Showing posts with label Verjaardag. Show all posts
Showing posts with label Verjaardag. Show all posts

Tuesday, 11 November 2025

'n Volle handvol kersies

Die week begin sommer met 'n verjaardagmaatjie. 'n Heerlike seuntjiekoek word in die eetsaal vir *Johan gegee en blikke van bewondering swiep oor die koek. 

'n Koek met 'n ruwe Safari-roete en vier karretjies daarop is die rede vir 'n vyfjarige seuntjie se sterre in sy oë.

Daar is geen twyfel dat sy verjaardag 'n baie spesiale dag op sy 2025-almanak is nie.

In Ruben se woorde: "Vreugde vir jou nuwe lewensjaar!" 

Tuesday, 21 October 2025

Tyd staan beslis nie vir Tommie stil nie!

Liewe Maats

Ek kan nie wag dat die son sy eerste strale oor Kimberley gooi nie. Dan vlie ons almal op en sing vir Tommie Veels geluk liewe maatjie omdat jy verjaar ... Tommie is vandag 'n volle jaar oud. Hy het egter so baie dinge gedoen en beleef dat 'n mens kan sê dat Tomme twee jaar se aktiwiteite in een jaar ingepas het.

Ek is so trots op my kleinboet, nog blyer dat ons dieselfde huis deel en die blyste dat tannie Christelle ons mensmamma is. Wat Christina Kiddie se inwoners in die mou voer vir Tommie se verjaardag, weet ek regtig nie. Ek het my ore gespits en snuif-snuif met my neus in die lug geloop, maar dis verniet of ek iets kon agterkom. My speurwerk was egter nie tevergeefs nie. Ek het 'n heerlike ontdekking gemaak waarvan niemand maar niemand weet nie. 

Net eers 'n bietjie agtergrond, voordat ek die aap uit die mou laat. Ouma Annie het vir Tommie leer koek bak, maar hy het nie regtig belanggestel nie, want niemand kan so met 'n houtlepel en 'n mengbak toor soos ons ouma nie. Die laaste keer wat ons in Petrusburg was, het ouma vir Tommie so 'n bietjie die fynere kunsies gewys en ook 'n geheim of twee met hom gedeel. Daaroor swyg hy natuurlik soos die graf en nie eens ek kon iets uit hom trek nie. Intussen het ek by myself gedink dat Tommie se belangstelling net 'n bietjies te oordrewe is en dat hy seker maar net in ouma se goeie boekies probeer kom.

Min het ek besef dat hierdie man met 'n plan werk. In die aande as ek my sekuriteitsrondtes doen, het hy na die kombuis gesluip en ouma Annie se resepte uitgetoets. Ek het skelm 'n foto van Tommie voor die stoof geneem, want ek weet julle sal my nie glo nie. Tommie het sy eie koek vir sy verjaardag gebak. Hy gaan blykbaar almal na skool by die swembadarea trakteer op sy fyngebak. Maats, sien ek nou uit na hierdie geleentheid! As julle kans kry, onthou julle is enige tyd na skool welkom om 'n draai by ons te maak. Wys net hierdie brief as julle toegangskaartjie by die hek.

Julle kan gerus vir hom 'n verjaardagkaartjie by die kantoor afgee - hy maak kaartjies bymekaar en elke keer as ons Petrusburg toe gaan, werk hy en ouma deur die kaartjies en oe en aa hulle twee dat dit 'n naarheid is. 

Tommie, namens die lesers en maats wil ek graag vir jou baie geluk met jou verjaardag sê. Dankie dat jy so 'n wonderlike broer, vriend, maat en luisteraar is. Dankie dat niks vir jou te veel is nie en dat jy altyd bereid is om die ekstra myl te loop en terwyl jy op die pad is, sommer ook die kalf uit die put te haal. Mag jou nuwe lewensjaar propvol vreugdespronge, baie blaf, min knor en baie snoepgoed wees. Ons is lief vir jou!

Hiep hiep hoera uit Kimberley! 
Ruben



Wednesday, 15 October 2025

Oor drie dae is die vonkels terug!

Elijah is 'n besige 9-jarige seuntjie met 'n pragtige spontane glimlag en ogies vol vonkels.
 
Onlangs het hy ongelukkig in 'n slaperige kindjie verander wat gedurig met baie hoë koors gesukkel het. Die ander kinders en baie grootmense het vir Elijah gebid - ook sy Juffrou Suzaan en gr. 3-klasmaats. 

Dokters en pediaters het kop gekrap, want hulle medisyne het nie vir lank gehelp nie. Elijah het selfs 'n draai by die tandarts gemaak en 'n tand is getrek. Maar pure verniet. Ons bekommernis het by die dag meer geword soos wat sy energie minder en minder geword het. 

Elijah is 'n baie brawe seuntjie en het van Vrydag af in die hospitaal gebly dat die dokters toetse kon doen om vas te stel wat die oorsaak van sy koors is.

Ons het vandag die goeie nuus gekry dat dit die infeksie aan die een kant van sy gesiggie is wat ook 'n drukking aan die ander kant van sy gesiggie veroorsaak. Dokter sê Elijah behoort na 3 dae van antibiotika weer perdfris en gesond te wees. Ons almal is verheug oor die goeie nuus. Ons huisfamilie het die spontane vriendelike seuntjie gemis en almal het gedurende die dag maar so 'n vinnige skietgebedjie na bo opgestuur as hulle aan Elijah dink of hom mis.

Met hierdie goeie nuus wat ons vandag van die dokter gekry het, beteken dit dat Elijah op 21 Oktober sy 10de verjaardag sal kan vier, saam met Tommie wat dan 'n volle een jaar oud gaan wees. In ons geestesoog kan ons al klaar die twee sien hardloop, spring en baljaar.

Baie, baie dankie vir Tannie Dorah Fredericks wat by Elijah in die hospitaal bly en slaap, en vir Tannie Mpho McGuire wat haar gaan aflos. Julle is Elijah se hospitaalengele wat sy hospitaalbang-hart sommer sterk laat klop.

Dankie ook vir al die dokters se omgeeharte en baie moeite - drs Marli Scheepers, Louise Hattingh, Stacey Preece, Anneri en al die ander spesialiste wie se name ons ongelukkig nie ken nie. Ons voel gerus en weet dat ons in omgeehande is.

Foto: Christelle Hattingh

Sunday, 27 July 2025

'n Besige verjaardagweek


Die afgelope week was 'n bedrywige verjaardagweek by Christina Kiddie. Die verjaardagwense was soet in die mond van hulle wat verjaar het.


'n Groot DANKIE aan Charlotte van die *Sandwich Shop wat aan elkeen die verjaardagkoek van sy of haar drome gebak het. Jy sit daardie ekstra onthou in 2025 se verjaardae en maak dit só spesiaal vir elke verjaardagmaatjie.

Sunday, 22 June 2025

Ruben praat oor kinderjare-onthou


Liewe Maats

Ek is só opgewonde, ek moet net die nuus met iemand deel. Ek het die afgelope week regtig 'n lekker verrassing gekry. Skielik het ek sommer verlang na my kinderjare, my maats, my skooljare en sommer net na die hele Petrusburg. Sal iemand vir my 'n foto kan stuur van Petrusburg? Is die strate nog so skoon en netjies? En kuier die kinders nog na skool by Uncle Charlie se kafeestoep? Op daardie stoep is groot drome gedroom, versugtinge uitgespreek en met verlange gepraat oor die groot stede met die mooi huise, duur karre en baie werksgeleenthede wat nie in Petrusburg bestaan het nie. Ek lê vanmiddag onder my dinkbank en ek wonder wat van al daardie kinders geword het. Kon hulle hul kinderdrome verwesenlik en leef hulle hul kinderdrome uit of  beleef hulle 'n nagmerrie op die stoep van die lewe.

Terug na my verrassing. Tannie Charlotte het verlede week die verjaardagmaatjie se koek kom aflewer. Nooit het ek geweet dat *Ruzanne se droomverjaardagkoek 'n kinderfoto van my sou ophê nie. Maats, daardie foto het my gedagtes met 'n spoed terug in tyd gestuur en soos 'n rolprent het my grootwordjare op Petrusburg voor my afgespeel. Ek het Ruzanne sommer net daar 'n leksoen teen die wang gegee, drie draaie om haar gehardloop, my stert amper afgeswaai en uitbundig van vreugde geblaf. Nie lank nie, of die buurt se honde het teruggeblaf! Wat 'n heerlike warm gevoel het in my binneste kom nesmaak.

Maats, tannie Charlotte se koekpresent vir Ruzanne was my herinneringsgeskenk. En op daardie oomblik het ek besef dat 'n mens onthou-oomblikke moet skep. Kinders moet speel, rondhardloop, boomklim, eenbeentjie spring (miskien ken julle dit as Hopscotch), kat-en-muis speel, kennetjie, aan-aan en so kan ek aangaan. Die speletjie waarvan ek die minste gehou het, was kennetjie - heeltemal te veel reëls vir 'n hond wat hou van hardloop. Speel julle nog hierdie speletjies of is julle vasgeplak aan julle fone? En by die huis is dit seker die TV of X-box? Weet julle daar is 'n opwindende lewe weg van die skerms?

Kinders kom die lewe in met bondels energie, baie idees en planne en 'n oop gemoed om te leer. Moenie dit voor 'n skerm deurbring nie. Kyk om jou en spring, lag en gesels. As jy eendag werk of te oud is vir speel, is dit die lekker herinneringe wat 'n reg-rondom-glimlag op jou gesig sit.

Weet julle outjies, ek het ook op Uncle Charlie se kafeestoep gestaan - elke dag - en oopmond geluister na kinderdrome. En ek het gewonder hoe my lewe na Petrusburg gaan uitdraai. En al wat ek in my geestesoog kon sien, was om iemand se waghond te wees. Die lewe het my tienvoudig geseën met 'n ongelooflike sinvolle lewe. Natuurlik is sekuriteit my hoofaktiwiteit, en ek doen dit met soveel liefde, want ek is vir baie meer as net my veiligheid verantwoordelik.

Ek is in Yvonne se woorde: 'n glimlagmaker, 'n trooster en 'n beste vriend. Dit is die lekkerste deel van my werk. Met my fyn ingestelde sesde sintuig weet ek sommer wie het 'n oor of 'n drukkie of net stilte nodig. Ek loop met bondels geheime in my binneste rond, ek herkou aan elkeen en probeer sover as moontlik die regte leiding gee.    

Ek (jare terug) tussen ouma
Annie se blomme. 
Die lewe gaan so vinnig verby - bou aan julle kinderherinneringe. Dankie, tannie Charlotte, dat jy ons verjaardae só spesiaal maak. Dat jy vir ons die genot gee om ons droomkoek te kan beskryf en jy ons koekprentjie in 'n werklikheid omskep.

Dankie, Ruzanne, dat jy my kinderprentjie gekies het - ek wonder wie jou gehelp het.

Dankie, tannie Christelle, dat jy elke vakansie met speelherinneringe vul wat eendag die rede vir ons reg-rondom-glimlag sal wees.

Speelgroete uit Kimberley tot 'n volgende keer!
Ruben

(* Naam verander.)






Monday, 5 May 2025

Ruben skryf spesiale verjaardagwense vir tannie Christelle


Liewe Maats

Ek skryf net 'n baie kort briefie om ons tannie Christelle terug te verwelkom by die werk. Ek het die laaste ruk aanmekaar vir julle geskryf en ek besef dat te veel van 'n goeie ding, nie goed is nie. Tog wil ek nie hierdie kans deur my vingers laat glip om vir tannie Christelle duidelik te laat verstaan dat ons haar gemis het en dat haar plek in die kantoor en in ons harte leeg was nie.

Ek, in my hoedanigheid as hoof van sekuriteit, het haar regtig gemis. Daar is so baie dinge wat ek graag met haar sou wou bespreek, veral as ek hond se gedagtes gekry het, maar dan het ek maar op my instinkte staatgemaak. Ek het hierdie afgelope week ook agtergekom dat jy nie slapende honde moet wakker maak nie, want jou eie honde byt die seerste.

Dankie, tannie Sanette, dat jy nie tannie Christelle se verjaardag vergeet het nie en dat jy vir haar haar gunstelingkoek gebak het. Ek, Tommie en ouma Annie het koppe bymekaar gesit om vir jou spesiale wense te skryf. Tannie Sanette het ons gehelp met al die byvoeglike naamwoorde.

'n Verjaardag is 'n sprankeling
wat jý alleen kan voel ...
'n Verjaardag is 'n warmte
wat jý alleen gewaar ...
'n Verjaardag is genoeglikheid
wat jý alleen verstaan ...
'n verjaardag is 'n dag,
net 'n bietjie sonniger,
en helderder,
'n bietjie liefliker
en baie gelukkiger
as 'n gewone dag ...
en die beste van alles ...
dis alles joune!

Liewe tannie Christelle, ons hoop dat jou verjaardag saam met jou familie baie spesiaal was en dat jy met ons definisie van 'n verjaardag saamstem.

Ruben-groete tot volgende keer!

Thursday, 24 April 2025

Verjaardaglooks!!


Ruben: My ouma Annie het altyd vir haar kinders en kleinkinders gesê dat hulle nie mooi en aantreklik hoef te wees nie, maar as hulle mooi doen, dan is hulle waardevolle viervoetige burgers vir die samelewing. Die soort honde wat die land nodig het. 

Ons familie is nou nie silwerdoek-materiaal nie, maar ons kan ons man staan en is die sout van die aarde honde. Groot was my verbasing toe Yvonne vir my 'n foto vra. Sy was taamlik geheimsinnig oor die rede en het net in my oor gefluister dat ek haar rolmodel is en dat sy my bewonder vir my dapperheid en waaksaamheid.

Ek het in my vier spore vasgesteek toe Charlotte Yvonne se verjaardagkoek kom aflewer het. Getrou op my pos by die voorhekkie, het ek gesien hulle sukkel om die groot koek uit die kar te laai en daar sien ek dat ek op die koek pryk ... lewensgroot! Ek kon my twee oë nie glo nie. Dankie, Charlotte, dat julle nie net Yvonne se dag spesiaal gemaak het nie, maar ook myne. Ek voel kompleet soos 'n hond met sewe sterte!     

Ek het spesiaal vir tannie Christelle gevra om 'n foto te neem sodat ek dit vir ouma Annie kan stuur. Sy is mos baie lief vir my en sy is ook baie lief om koek te bak en hier is haar twee groot liefdes gekombineer in 'n raar maar waar foto!

As enige iemand my modeltalente wil bekom, kan hulle gerus vir tannie Christelle kontak, sy sal sommer ook as my agent optree.

Tuesday, 18 February 2025

Ruben sê dankie vir sy verjaardagboodskappe


Liewe Maats 

Hierdie is net 'n kort briefie om vir julle dankie te sê vir die goeie verjaardagwense. Ek is skoon verras met die stortvloed van boodskappe. Dankie vir al die WA's wat ek op my mensma se foon gekry het. Elke een wat my op die stoep of in die tuin raakgeloop het, het vir my 'n kloppie op die rug gegee of my tussen die ore gevryf. Die belangstelling was verstommend. En dadelik het dit my getref: GESINDHEID! Wedersydse gesindheid teenoor mekaar maak die verskil. Julle goeie gesindheid teenoor my maak 'n verskil in my lewe.

Ek het werklik geliefd gevoel en om die dag af te kon hê, was al klaar vir my 'n groot present. Ek het egter nie my waaksaamheid verslap nie. Dis mos deel van my DNA en ek het nog steeds met gespitste ore deur die dag gegaan. 

Ek het vir tannie Christelle gevra om my verjaardagpartytjie klein te hou en 'n bietjie uit te stel. Na almal se vreugde, opgewondenheid en uitgelatenheid met Valentynsdag, gaan julle nie my verjaardagpartytjie met dieselfde entoesiasme benader nie. My verjaardag-in-aksie lê nog voor. Intussen suurdeeg ek sekere gedagtes by die inwoners wat met my kom hartsake gesels.

Ek het besluit my verjaardagpartytjie se tema moet gesindheid of gesindhede wees. Ek het besef hoe belangrik gesindheid is, veral in 'n koshuis soos hier by ons. Ons is een groot familie, elkeen met sy eie drome, probleme, agtergrond en aanpassingshekkies wat ons moet leer om te oorkom. Daarom moet ons ook mekaar help en dit vir mekaar makliker maak, al moet ons ook van ons kant af opoffferinge doen. Dink julle maats dat dit 'n goeie tema is? Julle moet weet in Petrusburg, my geboorteplek, is goeie karaktereienskappe by ons ingedril. My ouma Annie het gereeld gesê dat die dag wanneer ons die huis verlaat, word ons 'n lopende, blaffende en knorrende advertensie vir ons ouerhuis. My en Tommie se optrede op ander plekke weerspieël wat die wêreld van die jongmense van Petrusburg gaan dink.

As dinge in jou lewe sleg gaan, of die lewe se probleme en ongelukkigheid druk swaar op jou hart, kom praat met my. As ek nie op en af draf langs die heining om die pad te inspekteer nie, kan ons lekker op die gras onder die koelteboom sit en kuier. Ek is 'n baie goeie luisteraar en ek blaf nie mense se geheime uit nie. As van die kinders jou wegstoot, baklei of sleg behandel, skok hulle met jou gesindheid. Dis nie maklik nie, maar ek kan jou daarmee help en vir jou 'n bietjie van raad bedien. Onthou, ek het ook maar probleme gehad, ek was dikwels my blaf belet, ek was ook geboelie, maar my ondersteuningstruktuur het my deur hierdie kniehalterende probleme gedra. Wees mekaar se ondersteuningstruktuur.   

Maats, ek wil nie vir julle preek nie, maar ek is besig om vir Tommie die belangrikheid van goeie gesindheid te leer. En as julle my daarmee kan help, sodat Tommie kan sien hoe praat, speel en ondersteun outjies mekaar wat 'n positiewe gesindheid het, sal dit my werk ook makliker maak. Dis juis Tommie se opvoeding, die deel waarvoor ek verantwoordelik is, wat my aan die dink gesit het.

Op hierdie punt, my liewe maats, vra ek voorstelle vir my verjaardaggeselligheid. Hoe kan ek my tema gebruik dat ons hope pret en plesier kan hê, maar terselftertyd ook die Ruben-lewenslesse vir altyd sal onthou???    

Dankie, Petrusburg, vir die lekker koubene wat Courier Guy vir my afgelewer het. Tannie Christelle bêre dit vir my in die vrieskas en as ek op 'n Saterdag of Sondag wil herkou aan dinge wat my pla, dan kan ek dit al kouende aan 'n been doen.    

Maats, mag julle positiewe gesindheid die res van die week blom.

Ruben-groete tot 'n volgende keer!


Wednesday, 5 February 2025

Verjaardagengele bestaan regtig


Drie verjaardagengele het vandag by ons kom kuier!! Ons opgewondenheidsmeter het gevaarlik in die rooi in beweeg. 'n Yslike groot DANKIE aan Charlotte en haar twee regterhande, Mercia en Liezel, van die *Sandwich Shop. Charlotte het onderneem om 2025 spesiaal te maak deur vir elke inwoner sy of haar droomverjaardagkoek te bak. Elkeen van hierdie koeke getuig van liefde, omgee en kreatiwiteit.


* Klik HIER vir meer inligting!