Showing posts with label Donkie. Show all posts
Showing posts with label Donkie. Show all posts

Thursday, 6 March 2025

Drie minute dinkstorie: Hewige rusie tussen donkie en tier


Donkie en tier is in ‘n hewige rusie oor watter kleur die gras is. Vir ons klink dit na 'n onbenullige stryery, maar hierdie twee is doodernstig oor hulle onderskeie standpunte.

Donkie hou voet by stuk dat die gras blou is, en tier stry en sê dis groen. Dis tog net logies. Die hemel is blou. Na bykans ‘n uur se stryery maak donkie die voorstel: “Kom ons gaan na Koning Leeu - hy is die slimste van al die diere en hy sal vir ons die regte antwoord gee.”

By Koning Leeu aangekom, val donkie sommer met die deur in die huis. “Koning Leeu, ek sê die gras is blou, maar tier hou aan stry dat dit groen is. Watter kleur is die gras regtig?”

Leeu kyk die twee stip aan, dan gluur hy vir tier. “Donkie is heeltemal reg,” brul hy. “Die gras is blou! En Tier, vir jou onnoselheid, mag jy vir 5 dae lank niks sê nie!” Doodtevrede bulk en dans Donkie terug na sy grasland toe om verder te wei. 

Tier kyk geskok na Leeu en vra: “Mag ek iets sê voor ek stilbly vir 5 dae? Jy weet net so goed soos ek dat die gras groen is! Waarom sê jy vir Donkie dis blou??!!” 

“Omdat jy so dom was om met hom te stry oor iets wat ‘n voldonge feit was,” antwoord Leeu droog. “Jy het jou soos ‘n donkie gedra!”

Toepassing:  
Daar is nog ‘n voldonge feit waaroor niemand mag stry nie - ons het meer as genoeg rede om die Here te loof en te prys! Psalm 149 roep ons weer op om ‘n nuwe lied vir God te sing - kom ons kyk gou na wat die Psalm sê: Maak jou loflied elke dag nuut! Elke dag gebeur daar iets met ons wat nie gister gebeur het nie - gebruik dit om teenoor mense oor God te getuig (vers 1). Vind daardie nuwe ietsie elke dag.

En dit hoef nie net liedere te wees nie - dans voor die Here (verse 2-3)! Slaan ritme met jou borsel op die spieëlkas. Borsel jou tande met ‘n vrolike ritme! God geniet dit so as ons Hom loof en prys, dat Hy dan sommer namens ons veg en vir ons die oorwinnings behaal (verse 4-6). Dit alleen is al reeds meer as genoeg rede om Hom onophoudelik en met groot genot te prys!

Ons lofsange teenoor God bind kettings om ons vyande se enkels, vernietig ons omstandighede wat ons probeer onderdruk en tel ons op bokant alles sodat ons saam met Hom kan triomfeer (verse 7-9).
Moenie jou soos ‘n donkie gedra en probeer stry oor dinge wat jy rondom jou sien nie. Wéét wat die waarheid is: die Here leef en regeer! Maak nie saak watse twak die lewe vir jou probeer vertel nie - hou aan om die Here te loof, want Hy regeer! Moenie eens met die wêreld probeer redeneer nie - hou net aan om die Here te loof! 

As tier maar net die onderwerp verander het en God begin loof het ... maar toe wil hy sy punt bewys deur te stry. Daar is geen rede vir ons om ‘n punt te bewys nie – dis reeds vir ons aan die kruis gedoen. Al wat ons nou moet doen, is om net die Here te loof!

[Dankie, Rosetta!]

Saturday, 28 December 2024

Kalahari Kersfees - Carl Gerber

Daar is nie ‘n Santa Claus nie. Daar’s ‘n Vader Krismis. Hy woon in die Kalahari en hy ry ‘n donkiekar met twee baster donkies. Die een se naam is Papjan en die ander een het nie ‘n naam nie. Hy hoef nie ‘n naam te hê nie, hy luister in elk geval nie. Vader Krismis jaag nie soos ‘n bliksemstraal nie, hy stop en gee sy donkies elke paar uur water. En hy laat hulle ook boesmangras vreet langs die pad.

Vader Krismis verstaan nie Kersbome wat van dennebome gemaak is nie. Hy hou van Kameeldoringbome. Hulle werk lekkerder, want elke seisoen sit hulle hul eie mooigoed op. Fluweel-sade.

Kinders wat stout was, kry nie presente nie. Maar in Kersfeestyd is alle kinders soet. Kinders mag in elk geval so ‘n klein bietjie stout wees, want dis wat kinders kinders maak. Maar hulle mag net stout wees todat ma sê “dis nou genoeg” en hulle is bietjie soeter as pa van die veld af terugkom.

Kalahari-kinders speel nie met iPads nie en hulle ken nie van Apps nie. Hulle speel met kruiptolletjies en bicycle rims. Die rykes speel met ‘n platkar wiel. Maar die rykes en armes hou van mekaar. Hulle deel speelgoed. En kos. En komberse.

Wanneer Kalahari kinders die aand voor Kersfees gaan slaap, gaan slaap hulle nie. Hulle lê wakker deur die langste nag van die jaar. Hulle probeer wakker bly om te sien wanneer Vader Krismis aankom, want niemand het hom nog ooit, ooit gesien nie. Maar wanneer dit baie laat raak, so teen tien-uur die aand, kan hulle nie meer nie, dan gooi Klaasvakie hulle sommer met twee hande vol rooisand.. en dan, die volgende oggend, het hulle weer nie vir Vader Krismis gesien nie. Hulle dink, Vader Krismis en Klaasvakie werk saam, want dit gebeur altyd.

Wanneer kinders op Kersdag wakker word is hulle baie opgewonde, want Vader Krismis was daar. Hy het dan vir elkeen so ‘n ietsie gelos om vir die volgende jaar mee te speel. Dogtertjies kry gewoontlik poppe. Wit poppe, want by die stad se winkels is daar baie meer wit poppe as bruin poppe. Wit poppe is ook baie keer op special. Seuntjies kry kaskarre en ketties. Met haasrek, wat ook al die pad van die stad af kom. Die koperasie hou dit aan.

Kinders en ma’s en pa’s trek op Kersoggend hulle mooiste en beste klere aan, want hulle gaan dan kerk toe om die storie van Josef en Maria te hoor en om Stille Nag te sing.

Na kerk gaan die kinders met hulle nuwe poppe en kaskarre en ketties speel, want ma gaan besig raak om baie kos te maak. Gewoontlik kom al die ooms en tannies en niggies en nefies ook kuier. Hulle bring ook hulle kos saam. En hulle ketties en poppe en kaskarre.

Op Kersfees kry die werfbrak ook ‘n geskenk. Hy kry ‘n skoongesnyde been en al die ekstra vet wat die ma’s van die vleis afsny. Die hond word baie keer siek op Kersfees.

Partykeer word pa’s ook siek op kersfees, maar dis ‘n ander soort van siek wees. Hulle raak eers snaaks en dan raak hulle aan die slaap.

Terwyl pa’s siek is en slaap, was ma’s die skottelgoed en dan gaan slaap hulle ook. Dan moet die kinders weer soet wees, anders kry hulle volgende jaar nie poppe en kaskarre en ketties nie.

Kinders hou baie van Kersfees, want hulle weet dat Kersfees daar is omdat Liewe Jesus almal liefhet en hulle eendag in die hemel wil hê.

Geseënde Kersfees!

[Dankie, Christelle, vir die deel.] 

Tuesday, 20 October 2020

Die mooi donkies van Niekerkshoop


In die Noord-Kaap besef die inwoners deeglik die waarde van 'n donkie.
In Upington is 'n lewensgrootte bronsbeeld van werkende donkie, geskep deur Hennie Potgieter.
Hierdie monument is opgerig ter ere van die reuse bydrae wat die gewillige donkie gelewer het in die ontwikkeling van die Benede-Oranjerivier Vallei tydens die harde pioniersjare.

Die Kalahari-Oranje Museum word gehuisves in die geboue wat in 1875 as kerk en sendingstasie gebou is deur Eerwaarde Schröder. In die museum word die geskiedenis van Upington en die Benede-Oranjerivier Vallei bewaar.


Lees gerus HIER van die onvertelde stories van die Noord-Kaap

HIER is iemand wat die Noord-Kaap en die donkies goed geken het.

Saturday, 8 September 2018

'n Lewensles van 'n doodgewone donkie!

Een van my geliefde verhale gaan oor die boer se donkie wat in 'n droë put geval het. Die dier het vir ure jammerlik gehuil terwyl die boer probeer dink het wat hy kon doen vir sy arme donkie. Uiteindelik het hy tot die slotsom gekom dat die put te diep was en dit in elk geval toegemaak moes word. Buitendien, die donkie was oud en dit sou baie werk kos om hom uit die put te haal. Die boer het besluit dat dit nie die moeite werd was om die dier te red nie, dus het hy sy bure gevra om hom te help om die put op te vul en die donkie te begrawe.

Hulle het almal grawe gegryp en grond in die put begin gooi. Die donkie het dadelik besef wat aangaan en het vreeslik begin bulk. Huil sou ons normale reaksie wees as iemand ons so sleg sou behandel, so die donkie het aanvanklik gereageer net soos ons sou, maar toe word hy baie stil. 'n Paar grawe vol grond later het die boer in die put afgekyk en was verstom oor wat hy gesien het. Met elke graaf vol grond wat die donkie se rug getref het, het die donkie dit afgeskud en daarop gaan staan.

Soos die bure en die boer aangehou grond gooi het bo-op die dier, het hy aangehou om dit af te skud en 'n tree boontoe te gee. Gou het die donkie die laaste graaf vol grond afgeskud, nog 'n tree op gegee, en reg uit die put geloop. Ons kan so baie uit hierdie verhaal leer.

Wanneer moeilikheid kom, as ons stil sal word en luister, sal God ons vertel wat om te doen.

Deur die genade en goedheid van God kon ek baie dinge in my lewe afskud, baie seergemaakte gevoelens, baie misbruik, baie mishandeling, baie onregverdige, onregmatige, onvriendelike dinge. Nes die donkie, om te kan aanhou en oorwinning te hê in ons lewens, sal ons moet leer om die probleme wat ons pad langs kom, af te skud.

[Ons leen hierdie van Joyce Meyer se blad af. Gaan besoek dit gerus: Uit die boek Nuwe Dag, Nuwe Jy deur Joyce Meyer. Kopiereg 2007 deur Joyce Meyer. Gepubliseer deur FaithWords . Alle regte voorbehou.]