Showing posts with label Fondsinsameling. Show all posts
Showing posts with label Fondsinsameling. Show all posts

Wednesday, 27 May 2026

Het jy al jou GROEN strikkie gekry??

Kinderbeskermingsweek in Suid-Afrika word vanjaar van
29 Mei tot 5 Junie 2026 gevier. Dit is ons elkeen se voorreg en reg om op te staan vir die veiligheid van ons land se kinders. 'n Skamele R5,00 kan 'n verskil maak aan die lewe van die kinders in 
Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum. 

Het jy al jou groen strikkie gekoop?

Die doel is om die bewusmaking vir kinderbeskerming te kweek, sodat geweld teen, en uitbuiting van kinders voorkom en aangespreek kan word.

Vanjaar se nasionale veldtog se tema is: 

"Werk saam om geweld teen kinders te beëindig."

Hierdie is so 'n belangrike saak en elkeen van ons moet die dag van môre se belange op die hart dra. 

Koop 'n groen strikkie en dra dit vir hierdie week by die werk of sommer net dorp toe en as iemand jou uitvra oor die groen strikkie, is dit die ideale geleentheid om oor kindermishandeling, boelie en beskerming te praat.   

Kontaknommer om van die strikkies te bekom:

053 831 2413

Moenie uitstel nie, kry sommer 
NOU jou groen strikkie!

Ns. 'n Yslike GROOT dankie aan 
elke skool en kerk en individu 
wat hierdie projek met 
soveel entoesiasme ondersteun het. 
Julle ondersteuning
en ywer gaan nie ongesiens verby nie.
Hierdie GROEN strikkie moet sê
wat kinders nie kan sê nie!
DANKIE!

Sunday, 24 May 2026

Elke kind verdien dit om veilig en geliefd te voel

Kinderbeskermingsweek in Suid-Afrika word vanjaar van
29 Mei tot 5 Junie 2026 gevier. Dit val onder die breër, maandlange viering van Kinderbeskermingsmaand. 

Die doel is om die bewusmaking vir kinderbeskerming te kweek, sodat geweld teen, en uitbuiting van kinders voorkom en aangespreek kan word.

Vanjaar se nasionale veldtog se tema is: 

"Werk saam om geweld teen kinders te beëindig."

Hierdie is so 'n belangrike saak en elkeen van ons moet die dag van môre se belange op die hart dra. 

Koop 'n groen strikkie en dra dit vir hierdie week by die werk of sommer net dorp toe en as iemand jou uitvra oor die groen strikkie, is dit die ideale geleentheid om oor kindermishandeling, boelie en beskerming te praat.   

Kontaknommer om van die strikkies te bekom:

053 831 2413

Moenie uitstel nie, kry sommer 
NOU 
jou groen strikkie!

Ns. 'n Yslike dankie aan elke skool en kerk wat
hierdie projek met soveel entoesiasme
ondersteun het. Julle ondersteuning
en ywer gaan nie ongesiens verby nie.
DANKIE!

Thursday, 12 September 2024

Ruben bemarker van BRAAI 4 CHARITY-etekaartjies


My liewe Maats 

Ek kan nie glo dat tyd so vlieg nie! Ek weet ek klink nou presies soos my ouma aan my pa se kant, maar sy het gereeld vir ons herinner aan die feit dat ons nie tyd moet mors nie, en ons mag ook nie ledig wees nie. Haar geliefkoosde gesegdes was altyd: "Ledigheid is die duiwel se oorkussing" en as dit lyk asof jy nie besig is nie, dan het sy gou vir jou werk uitgedeel. Gelukkig was speel baie belangrik en het sy jou nooit gepla as jy besig was om te speel nie. O ja, ouma sou jou speeltyd onderbreek as jou huiswerk nie klaar is nie. Sy was baie erg oor eers huiswerk en dan speel.

Ouma Luna was ook lief om te sê: "Met die water wat verby is, sal jou meule nooit weer maal nie." Ek het eers die waarde daarvan besef toe ek groter geword het. CJ Langenhoven, een van die groot skrywers in Afrikaans was lief om die mense op te voed deur spreuke en gesegdes. In kort beteken dit dat jy nooit tyd moet mors nie, want geleenthede klop net een keer aan jou deur - gryp dit met altwee pote aan. En nou kom ek eers terug by my eerste sinnetjie van my brief - ek was die hele kwartaal so besig, dat daar nie eens tyd was vir my normale briefskrywery nie.

Buiten my sekuriteitswerk, en rondspeel oor naweke, moes ek ook toesien dat huiswerk en leerwerk nie afgeskeep word nie, veral met die huidige toetsreeks - ons hier by CK hou nie van swak punte nie. Op een of ander manier het advertensie ook deel van my werk geword en dit doen ek graag. Dit voel vir my asof my kommunikasieplatform vergroot het. 
Dit is juis die rede vir my skrywery. West End Vleismark gaan 'n BRAAI 4 CHARITY hou. Die wonderlike nuus is dat Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum by hierdie wonderlike inisiatief gaan baat. 'n Heerlike ete vir slegs 'n R100. Moenie dat hierdie geleentheid deur jou vingers glip nie. Merk 24 September op jou almanak en vertel vir al jou vriende in Kimberley en omgewing van hierdie spesiale geleentheid. 

Kaartjies is te koop by West End Vleismark en by Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum. Die goeie nuus is dat jy my kan ontmoet as jy die kaartjies by KJSS koop en dan kan ons 'n selfie neem. Ek is juis besig om my werkshoekie 'n persoonlike gevoel te gee. Ek is baie lief vir mense, maar dit weet julle al en ek hou daarvan om saam met mense afgeneem te word wat uitreik en 'n sagte hart het. Dis julle mense wat die wiele van die land aan die rol hou. Daarom sê ek by voorbaat dankie vir elkeen wat 'n kaartjie gaan koop. Kom ons vat hande en maak dit 'n grootse poging.

Vir die West End Vleismark-eienaars wil ek graag voorspoed vir julle besigheidstoekoms toewens. Mag julle van krag tot krag gaan en 'n baie spesiale DANKIE vir hierdie wonderlike inisiatief. Dankie dat ons hier by Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum vir julle belangrik is. Ons waardeer die TYD en MOEITE wat julle bereid is om in te sit vir 'n verdienstelike saak.  

Sien julle 24 September by West End Vleismark Hadisonpark. Etes is vanaf 12:00 beskikbaar - 'n liplekker-vooruitsig!

Ek groet eers vir julle tot 'n volgende keer.
Ruben-groete!






Ns. Ek het nog nie my eie Facebook nie, maar klik solank HIER vir inligting oor West End Vleismark Hadisonpark.         

Tuesday, 6 August 2024

Afkondiging: Raak betrokke - maak 'n verskil by Ons Huis


HANDE BOU BANDE
Ons Huis
 BENODIG JOU HART, HANDE & VOETE vir hulle groot fondsinsamelingspoging by Yonder se Hartsfees. Net 'n uur of twee kan 'n reuse verskil maak. Kontak asb. vir Irma by 053 842 1141 tydens kantoorure - ons wag vir jou oproep! 

Wanneer: 29 Augustus tot 1 September
Waar: Malupark, Hendrik van der Bijlstraat, Kimdustria, Kimberley
Waarom: Omdat jou teenwoordigheid 'n verskil aan hulle maak vir wie fondse ingesamel word.