Showing posts with label Motivering. Show all posts
Showing posts with label Motivering. Show all posts

Thursday, 20 August 2026

Ruben se een minuut gedig: Reën

Dis tog te lekker as die reën
so drup-drup op die blare,
en die druppels hang soos pêrels
aan ons toutjierige hare.

As dit weer buite skoon is
en al die slote loop,
dan kan ons tog te heerlik
ons voete daarin doop.

Mammie sê ons kinders
moet liewer binne bly,
want as ons natreën, sal ons dalk
‘n kwaai verkoue kry.

Maar wat van al die bome
wat altyd buite bly?
Nog nooit het ek gehoor
dat een ‘n seerkeel kry!

[Digter onbekend]

Thursday, 16 July 2026

Ruben se een minuut gedig: Eseltjie ry

Woorde: SAAR ENGELA
Musiek: J. KROMHOUT

Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pat,
die eseltjie ry ná die stad.
Hy pluk aan sy toompie
en sukkel met oompie
en trek sy twee lang ore plat.

Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pout,
maar kyk so ‘n esel is stout!
Toe, roer jou, Jan-dooi,
loop vinnig, loop mooi,
en klaps! kom ‘n raps op die bout!

Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pat,
maar nou laat so ‘n eseltjie spat.
Dit spring en dit skop,
en dit wip agter op,
en Oompie lê plat in die pad!

Bron: HIER

Thursday, 18 June 2026

Ruben se een minuut gedig: Visvang

Plaps! Dit was so amper
   of ek het nou een gehad.
Maar hulle is so vreeslik glad
van al die tyd se bad ...

Soe! Die water loop al straaltjies
   agter in my nek,
en onder by my skoen se sool
begin dit ook te lek.

Kaats! Hou op met knor en loer.
   Jy maak die visse bang!
En dan kan ek maar opgee
om hulle te wil vang.

Outjie! Nou kyk ʼn bietjie ...
   Hoe het ek dit reggekry?
Die mooiste, geelste van die vissies
het in ... my kous gegly!
 
* Anoniem 

[Bron: Klik HIER]

Thursday, 21 May 2026

Ruben se een minuut gedig: Slaap

Maats, hierdie gedig plaas ek op versoek van my ouma Annie. 
(Sy het dit jare terug op skool geleer en sy het dit ook vir ons as klein hondjies geleer. Lees dit sommer drie keer deur.) 

Wat is die slaap ‘n wondersoete ding!
Sag op haar bloue oë daal die vaak
soos maneskyn diep waterkuile raak
om daar te droom in silwer skemering.

Vir laas beef oor haar lippe ‘n fluistering:
“Nag, Pappie.” Ek merk hoe langsaam hy genaak,
wat drome soet tot werklikhede maak:
in vaderarms rus my lieweling.
Sluit so my oë, God, wanneer vir my
u Engel wenk ter laaste, lange rus
en ek van wilde woeling hier moet skei;
dat my dan stille drome huis toe sus
en sterke Hand deur duisternisse lei.
Sluit so my oë, God, as ek gaan rus.

* DF Malherbe (1881-1969)

[Klik HIER]

Thursday, 14 May 2026

Ruben se een minuut storie: Tebo en sy besondere hond

Foto van my in die 
studeerkamer en 'n skets
van Arthur.
Ek het nou die dag vir Tebo in die straat raakgeloop en ons het 'n heerlike gesprek oor honde gehad. Ek plaas vir julle 'n gedeelte van die gesprek. Tebo is heelwat jonger as ek, en daarom het ek sommer 'n paar onlogiese vrae tussenin gegooi.

Ek: "Tebo, ek sien jy loop die laaste paar dae gereeld hier voor die skool verby met 'n hond aan 'n leiband. Watter soort hond is dit?"

Tebo: "Dis 'n opregte bloedhond."

Ek: "Waar het jy hierdie besondere hond gekry?"

Tebo: "By my oom. Dit is 'n baie nuttige soort hond. Die polisie hier in Kimberley het hom gebruik om diewe en kwaaddoeners op te spoor."

Ek: "En hoe het jy so 'n gesogte hond in die hande gekry?"

Tebo: "My oom is die man wat met die bloedhonde werk. Hierdie hond het seergekry en nou kan hy nie meer daardie soort werk doen nie. Dit verg intensie konsentrasie en hy moet die hele tyd gefokus bly."

Ek: "Dit is 'n baie mooi hond en hy lyk vir my sommer na 'n baie slim hond. Ek het ook so 'n slim vriend wat op 'n plaas bly. Maar dit is 'n skaaphond."    

Tebo: "Watter soort werk kan 'n skaaphond op die plaas doen?"

Ek: "Wel, hy word ingespan om met skape te werk. Wanneer die skape in die veld gaan haal moet word, jaag hy die skape aan. Hulle is bang vir hom en hardloop nie weg van die trop af nie. Hy weet presies wat om te doen. Hy is so fiks en fluks dat hy amper drie mense se werk gelyk kan doen. 

Tebo: "Ek het my hond nou twee maande en hy is lief vir my. Hy tjank soggens wanneer ek skool toe gaan. Hy is 'n baie goeie waghond. Snags pas hy die huis op. Hy knor en blaf wanneer hy iemand sien, maar hy byt darem nie. Hy baklei ook nie met ander honde nie. Hy hou daarvan om te stap en dit is hoekom jy my elke middag met Arthur aan die leiband sien. 

Ek: "Geniet jou hond en stuur asseblief vir my 'n foto. Ek is seker die maats wil graag weet hoe lyk 'n bloedhond." 

Thursday, 30 April 2026

Ruben se een minuut storie: Die lelike eendjie

Mamma Eend het op 'n plaas in die droë Noord-Kaap gewoon. Daar het 'n spruitjie deur die breedte van die plaas geloop. En nie ver daarvandaan nie, was 'n dam. Gedurende die reënseisoen het hierdie dam gewoonlik oorgeloop. Hierdie dam was baie belangrik vir Mamma Eend. Sy het gereeld daarin geswem en dis ook hier waar sy haar baba-eendjies vir swemlesse gevat het.

Vroeg vanjaar was daar vyf klein eiers in haar nes en een groot eier. Sy wonder al weke oor hierdie groot eier, maar kon geen antwoord kry nie. Intussen sit sy geduldig op haar nes en wonder hoe die groot eier in haar nes gekom het.

Eendag het die vyf klein eiers begin kraak.
Pik, pik, pik! Vyf mooi, geel baba-eendjies het uitgekom. Eers het hulle hul geel koppies by die eiers uitgesteek, die wêreld bekyk en gewonder of dit veilig is. Alles lyk só anders. Toe sien hulle vir Mamma Eend en hulle klouter uit hul eiers en vroetel onder Mamma Eend se veilige vlerke in.
  
Toe het die groot eier begin kraak. Klop, klop, klop! 

Een groot, lelike eendjie het uitgekom. "Dis vreemd," het Mamma Eend gedink.

Niemand wou met hierdie eedjie speel nie. 

"Gaan weg," het sy broers en susters gesê. "Jy’s lelik! Jy lyk nie soos ons nie."

Die lelike eendjie was hartseer. Hy besluit toe om nuwe vriende op die plaas te gaan soek en voeg dadelik die daad by die woord.
"Gaan weg!" het die vark gesnork.
"Gaan weg!" het die skaap geblêr.
"Gaan weg!" het die koei gebulk.
"Gaan weg!" het die perd gerunnik.
"Gaan weg!" het die waghond geblaf.
"Gaan weg!" het die huiskat gemiaau.
"Gaan weg!" het die vrolike mossies in die boom getjirp.
"Gaan weg!" het die die duiwe op die dak gekoer.

Niemand wou sy vriend wees nie. 

Dit het begin koud word. Die winter is hier. Die huiskat het vir die ander diere vertel dat hy op die TV gesien het dat dit vanjaar baie baie koud gaan word. Hulle voorspel selfs sneeu vir dele van die Noord-Kaap. 

Huiskat het nie gelieg nie. Dit het begin sneeu! Die lelike eendjie het 'n leë skuur gevind en daar gaan woon. 

Hy was koud, hartseer en alleen. 

Toe kom die lente. Die lelike eendjie het die skuur verlaat en teruggegaan na die dam toe. Hy was baie dors en het sy bek in die water gesit. Hy het 'n pragtige, wit voël gesien! "Sjoe!" het hy gesê. "Wie’s dit?"

"Dis jy," het 'n ander pragtige, wit voël gesê. 
"Ek? Maar ek is 'n lelike eendjie."
"Nie meer nie. Jy is 'n pragtige swaan, soos ek. Wil jy my vriend wees?"
"Ja," het hy geglimlag. 

Al die ander diere het gekyk hoe die twee pragtige swane wegvlieg, vriende vir altyd.

Wat het ek uit hierdie storie geleer:

* Niemand het van die lelike eendjie gehou nie, omdat hy anders gelyk het. Moenie op maats pik wat anders lyk of dink nie.

* Moenie soos die ander diere teenoor die lelike eendjie optree nie. Moenie iemand wegjaag nie. Wees altyd vriendelik. Dit kos jou niks.

* Onthou, as jy vandag soos die lelike eendjie voel, dis net tydelik. Eendag gaan jy die swaan wees en dan moet jy nie ander behandel soos jy behandel is nie.

Thursday, 16 April 2026

Ruben se een minuut gedig: Om gesond te lewe

As ek my kos eet - elke dag -
(ook wortels, kool en avokadopeer)
en voor die nuus begin - elke nag
soet-stil bedwaarts keer ...
 
As ek en Pa net na werk
gaan oefen by die Sweet-en-Strek
dat my spiere groei en bult en rek
tot die meisies na hul asems snak -
 
dán sal ek nie moeg word of verkoue kry
en sonder sukkel spel én somme doen.
"Vriendelik, netjies, gemanierd is hy;
ʼn oulike kind" sal hul my noem!

Nou wil ek net weet:
Hoe’t die Grieke dit geweet?
Was daar toe dan reeds
TV, skool en somme?
 
* Anoniem 

[Bron: Klik HIER]

Thursday, 12 March 2026

Ruben se een minuut storie: Het hulle 'n kat se kans? Die laaste spoorwegkatte ...

Maats, ek blaai oor die naweek deur een van die koshuis se ou tydskrifte en was ek gefassineerd deur hierdie stukkie oor die katte. Ek dink dit het my aandag getrek omdat ek as viervoetige ook hier in die jeugsentrum werk. Ons posbeskrywings verskil egter drasties en as ek te oud is om verder te werk, mag ek op pensioen gaan. 'n Heerlike rusvoortuitsig!

Geniet hierdie stukkie:

Die Britse spoorweë se amptelike muisbestryders se dae is getel. Meer as 'n eeu lank het dié spoorwegkatte 'n skrikbewind onder rotte en muise op spoorwegstasies gevoer. Nou word die Britse spoorweë egter geprivatiseer en die katte asook 130 000 van hul tweebeenkollegas staar afdanking in die gesig.

Van die nagenoeg 2000 katte wat 50 jaar gelede op Brittanje se 2 400 stasies bedrywig was, is nog net 200 oor.

Na die Tweede Wêreldoorlog het so te sê elke spoorwegstasie 'n eie muisvanger gehad. 

Vandag word nog omgesien na die laaste spoorwegkatte: hulle word kos gegee, veearts toe geneem as hulle siek is. Elke stasie sit spesiaal geld opsy vir dié uitgawes. Of die spoorwegkatte dit werd is, is moeilik om te sê.

Onder hulle is daar gewis dodelike muisvangers - katte soos die legendariese Tiddles, 'n knewel van sewe kilogram wat by Londen se Paddington-stasie so te sê op die hande gedra is. Tiddles was so bekend dat toe hy in 1981 die emmer geskop het, sy doodsberig nogal in al die koerante verskyn het.

Maar katte soos Tiddles is bitter skaars; die meeste van die huidige katte is 'n blote instellijng en al so gruwelik bederf dat hulle geen jaginstink meer het nie.

Wat gaan nou van Brittanje se spoorwegkatte word?

Sal hulle die "eiendom" word van Railtrack, die organisasie wat ná privatisering die spoorwegnetwerk - stasies, treinspore, ens. - in stand sal hou? Hulle sien nie daarvoor kans om na die katte te kyk en elke jaar byna R300 per kat op te dok nie.

"Wat ons betref, is die katte nie werknemers nie," sê Colin May, een van Railtrack se kokkedore. "Die katte het seker in die verlede 'n doel gedien, maar ons gaan nie geld aan hulle bestee nie."

"Diegene van ons wat by die stasies aanbly, sal vir die katte sorg," sê Jonathan Probyn, Paddington-stasie se stasiemeester. "Die katte is 'n jarelange instelling en ons wil dit so hou. Ons sal self na hulle omsien, uit ons eie sakke vir hulle betaal."

[Keur 12 November 1993]    

Wat het ek uit hierdie storie geleer:

* Niemand is onmisbaar nie.
* As jy 'n werk het, doen jou uiterste bes, soos Tiddles wat jare na sy dood nog die media haal omdat hy so hardwerkend was.
* Moenie van ander verwag om vir jou te sorg nie - maak 'n plan en "vang" muise as dit moet. 

Thursday, 19 February 2026

Ruben se een minuut gedig: Kat en muis

ʼn Kat sê eendag vir ʼn muis:
"Ek voel tog so alleen,
kom speel hier met my in die huis,
dan gee ek jou ʼn been!"
 
"Nee dankie," sê die slimme muis.
"Ek bly maar weg van jou -
by katte voel ek glad nie tuis,
hul wil my beentjies kou!"

* Helena J.F. Lochner

[Bron: Klink HIER]

Thursday, 29 January 2026

Ruben se een minuut storie: Wolf leer vlieg

Wolf is moedeloos honger. Elke keer as hy by ‘n dooie dier kom, het Aasvoël lankal die lekkerste vleis afgeëet sodat net die kaal bene vir hom oorbly.

Wolf besluit om vir Aasvoël te vra hoe hy dit elke keer regkry.

"Ai, Aasvoël," kla Wolf, "kan jy dan nie vir my sê hoe jy so gou weet as daar iets te ete is nie?"

"Dis maklik," antwoord Aasvoël. "Ek vlieg hoog in die lug en kyk ver oor die aarde uit. Jy kan net tot by die bossies hier voor jou neus sien. Dan het ek al lankal die kos raakgesien en sommer vir my vrou 'n paar lekker stukke vleis gevat wat sy vir die kinders kan gee." 

"Leer my dan ook vlieg," soebat Wolf.

"Goed,” sê Aasvoël. "Kom klim op my rug, dan kyk jy mooi wat ek doen."

Aasvoël sprei sy kragtige vlerke, en Wolf moet net vasklou vir al wat hy werd is.

"Sien jy, Wolf?" roep Aasvoël toe hulle hoog oor ‘n lap doringbosse sweef. "Dis maklik. Spring nou af en klap met jou bene soos ek met my vlerke."

Wolf duik deur die lug, maar hoe hy ook al skop en spartel, hy val soos ‘n klip, reg in die doringbosse.

"Eina!" tjank Wolf terwyl hy tussen die klouende takke uitsukkel.

"Laat dit vir jou ‘n les wees!" roep Aasvoël van bo af. "‘n Dier is gemaak om te loop, en ‘n voël om te vlieg. En as diere probeer vlieg, kom daar moeilikheid."

Wat het ek uit hierdie storie geleer:
* Moenie iets of iemand anders probeer wees nie. Wees altyd jou unieke self.

[Bron: HIER. Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek & oorvertel deur Pieter W. Grobbelaar]

Thursday, 22 January 2026

Ruben se een minuut gedig: Oom Jakkalaas

Oom Jakkalaas, die slimme dier,
drafstap deur die Katrivier,
toe klink daar, droewig, ʼn geluid:
dis die boer wat vir sy honde fluit.

Oom Jakkalaas draf ʼn rant verby,
oom Jakkalaas trek sy stert opsy;
hy’t ʼn perdevel-hoed en ʼn wildekat-jas,
en styf om sy nek hang ʼn muishond-das.
 
Oom Jakkalaas vlug, oom Jakkalaas draai,
en die honde die byt dat die hare so waai,
maar iewers daarbo in die doringbos
het hond en sy maat die ou-oom gelos.
 
Die kinders die skree: “Oom Jakkals is dood!
Vanaand gaan ons hom in die kleinpotjie kook.”
Maar oom Jakkalaas draf waar die heuningvoël fluit,
en met die gefluit is my storietjie uit.
 
* Anoniem

Uit: Mallemeule, Perskor, 1989

Thursday, 8 January 2026

Ruben se een minuut storie: Optel se nuwe huis

Optel was 'n bitter klein ou skilpadjie toe hy en sy boetie vir 'n naweek by hul ouma gaan kuier het. Hulle was baie opgewonde, want hulle weet dat ouma nie so streng soos mamma is nie. Ouma vat gewoonlik 'n middagslapie en dan kan hulle twee lekker rondloop.

Hulle het deur die veld geloop en omdat dit afdraand na die spoorlyn se kant is, het dit baie vinniger gegaan as wat hulle verwag het. So halfpad in hulle rondlopery, besef Optel dat as hulle teruggaan na hulle ouma toe, sal hulle opdraand moet loop en dit gaan baie baie langer vat. Hy steek onmiddellik in sy vier spore vas en draai sy kop stadig na agter. Dis belangrik om te weet hoe ver hulle moet terugloop. Toe hy die afstand sien, skrik hy sy kop terug in sy dop. Sy boetie is haastig op pad en kom nie eens agter dat sy broer nie meer aan sy sy is nie.

Optel probeer sy broer se aandag trek - hy roep en roep, maar die trein wat op daardie oomblik teen 'n verbysterende spoed by hulle twee verbysnel, doof die kommerwekkende roep van Optel uit. Optel besluit om om te draai. Met of sonder sy boetie. Ten minste weet hy waar sy broer hom bevind en kan hy sy ouma oortuig om saam met hom te loop om sy avontuurlustige broer te kry.

Hy was nog nie op spoed nie, toe hy voel hoe 'n kragtige hand hom optel. Sonder om te kyk, trek hy hom terug in sy dop en met 'n kloppende hart luister hy of hy enige iets kan uitmaak. So uit die hoek van sy oog, sien hy sy boetie in die man se ander hand. Ten minste is hulle twee saam in die gemors. Hy wonder of sy ouma al wakker is. Hy wonder ook of sy na hulle soek en sal sy weet watter kant om te loop. Hy is so spyt dat hy maar nie net rondom die pappot gevroetel het nie. En hy wonder ook of dit sal help om te bid as jy deur jou eie toedoen in die moeilikheid beland het.

Hulle twee beland in 'n donker sak en hulle weet moeilikheid is hulle voorland. Wat hulle nie weet nie, is dat hulle twee op die swartmark verkoop gaan word. Tussen 'n magdom mense en groot lawaai, kom daar 'n lang bebaarde man na hulle aangestap. 

Onderhandelinge vind plaas en die man van die sak, oorhandig hulle twee aan hul nuwe eienaar. Hulle voel 'n bietjie meer gerus, maar besef dat hulle lewe vir altyd verander het. Hoe op aarde gaan hulle weer hulle ouma kry en wat gaan hulle ma sê.

Hulle weldoener sit hulle op 'n lowergroen grasperk neer. Maar o wee, hy het 'n yslike hond wat baie belangstel in hulle twee. Sy boetie wil nog weghardloop, maar sy voet haak vas en die hond kry hom in 'n stewige greep beet. Gelukkig hou hy kop en hy byt die hond 'n geniepsige byt aan die onderlip. Hond se kind laat val sy broer, maar hy het seergekry. Hulle moet maak dat hulle hier wegkom, terwyl Hond nog in pyn verkeer.

Twee huise verder kom hulle af op 'n pragtige tuin, met feetjieliggies, 'n voëltjiebad en hope heerlike groen plante waaraan hulle na hartelus kan kou. Daar is ook 'n hond in dié erf, maar jy kan aan haar houding sien dat sy 'n baie statige ou dame is. Sy jaag nie voëls nie en kyk katte uit die hoogte uit aan. Hulle weet nie presies wat haar doel is nie, maar hulle voel ten minste nie bedreig nie.

Arme boetie, met 'n stukkende dop en harsingskudding van die val, het hy net al swakker en swakker geword, totdat hy sy laaste asem snikkend uitgeblaas het. Sy laaste woorde aan my was dat ons nie só ongehoorsaam moes gewees het nie.

Nou is ek alleen. 

Stoksielskilpadalleen.

Gelukkig het ek al maats gemaak met die statige dame van die erf, en die vriendelike vrolike dame van die huis. Hulle het altwee het gesê ek is meer as welkom om saam met hulle daar te bly. Tot tyd en wyl ek nie ander planne bedink het nie, gaan ek eers van hulle gasvryheid gebruik maak. 

Tot weersiens!

Wat het ek uit hierdie storie geleer:

* Moenie by jou ouma gaan kuier met ander planne in jou kop nie.
* Moenie jou ouma se goedheid misbruik nie. Dink net hoeveel stres en kommernisse laai jy op jou
   ouma se skouers. Alles onnodig.
* Moenie ongehoorsaam wees nie, want niemand hou van 'n ongehoorsame skilpad nie.
* Moenie oop en bloot rondloop dat almal jou kan raaksien nie. Sluip van bossie tot bossie vir jou eie 
   skilpadveiligheid.
* Nie alle mense is vriendelik nie en beslis is alle honde ook nie vriendelik nie.

Thursday, 4 December 2025

Ruben se een minuut storie: Vat hom, Jakkals!


[Onthou om verlede week se storie te lees, voordat jy hierdie een lees. Dis goed om jou geheue te verfris, sodat jy kan sien wat Hasie weer in die mou voer.]

Party dae is Hasie glad nie waaksaam nie en is hy nie op die uitkyk vir gevare nie. Party dae vergeet hy eenvoudig om wakker en waaksaam te wees en loop dan sonder dat hy dink aan al die misdaad in die land.

Vandag is een van daardie dae. Hasie is glad te gerus. Sing-sing loop hy in die paadjie. Wirts warts vinnig om die bossies. Kyk nie waar hy loop nie; trap nie waar hy kyk nie. Skielik en onverwags! Woep! Daar sit hy. Jakkals het taai voëlent aan ‘n stomp gesmeer en dit in die paadjie neergesit. Hasie spook, maar hy sit net al hoe vaster. Hy ruk en pluk en skree.

Jakkals kom tussen die bossies uit. “Ha! Nou het ek jou, Haas!” sê hy. Sy lippe is nog altyd skeef geswel van die bysteke sodat dit lyk asof hy nie kan ophou lag nie. Jakkals het hom voorgeneem om Haas nie te vergewe vir die klomp bysteke nie. Hasie gaan beslis vandag op die Jakkals-gesin se tafel land!! 

Hasie word stil ... sommer doodstil!  

“Ja, jy het my, Jakkals,” sê hy. “Nou kan jy my maar opeet. Dis net jammer om so dorstig te sterwe. Ek was juis op pad rivier toe.”

“Nee, ons kan ‘n bietjie gaan drink,” sê Jakkals, wat hom heeltemal droëtong gehardloop het om die strik vir Hasie reg te kry. Hy pluk Hasie los van die voëllym af, gooi hom oor sy skouer en stap af na die drinkplek toe.

Ai, hoe stil en blink is die water nie. Jakkals laat sy kop sak om te drink. Maar kyk hoe ongeskik is hierdie ander jakkals! Hy druk sommer sy snoet tussenin. “Gee pad!” brom Jakkals.

“Wat is dit nou, Jakkals?” vra Hasie agter sy skouer.

“Kyk self,” sê Jakkals, en hy sit hom neer. En: “Staan soontoe!” sê hy vir die ander jakkals wat hom al weer skeef aankyk.

Hasie sien dadelik dat Jakkals met sy eie weerkaatsing baklei, maar hy sê niks nie.

“Loop weg hier!” sê Jakkals vir die derde maal, en hy wys tande, maar die waterjakkals wys terug.

“Moenie so met jou laat speel nie!” roep Hasie. “Kyk hoe staan daardie ander dier se mond soos hy jou uitlag. Vat hom, Jakkals!”

Toe Jakkals gryp, gryp die ander jakkals ook. Toe Jakkals duik, is hulle doems al twee binne in die water. Toe Jakkals verdwyn, is alles weg.

“Ha ha ha!” lag Hasie:

“Kwaai is kwaai,
en kwaai se voet:
ou Jakkals soek
sy eie bloed!”

En toe Jakkals hangstert uit die water klim, sing Hasie al ver in die paadjie af.

[Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek en oorvertel deur Pieter W Grobbelaar. Klik HIER vir tonekrulstories.]

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Wees altyd waaksaam - op hierdie manier bly jy uit die moeilikheid.
* Jy moet altyd 'n slim manier hê om uit die moeilikheid te kom.
* Moenie jou opponent onderskat nie - eendag is eendag dan gaan jou plannetjies nie werk nie.

Thursday, 27 November 2025

Ruben se een minuut storie: Die Byekerk


Elke dag is so vol en besig dat Hasie mooi moet beplan hoe hy sy dae gaan inkleur. Vroeg een oggend hardloop Hasie na die berg se kant toe, en daar sien hy ’n bynes diep in ‘n klipskeur. 

“Ai!” sê Hasie: “Lekker is lekker,
en goed is goed -
en die beste lekker
is heuningsoet!”

En Hasie druk sy kop diep in die skeur om die nes by te kom, maar hy het nie geweet dat Jakkals al weer spoorsny nie. Hy sit nog so, toe Jakkals hom aan die hakskeen gryp. “Ha! nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil hom sommer sy tande in Hasie se sagte vleis laat insink.

Maar Hasie het klaar geskrik. Hy sit sy brein in hoogste versnelling en dink baie vinnig. Hy weet Jakkals wag vir 'n geleentheid om van hom 'n maaltyd te maak. Gelukkig is hy strate slimmer as Jakkals en kry hy dit reg om elke keer vir Jakkals uit te oorlê.

“Sjuut, Jakkals,” sê hy. “Kan jy nie hoor my vriende hou kerk nie?”

“Waar?” vra Jakkals nuuskierig.

“Hier in die klipskeur,” sê Hasie. “Ai, hulle sing tog te pragtig!”

“Laat ek hoor, sê Jakkals, en hy druk sommer in. Dan trek hy sy kop weer uit en sê: “Nee wat, hulle kan nie sing nie. Dis net brom brom brom, al op dieselfde wysie.”

“Hulle is seker moeg,” sê Hasie. “Steek ‘n bietjie ‘n stok daar by die voordeur in dat hulle weet ons is hier. Dan moet jy hoor.”

En Jakkals gryp ‘n stok, en hy werskaf in die klipskeur rond, en toe druk hy sy kop in om goed te luister.

Nee kyk, dit was ‘n sonde. Die bye mors met Jakkals; hulle verniel hom; hulle steek hom byna dood. Hy spring om en hardloop, maar die bye het nie tyd nie. Dis net zoem tjiek! “Eina!” Zoem tjiek! Zoem tjiek! Zoem tjiek! “Eina! Eina! Eina!”

Hasie lê soos hy lag. Hy rol soos hy lag. Hy maak hom eintlik seer. Nee, Jakkals sal hom nie gou weer pla nie. Hy sal vir die volgende week heerlik kan rondloop, sonder dat hy voortdurend op die uitkyk vir Jakkals moet wees.

[Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek en oorvertel deur Pieter W Grobbelaar. Klik HIER vir tonekrulstories.]

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Maak seker dat jou nuwe vriende nie vals vriende is nie.
* Vals vriende lyk asof hulle in jou doen en late belangstel, maar eintlik kyk hulle net waar hulle jou      
    aan die hakskeen kan byt.
* Dink voordat jy enige iets doen.

Thursday, 20 November 2025

Ruben se een minuut storie: Vat hom, Jakkals, die ryperd


Jakkals is sommer smoorkwaad vir Hasie, want hy het stories by mevrou Jakkals gaan aandra, en nou het sy haar man die huis belet. Jakkals wil vir Hasie terugkry. Maar Hasie het baie planne. Op ‘n dag hoor hy Jakkals suutjies in die paadjie draf. Toe gaan lê hy in die bossies en kreun.

“Ha! Nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil net spring, maar Hasie antwoord met ‘n swak stem: “Vat my maar, Jakkals. Ek is te siek om te vlug. Tel my op jou rug, dan dra jy my huis toe.”

En Jakkals dink dis glad nie so ‘n slegte plan nie. Nou sal sy vrou sommer weer vir hom goed word as hy met ‘n lekker stuk haasvleis daar aankom. Jakkals laat loop in die paadjie af, en Hasie moet net klou.

“Jakkals, Jakkals!” roep hy later, “Die vlieë pla baie. Pluk tog vir my ‘n taaibostakkie dat ek hulle kan wegjaag.”

“Ai, jy is lastig,” sê Jakkals, en hy gaan pluk maar.

Toe hulle nog van ver af na Jakkals se huis toe aankom, staan sy vrou al op die stoep om te kyk wat haar man hier kom soek. “Vrou, vrou!” roep Jakkals. “Ek het vir jou ‘n lekker vet haas gebring.”

Maar kyk, nou sit Hasie regop, en die pyne is skielik uit sy lyf, en die taaibostak is ‘n lat. “Vrou, vrou!” koggel hy Jakkals, “Ek het vir jou ‘n lekker vet jakkals gebring!” En die lat gesels oor Jakkals se blaaie, en Jakkals bokspring en galop. Toe wip Hasie van sy rug af en verdwyn lag-lag in die bossies.

“Nee, so ‘n treurige man wil ek nie hê nie,” sê mevrou Jakkals. “Waar het jy al van ‘n jakkals gehoor wat hom deur ‘n haas laat ry? Maak dat jy wegkom hier voor my oë!”

Arme Jakkals moes maar die aftog blaas, want sy vrou is regtig kwaad vir hom.

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek en oorvertel deur Pieter W. Grobbelaar. Klik HIER vir tonekrulstories!

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Moenie as iemand iets slegs aan jou gedoen het, hom wil terugbetaal nie. Jy gaan beslis tweede kom.
* Moenie lelike stories van iemand versprei nie - een of ander tyd gaan dit jou inhaal.