instill in my kids ...

if you're thankful, show it.
if you love someone, tell them.
if you're wrong, fess up.
if you're confused, ask question.
if you learn something, teach others.
if you're stuck, ask for help.
if you made a mistake, apologize.
if you trip, get back up.
if someone needs help, help them.
if you see wrong, take a stance. 

Sunday 24 September 2023

God maak nie foute nie


Kort voor Kersfees 2004 word 'n eerstelingseun vir Edwina van Khayelitsha gebore. 'n Pragtige kind, Raemondo. Maar die vreugde duur nie lank nie. Op drie weke ontdek sy ma 'n ongewone klopping in sy keel. Khayelitsha hospitaal verwys hom dadelik na die Rooikruis Kinderhospitaal. Daar vind hul uit hy het ’n ekstra aar wat veroorsaak dat te veel bloed na sy hart gepomp word. Raemondo was nog te klein en hul moes drie maande wag om te opereer. Hy kon eers weer huis toe gaan op vyf maande oud.

Tog is iets nie pluis nie. Raemondo het ’n verskriklike uitslag op sy vel en mettertyd begin die punte van sy vingers en tone pikswart vertoon. Weereens word hy na die Rooikruis Hospitaal gehaas en volg ’n skokkende diagnose - meningokokkale meningitis. Bloedsirkulasie in sy liggaam word beperk en sy ledemate gaan letterlik stukkie vir stukkie dood ...

Raemondo se toestand versleg en hy verval in ’n koma. Op 'n dag vra 'n dokter sy ma: ”Watter kwaliteit .van lewe kan hy nog hê, Mamma? Let him go." Depressie en onsekerheid oorval haar. Tot sy 'n boodskap op Radio Tygerberg hoor: "God maak nie foute nie." Net daar besluit sy: Ek is nie in beheer van sy lewe nie. Raemondo het aangehou veg en die lang pad van operasies en amputasies het begin.

”Dit was eers sy voete. Daarna sy handjies. En weer die bene en toe die arms.

Ons het "count” verloor van al die operasies.”

Hy was reeds in graad 2 toe hy sy laaste operasie ondergaan het.

Te midde van alles het Raemondo ontwikkel in ’n gelukkige kind met 'n aansteeklike glimlag. Stilsit was net nooit 'n opsie nie ...

Van kleins af was hy mal oor sport. Eers gholf en later tafeltennis waarvoor hy in 2019 provinsiale kleure verwerf. Toe nooi die Roxy Davis Foundation hom om 'n branderplanksessie by te woon. En daar byt die ”surfing”gogga hom. Soveel so dat hy in die eerstejaar WP-kleure kry! By die Nasionale Para-Branderplank Kampioenskap behaal hy ’n tweede plek. In Desember gaan hy sy 16de verjaardag in Kalifornië vier terwyl hy aan die Wéreldkampioenskap sal deelneem!

Raemondo het sy skoolloopbaan in Astra-skool begin, maar hulle bied net onderrig tot graad 9. Sy ma was vasberade dat hy matriek moet voltooi en Jan Krielskool was boaan die lys. Hier is koshuisgeriewe, verskeie terapeute en spesialispersoneel. Die Jan Kriel Sentrum vir alternatiewe leer stel hom in staat om werksopdragte en huiswerk met sekere konsessies te voltooi - hy skryf immers self met sy "geboude hand!" Veral sy verblyf in die koshuis - met die nodige dissipline wat alle 15-jariges benodig - het ’n groot verskil in sy skoolwerk gemaak.

Sy lewensleuse dryf hom elke dag:

Never give up. No matter how hard the situation.” 

Bron: Jan Kriel-nuusbrief (Nov. 2022)

Friday 22 September 2023

Ouers: Alle kinders kan 'n vyfsterkind wees


Baie ouers wil graag weet wat die drie belangrikste dinge is wat enige ouer vir sy of haar kind kan leer? Hierdie drie dinge het niks met geld, rykdom of aansien te doen nie. Kinders met hierdie drie skaars eienskappe, sal uitstaan tussen die middelmatigheid van die ander wat tans die botoon voer. 
  1. Respek
  2. Dankbaarheid
  3. Eerlikheid  
  • Leer jou kind om almal wat sy of haar pad kruis met respek te behandel.
  • Leer jou kind om dankbaar te wees vir dit wat hulle het - daar is altyd mense wat minder het. Materiële besittings maak nie van jou 'n beter mens nie. Die innerlike is baie belangriker as die uiterlike. 'n Baie moeilike maar waardevolle eienskap om vir jou kind te leer.
  • Wees altyd eerlik. (Hierdie is die moeilikste, maar ook die waardevolste eienskap wat jou kind kan besit - hulle sal baie meer as een keer sy of haar man moet kan staan om hulle eerlikheid te bewys.)   
Hierdie drie eienskappe maak van jou kind 'n wenner. Maak van jou kind 'n kampioen as jy as ouer vir hom kan leer om uit sy foute te leer en om nooit op te gee nie. 

Thursday 21 September 2023

Die skoene

Ek was vars gestort en netjies geskeer. Ek het my mooi das nog een keer reggetrek en toe vertrek. Ek kon darem betyds by die kerkbank inskuif en wou net my oë toemaak in gebed toe ek uit die hoek van my oog 'n paar skoene sien wat langs my kom inskuif het.  

Ek het gesug ... was dit nou nodig om so naby aan my te kom sit dat ons skoene aan mekaar geraak het.  

Ek het my oë gesluit ... ONSE VADER ... toe onthou ek dat die Here ook sy Vader is ... Maar nog steeds ontsteld wonder ek of hy nie net sy skoene kon skoongemaak het nie. Die skoene se punte was afgekrap ... 'n dik laag stof het op die skoene gelê en sowaar daar was nog  'n gat ook aan die kant van die een skoen.

Sekerlik het die man geen skaamte of trots nie ... 

DANKIE VIR U SEëNINGE ... het my gebed aangegaan.  

"Amen!" het die paar skoene langs my hardop gesê.

Ek het so hard probeer om op die gebed te konsentreer, maar elke keer het my oë gedwaal na die paar skoene langs myne. Sekerlik moet ons altyd probeer om op ons beste te lyk wanneer ons by die kerkdeure instap? Wel, sekerlik het hierdie paar skoene langs my nie baie moeite gedoen nie.

Die gebed het geëindig en die lofsange het begin ...

Die paar skoene langs my het met volle oorgawe saamgesing. Met oë gesluit en hande omhoog het die skoene uit volle bors en met diep oortuiging die lofliedere aan ons Skepper geoffer.

Ek was seker dat nie net die Here nie, maar die hele dorp hierdie man se lofliedere gehoor het.  

En toe kom die tyd vir die offerhande. Ek het 'n stewige bydrae ingegooi, en toe die bordjie aangegee na die skoene langs my. Daar was diep in die sakke gegrawe ... eers in die een sak en toe in die ander een en diep onder in die tweede sak is sy bydrae uitgekrap en met 'n helder geklingel het die muntstukkie in die pragtige silwer bord geval.  

Ek het gesteurd na die skoene langs my gekyk, maar hy het só n salige uitdrukking op sy gesig gehad. So dankbaar dat hy wel iets gehad het om te gee.

Toe was dit tyd vir die Woord. En laat ek nou maar eerlik wees: dit het my tot in my siel verveel ... totdat ek na die  skoene langs my se gesig gekyk het. Groot trane het by sy wange afgerol ... Hy  het met diep aandag geluister ... en ek?

Ek het gewonder wat ek dan gemis het.

Ek was só besig met die skoene en die oordeel in my hart, dat ek die seëninge van die Woord totaal en al gemis het.  

Sy hart was vol ... sy honger was gestil ... en ek? Ek het gewonder waarom ek dan nog só leeg gevoel het.

Toe besef ek: Ek het nie, soos die skoene langs my,  met 'n verwagting kerk toe gekom nie, daarom het ek niks ontvang nie, terwyl sy beker oorgeloop het. Golwe van skuldgevoelens het oor my gespoel en ek het geweet dat die stukkende skoene my vandag 'n baie duur les geleer het.

Oudergewoonte was dit tyd om ná die diens enige vreemdelinge te laat welkom voel ... en na die slotgebed het ek toe maar my hand na die skoene uitgesteek. Die gesig was oud en verrimpeld van baie son en wind en weer en die hand wat myne vasgevat het, was vol eelte.

Die skoene het na my gekyk en gesê: "My naam is Charlie en ek is so bly om jou te ontmoet!" Sy oë was vol hartseer en pyn. "Ek kom al 'n paar maande hierheen, maar jy is die eerste een wat my groet ... Ek weet my kleredrag is nie op standaard nie, maar ek probeer baie hard om altyd op my beste te lyk en ek politoer gereeld my skoene, maar ná die lang stap hierheen op die stofpad, word dit altyd weer vuil en vol stof."

My hart het begin pyn en ek het swaar gesluk aan die groot knop in my keel. Ek was stil, want ek het geweet as ek iets sou sê, sou my woorde leeg en blikkerig klink, in vergelyking met die opregtheid van die stukkende skoene.

Ek het weer sy vereëlte hand gedruk en toe met trane bely: "Jy het my siel aangeraak en vandag het jy my 'n groot les geleer ... dat die mooi van die mens in sy hart lê en nie in sy blink nuwe skoene nie."

Dankie, Charlie, dat jou skoene vandag vir my 'n groot les geleer het - dat daardie vuil stukkende skoene my geleer het om anders te sing ... om meer intens te luister en om altyd met 'n verwagting te kom, sodat ek vol en tevrede kan uitstap.  

Ons sorg dat ons uiterlik getooi is, maar innerlik is ons brandarm en uitgehonger.

[Dankie, Rosetta Venter, vir hierdie tasbare lewensles wat jy met ons gedeel het.]

Wednesday 6 September 2023

Geskenke: Die 3-reël-geskenk

Oor so 3 maande is dit Kersfees en dit is die begin van kopkrap vir menige ouer. In hierdie ekonomiese tye is dit glad nie maklik om kop bo water te hou nie - wat nog te sê geskenke koop.

Indien daar gelukkiges onder ons is, onthou dat daar drie dinge is waarna 'n ouer kan kyk: ietsie wat hulle nodig het, ietsie wat hulle kan aantrek, maar moet nooit vergeet om ietsie te koop wat hulle kan lees nie. 'n Mens vergeet so maklik om leesstof te koop.