Friday 30 November 2018

STOP geweld - "Drie hoera’s vir Denver"

Hier is ‘n lieflike hulpbrone wat dalk mag help. LAPA-uitgewers en die bekroonde skrywer Wendy Maartens het pas aangekondig dat die prenteboek Drie hoera’s vir Denver gratis in PDF-formaat as deel van die veldtog 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders beskikbaar gestel word. Dis in Afrikaans, Engels, Xhosa en Zulu beskikbaar.

“Drie hoera’s vir Denver vertel die aangrypende verhaal van ‘n seuntjie met die naam Denver wat baie mooi kan sing, maar begin hakkel nadat sy ma se kêrel by hulle kom bly. Die storie wys op ‘n deernisvolle manier hoe dinge uiteindelik beter word nadat Denver die moed bymekaarskraap om sy ma en sy sangjuffrou te vertel dat dinge nie reg is by die huis nie.

’n Sensitiewe verhaal wat kinders leer om nie stil te bly of skuldig te voel oor mishandeling nie. Die boek bevat ook praktiese wenke vir kinders en ouers.

Die boek kan gratis in Afrikaans by die volgende skakel afgelaai word:

https://www.lapa.co.za/KH_GratisStudieGidse/Token/ViewInfo/ItemId/27/Drie-Hoeras-vir-Denver-Afrikaans

Wednesday 28 November 2018

Badisa-persverklaring: 16 dae van aktivisme

16-dae-des-16

16 DAE VAN AKTIVISME – DIE BELEGGING Lê IN VOORKOMING
Daar kan geen beter openbaring van ‘n samelewing se siel wees as die manier waarop hy sy kinders behandel nie. – Nelson Mandela

Dit is reeds 22 jaar sedert ons eerste demokratiese verkiesing en steeds is die kinders van Suid-Afrika onderworpe aan geweld in hul huise, skole en gemeenskappe wat ‘n lewenslange sosiale en ekonomiese koste vir ons land tot gevolg het.

Met die fokus op die 16 Dae van Aktivisme Veldtog vir Geen Geweld teenoor Vouens en Kinders hierdie week, wil Badisa die feit beklemtoon dat geweld aangeleerde gedrag is wat voorkom kan word.

Badisa, ‘n maatskaplike diensorganisasie wat professionele maatskaplike dienste lewer, het in hulle onlangse jaarverslag melding gemaak van die groeiende probleem van geweld teen kinders. Badisa lewer kinderbeskermingsdienste onder die vaandel van die Kinderwet en vind al hoe meer dat kinders se blootstelling aan ‘n geweldadige samelewing reeds vanaf ’n baie jong ouderdom in hul eie gemeenskappe en gesinne begin. Hierdie blootstelling word vererger deur die geweld wat by skole plaas vind en die feit dat die meeste van die geweldsmisdade op ons kinders deur hulle primêre versorgers gepleeg word.

Gedurende die jaar onder oorsig het Badisa kinderbeskermings- en intervensiedienste aan 26 719 kinders in die Wes-, Suid- en Oos-Kaap gelewer.

Badisa se verslag dui verder daarop dat ons land se huidige kinderbeskermingstelsel weens ’n gebrek aan voldoende finansiële en menslike hulpbronne nie in staat is om in die hoë voorkoms van kinderverwaarlosing en -mishandeling te voorsien nie. Die grootste bydraende faktor is dat kinderbeskermingsdienste tans op reaktiewe dienslewering gefokus is, terwyl dit vroeë intervensie is wat werklik benodig word.

Volgens Ronel van Zyl, Direkteur van Maatskaplike Dienste by Badisa, dra die woede, onverdraagsaamheid en negatiwiteit wat tans in ons land heers, tot die geweld teenoor ons kinders by, juis omdat hulle weerlose en maklike teikens is. Die impak van hierdie geweld strek ook baie verder as die sigbare letsels en lei tot aggressiewe gedrag en verskeie sosiale aanpassingsprobleme later in die kind se lewe. Die psigo-sosiale gevolge dra ook dikwels daartoe by dat hierdie kinders onbetroubare werknemers word, deelneem aan kriminele aktiwiteite en die siklus met hul eie kinders herhaal. Om ‘n kind in pleegsorg te plaas, moet altyd die laaste uitweg wees aangesien dit ook die duurste opsie is. Voorkoming is altyd beter as genesing.

Die rol van die samelewing

Badisa wil gemeenskappe bewus maak daarvan dat geweld teen kinders en vroue nié ‘n regerings- of kriminele aangeleentheid is nie, maar ’n samelewingsprobleem, en die onvermoë van gemeenskappe om dit so in te sien dra dus by tot die probleem. Organisasies soos Badisa, wat ’n geregistreerde NPO is, het talle uitdagings om genoegsame befondsing te bekom. Besighede wat in voorkomingsdienste investeer, help om te voorkom dat kinders in die eerste plek seer kry. ’n Multi-dimensionele benadering versterk dus die proaktiewe faktore.

Die volgende voorstelle word deur die South African Child Gauge aanbeveel:
Ouerskapsprogramme wat reeds gedurende swangerskap begin, gevolg deur ’n reeks tuisbesoeke na geboorte om weerlose moeders asook vaders te ondersteun.
Onderwyseropleiding ten einde ’n veilige skoolomgewing te skep wat proaktief kan teenoor boelies en ander geweldsmisdade kan optree.
Veilige en ondersteunende omgewings vir kinders na skool.
Mentorskapprogramme vir jong volwassenes.
Programme wat geslagsrolle transformeer en kommunikasie- en konflikresolusievaardighede leer.
Veldtogte in die media.
Beleggings in gemeenskapsgebaseerde fasiliteite wat veiligheid bevorder
Wetgewing, beleid, aksieplanne, werkskepping en ekonomiese geleenthede.
Versprei die boodskap op sosiale media deur #16days #WorthYourWealth te gebruik.’n 

Voorbeeld van vroeë intervensie dienste word suksesvol deur Badisa se Magdalene tehuis gedemonstreer. Hulle volg die “Eerste Duisend Dae” benadering en voorsien opleiding en ander ondersteuning aan weerlose, swanger vrouens wat aan gevaar blootgestel is weens hul sosio-ekonomiese omstandighede. Hierdie tipe voorkomingsdienste kan tot gesonder swangerskappe, beter ouerskapsvaardighede asook lewens- en entrepeneurskapsvaardighede bydra en sluit ook aannemingsberading in.

Die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teenoor Vroue en Kinders is ’n internasionale bewusmakingsveldtog. Dit vind elke jaar tussen 25 November en 10 Desember plaas. Vir meer inligting oor Badisa, om jou dienste aan te bied of ’n donasie te maak, besoek gerus www.badisa.org.za of stuur ’n e-pos aan info@badisa.org.za
Vir meer inligting, kontak Annemarie Bezuidenhout per e-pos abezuidenhout@badisa.org.za of by 083 708 2049.

Dankie dat ons hierdie artikel en inligting kan deel - dis 'n wêreldwye probleem!

[Bron: https://kaapkerk.co.za/badisa-persverklaring-16-dae-van-aktivisme/]

Monday 26 November 2018

WAT IS DIE DOEL VAN DIE VELDTOG?


Die Verenigde Nasies en die Verenigde Nasies se Vroueliga het 'n tyd terug onder andere die volgende feite en statistieke vrygestel:

• 70 persent vrouens het al ’n mate van fisiese- en/of seksuele geweld in hul leeftyd ervaar. Meestal deur ’n persoon waarmee hulle ’n intieme verhouding het.

• In Suid-Afrika word ’n vrou elke ses uur deur ’n lewensmaat vermoor.

• 603 miljoen vrouens leef vandag steeds in lande waar gesinsgeweld nog nie as ’n misdaad beskou word nie.

• Meer as 700 miljoen vrouens wat vandag leef, was getroud voor die ouderdom van 18 en meer as een uit drie vrouens voor die ouderdom van 15.

• Navorsing uit Afrika-lande, insluitend Suid-Afrika, het bevind dat vrouens wat slagoffers van geweld is ’n hoër risiko het om met MIV besmet te word.

• 80 persent slagoffers van mensehandel is vrouens en kinders.

• Die risiko vir vrouens tussen 15 en 44 jaar is groter om verkrag te word of ’n slagoffer van gesinsgeweld te wees as wat dit is om met kanker of malaria gediagnoseer te word, ‘n oorlog te beleef of selfs in ’n motorongeluk te wees.

Die hoofdoel van die veldtog is dus bewusmaking rakende geweld teen vrouens en kinders in die samelewing en die erns van die kwessie.

Verder poog dit om die verskeie vorme van geweld te indentifiseer en te fokus op die negatiewe impak wat dit op kwesbare groepe het. Die veldtog fokus ook op die positiewe rol wat mans en seuns in hul gemeenskappe, huise en werksplekke kan speel om hierdie tipe geweld the voorkom.

Sunday 25 November 2018

Count me in ...


16 dae van aktivisme ...

Oor 'n maand is dit Kersfees ... Kersfees en Paasfees word graag deur almal gevier ... met geskenke, kos, drank, vrolikheid en alles wat daarmee gepaard gaan. Die sakesektor lag al die pad bank toe en ons vrouens en kinders kruip huilend agter banke en onder beddens weg!

Die ironie is dat ons vier hierdie belangrike dae op die kalender, maar in ons wese is ons verrot. Die man gebruik geweld teenoor sy vrou en sy weerlose kinders - hulle is maklike teikens. Waarom haal hy nie sy aggressie teenoor iemand uit wat op sy fisiese vlak is nie?

Die slegte voorbeeld word van geslag na geslag oorgedra en daarom is dit so belangrik dat elkeen sy of haar bydra gedurende hierdie 16 dae moet gee - hierdie bose siklus moet gebreek word - terwille van die toekoms van elke kind.

Kersfees is 'n vreugdefees, 'n Christusfees - sorg dat dit elke dag Kersfees in jou kind se lewe is ... die verskil in my kind se lewe, begin by my!

Saturday 24 November 2018

WANNEER VIND HIERDIE VELDTOG PLAAS?


Hierdie veldtog vind jaarliks plaas vanaf 25 November tot 10 Desember.
Neem kennis van die volgende belangrike datums tydens hierdie tydperk:
25 November: Wêrelddag vir die Beëindiging van Geweld teen Vroue
(International Day of No Violence against Women)
29 November: Wêrelddag vir vroulike menseregte
(Women Human Rights Defenders Day)
1 Desember: Wêreldvigsdag (World AIDS Day)
3 Desember: Wêrelddag vir Gestremdes (International Day for the Disabled)
10 Desember: Internationale Menseregtedag (International Human Rights Day)

Sunday 11 November 2018

Psalm 121: 'n Gebed

Ek is nie die outeur van die aangrypende beskrywing van Ps. 121 nie! Ek het dit net so outeurloos ontvang. Ek wil dit só graag deel met almal wat berge in hulle lewe moet oorkom. Party se berge is soveel hoër as ander s'n. Ek deel dit met liefde.

Psalm 121: 'n Gebed

Ek kyk op na die berge in my pad. Berge wat die lewe sommer self voor my kom inrol het. Wie gaan my hand vat en my help om 'n ompad te kry, Here? Mense kan nie berge wegrol nie, al wil hulle ook. Mense kan nie die berg van verlang wat so swaar in 'n mens se hart kom lê, wegvat nie. Verlang na 'n geliefde wat weg is. 'n Pa, 'n ma, 'n kind ...

Ek kyk op na die berge in my pad ... Berge van bangwees en alleenwees en onseker wees. Berge van skaamwees. Wie gaan my help om 'n ompad te kry, Here?
Mense is partykeer bang vir berge. Mens praat mos so effentjies om dit. Partykeer vat jy klippies en pak 'n groot glimlag op jou berg ... en dan is almal bly, want jou berg is nie meer so "scary" nie.
Ek kyk op na die berge in my pad. Wie gaan my help om verby hierdie een te kom? Ek kan nie my berg optel en na U toe bring nie. Dit is te swaar. As ek by U voete kom sit om te bid, kry ek nie die regte woorde om hierdie berg vir U te beskryf nie. Partykeer voel dit asof ek aan hierdie kant van my berg sit, en U sit aan die anderkant.

Ek kyk op na die berge in my pad. Wie gaan my help om verby hierdie een te kom?
My hulp kom van Hom wat die hemel en die aarde gemaak het. My hulp kom van Hom wat die mossie se veertjies getel het, van Hom wat vir die swaeltjie krag gee om ver te trek, van Hom wat seker maak dat die Klipspringertjie se voete stewig op die klippe balanseer. Hy wat elke dag 'n streep op die sand trek, en vir die branders sê julle mag tot hier kom. Hy wat vir die son sê wanneer om te gaan slaap, en vir die maan wanneer om wakker te word.

Dit is Hy wat terugstap op Sy pad om my te kom soek as ek agter die berg wegraak. Dit is Hy wat stil langs my kom sit en na my hart luister, as my woorde nie meer kan praat nie. Dit is Hy wat elke dag 'n mandjie genade langs my neersit, genade net genoeg vir elke dag se klim. Dit is Hy wat my hand vat en my ophelp en tree vir tree saam met my klim. Hy dra my wanneer my voete gly. Hy laat my rus wanneer ek moeg word.

Ek kyk op na die berge in my pad. Wie gaan my help om 'n verbypad te kry?

My hulp is van die Here wat my oppas. Elke dag ... En dit is genoeg.