Showing posts with label Internasionale Moedertaaldag. Show all posts
Showing posts with label Internasionale Moedertaaldag. Show all posts

Friday, 21 February 2025

Ruben praat oor Wêreldmoedertaaldag


Liewe Maats

Hierdie is net 'n kort ou briefietjie om julle te herinner aan Wêreldmoedertaaldag. Dit maak nie saak hoeveel tale jy kan praat nie, jou moedertaal bly die basis en wegspringplek van al die ander tale.

'n Onlangse berig wat ek gelees het, beskryf die term moedertaal as volg: Jou identiteit spreek uit die woorde wat jy geken het lank voordat jy jouself geken het!

Maats, hierdie is 'n mondvol. Ek moes self hierdie stukkie twee keer lees, sodat die waarde van die sin by my kon insink. En ek weet ek stem saam, want blaffiaans kom sonder dink by my op. 
 
Dis in my moedertaal waar ek tuis voel ... die taal waarin ek kwaad word ... die taal waarin ek omgee ... die taal waarin ek droom! Vier vandag jou moedertaal saam met ons klomp hier by Christina Kiddie!
 
Dankie dat julle so goed gereageer het op my uitnodiging vir oorspronklike moedertaalgedigte. Ek het die gedigte teen die kennisgewingbord vasgespeld. Gaan lees gerus die oulike pogings. Julle klomp is regtig oorspronklik. Ek plaas die eerste drie gedigte wat ek gekry het:

* Die beste woord
in my moedertaal is brood
Die tweede beste een
is beslis been
alhoewel ek been bo brood verkies
sê ek dit sommer tong in die kies!

* Ruben is ons geliefde huishond
deesdae is Tommie ook hier rond
ons is baie lief vir albei
en maak seker dat hulle ons nie vermy.

* Бехтарин сухан
ба забони модарии ман нон аст
Дуюм беҳтарин
бешубҳа устухон аст
гарчанде ки ман устухонро аз нон афзалтар медонам
Ман инро бо забон мегӯям!

En op hierdie hoë noot, blaf ek vir elkeen van julle 'n heerlike naweek toe.

Ruben-groete tot 'n volgende keer!

   

Sunday, 2 February 2025

Ruben is warm op die spoor van Februariemaand se doen en late


Liewe Maats

Januarie, die maand van nuwe dinge, lê op sy rug. Ons het reeds die deur vir Februarie oopgemaak - 'n maand propvol aktiwiteite. 

Februarie blaas mos die beuel as dit kom by watter maand die rekord hou vir die hoogste temperature. Mensig maats, ons bak uit hier in die Noord-Kaap. Gelukkig is Februarie ook die kortste maand en is dit die grensmaand tussen somer en herfs. Ek moet erken ek wens vanjaar dat herfs en winter gouer sal kom. Maar tipies van ons spesie, sal ons weer iets anders kry om oor te kla.

Vandag wil ek met julle praat oor 'n ander aspek van Februarie. Februarie is mos Moedertaalmaand. Toe ek dit in die koerant lees dat Unesco dit op 17 November 1999 aangekondig het om onder andere veeltaligheid te bevorder, het ek dadelik aan my oupa Willie gedink. Kyk, oupa Willie was 'n man wat enige tyd vir die Valke kon werk of as 'n tolk in die hof sy woord gestand kon doen. Blafiaans is die amptelike taal van Petrusburg, maar oupa kan verskeie streekstale verstaan en praat. Ek is spyt dat ek nie na oupa Willie geluister het toe hy sê dat 'n mens nie net jou moedertaal moet kan praat nie. Geen hond kan van hom skinder nie, Toypommees, Labradees, Maltees, Pekinees en enige variant van Terriaans val goed op oupa se oor.

Op 21 Februarie gaan die hele wêreld Wêreldmoedertaaldag vier. Maar ons hier by Christina Kiddie gaan dit anders doen. Ek wil hê dat jy wat hier lees, vir my 'n gedig in jou moedertaal moet skryf. Julle kan dit onderdeur tannie Christelle se deur skuif. Ek sal dit met haar reël. Of e-pos dit sommer vir my of skryf jou gediggie by die kommentaarafdeling. Ek sal gereeld daar gaan loer.

Tommie blaf hier van die kantlyn af dat julle groot moet gaan met julle gedigte. Ek sien hy raak deesdae baie hans.

Ek wonder wie van julle luister nog radio. Ek het netnou gou vir ouma Annie gebel, om te hoor hoe dit met die Vrystaters gaan. Toe vra sy my om 'n bietjie later te bel, want sy en oupa luister na RSG se boekvoorlesing en hulle wil niks mis nie. Dit was vir my nuus. Ek gaan Google toe die belangstelling in radio en val amper op my rug. Besef julle maats dat daar wêreldwyd ongeveer 44 000 radiostasies is. In Suid-Afrika is daar 248 gemeenskapstasies en 40 kommersiële uitsaaistasies. Ek dink ons staar ons so blind teen die vierkantige kassie in die speelkamer en die klein skermpie in ons hand, dat ons vergeet dat daar 'n wêreld vol kennis op lug is. Hoekom soveel prysgesange vir die radio?

13 Februarie is Wêreldradiodag. Nog iets wat ek eers vandag geleer het. Ek het net geweet van Valentynsdag toe ek op skool was. 

Wel, Februarie is vir eeue die maand van liefde, omgee en spesiale dankies. Kom ons maak vanjaar deeglik daarvan gebruik. Valentynsdag in aksie hoef nie vir jou 'n sent uit die sak te jaag nie. Sê dankie met 'n drukkie vir julle huisouers en omgeepersoneel wat dinge vir julle soveel makliker probeer maak. 'n Briefie of kaartjie in eg Valentynse styl kan anoniem by die tafelsitplek gesit word en 'n mooi hartsgediggie is nie te versmaai nie. (Ek bied met liefde my digterlike hulp aan!!) 

En onthou, wat jy ookal doen op 14 Februarie, doen dit in ROOI!!

Rooi Ruben-groete tot 'n volgende keer!



Wednesday, 21 February 2024

Internasionale Moedertaaldag

Die 21ste Februarie word wêreldwyd as Internasionale Moedertaaldag gevier. Hierdie inisiatief is gestig met die doel om veeltaligheid te bevorder en die diverse ontwikkeling van tale te beklemtoon.

Iemand het heerlik met Afrikaanse idiome en uitdrukkings/gesegdes in Afrikaans gespeel. Kyk gerus hoeveel van hierdie uitdrukkings aan jou bekend is en hoeveel van hierdie idiome hoor ons vandag nog dikwels in gesprekke.

"Voor jy dalk hond se gedagtes kry dat ek muisneste het en kattekwaad aanvang deur 'n kat in die donker te knyp, kan ek die aap uit die mou laat dat jy nie hond haaraf gaan maak nie. Die kool is eenvoudig nie die sous werd nie, jy wil verniet die bobbejaan agter die bult gaan haal, ek is nie 'n vroetelvarkie nie.

Omdat ek twee linkervoete en rooi haakskene het, dans ek soos 'n kat op 'n warm plaat. Terwyl ek oor die onderdeur loer, stem my aand- en môrepraatjies nie ooreen nie en sing ek 'n ander deuntjie. Ek sing dan soos 'n kanarie. Ek weet dat die voëltjie wat saans die laaste fluit, soggens eerste deur die kat gevang word, daarom gaan ek saam met die hoenders slaap en lank voor hanekraai klim ek met die verkeerde voet uit die bed om my eiertjie te lê.

Dit het die naweek katte en honde gereën, maar ons hou darem nog kop bo water. Dit staan egter soos 'n paal bo water dat dit nie nodig is om water met 'n mandjie aan te dra nie. Voor die son water getrek het en die perde horings gekry het, moet ek nie 'n gegewe perd in die bek kyk nie, ek moet die ou koeie uit die sloot grawe, die bul by die horings pak sodat die agteros in die kraal kan kom. Ek moet ook al my varkies op hok sit en daar by oom Daantjie se kalwerhok die kalf uit die put gaan haal.

As jy wors in die hondehok soek, onthou dat blaffende honde nie byt nie. Ek wou nog katte skiet, maar toe is die koeël deur die kerk en ek kry wingerdgriep. Dit was 'n bitter pil om te sluk. Ek was hoog in die takke, want ek het gehoor dat die hoogste bome die meeste wind vang. As die appel nie ver van die boom val nie, kan 'n mens die boom aan sy vrugte ken.

Ek kon nie die kar voor die perde span nie, en het toe maar twee rye spore geloop.
In die dorp het hulle gesê ek speel op Avbob se stoep en dat ek een van die dae 'n houtpak gaan aantrek. Ek het gesê dat ek met 'n goue lepel in die mond gebore is en dat ek nog nie die lepel in die dak gaan steek en boedel oorgee nie. Ek moet rondborstig erken dat die spyker in my doodskis, is dat bloed kruip waar dit nie kan loop nie.

As jy brood in die sweet van jou aangesig eet, moet jy nie met 'n mond vol tande staan nie, jy moet hare op jou tande hê, jy moet jou hand aan die ploeg slaan en die strydbyl begrawe. Weet jy hoe die vurk in die hef steek? As jy wolf skaapwagter maak, moet jy almal oor dieselfde kam skeer."

[Dankie, Valerie, dat jy ons aan ons idioomryke taal herinner.] 

Huiswerk vir die jonges van dae: Maak 'n lys van al die idiome wat jy nie ken nie en soek die betekenis in 'n woordeboek op of Google dit.