Showing posts with label Sielkundige. Show all posts
Showing posts with label Sielkundige. Show all posts

Monday, 26 August 2024

Ruben dink hardop oor die waarde van speel


My liewe Maats 

Speel is 'n saak wat vir my baie naby aan die hart lê. Ek dink dis omdat ons wat in die platteland grootgeword het, speel as 'n werkwoord ken. Daar was nie 'n klomp winkels waar ons allerhande speelgoed kon koop nie. Verder het my ma-hulle nie geld gehad vir speelgoed nie - ons was 'n klomp kinders en ons moes buite speel waar daar genoeg ruimte was vir hardloop, wegkruip en boomklim. As jy en jou broer of suster argumenteer of  baklei, is dit so goed of ons meld ons aan vir huiswerk. My ma het dan gereken as ons nie lus is vir speel nie, dan moet ons haar help om die huis se netheidsvlak tot nuwe hoogtes te voer.Vloere vee en was of selfs vensters was, was die eerste op haar lysie van werk uitdeel. Ons het niks daarvan gehou nie, so ons het ons speeltyd ten volle gebruik en geniet. Dit het weer ander probleme veroorsaak - ons wou nooit ophou speel nie. My arme ma moes sukkel om ons voor donker in die huis te kry. Maar sy het nie nonsens gevat nie en ons het vinnig geleer om te luister ... goed te luister.

Dis eers later dat ek besef het hoe belangrik speeltyd eintlik is. Al daardie kruip, hardloop, swaai, klim en klouter, balspeletjies, klippies optel, modderkoekies bak en albaster speel, is alles aktiwiteite wat nodig is om jou groot- en fynmotoriese ontwikkeling te ondersteun. Dit vorm die fondasie vir jou skoolloopbaan en alles wat jy later gaan leer.

Maats, dink net hoeveel keer hoor ons nie van spelterapie nie? En dan dink ons dat dit nie ons probleme gaan oplos nie - dit klink heeltemal te eenvoudig om jou probleem speel-speel op te los en tog sê navorsers dat die eerste 7 jaar eintlik net speeltyd moet wees, want dis die laaste kans wat 'n kind het om vry te speel en sy of haar kreatiwiteit spontaan te laat ontwikkel. Nou dink ek mos aan 'n belangrike ding - dié van ons wat spelterapie nodig het, het dan mos te min gespeel en te veel voor die TV gesit. Dan moet ons dit dadelik regstel. Eerder te laat as nooit.

Dit was vir my baie lekker toe julle van die kerk af kom en sommer agterop die bakkie klim. Ek sien party van julle klim baie vinniger op as ander - ons sal 'n bietjie daaraan moet werk. Intussen bearbei ek solank die eienaar van die bakkie om ons net so 'n draaitjie om die blok te laat ry - maar ek het nog nie 'n definitiewe ja gekry nie. Dis asof ek my ma se stem hoor: "Klim dadelik daar af. Netnou kry iemand seer. Julle weet na lekker lag kom lekker huil." 

Ek sal maar voor sit, want dan kan ek 'n beter oog oor julle hou. As ek agter sit, skrik die kind in my wakker en stel ek dalk nie so 'n goeie voorbeeld nie.

Terwyl ek daar in die bakkie gesit het, het ek besef dat 'n kind se werk eintlik speel is. En watter heerlike werk is dit nie. Ek wil op 'n stadium met julle praat oor skermtyd - dit behoort eintlik nie in ons woordeskat te wees nie - maar dis 'n gesprek vir 'n ander dag. 

Ek sal op 'n latere stadium vir julle meer vertel van die voordele van speel, maar ek wil julle regtig nie vandag verveel met feite nie. Nou wonder julle seker hoekom ek in elk geval vir julle dan wil bemoei daarmee. Die antwoord is doodeenvoudig: Dis belangrik dat ons nie die foute van ons ouers herhaal nie. En as ons nie genoeg speeltyd gehad het nie, moet ons sorg dat ons kinders eendag genoeg speel sodat hulle lewenswenners kan word.

Een van die waardes van speel is dat 'n mens vaardighede leer wat weer bydra tot ons selfvertroue - dink maar aan ons Springbokspan wat die Australiërs so lekker die loef afgesteek het - daardie spelers het as kinders graag met 'n bal gespeel - geskop, geslaan en gedribbel en so speel-speel het hulle sportvaardighede ontwikkel. Kyk gerus na die spelers as hulle weer 'n wedstryd speel - is etiese en morele waardes deel van hulle wedstrydplan? En waar dink julle leer 'n mens dit?

Met hierdie vraag, groet ek eers vir julle tot 'n volgende keer. 
Ruben-groete!


Saturday, 10 August 2024

Ruben groet hartsmense


Liewe Maats

Ek het regtig lank laas vir julle geskryf, maar ek is nogal besig, as nie-amptelike sekuriteitsbeampte het ek nie regtig baie tyd op pote nie. Ek blaf so af en toe vir julle van my gedagtes of as ek sien dat julle nou 'n reël of twee oortree, maar al my blaffery val op dowe ore. Daarom het ek maar besluit om weer die pen op te neem om vir julle te skryf wat ek op my hart het.

31 Julie, het oom Kleinbooi sy laaste dag by ons gewerk en nou is hy met pensioen. 17 jaar is 'n lang tyd en hy het baie mense en kinders sien kom en gaan. Baie van hulle het, terwyl oom Kleinbooi onkruid uit die akkers getrek het, vir hom vertel van die onkruid in hulle lewens. Dan het oom Kleinbooi op sy stil manier geluister en met die wysheid wat ouderdom meebring, vir hulle gesê wat hy dink. Ek weet dat op sy manier het hy baie goeie raad vir die outjies uitgedeel. Oom Kleinbooi het egter net een raad vir onkruid gehad en dit is om dit met wortel en tak uit te roei. Ek is maar 'n paar maande hier, en my lekkerste kuierplek is in die tuin. Ek en oom Kleinbooi het al kopstukke gesels en ek het ook al gehoor hoe julle outjies met hom praat. 

Oom Kleinbooi, ek gaan ons geselsies mis, maar ek gun vir Oom die rustiger tempo. Geen gejaag om betyds by die werk te kom nie en ook nie 'n gesukkel met die fiets in die koue nie. Maar lank stilsit is ook nie so lekker soos wat dit klink nie - as dinge te stil en eensaam by die huis word, kom kuier gerus vir ons. 

Buiten oom Kleinbooi, moes ons ook vir tannie Kagi groet. 'n Vrou van goeie deugde. Sy is al 20 jaar deel van die personeel. 'n Ywerige en flukse tannie wat nie staan en gesels en allerhande praatjies maak nie. Sy was taakgerig en het gesorg dat elke kind se klere skoon gewas, gestryk en netjies opgevou is. Dis 'n groot werk, maar tannie Kagi het elke dag, vir 20 jaar lank, haar werk met nuwe ywer en 'n glimlag op haar gesig aangepak. Ek hoor my ma stem as ek aan haar volgende woorde dink: Sy is nog van die ou soort, hulle word nie meer gemaak nie. Vandag se jongmense weet nie wat harde werk is nie.

Maats, julle kan dan net dink hoe skuldig ek voel, want ek val mos onder die groep wat sy reken nie meer hard kan werk nie. Ai, dis dan wanneer ek sommer so 'n ekstra rondte op die terrein doen, my stem verhef en so 'n paar harde blawwe gee dat almal in die omgewing kan hoor ek is op my pos. 

Terug by tannie Kagi - sy was altyd so trots op haar kinders as hulle in die oggend skool toe gaan, en hulle so netjies uitgevat is in hulle kraakskoon skoolklere. Sy het hulle met 'n tevrede kopknik agterna gekyk en dan die strykyster met mening vasgevat. Sy het allerhande rate geken hoe om kolle uit klere te kry - jy kan maar sê sy was 'n kol-uithaal-deskundige.    

Dit is so jammer dat tannie Kagi se gesondheid nie meer na wense is nie. Tannie Kagi, gaan rus nou goed, makeer die pas en gee aandag aan tannie se gesondheid. O ja, en luister mooi na wat die dokter sê - hy weet wat help en wat help nie. Hy is mos die gesond-word-deskundige. Kom kuier gerus vir ons as die verlange te veel word.

Die Bybel sê mos daar is 'n tyd om te kom en 'n tyd om te gaan en Donderdag het ons klomp oom Kleinbooi en tannie Kagi op 'n gepaste wyse gegroet en hulle verras met hulle geskenke!

Daar is egter ook 'n ander minder aangename manier om te groet en dit is om afskeid te neem van iemand wat nie meer met ons is nie. Ons liewe tannie Sanette, ons huisma, se man is gedurende die vakansie oorlede. Baie van die inwoners het nie geweet hoe om hierdie nuus te hanteer nie en het by my in die tuin kom sit en my kop gevryf terwyl die trane oor hul wange geloop het. Die diens is by ons in die saal gehou en daar het die boodskap tot ons deurgedring dat die oom Mike Hanssen, ons huispa, die handyman van Christina Kiddie, se lewensirkel voltooi is. Nooit weer sou ons hom met 'n tang of saag of stuk gereedskap dinge sien heelmaak en regmaak nie. Party dinge in die lewe kan eenvoudig nie met gereedskap reggemaak word nie - verlange, hartseer, gemis, is maar enkele daarvan. 

As ek aan oom Mike dink, dan staan sy sin vir humor uit - die kreukellagplooitjies langs sy oë verklap dit. Hy was 'n goeie storieverteller en 'n mens het heimlik gewens dat as jy hom raakloop, hy vir jou 'n storie gaan vertel - daar was humor, maar ook weggesteekte lewenslesse in sy stories. 

Tish was oom Mike se skaduwee, sy bruin labrador wat die appel van sy oog was - ek ken die tekens, ek weet, ek is mos tannie Christelle se oogappel!

Oom Mike, jou sagte hart, jou heerlike humor en jou raakvat en regvat, word reeds gemis en gaan nog meer gemis word.    

Maats, party van ons se lewensirkel gaan klein wees en ander s'n gaan groter wees, dit hang van ons groetouderdom af.    

En daar tydens die diens het ek besef dat 'n mens jou lewe betekenisvol moet maak. Leef 'n lewe van betekenis, sodat jy eendag met 'n voltooide lewe kan sterf. Dit is tog die sin van die lewe. En dit, liewe Maats, is my boodskap vir elkeen van ons - pak die lewe aan, met al sy opdraandes en afdraandes, bou aan jou lewensirkel - meet jou lewe aan die lewe van hulle wat jy aangeraak het en 'n verskil gemaak het.

Op hierdie ernstige noot groet ek eers tot 'n volgende keer.
Ruben-groete!

    


Friday, 12 July 2024

Ruben se nuwe rolmodel

Liewe Maats

Hierdie is sommer 'n vinnige gedagtebriefie wat ek tussen my weeklikse briewe aan julle gaan indruk. Partykeer voel dit vir my ek wil gou 'n gedagte met julle wissel, maar vandat die skole weer begin het, is dit nie altyd moontlik om 'n daaglikse kuiertydjie in te pas nie. Dus wend ek my tot die ou staatmakers - pen en papier. Julle weet, ek het gister een van die indrukwekkendste mense volgens my beskeie mening ontmoet. Juffrou Hettie! Energie straal behoorlik uit haar, haar lewenslus werk aansteeklik in op almal wat haar pad kruis en verder loop sy met 'n kopvol omgeeplanne.  
Foto: Helena Barnard
My hondehart bokspring van dankbaarheid dat Helena Barnard van Noordkaap Bulletin met haar 'n onderhoud gevoer het en al haar planne in die nuutste uitgawe van die koerant geskryf het. Sy en tannie Christelle het heerlik gesels oor hoe 'n mens kan uitreik. Nou hoop ek uit my hondehart dat Kimberley en die res van Noord-Kaap se inwoners haar hande gaan sterk ter wille van die groter prentjie.

Die eintlike rede hoekom ek skryf, is om my mening kortliks oor rolmodelle te gee. 'n Mens word baie keer gevra wie jou rolmodel is. Baie moet hard dink oor dié vraag, terwyl ander sê hulle het nie 'n rolmodel in hulle lewe nodig nie. Dikwels kies jongmense die een of ander sanger of akteur of sportman wat hulle dan slaafs navolg. Kleredrag, handgebare, manier van praat of vloek word skielik ons eie en ek word 'n kloon van hierdie onrolmodelmens. Ek dink dit is nie die moeite, datageld of tyd werd nie. Die eerste vraag wat ek myself afvra is of daardie persoon van my 'n beter mens kan maak. Jou eerlike antwoord moet jou lei!  

Ek dateer gereeld my rolmodelle op. Ek het 'n hele lysie en eendag sal ek vir julle vertel wie my rolmodelle is en waarom ek op hulle besluit het. Maar gister het juffrou Hettie onmiddellik in my hart ingeklim en my rolmodel geword. Onthou net, Maats, ouderdom het niks met 'n rolmodel te doen nie. Juffrou Hettie is liefdevol, sy gee om en is só hulpvaardig, sy maak planne en reik uit en sy is baie baie lief vir kinders. Sy laat hartsafdrukke so ver soos wat sy gaan en sy maak mense gelukkig. Nou wie van ons wil nie so wees nie?

As sy weer vir ons kom kuier, kyk mooi na haar optrede, hoe sy lag, praat en help - en probeer een van daardie karaktereienskappe jou eie maak. Ons dikwels moeilike en slegte verlede en omstandighede hoef nie ons toekoms te definieer nie. Ons kan verander en ons kan 'n verskil maak.

Viva keuses!

Ruben-groete!


 

Friday, 21 June 2024

Ruben bewonder WOW se vier vennote


Liewe Alida, Diané, Melaine en Wynand
 
Gewoonlik skryf ek direk vir my maats 'n brief (ek probeer dit op 'n weeklikse basis doen) en dan wys ek hulle op voorregte en omgeeliefde wat ons so van die gemeenskap kry. Dinge wat wys dat die wêreld nog bemoeienis met ons maak, want glo my, ons het ons kwota probleme en bekommernisse, maar ons vreugdespoedmeter se naald huiwer party dae sommer gevaarlik in die rooi. Ons bespreek ook probleme, persoonlikhede, uitdagings en toekomsdrome, maar vandag rig ek hierdie brief direk aan julle vier met WOW-harte van goud.

Dit was vir ons só lekker dat ons ons hande in die kombuis kon taai mors met die kolwyntjieversierings wat stroop-stroopsoet op ons tong 'n lêplek gekry het. Party van ons se kreatiewe kombuistalente is nie vergelykbaar met ander nie, maar gelukkig het ons 'n nissie gevind by die vaardigheidseise wat die speletjies aan ons gestel het.

Dankie dat julle saam met ons op die grond gesit het en op julle knieë gekruip het om saam met ons hierdie speletjies te speel. Dit was regtig lekker om tyd saam met julle deur te bring en te weet julle geniet dit net soveel as ons.

Dankie vir al die persoonlike geskenke wat volgens elkeen se ouderdom gekoop is. Saam-saam is elkeen se geskenk oopgemaak, bewonder en mee gespeel. Dis só spesiaal - ons is as individue raakgesien. Dankie vir al die ander speelgoed wat vir die speelkamer geskenk is. Speeltye het voorwaar 'n nuwe blaadjie omgeslaan. 

Dankie dat julle die dogtertjies se naels geverf het en toe sommer ons almal se hare so 'n bietjie kleur gegee het. Was ek nou verras om te sien 'n mens kry kryt om hare te kleur? My mond het letterlik oopgehang. Ek moet sê ek is verstom oor wat 'n mens deesdae kry - ek wil nou regtig nie klink soos 'n ou hond nie, maar ek het baie anders grootgeword. Ek besef ons het ure buite gespeel - gehardloop, gespring, geklim en geval!!  

Hierdie is een van die oggende wat ons op ons onthoukalender afgemerk het. Die dag het sommer vinnig korter geword. Speeltyd is ons lekkerste tye hier by die koshuis en hierdie vakansie wil ons geen kans verspeel om ons speeltye sinvol te gebruik nie. Daar het soveel lekker dinge gebeur en ons sien uit na 'n derde kwartaal waar ons hierdie dinge met ons skoolmaats gaan deel. Lemoenkegelbal is nie almal se forté nie, maar ons gaan aan ons tegniek werk. Met julle volgende kuier gaan ons spanne beter wees - hou ons maar dop. 

Ek glo nie my speelmaats besef wat die diepte van so 'n oggend behels nie, maar ek weet dat dit belangrik is vir ons groot- en fynmotoriese ontwikkeling, ook die fisiese, kognitiewe, sosiale en emosionele ontwikkeling wat speel-speel baatvind by sulke aktiwiteite.

Soos julle duidelik uit hierdie brief van my kan agterkom, help ek deur speelterapie om dinge weer in plek te kry. Daarom dat ek uit my hondehart vir julle wil bedank, maar ook uitnooi om gereeld te kom kuier, al is dit net om op die bankie te sit en gesels en mekaar beter te leer ken. Simpatie en empatie is twee begrippe waaraan ons nog hard sal moet werk.

Vreugde en baie voorspoed met julle WOW-projek. Mag dit net van krag tot krag gaan.

Ruben-groete tot 'n volgende keer.

Wednesday, 19 June 2024

Ruben se dankie-sê-briefie vir Dirk en Tinike

Liewe Maats

Ek het my hierdie week maar skaars gehou. My speeltyd is effens ingekort, omdat ek die meeste van die tyd op hekdiens was. Ek is natuurlik baie trots daarop dat die inwoners veilig voel as ek by die hoofingang diens doen. (Julle onthou mos laas week se brief wat my 'n nuwe perspektief op my werksaamhede hier gegee het.)

Wel, die verstommendste vir my is al die welwillendheidsbesoeke wat ons die afgelope week gekry het. Ons beker loop oor van dankbaarheid. Om eerlik te wees, ons is sommer baie lekker bederf en om nou na normaal toe terug te keer, gaan vir my persoonlik baie moeilik wees en ek is seker vir julle ook. Dis nou net hier wat ons sterk sal moet staan en onthou dat ons mense geen regte het nie, maar wel baie voorregte. En om so baie besoeke en geskenkies te kry, was 'n reuse voorreg. Ek het 'n hele klomp sopbene gaan begrawe, want ek weet baie goed dat dit nie elke dag Kersfees is nie en dat die regte Kersfees nog baie ver in die verskiet lê.

Hierdie briefie is om vir Dirk en Tinike spesiaal baie dankie sê vir hulle onvermoeide ywer en hardwerkenheid om ons te oorlaai met hul goedheid.  Heel eerste wil ek dankie sê vir die jungle gym - dis 'n yslike present wat 'n baie groot hap uit julle begroting gevat het, ek weet ... ek sit mos heeldag met gespitste ore voor die hek en tel belangrike gesprekke so in die verbygaan op. Maar hierdie is 'n speelbelegging wat vir baie baie jare nog vir vreugde in baie kinderharte gaan sorg. Hierdie langtermyngeskenk gaan nog baie dividende oplewer. Julle twee het skerp gedink.

Dankie dat julle saam met 'n spesiaal gereëlde Junie-instaan-kersvader en -moeder ons reeds vroeg bederf het met Kersgeskenke, pretpakkies en lewensnoodsaaklike middele wat julle so ywerig bymekaar gemaak het. Dis duidelik dat nié almal julle pas kan volhou nie. Ek haal my hoed af vir julle wat eksamen geskryf het, terwyl julle nog al hierdie ekstras moes doen - julle is twee baie spesiale mense en ek salueer julle. Mag al julle drome waar word en mag julle toekomspaaie gelyk wees. Hierdie is my wense vir julle so reg uit my hondehart.  

Ek skryf spoedig nog 'n briefie, maar hierdie een wil ek in die pos kry, voor die horlosie twaalfuur slaan.  

Dankbaarheidsgroete tot 'n volgende keer.


 








Klik HIER vir die vooraf foto's van die jungle gym. 

Klik HIER vir die bakkievrag benodigdhede en klik HIER vir die heerlike verrassingskuier.

Saturday, 15 June 2024

Ruben herkou, besin en dink oor sy posisie en kom tot 'n belangrike gevolgtrekking

Liewe Maats

Ek gaan sommer met die deur in die huis val, want ek was Woensdagmiddag vir 'n oomblik so van stryk af, dat ek amper my naam met 'n plank geslaan het. Dis net my ingebore ewewigtigheid wat gemaak het dat ek nie onmiddellik op my perdjie geklim het nie en wat van 'n voorbeeld sou ek dan vir julle gewees het?

Julle sien, toe ek hoor dat ons Woensdagmiddag kaartjies gaan maak, was ek sommer dadelik baie opgewonde en slaggereed vir aksie, want ek het 'n kunsstreep in my wat al geslagte lank in ons familie loop. Ek soek eintlik geleenthede om my kuns te beoefen, maar dit is maar min. As ek net my poot op papier kan sit ...

En toe ek so opgewonde na die vierkant aangehuppel kom, moes ek by tannie Christelle hoor dat ek buite by die hek moet gaan waghou, want ek is die enigste sekuriteitsman wat op daardie oomblik kan diens doen. Ek het onmiddellik uitgesluit gevoel en het met 'n langlip voor dáárdie hek stelling ingeneem. Ek het myself jammer gekry en nooit eers aan die belangrikheid van my opdrag gedink nie. My taak was tweeledig. Ek moes kyk dat geen ongemagtigde inkom nie en dat geen kaartjiemaker uitgaan nie.  

Ek het toe natuurlik baie dinktyd terwyl ek daar voor die hek sit en skielik tref dit my - ek sit mos op 'n hele paar stoele hier by Christina Kiddie Sentrum - sielkundige, speelmaat, waghond, mentor, onderwyser, skrywer, motiveerder, inspireerder, fotograaf en nog 'n hele paar ander dinge ook - ek moet tevrede wees as ek nie elke keer die lekker deel kry om te doen nie. Ek moet mos die beste ek wees wat ek kan wees en net daar praat ek myself aan. Ek vertel so graag vir ander wat om te doen, maar sukkel partymaal om dit self te doen.

Net daar besluit ek om met 'n lied in my hart na julle te kyk. Julle was so vrolik en het so lekker gelag dat ek besef het 'n mens klink net so sorgeloos as jy veilig voel en op daardie stadium was ek die rede vir julle veiligheid. 

Ek het natuurlik weer 'n paar lesse geleer: Jy moet 'n aktiewe wag voor jou mond hê, wat daagliks op sy pos is, sodat jy nie ander met jou woorde seermaak nie. Moenie altyd dadelik reg wees om te stry en te argumenteer nie, oordink eers die saak en skep 'n atmosfeer van gemoedelikheid. Mense hou nie van beterweterige mense nie. Doen altyd goed aan ander, al moet jy nou die slegte werk doen.

Maats, hierdie is so 'n mondvol dat ek dit binne my klerekas se deur gaan plak, sodat ek dit elke dag kan sien en myself herinner om eers te dink en dan te praat.

Ruben-groete tot 'n volgende keer.

 


Sunday, 9 June 2024

Ruben leier van 'n koalisie

Liewe Maats 

Ek hoop julle sien dat ek my les geleer het en nie verlede week se fout gaan herhaal nie. Ek begin vroegtydig sodat ek nie my briefie laat by tannie Christelle gaan inhandig nie. 

Ek het so 'n paar keer hierdie week die koerant onder oë gehad, sodat ek op hoogte kan wees van wat in die land en in die wêreld aangaan. Dit is nogal 'n belangrike aktiwiteit - jy moet weet wat rondom jou aan die gebeur is, want dit beïnvloed jou lewe en lewenswyse direk of indirek.

Daar is honderde artikels oor koalisies en ek het so half en half 'n idee gehad wat die woord beteken, maar net om seker te maak, het ek die woord gegoogle. Koalisie beteken: Twee of meer partye wat tydelik saamwerk om 'n gemeenskaplike doel te bereik.

En net daar kry ek die ongelooflikste blink plan - samewerking om jou doel te bereik! Dis klink egter selfsugtig, maar om 'n gemeenskaplike doel te bereik, is 'n wen-wen-situasie met geen verloorder nie. 

Kyk, Maats, ek deel mos die huis saam met Spikkels en Krummels, twee hoogmoedige katte, wat ouderdomsgewys nie meer lus is vir my opgeruimde spelerige geaardheid nie. Hulle kuier en gesels nou nie eintlik met my nie, daarom is ek nie deel van hulle vriendekring nie. (Eintlik is hulle baie katterig met my.) Nietemin het die koue my tot aksie aangespoor en het ek as leier besluit om met hierdie twee saam te werk, want ons al drie gaan by ons koalisie baat, en dis net vir die winter - dus is dit tydelik. 

Julle weet mos 'n ware leier neem nie net verantwoordelikheid vir sy eie situasie nie, maar ook vir diegene wat sy pad kruis. Ek is verantwoordelik vir my huismaats, vir my speelmaats en ook vir die koshuispersoneel. Vir party gee ek raad, oor ander bekommer ek my dood, met party speel ek my energie totaal uit en vir ander moet ek beskerm en sorg dat hulle veilig voel.

Deel van 'n sinvolle koalisie is goeie kommunikasie. En as elkeen van die partye eerlik en reguit praat, dan bou ons as 'n nuwe span vertroue as fondasie vir ons nuwe samewerkingsplan. Kom ek verduidelik dit vir julle só: Ek het my trots in my sak gesteek en met hierdie twee huismaats gaan praat. Dit is ongenadiglik koud in die aand en met of sonder 'n kombers, is die Noord-Kaap nie diervriendelik nie. Ek stel toe voor dat in plaas daarvan dat elkeen opgekrul in sy eie bondeltjie lê en homself bejammer, kan ons mos my bed deel en dan kry ons almal heerlik warm. En dit is ook net tot die ergste koue verby is - dan kan elkeen weer sy eie gang gaan en speel en kuier met wie hy wil. (Kyk gerus na die foto's wat ek by hierdie brief insluit.)

En net daar besef ek dis wat julle moet doen. Julle moet saamwerk, veral met die vakke wat julle nie verstaan nie, bv. wiskunde. Julle moet sorg dat julle 'n goeie wiskundige in julle koalisie het, wat vir julle die werk kan verduidelik - julle hoef nie vriende te wees nie - en dan help julle hom weer met Engels of Afrikaans. Almal baat daarby en in hierdie studiekoalisie is daar geen verloorders nie. En na studie gaan elke een sy eie gang. 

Maar om as 'n span saam te werk, vra dat ek van my karaktereienskappe wat ek nie graag gebruik nie, moet afstof en poleer totdat dit skitter. Dit is nou eienskappe soos respek, nederigheid, gewilligheid, sagmoedigheid, geduld en lankmoedigheid, veral laasgenoemde twee ... so ek moet amper soos 'n volwassene optree en my voorbeeld en goeie maniere moet die res van my span aanvuur om ook hul beste te gee en daar is ons terug by my uitdaging vir 2024: Wees die beste jy wat jy kan wees. 

Daar is nog net een week van skool oor, dan is die wintervakansie hier. Ek het al so een of twee van my speelmaats gehoor kla dat hulle niks het om te doen nie ... wel, ek daag julle uit om vir my vars en oorspronklike idees in te stuur! Ek begin met 'n idee: kom ons stig 'n leesklub en dan lees ons vir mekaar of van die groteres kan vir die kleintjies voorlees of ons verander die hoofkarakter van die boek en een van ons word die nuwe hoofkarakter en ons herskryf die hele storie. Wat dink julle daarvan? En net miskien kan ons daardie storie (akteurs gebruik graag die woord teks) in 'n minidrama ontwikkel en 'n winterkonsert op die planke bring. (Amper iets soos die kersverhaal wat julle altyd aan die einde van die jaar opvoer.)

Ek gaan nou saam met my span die koue aandurf en kaf draf.   

Koalisie-groete tot 'n volgende keer.

  





Tuesday, 4 June 2024

Ruben se eksamenbekommernisse


Liewe Maats

Ek moet bieg, ek moes al twee dae terug hierdie brief vir julle geskryf het, maar ek het net te koud gekry. Dit was asof alles net vasgevries het. Ek begin sommer my brief met hierdie afgelope naweekswakte van my, want koue is nie 'n verskoning om nie jou werk te doen nie. Ek het mos al vir julle gesê dat 'n mens altyd jou beste moet gee en hier val ek sowaar uit die bus uit. Ek is diep teleurgesteld in myself.

Die ander groot teleurstelling vir my is dat julle my nie aangespreek het nie. Ons het dan saam besluit ons gaan mekaar ondersteun en altyd daar wees vir mekaar. Julle het my lelik gedrop en nou is ek in die sop.  

Ek gaan nie 'n lang briefie skryf nie, want dit is eksamentyd. Gedurende eksamentyd moet 'n mens gefokus wees en bly. Daarom herinner ek julle aan die belangrikheid van leer, goeie punte en om die tyd uit te koop. ('skuus, nou klink ek net soos een van julle onderwysers of een van ons hartsma's). Maar hierdie eksamen lê vir my baie na aan my hart - dis ons halfjaareksamen en hierdie eksamen gaan vir elkeen van ons 'n riglyn gee vir ons studiepad vorentoe. 

Hierdie eksamen kan met die halfeindrondte in rugby vergelyk word. Daar gaan beserings in hierdie wedstryd wees en daar gaan 'n paar mooi drieë gedruk word. Ons weet ook dat die afrigters en die keurders langs die veld gaan staan en ons met valkoë gaan dophou vir die eindstryd wat in November plaasvind. Almal kan nie speel nie, party moet op die bank sit en kyk hoe ander speel. Moenie dat enige van ons spanlede onkant gevang word nie. Ons gaan almal in die eindstryd speel en om dit reg te kry, moet ons ekstra studietyd insit of soos my oupa altyd gesê het: "Ruben, jy moet skouer aan die wiel sit."

Kom praat met my na die eksamen - ek het 'n plannetjie wat ek in die mou voer, maar ek gaan nou niks sê nie. Ek gaan vir julle wag om my hieraan te herinner. (Julle weet natuurlik dat ek julle toets ...?)     

Ruben-groete tot 'n volgende keer.




Sunday, 26 May 2024

Ruben se dankiedag-idee!


Liewe Maats

Die laaste naweek van Meimaand het aangebreek en nou spoed die dae na winter toe. Junie voel vir my ons groet die helfte van die jaar ... eksamentyd, koue windwaaityd, hoesbuie, loopneuse en skurwe hande is ons voorland. Maar ek wil my nou nie self in 'n koue kokon inpraat nie, ek loop en dink aan totaal iets anders.

Ons het nog nie ons instaanfamilie, eintlik ons hartsfamilie, bedank vir wat hulle elke dag vir ons doen nie. En onmiddellik kla my hondegewete my aan ... ek moes julle herinner het daaraan. Ons het 'n Moedersdag en binnekort klop Vadersdag ook aan ons deur, maar wat van ons hartsfamilie? En net hier het ek op my eentjie 'n besluit geneem dat ons 'n hartsfamiliedag by ons sentrum moet hê. Ons kan vir die personeel sing en vir elkeen 'n drukkie gee, net om te wys dat ons raaksien wat hulle doen, al lyk en klink ons party dae ondankbaar ... ons harte sit op die regte plek.

Ek moet nou eerlik wees, almal het nie so gevoel toe hulle oor hierdie drumpel gestap het nie, ekself het maar eers die kat uit die boom gekyk, maar met liefde het elkeen van die tannies hulle hande en harte oopgehou en ons kon net instap. Van tyd tot tyd hoor 'n mens 'n brommerigheid en 'n onderlangse murmerering onder party van ons, maar dis meestal op 'n emosionele afdag, want in ons harte weet ons dat hierdie huis ons tuiste is. 

Ons huisma's, tannie Sanette, tannie Meloni en tannie Katrien moet soms hare op hul tande hê en ander kere weer goud in hulle harte. Ek wonder as hulle vir my 'n punt uit 10 vir gedrag en my netjiese kamer moet gee, wat sal my punt wees? Julle weet, ek moet 'n voorbeeld stel en nie vir tannie Christelle teleurstel nie. En daarom gee ek vir tannie Maria en tannie Dora sommer volpunte, want hulle toor ons kamers, badkamers, gange, speelkamer en kantore skoon. Julle weet natuurlik dit gee ons meer speeltyd ...

As dit nie vir tannie Mittah en tannie Stella was nie, het ons klompie definitief meer diensbeurte in die kombuis gekry. Ek hou juis nie so baie van skottelgoed was nie, maar as dit my beurt is, ís dit mý beurt en ek doen dit met 'n smile op my gesig. Maar eintlik help ek baie eerder vir oom Kleinbooi in die tuin. Hy kan nou vir jou lekker stories vertel en ek leer baie van plante. Ek het ook gou geleer dat ek nie sommer net kan grawe waar ek wil nie. Nee! Daar is streng tuinreëls!! En toe besef ek eers dat ek dit nie maklik gemaak het vir die mense by die ouhuis nie. Ek het gate gegrawe, bene begrawe en plante onderstebo gehardloop. Ek het in my onkunde gedoen wat vir my lekker was en nie wat die beste vir ons gesin was nie.

Ek het eendag 'n artikel gelees dat as jy reëls het - tuinreëls, huisreëls, padreëls, skoolreëls, noem maar op - dan voel jy veilig, want jy weet presies wat jy moet doen en wat nie. Reëls help bou aan 'n gedissiplineerde karakter, en op hierdie manier voel ons veilig en geborge. Dit gee ons dus 'n goeie basis en ook 'n goeie voorsprong in die lewe. Só maklik ... só eenvoudig, maar my ma het dit nie vir my geleer nie. Sy was seker te gedaan van kosgee en kleintjies grootmaak. As ek haar nou sien, wil ek haar vertel wat ek in hierdie kort rukkie by julle geleer het.

Netheid is 'n ander ding - 'n mens moet altyd netjies wees - op jouself, jou boeke, jou kamer, maar veral op jou skoolklere en skoolskoene. Dankie tog, tannie Kagi help bou ons aan ons buitebeeld. Baie keer oordeel 'n mens mos iemand op sy looks. Vra maar vir my, ek het mos in die veearts se spreekkamer gehoor ek is te vet (een pasiënt het dit vir 'n ander een gesê sonder om my gevoelens in ag te neem en toe stem die ontvangsdame so ewe saam.) Maar ek het 'n missie, my eie persoonlike een en dit is om aan die einde van die jaar fiks, slank en gesond te wees. Hoekom dink julle outjies hardloop en jaag ek julle so graag?  

Kom ek vertel julle 'n geheim. Daardie ongevoelige woorde het nie sommer in my broek gaan sit nie. Ek het vir twee dae net gelê en myself behoorlik jammer gekry. En toe besef ek miskien is dit die waarheid. Niemand is sonder foute nie en ek weet ek steur my nie aan oefeninge nie en ek het altyd die verskoning gehad dat ek alleen is en niemand het om mee te speel nie. 

Ek het toe 'n afspraak met tannie Chrizelna gemaak en toe julle almal in die eetsaal aan tannie Mittah tannie Stella se heerlike kos weglê, het ek met haar in haar kantoor gaan praat. Mensig, was ek bly! Dis asof daar sommer 'n berg van my skouers afgeval het. Sy is die een wat vir my gesê het om 'n doel te kry waarna ek kan streef. Ietsie maklik, iets wat haalbaar is, iets wat my beter oor myself sal laat voel. En dit is tóé dat ek besluit het dat ek speel-speel 'n wenner gaan word - 'n fikse slanker wenner. Niemand gaan ooit weer 'n skewe woord oor my sê nie. Ek is besig om aan 'n beter ek te werk. Die heel ongelooflikste van hierdie besluit is dat julle en elke tannie in hierdie koshuis my help om my doel te bereik, sonder dat ek dit vir hulle gesê of gevra het. Ek het net die geleentheid wat die hartsfamilie ons bied, met altwee hande aangegryp.

En dit is die eintlike rede vir my hartsfamiliedag. Ons het engele in ons koshuis en ons weet dit nie! Ek wil hê ons moet hulle waardeer en ons moet elkeen gaan dink hoe kan ons dit wat hulle ons bied, tot die maksimum gebruik. As julle idees het, deel dit met my of met tannie Chrizelma of tannie Christelle. 

Kom ons begin 'n dankiedag wat kan uitkring totdat die hele land se kindersentrums daaraan deelneem. Hoekom skryf ons nie 'n dankiedag-lied vir volgende jaar nie?? Moenie sê ek het julle nie vroegtydig ingelig nie. Kom ons beoefen dit en raak dankiesê-fiks!!

Ruben-groete tot volgende naweek.

  

Sunday, 19 May 2024

Ruben, die droombegryper!

Liewe Maats

Ek merk elke dag op die almanak af om te sien hoeveel slapies ek oor het voor die naweek aanbreek, my spesiale gesinstyd saam met julle. Dan kan ek heerlik by julle kuier en my waaksaamheid verslap. Dan skop my spelerige kant in en ek kan net hardloop, spring en julle van hoek tot hoek rondjaag - ek kan sien ek is elke naweek 'n bietjie fikser as die vorige naweek. Ek kan raai hoekom - julle doen seker nie meer sport nie - is julle te lui of is ek verkeerd?  

Ek weet julle het almal op 'n stadium die kalendertelkaart gedoen. Ek het gehoor hoe een van julle vir die ander een vertel dat julle nie kon wag om by julle ouma-hulle te gaan kuier nie en dat mamma elke aand die slapies moes afmerk en dan tel hoeveel nog oor is. Daar is van julle wat slapies aftel om by ander familielede te gaan kuier. So bêre ons elkeen maar ons aftelkalender vir daardie spesiale geleenthede in ons harte.   

Ek het onbeskaamd langs julle gesit en afluister (is dit afluister?), terwyl julle van julle onthoudae vir mekaar vertel. Vandag vertel ek vir julle wat ek by *Renata gehoor en geleer het. En ek deel dit met al die lesers omdat 'n mens elke dag moet probeer om  'n beter weergawe van jouself te wees as die vorige dag. Dit is die enigste manier wat 'n mens kan groei. Ek leer baie hier by julle. Ek het geleer om my speelgoed en veral my balle met julle te deel. In die verlede was my goed my goed en ek het geknor as iemand net naby my balle kom, maar deesdae is dit vir my lekker om my speelgoed met julle te deel, want dan kan ons almal lekker saamspeel, en almal help vinnig opruim en optel, want ons is mos 'n span.

Hier is Renata en *Anita se gesprek langs die swembad. 
Renata: Die vakansiekuiers by my ouma-hulle was die heel lekkerste vakansies. Nie eens 'n seevakansie kon naby 'n oupa-en-ouma-kuier kom nie. Bygesê ons was net een keer by die see vir 'n baie kort naweek en toe duik ons normale huislike probleme weer op. Maar ek gaan nie vandag daaroor praat nie, ek het dit in my baie-ver-verlede-lêer gesit. By ouma en oupa het jy altyd veilig gevoel. Na ete en snaaks, selfs 'n toebroodjie vir aandete was uit die boonste rakke en as ek dit vir ouma sê, dan lag sy net dat haar oë toekreukel en sy gee my so 'n lekker ou drukkie en dan fluister sy die toebroodjiegeheim in my oor. 'n Geheim wat ek ook by ons kostannie, Tannie Mittah opgemerk het, al moet sy vir 'n hele koshuis vol kinders kook. Toe ouma al fluisterend vir my vertel, het ek eers gedink dit kan nie waar wees nie, maar ek het begin oplet na hoe dinge in ons huis is en ook by my maatjies se huise is en ek besef dat ouma weet waarvan sy praat. Die atmosfeer om die tafel en in die huis is die heel belangrikste bestanddeel van enige resep - van 'n toebroodjie tot 'n bak bobotie ... my persoonlike gunsteling. En as die gesindheid in die huis reg is, proe 'n mens die liefde in die kos. 

Wel, na ete het ek altyd die tafel afgedek en die skottelgoed gewas, sonder dat ouma my hoef te vra. Ek wou graag iets vir hierdie twee dierbare omgeemense doen. En terwyl ek die skottelgoed gewas het, het ouma vir ons heerlike soet rooibostee gemaak (hier was die geheim nie liefde nie, maar twee groot lepels kondensmelk!), terwyl oupa die nuus geluister het. 

By ouma-hulle het ek nie die slapies afgetel nie, want ek wou hê dat die lekkerte moet aanhou en aanhou en nooit ophou nie!

By ouma-hulle het ek geleer groente eet ... al die soorte! Oupa se groenetuin was sy trots en hy het elke dag 'n kooksel van alles in die tuin vir ouma gebring om te kook. Wortels, pampoen, spinasie, uie, boontjies, mielies, noem maar op en dit was daar; hang net van die seisoen af. En nou, Anita, weet jy sommer hoekom ek so graag groente eet - dit was my oupa en ouma se kos en ek dink letterlik elke dag terug aan hulle as ek my groente eet. 

Jy weet, ek het al baie gewonder of ek nie 'n klein stukkie grond hier by die koshuis kan bewerk en 'n paar stukkies groente plant nie, iets soos pampoen of boontjies en dit dan versorg soos oupa altyd sy groente versorg het nie, maar ek weet nie of ek suksesvol sal wees nie, want ouma het altyd trots oor oupa se groenvingers gepraat. Wat dink jy sal die ander kinders sê as my groentedroom misluk ... ek is in my hart bang hulle lag vir my, maar as dit werk, is dit iets wat ek reggekry het en wat ek dan vir Tannie Mittah kombuis toe kan vat, sodat sy dit met oumaliefde kan gaarmaak.     

Ek het heerlik in die son gelê en luister na die twee se gesprek en ek het besef dat Renata die resep van ouerliefde gesnap het en dat haar kinders eendag gelukkig genoeg sal wees om dit self te beleef. Ek het ook geleer dat elke mens iets wil skep om dit dan met ander te deel. En laastens het ek geleer dat 'n mens baie drome kan hê, en dat elke mens, ongeag jou ouderdom, die behoefte het om die droom prakties uit te leef, maar dat ons almal bang is vir mislukking of bang is oor wat die mense of my maats sal sê. Een van die seerste sere is as die persone met wie jy jou droom bespreek het omdat hy hulle vertrou het, jou uitlag of 'n gek van jou voor ander maak, indien jou droompoging misluk het. Daarom dra jy dit diep in jou hart en deel jy dit nie graag met ander nie, en op hierdie manier word jy nie die beste jy wat jy kan wees nie. Onthou net, elke een in die koshuis het drome en voel net soos jy daaroor. Daarom moet ons droomondersteuners wees en nie droomvernietigers nie. Help bou aan jou tafelmaat en kamermaat se droom en vra hulle dan om jou weer te help en op hierdie manier loop ons treetjie vir treetjie saam ons toekoms in.

Tot ons mekaar weer volgende naweek sien, wees droomsoet en hulpvaardig! En kom fluister gerus in my oor wat jou toekomsdrome is. Ek blaf en basuin dit nie uit nie, maar ek dink en herkou gewoonlik gedurende die week daaraan! 

* (Sien julle, ek het skuilname gebruik, sodat julle maats nie weet wie ek afgeluister het nie!) 

Ruben-groete!

Monday, 13 May 2024

Ruben, die Moedersdagspreekbuis van die inwoners!

Liewe Maats

Hierdie naweek het vinniger aangebreek as wat ek gedink het en skielik kan ek twee dae vir julle kom kuier - Saterdag en Sondag! Sondag wat ook Moedersdag is ...

Julle weet, ek het my nooit aan Moedersdag gesteur nie, om eerlik te wees, het ek niks van Moedersdag geweet nie. Dis eers toe ek by my mensma-hulle kom bly het, dat ek besef het daar is iets soos Moedersdag. En natuurlik het ek my ore gespits as ek mense hoor praat oor hierdie spesiale dag, maar ek het ook baie daaroor gedink. Ek het mos al vir julle vertel dat ek baie dink.

Ek dink ons waardeer ons ma's nie genoeg nie en ons sê nie genoeg dankie vir alles wat ons ma's vir ons doen nie. Ons aanvaar maar net dat hulle alles moet doen en ons vergeet dat hulle baie probleme het wat hulle in die stilligheid moet oplos om die lewe vir ons makliker te maak. Soms is dit nie altyd moontlik om daardie probleme genoegsaam op te los nie en dan is daar mense wat ingryp, want glo dit of julle wil of nie, kinders is belangrik - gaan lees maar gerus MATTEUS 18.
  
Ek weet ook baie goed dat daar ma's is wat nie vir ons omgee nie. Ek het altyd gedink dat kinders 'n ma se alles is, maar daar is uitsonderings. Daar is ma's wat op die verkeerde pad is en gelukkig land ons dan by instaanma's. Ma's wat swaar ken en swaar herken en sommer op 'n dag net kom instaan vir die biologiese ma. Baie keer is dié instaanma 'n omgee-ouma of iemand soos tannie Christelle. En ons moet vir hulle net so lief wees soos wat ons ons eie ma's sou gehad het. Ons moet van hulle leer wat liefde is en hoe ons moet optree ... 'n mens behandel mos iemand soos jyself behandel wil word. 

Onthou maatjies, ek verstaan baie beter as wat julle dink. Ek is weggevat van my ma toe ek so 2 maande oud was - daar was net te veel van ons om te versorg. Ek was só gelukkig om by tannie Christelle, my mensma en instaanma te land. Partykeer wonder ek hoe dit met my familie gaan en of hulle nog springlewendig en gesond is. Dit is menslik, maar ek is gelukkig hier waar ek is. En om dit vir tannie Christelle maklik te maak, probeer ek net my beste gee. Ek probeer die beste waghond wees, wat ek kan. Ek gee om vir my mensfamilie en ek wys dit deur spontaan en entoesiasties te blaf, spring en my stert te swaai, maar ek werk aan my gehoorsaamheidsfaktor - ek luister nie altyd soos ek moet nie en dit kan tot ongelukkigheid lei, wat dan weer 'n misverstand tot gevolg het en voor die einde van die dag, is daar struwelinge, oor en weer beskuldigings en tieneropgeblasenheid wat nie by ons pas nie.  

Ek gaan daarom namens ons almal wat hier bly vir tannie Christelle dankie sê, want dit kan nie aldag maklik wees nie. En as julle aan nog iets kan dink, kom fluister dit in my oor as ek weer vir julle gaan kuier.

Dankie, tannie Christelle, dat jy vir ons almal lief is en dat ons vir jou belangrik is. Dankie dat jy altyd 'n glimlag of 'n drukkie vir ons het - jy weet net wanneer daardie drukkie nodig is. Dankie vir al die klein dingetjies wat jy vir ons doen. Dankie dat jy vir ons met boustene vir die toekoms toerus, ons sien dit dalk nie raak nie, maar hierdie lewenslesse gaan vir ons die rigtingwyser op ons lewenspad word. Dankie dat jy ons nie afgeskryf het nie, maar in ons glo. Dankie dat jy ons instaanma is, ons kon nie vir beter gevra het nie.

Ruben-groete tot 'n volgende keer!


 

    


Thursday, 9 May 2024

Ruben, die denker!

Liewe Maats

Ek het lanklaas vir julle geskryf, maar ek kon darem Sondag kom oë wys en my stert van opgewondenheid swaai. 

Ek sien die heining vorder goed en as my voorgevoel my nie in die steek laat nie, is ek binnekort 'n permanente inwoner. Ek kan nie wag nie. Dit gaan vir my soos vakansie voel. Ek het nog nooit so 'n groot speelplek en so baie maats gehad nie.

Julle weet, hier by die ouhuis het ek mos baie tyd om te dink en as ek so 'n blitsbesoekie by julle aflê, dan hoor ek baie dinge. Dinge wat ek nie van julle oulike klomp maats verwag het nie. Een ding wat ek glad nie kan verstaan nie, is dat 'n mens wil slip. 'n Mens slip net as dít wat jy wil doen, nie reg is nie.

Ek weet en verstaan dat 'n mens baie keer ingehok voel, ek praat uit ondervinding, maar nie eens ek stel belang om te slip en in die straat rond te loop nie. 'n Mens het 'n verantwoordelikheid en as ek nou oor die draad klim en vir my pêlle hoër op in die straat gaan kuier, is daar niemand wat die huis oppas wat nou my verantwoordelikheid is nie. En tannie Christelle sal só teleurgesteld in my wees ... ek wonder of sy my ooit weer sal vertrou. En vertroue is belangriker as wegloop, rondloop of voet in die wind slaan.  

Ek skryf eintlik vir julle om julle uit te daag om die beste JY te wees wat jy kan wees, nie net vanjaar nie, maar elke jaar, nie net in akademie nie, maar op alle terreine van die lewe. Besluit sommer vandag dat jy die beste kamermaat gaan wees wat jy kan, die tafelgenoot met die mooiste maniere en in die studieklas gaan jy die hardste werk. Jy doen dit vir jouself.

As jy by die skool in die wiskundeklas sit, wees die beste wiskundeleerder wat JY kan wees. As jy op die sportveld is, wees die beste sportman of sportvrou wat JY kan wees. Koester en respekteer alle mense, ook die mense van wie jy nie hou nie. Respek beteken om almal goed te behandel, nie net diegene wat jy wil beïndruk nie. En die groot lekkerte van respek is dat as jy respek uitdeel, dan ontvang jy dubbeld soveel respek terug.

Ai maats, moenie dink ek wil vir julle begin preek nie, dis regtig nie my styl nie, maar ek wil vir julle uitdaag. Hierdie jaar gaan vir ons almal 'n aanpassing in baie opsigte wees, maar ek is nie bang vir verandering nie. Enige verandering wat positief is, gaan van my 'n wenner maak.

Sien julle klompie weer oor die naweek en dan kan ons lekker van ons energie ontslae raak.

Viva goeie oefening.

Ruben-groete tot 'n volgende keer!