Showing posts with label Vreugde. Show all posts
Showing posts with label Vreugde. Show all posts

Sunday, 14 December 2025

Kersfeesprojek verras en maak drome waar


Ons hier by Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum het gister opgewonde kon deel in die feesseisoen se vreugde danksy The Word Church se Kersgeskenk-inisiatief, onder leiding van Zane en Anja.

Die kinders is elkeen bederf met 'n Diamond Pavilion Mall-geskenkbewys en gisteroggend het die jongmense die inwoners mall toe geneem sodat elkeen sy of haar bewys kon spandeer op dit wat net 'n gedagte of 'n vae droom was. Die skielike waar word van drome is nog besig om in te sink tussen opgewondenheid en ongeloof. 

'n Verbaasde, maar ewe opgewonde personeel het gedeel in hierdie vreugde en 'n uit-die-hart-DANKIE vir elkeen se geskenkbewys.

Dankie The Word Church dat die ware Kersboodskap nie net lippetaal is nie, maar dat julle die pad met elkeen van die kinders loop.

Mag julle as gemeente ryklik geseën word in alles wat julle aanpak. Mag Sy goedheid en guns julle elke dag van jul lewe volg. Vreugde en seën vir Kersfees 2025!!!

Wednesday, 8 October 2025

Rosetta se goeie wense: Seënwense

Mag SY WARM LIGSTRALE
elke skadu-kol in jou lewe
tot VREUGDE omskep,
dat jy sal DANS soos nog nooit van tevore!

Sunday, 6 July 2025

Ruben se ma se blombrief ...

Liewe Ruben

Ek lees jou briewe met nederige dankbaarheid, want ek kan sien hoeveel lewenslesse wat jy hier in Petrusburg geleer het, jy met jou saamdra.

Ek deel graag met jou een van ouma Annie se lewenswaarhede wat my nog elke dag aanspoor om my beste te doen. 

Blom waar jy geplant is, was een van jou ouma Annie se gunsteling sêgoed. Ek het dit as my lewensmotto oorgeneem en ek deel dit met almal wat my pad kruis. Moenie dink dit is altyd maklik nie. Ek moes al baie keer op my tande kners en in my gedagtes sê: Jammer, Ouma, maar nie vandag nie. En dan pak die skuldgevoel my in dubbele slae ...

Wat beteken: Blom waar jy geplant is, eintlik?

Ruben, dit beteken wees die beste jy wat jy kan wees in enige en alle omstandighede. Jou beste is altyd genoeg, selfs vir God. Ek hoor jou dadelik sê: Dit is moeilik om die BESTE jy te wees in die alledaagse bestaan van jou lewe. Daar gaan dae om wat so eentonig is - dieselfde storie oor en oor. Dan is daar dae wat besaai is met hobbels in die pad en ander probleme. En dan is daar dae waarin die rugstekers se dade triomfeer oor hulle wat hul bes probeer doen. Hierdie is nie die tipiese dae wat jy voel dat jy net jou beste wil gee nie.

Ek praat dikwels met ouma Annie in my kop: Hoe vind ek vreugde, ouma Annie, as die moeilike dae net moeiliker word, die eentonige dae sieldodend, die probleemdae onhanteerbaar ... Hoe kan ek blom, as ek nie eens die krag het om net regop te bly nie?

Die antwoord: Wat jy ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.  

God het aan elkeen van ons ‘n spesifieke, unieke stel talente gegee. Jy, liewe Ruben, is gelukkig om op die regte plek te wees. Jy gebruik reeds jou talente na die beste van jou vermoë.

Dis belangrik vir elkeen om jou gawes en talente te ontdek en dan sal God se droom en plan vir jou lewe soveel meer sin maak ... en die bonus ... jy sal 'n sielsgelukkige hond of mens wees, want die hobbels en probleme op jou pad, kan jy met Sy hulp, oorkom en blom. Gee jouself oor aan God se plan vir jou lewe. 

Soms is die vreugde wat ons daagliks ervaar in iets so kleins soos 'n glimlag van iemand, 'n mooi skoenlapper wat voor jou verbyvlieg of iemand wat vir jou 'n kompliment gee. Moenie iets vir iemand anders doen om raakgesien te word nie. Nee, as jy iets vir ander doen of gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie. Doen dit stilletjies, ongemerk, anoniem, dan kan net God die krediet daarvoor kry. 

Ek luister gereeld na wat jy en Tommie vir my oor julle doen en late vertel en ek weet dat julle op jul stil manier baie beteken:

Ek hoor dat julle ...
* die terrein se veiligheidsbelange op julle hart dra.
* saam met die kinders speel, hardloop en uitbundig die speeltyd na studie geniet.
* nie bang is om saam in die swembad te spring en te speel nie.
* die kinders aanmoedig om hulle huiswerk te doen.
* net daar is vir elkeen wat 'n oor en 'n skouer nodig het.
* drukkies en stertswaaie uitdeel waar dit nodig is.
* geheime bewaar en saam na oplossings soek. 

Hoe kan julle inwoners en maats iets vir iemand beteken? Ek skryf vir jou 'n paar gedagtes wat jy met hulle kan deel - dalk in jou volgende brief.
* Help jou kamermaat met haar wiskunde of Engels.
* Deel jou pousekos met iemand wat minder as jy het.
* Dek die tafel sonder dat iemand jou vra om dit te doen.
* Pluk 'n blommetjie en gaan gee dit vir jou ma, huisma, juffrou of buurvrou.
* Groet elkeen met 'n glimlag wat jou pad vandag kruis.
* Moenie altyd kla nie. 
* Wees positief en nie negatief nie - al voel jy lus om eerder iemand se oë uit te krap.
* Sê altyd asseblief en dankie - twee towerwoorde wat aan die uitsterf is.
 
Klein gebare het groot impak. Onthou: ‘n Glimlag teenoor ‘n vreemdeling is verniet! Deel dit uit.

Besef jy, Ruben, jy is soms die enigste straaltjie lig tussen mense in ‘n andersins pikdonker wêreld?

Tree dan soos 'n kind van Jesus op. God het nie geheime agente nodig nie. 

Vreugde vir jou dag. Ek is trots op my hondekinders!

Baie liefde
Mamma

Wednesday, 7 May 2025

Wednesday, 5 March 2025

Rosetta se goeie wense: Die spoed van een dag


God stap saam met ons
teen die spoed van
een dag op 'n slag.
Hy gee jou vandag se lewe.
Jy het vandag -
nog net vandag ...
net Hy weet van môre.
Gryp vandag aan!
Maak dit vol met vreugde
en dankbaarheid in die Here! 

Wednesday, 25 December 2024

Rosetta se goeie wense:


Mag ons die vreugde van die goeie nuus, hierdie Kerstyd, sigbaar maak.
Mag die vreugde van Kersfees vir ons elkeen ’n waarheid wees.

Sunday, 6 October 2024

My gedagtes: Waardeer dit wat jou kinders doen

William James sê op ‘n stadium dat : “The deepest principle in human nature is the craving to be appreciated.”

Hierdie is so ‘n basiese beginsel, maar hoe dikwels en maklik vergeet ons dit. Dit is baie moeilik en selfs onmoontlik om ‘n slegte verhouding te hê met iemand wat jou gereeld en opreg komplimenteer. Dit is ook een van die mees basiese behoeftes van ons kinders (al tree hulle so onafhanklik op.)

As hulle nie respek en waardering kry by ons as ouers nie, sal hulle dit op ander plekke soek, plekke wat gewoonlik nie baie gesond is nie. (Lees die koerante en luister nuus - dis só hartseer en tragies.) Dit is ongelukkig so dat “People are born to be a success, but conditioned to be a failure.” 

As kinders te veel hoor dat hulle stout en dom en ongehoorsaam is, begin hulle dit glo. En dan tree hulle ook so op om aan die uitsprake te "voldoen." ‘n Ouer is die grootse bron van kondisionering in kinders se lewens. Kom ons gebruik hierdie posisie met groot sorg en verantwoordelikheid. Waardering bou selfvertroue.

Koester eerder elke fase en die alledaagse vreugdes. En sê elke dag dankie vir jou hartsmense, hulle het dit nodig om te hoor.

Wednesday, 10 July 2024

Rosetta se goeie wense:


Vind jou vreugde in Hom.
Geniet en vier die lewe as geskenk uit Sy hand.
Lewe voluit en maak die beste en mooiste van elke dag wat Hy vir jou gee.
En maak die lewe ook goed en mooi vir almal om jou.

Wednesday, 19 June 2024

Rosetta se goeie wense:


Mag jou dag gevul wees met
vreugde, lag, en al jou diepste wense.
Mag jy vandag 'n 100%- bydrae gee
by jou werkplek en jou blyplek.
Ons het rede tot 'n vreugdevolle lewe.

Wednesday, 7 February 2024

Rosetta se goeie wense:


Mag die vars bries
nuwe krag, moed en hoop
saam met vreugde en vrede
by jou venster inwaai.