Showing posts with label Skoene. Show all posts
Showing posts with label Skoene. Show all posts

Saturday, 21 October 2023

Die belangrikste skoene in my kas ...

Partykeer as die min-lief-vir-myself 'n vasklouplek in my soek, dan staan ek aspris langer voor die spieël.

Dan kyk EK en EK vir mekaar, want baie-Liefhê moet net weer vir min-Liefhê herinner dat binne-in my leef nie net een vrou nie.

Ek en jy is baie vroue in ons leeftyd. Die lewe gooi sy kaart en jy kies jou paar skoene wat jy moet volstaan.

In my kas staan my: Beskerm-en-voorsien-skoene ...

Daardie sole is deurgeloop om alles kosbaar bymekaar te hou en te beskerm teen storms, koue, lelik en min. Ook 'n vrou wat uitgaan, bymekaar maak en voorsien aan alles en almal wat aan jou toevertrou is.

Langs hulle staan my: Liefhê-skoene ...

Ooo ... my Liefhê-skoene. Daardie onvoorwaarlike paar skoene wat ek en jy volstaan. Ons het só lief dat ons soms net met ons nerfaf-harte in ons hande bly staan.

Daar binne is ook 'n: vegtersvrou-skoene ...

Die vrou wat baklei het vir alles wat sy wil hê. Wat moes leer baklei al wou sy nie. Die een wat haar swaard sal uittrek sonder om twee keer te dink. Die een met die blits in haar oë wat alles gelyk maak in haar pad.

Maar dan staan daar in my kas die paar skoene waarvan ek die heel meeste hou: My oorlewingskoene ...

Die duurste paar, afbetaal met elke les van die lewe, maar die paar wat ek dubbel en dwars verdien. Ek is spoggerig as ek hulle aantrek, want hulle is onbeskryflik mooi!

So ook is jy - die een in die spieël - as jy besef hoeveel kosbare vrouens jy binne jou dra.

Mag jy altyd weet hoe kosbaar en spesiaal jy is. Mag jy volkome geluk en vreugde ondervind in elke nuwe dag!

Mag jy in die guns van die Allerhoogste stap - elke dag van jou lewe!!!

[Dankie, Rosetta, vir hierdie skoenverduideliking - ons het almal daardie skop in ons kas.]

Thursday, 21 September 2023

Die skoene

Ek was vars gestort en netjies geskeer. Ek het my mooi das nog een keer reggetrek en toe vertrek. Ek kon darem betyds by die kerkbank inskuif en wou net my oë toemaak in gebed toe ek uit die hoek van my oog 'n paar skoene sien wat langs my kom inskuif het.  

Ek het gesug ... was dit nou nodig om so naby aan my te kom sit dat ons skoene aan mekaar geraak het.  

Ek het my oë gesluit ... ONSE VADER ... toe onthou ek dat die Here ook sy Vader is ... Maar nog steeds ontsteld wonder ek of hy nie net sy skoene kon skoongemaak het nie. Die skoene se punte was afgekrap ... 'n dik laag stof het op die skoene gelê en sowaar daar was nog  'n gat ook aan die kant van die een skoen.

Sekerlik het die man geen skaamte of trots nie ... 

DANKIE VIR U SEëNINGE ... het my gebed aangegaan.  

"Amen!" het die paar skoene langs my hardop gesê.

Ek het so hard probeer om op die gebed te konsentreer, maar elke keer het my oë gedwaal na die paar skoene langs myne. Sekerlik moet ons altyd probeer om op ons beste te lyk wanneer ons by die kerkdeure instap? Wel, sekerlik het hierdie paar skoene langs my nie baie moeite gedoen nie.

Die gebed het geëindig en die lofsange het begin ...

Die paar skoene langs my het met volle oorgawe saamgesing. Met oë gesluit en hande omhoog het die skoene uit volle bors en met diep oortuiging die lofliedere aan ons Skepper geoffer.

Ek was seker dat nie net die Here nie, maar die hele dorp hierdie man se lofliedere gehoor het.  

En toe kom die tyd vir die offerhande. Ek het 'n stewige bydrae ingegooi, en toe die bordjie aangegee na die skoene langs my. Daar was diep in die sakke gegrawe ... eers in die een sak en toe in die ander een en diep onder in die tweede sak is sy bydrae uitgekrap en met 'n helder geklingel het die muntstukkie in die pragtige silwer bord geval.  

Ek het gesteurd na die skoene langs my gekyk, maar hy het só n salige uitdrukking op sy gesig gehad. So dankbaar dat hy wel iets gehad het om te gee.

Toe was dit tyd vir die Woord. En laat ek nou maar eerlik wees: dit het my tot in my siel verveel ... totdat ek na die  skoene langs my se gesig gekyk het. Groot trane het by sy wange afgerol ... Hy  het met diep aandag geluister ... en ek?

Ek het gewonder wat ek dan gemis het.

Ek was só besig met die skoene en die oordeel in my hart, dat ek die seëninge van die Woord totaal en al gemis het.  

Sy hart was vol ... sy honger was gestil ... en ek? Ek het gewonder waarom ek dan nog só leeg gevoel het.

Toe besef ek: Ek het nie, soos die skoene langs my,  met 'n verwagting kerk toe gekom nie, daarom het ek niks ontvang nie, terwyl sy beker oorgeloop het. Golwe van skuldgevoelens het oor my gespoel en ek het geweet dat die stukkende skoene my vandag 'n baie duur les geleer het.

Oudergewoonte was dit tyd om ná die diens enige vreemdelinge te laat welkom voel ... en na die slotgebed het ek toe maar my hand na die skoene uitgesteek. Die gesig was oud en verrimpeld van baie son en wind en weer en die hand wat myne vasgevat het, was vol eelte.

Die skoene het na my gekyk en gesê: "My naam is Charlie en ek is so bly om jou te ontmoet!" Sy oë was vol hartseer en pyn. "Ek kom al 'n paar maande hierheen, maar jy is die eerste een wat my groet ... Ek weet my kleredrag is nie op standaard nie, maar ek probeer baie hard om altyd op my beste te lyk en ek politoer gereeld my skoene, maar ná die lang stap hierheen op die stofpad, word dit altyd weer vuil en vol stof."

My hart het begin pyn en ek het swaar gesluk aan die groot knop in my keel. Ek was stil, want ek het geweet as ek iets sou sê, sou my woorde leeg en blikkerig klink, in vergelyking met die opregtheid van die stukkende skoene.

Ek het weer sy vereëlte hand gedruk en toe met trane bely: "Jy het my siel aangeraak en vandag het jy my 'n groot les geleer ... dat die mooi van die mens in sy hart lê en nie in sy blink nuwe skoene nie."

Dankie, Charlie, dat jou skoene vandag vir my 'n groot les geleer het - dat daardie vuil stukkende skoene my geleer het om anders te sing ... om meer intens te luister en om altyd met 'n verwagting te kom, sodat ek vol en tevrede kan uitstap.  

Ons sorg dat ons uiterlik getooi is, maar innerlik is ons brandarm en uitgehonger.

[Dankie, Rosetta Venter, vir hierdie tasbare lewensles wat jy met ons gedeel het.]

Thursday, 14 July 2022

Skoene vir die koue winter


'n Kaalvoetseuntjie staan op 'n koue wintersdag voor 'n winkelvenster. Verlangend kyk hy na die wintersklere en skoene wat so keurig uitgestal is.
'n Vrou wat daar verby loop, kyk na die seuntjie en vra vir hom: "Waarna kyk jy?"
"Ek vra God vir skoene."
Die vrou stap by die winkel in en versoek die winkelklerk om 'n paar skoene en sokkies te kry, asook 'n emmer water en 'n handdoek. Sy was en droog die seuntjie se voetjies af. Toe trek sy sokkies en skoene vir hom aan en koop nog 'n paar skoene wat sy in 'n winkelsak laat sit. 
"Is dit beter?" vra sy.
Die seuntjie gryp haar hand en vra: "Is jy God se vrou?"
Hierdie soort gee is net moontlik met Christus in ons hart.

[Dankie, Lynette Muller]

Klik HIER vir nog inspirasie