Showing posts with label 1 Kor 13. Show all posts
Showing posts with label 1 Kor 13. Show all posts

Sunday, 15 June 2025

1 Korintiërs 13 vir Pa's

Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW ry, maar my vrou en kinders geniet nie die weelde van my teenwoordigheid nie, dan is ek so waardeloos soos 'n bankkrediet met 'n nulbalans.

Al het ek die gawe van woorde sodat ek 'n direksie met my argumente kan swaai, of skares na my preke kan laat stroom, en ek het nie die liefde om na my kinders te luister nie, doen ek meer kwaad as goed.

Al ken ek die geheimenisse van die Beurs en die Reserwebank, en al besit ek al die kennis van rugby- en krieketreëls, en al het ek al die geloof dat ons hierdie land met gebed kan verander, maar ek het nie die liefde om my kinders die gevare van baie geld te leer, langs die baan te staan as hulle speel of hulle te leer bid nie, dan het ek niks bereik nie.

Al gee ek 'n dubbele tiende vir die armes, en al beroem ek my dat ek in elke liefdadigheidsraad op my dorp dien en vakansies my gesondheid opoffer om in malariagebiede sendingwerk te doen, en ek is te moeg om saans vir my kinders boeke te lees of naweke in die veld te gaan stap, baat dit my alles absoluut niks.

'n Pa wat lief het, is geduldig met kinders wat sukkel met wiskunde,
'n Pa se liefde is vriendelik met 'n kind wat nie wil rugby speel nie,
hy is nie afgunstig op pa's met slimmer en mooier kinders nie,
hy is nie grootpraterig en verwaand oor sy kinders se prestasies nie,
'n Pa se liefde handel nie onwelvoeglik met die ma van sy kinders nie,
soek nie sy eie belang sodat sy huismense laaste kom nie,
is nie liggeraak en nukkerig as 'n kind bietjie ekstra aandag soek nie.
'n Pa wat sy kinders lief het, hou nie boek van hulle foute en peper hulle nie met verwyte nie.

'n Pa verbly hom nie oor 'n kind se foute met:
"Ek het jou gewaarsku maar jy wou nie luister nie"
Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat - selfs tot hulle eie nadeel.

Daarom wil ek my kinders se skandes met liefde bedek,
in hulle glo,
die beste vir hulle hoop,
en hulle kleredrag, klaery en kritiek verdra.

'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek van 'n ouer bly lank in 'n kinderhart. Maar die preek of toespraak wat ek liewer in die tyd wou skryf sal oormôre weer vergeet wees.
Vandag se noterings op die aandelemark is volgende week niks werd nie.
In die lig van die Volmaakte wat kom, word al my kennis en besittings gerelativeer.

Toe ek 'n jong man was, was ek gesteld op my voorkoms, my motor en my geleerdheid,
maar noudat ek 'n pa geword het, wil ek graag my kinders met liefde, balans en geloof grootmaak.

Nou kyk ek nog vas teen rebelse tienergesigte,
maar eendag as hulle groot is,
sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer,
en wat God ons almal leer.

En nou:
Geduld, aanmoediging en liefde bly,

Maar die waardevolste hiervan is onvoorwaardelike liefde!

[Outeur: Willem Botha en webruimte: www.heuning.co.za]

Sunday, 13 April 2025

1 Korintiërs 13: God se liefde

Skryf al die postiewe en negatiewe eienskappe van die liefde vanuit die oogpunt van God se liefde neer.

Linda van Heerden het probeer om in die een kolom te illustreer hoe God se liefde vir my die eienskap in die ander kolom bevestig. 

LIEFDE IS: GOD SE LIEFDE VIR MY IS ... 
Geduldig: Hy behou geduld met my wanneer ek dieselfde foute so herhaaldelik maak
Vriendelik: Hy glimlag áltyd as Hy my sien en is bly as ek by Hom gaan sit.
Verheug oor die waarheid: Hy hou daarvan as ek volkome eerlik is.
Dit bedek alles: Deur Jesus se bloed bedek Hy al my sondes en spreek my vry.
Dit glo alles: Hy glo áltyd net die beste van my.
Dit hoop alles: Hy bly hoop dat my oorgawe aan Hom elke dag sal toeneem.
Dit verdra alles: Hy word nie kwaad vir my gebrekkige vertroue in Hom wanneer ek in swakheid weer my eie kop volg nie.
Dit vergaan nooit: Hy is nimmereindigend, onveranderlik, ewig en konstant innig lief vir my.

LIEFDE IS NIE: GOD SE LIEFDE VIR MY IS NIE ...
Afgunstig nie: Hy is bly as ek my talente ten goede gebruik en trots daarop as ek presteer.
Grootpraterig nie: Hy spog nie oor alles wat Hy vir my gedoen en opgeoffer het nie.
Verwaand nie: Hy dink nie ek is benede Sy liefde en aandag nie.
Handel nie onwelvoeglik nie: Hy tree áltyd met respek teenoor my op.
Soek nie sy eie belang nie: Hy stel my áltyd voor Homself, Hy soek áltyd my beste belang.
Is nie liggeraak nie: Hy voel nie verwerp as ek te min aandag aan Hom gee en te min tyd saam met Hom bestee nie.
Hou nie boek van die kwaad nie: Hy gooi nie my sondes voor my kop nie, maar verwyder dit so ver soos die ooste van die weste af is van my.
Verbly hom nie oor die onreg nie: Hy word saam met my hartseer as slegte gebeure my hartseer maak.

[Linda Van Heerden]

Sunday, 6 April 2025

1 Kor. 13 in praktyk

Liefde is ‘n glimlag,
nie ‘n frons nie. 
Liefde is ‘n drukkie,
nie ‘n klap in die gesig nie.
Liefde is omgee,
nie misbruik nie.
Liefde is om die sambreel vir iemand in die storm te wees
en die reënboog na die storm.
Liefde is om iemand se trane af te vee,
nie dit te veroorsaak nie.
Liefde is om boek te hou van goeie tye,
nie die slegte tye nie.
Liefde vergewe
nog voordat iemand jou seer gemaak het.
Liefde maak van jou 'n ligtoring
wat vir ander die rigting wys in die donker.
Liefde maak van jou ‘n boom wat koelte gee
vir dié wat rus nodig het.
Liefde word nie gespreek nie,
maar gewys.
Liefde kan: * genees
                   * vertroos
                   * versterk
al het jy niks om iemand te bied nie,
maar jy het liefde wat geld nie kan koop nie,
is jy die rykste mens op aarde.

Sunday, 30 March 2025

1 KORINTIËRS 13 vir ons almal


Die liefde

1 Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: 
Al praat ek die tale van mense en engele,
maar ek het geen liefde nie,
het ek 'n stuk klinkende metaal,
'n galmende simbaal geword.
2 Al het ek die gawe van profesie
en ken ek al die geheimenisse
en besit ek al die kennis,
en al het ek al die geloof om berge te versit,
maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.
3 Al deel ek al wat ek het aan ander uit,
en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem,
maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.
4 Die liefde is geduldig,
die liefde is vriendelik;
dit is nie afgunstig nie,
is nie grootpraterig nie,
is nie verwaand nie.
5 Dit handel nie onwelvoeglik nie,
soek nie sy eie belang nie,
is nie liggeraak nie, 
hou nie boek van die kwaad nie.
6 Dit verbly hom nie oor onreg nie,
maar verheug hom oor die waarheid.
7 Dit bedek alles,
glo alles,
hoop alles,
verdra alles.
8 Die liefde vergaan nooit nie,
maar die gawe
van profesie sal verdwyn,
die gawe
om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou,
en dié van kennis sal uitgedien raak.
9 Want ons ken maar gedeeltelik,
en ons profeteer maar gedeeltelik,
10 maar wanneer die volledige kom,
sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees.
11 Toe ek 'n kind was,
het ek gepraat soos 'n kind, 
gedink soos 'n kind, 
geredeneer soos 'n kind.
Maar noudat ek 'n man is,
is ek klaar met die dinge van 'n kind.
12 Nou kyk ons nog
in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld,
maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.
Nou ken ek net gedeeltelik,
maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.
13 En nou:
geloof, hoop en liefde bly,
hierdie drie.
En die grootste hiervan is
die liefde!

[© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983]

Sunday, 23 March 2025

As 1 Korintiërs 13 net vir Mammas geskryf was ...

Al sou mamma die mooiste huis besit
en die lekkerste etes vir ons voorberei,
maar dit nie met liefde doen nie,
dan is dit so waardeloos soos 'n leë kastrol.

Al is mamma die besigste mamma op die beheerraad
en koop vir my eendag die duurste sporttoerusting,
maar mamma het nie die tyd
om my langs die sportveld aan te spoor nie,
dan sal dit my niks baat nie.

Al koop mamma 'n kamer vol van die duurste opvoedkundige speelgoed
en betaal sakke vol geld vir ekstra klasse,
maar mamma sit nie ook self by my
en speel of sukkel met die skoolwerk nie,
dan sal dit my niks baat nie.

'n Liefdevolle mamma is geduldig met my,
sy tel maar partykeer my speelgoed en klere op.
'n Liefdevolle mamma is lankmoedig en vriendelik,
sy laai haar motor maar somtyds vol kletsende,
bakleiende, swetende skoolkinders.

Mammas vergelyk nie hul kinders met ander kinders nie
en is nie verwaand oor prestasies nie.
Mammas bedek skrape met liefde en pleisters en glo in my,
hoop net die beste vir my en verdra die klaery en kritiek.

My gewasde en gestrykte wasgoed word weer vuil
en 'n netjies huis weer deurmekaar ...
maar 'n opregte drukkie
en 'n intieme gesprek sal vir altyd in my kinderhartjiebly.

Eendag sal ons huis en sy binnekant tot niet gaan,
maar mamma en ons gesin se siele sal ondersoek word.

Toe mamma nog 'n jong meisie was,
was mamma gesteld op mamma se mooi voorkoms en aardse besittings,
maar noudat mamma 'n MA is, het ons kinders die belangrikste geword.

Een van die dae kyk mamma miskien vas in 'n opstandige tienergesig,
maar eendag as ek groot geword het,
sal ek die vrugte pluk van die LIEFDE
wat mamma in my kleintyd gesaai het.

En nou bly, AANDAG, GEDULD en LIEFDE, hierdie drie,
maar die waardevolste hiervan
is die onvoorwaardelike LIEFDE van 'n mamma!

* Die waarde van 'n mamma moet elke dag raakgesien en gewaardeer word, nie net op Moedersdag nie.

Klik HIER om 1 Kor. 13 vir pa's te lees.

Sunday, 16 March 2025

As 1 Korintiërs 13 net vir Pappas geskryf was:

'n Pa verbly hom nie oor 'n kind se foute met:
"Ek het jou gewaarsku, maar jy wou nie luister nie."
Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat.
Daarom wil hy sy kinders se skandes met liefde bedek.
In hulle glo,
die beste vir hulle hoop,
en hulle kleredrag, klaery en kritiek verdra.
'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek
van 'n ouer bly lank in 'n kinderhart ...
Maar die preek of toespraak wat hy liewer in die tyd wou skryf - 
sal oormôre weer vergete wees.
Toe ek 'n jong man was, 
was ek gesteld op my voorkoms,
my motor 
en my geleerdheid ...
Maar noudat ek pa geword het,
wil ek graag my kinders met liefde,
balans en geloof grootmaak.
Nou kyk ek nog vas teen rebelse klein gesiggies,
maar eendag as hulle groot is,
sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer,
en wat God ons almal leer.
En nou: Geduld, aanmoediging en liefde bly.
Maar die waardevolste hiervan is 
ONVOORWAARDELIKE LIEFDE!!!

[Dankie, Anoniem, vir die deel hiervan.]