Sunday 31 December 2023

Gebed vir 2024

Ek is net ‘n vonkie lig,
Maak my ‘n vuur, Here!
Ek is net ‘n snaar
Maak my ‘n viool.
Ek is net ‘n druppel, Here,
Maak my ‘n fontein.
Ek is net ‘n molshoop,
Maak my ‘n berg.
Ek is net ‘n veertjie,
Maak my ‘n vlerk.
Ek is net ‘n bedelaar, Here,
U maak my ‘n
KONINGSKIND
Amen

[JJ Jacobs]

[Dankie, Anoniem, wat hierdie Nuwejaarsgebed deel.]

Think about this ...


Fri
(end), boyfri(end), girlfri(end), bestfri(end) ... everything has an end to it, except for fam(ily) it has I love you.

Saturday 30 December 2023

Heerlike vakansie-aktiwiteit


Wat is lekkerder as koekies bak? Miskien om die koekies te doop in 'n beker koffie en dit proe-proe te eet? En die hele bakproses in daardie enkele hap te proe, sien en voel? 

Meng en proe in die kombuis is altyd lekker en so bietjie mors op die tafel tydens die meng, uitrol en uitdruk is mos toelaatbaar. Tussendeur kan 'n mens mos ook na hartelus proe of die bestanddele darem in die regte verhouding is. Vrydag was 'n goeie dag vir bak en brou en die resultate was pakkie vir pakkie die moeite werd.

Thursday 28 December 2023

Wednesday 27 December 2023

1089 keer dankie!

1089 KEER DANKIE AAN VANDAG SE 1089 BESOEKERS/BESOEKE!
ONS WAARDEER ELKEEN VAN JULLE!

Kindertjies is baie spesiaal vir God!

Ek saam met die sanger
Matthys Roets
Ek is Katie Marais en ek is met longontsteking gebore. 

Die antibiotika wat ek vir die longontsteking moes drink, is die rede dat ek my gehoor verloor het. Niemand het dit geweet nie en ons het dit eers uitgevind toe ek 3 jaar oud was. Na baie toetse het ek apparaatjies gekry en 'n nuwe lewe het vir my begin. Ek het dit só geniet om die voëltjies te hoor sing en almal te hoor lag en praat. 

Tóg was dit nie altyd maklik nie. Ek moes 3 jaar se spraak inhaal. Met die spraaktannie en God se hulp het ek dit binne 6 maande alles ingehaal. 

Toe kom my volgende skok ...

Ek het oornag in Covid-tyd my gehoor nog verder verloor. Ek het my linkerkant se 50% alles verloor en 'n verdere 1% regs. Ons moes ander tipe apparaatjies kry. Vandag het ek net 4% gehoor.

Uitdagings is daar baie, want met te veel vog, gaan my apparate net dood. Soms in skooltyd! Dan voel ek sommer lus om te sit en huil. Maar dan druk my Juffrou my styf vas en ek weet sommer God het daardie drukkie gestuur. Alles gaan regkom.
 
Ek saam met die akteur van
o.a. Binnelanders, Eric Holm
Daar was dae wat ek vir Mamma gesê het dat ek nie apparate wil dra as ek groot is nie. Ek kon sien Mamma was bekommerd en ek is seker sy het vir Liewe Jesus hulp gevra. Die volgende dag het ons na 'n danskompetisie gekyk. Iets wat ons nooit doen nie. Een van die wenners was Rose en raai wat? Sy is doof en dra haar apparate met trots. Sy het dadelik my hero geword en ek het besef dat God my eintlik geseën het om my so uniek te maak. 

Ek is vreeslik lief vir dans en sing. Ek het ook aan die skool se Revue deelgeneem. Ek is in 'n hoofstroomskool en met God en al my geliefdes se hulp, presteer ek baie goed in die skool. Ek maak baie staat op liplees, maar met elke uitdaging is ek in God se Hande. 

Ek het besef dat daar baie kinders is wat doof is, wat verlam is, wat blind is en wat ook sonder ouers is. Ons het almal een ding in gemeen: Ons is God se spesiale kinders. Hy hou ons altyd vas, al weet ons dit nie. Ons kan enige tyd van die dag of nag met God praat. Hy luister en Hy het ons lief. Ook in die Bybel lees ons dat kindertjies baie spesiaal vir God is. 

Ons moet altyd weet dat al is ons omstandighede of dag sleg, daar is altyd iets om oor bly te wees, want God het ons lief.

Klik HIER om die bladsy met my Dinsdaggedagtes te lees. 

Rosetta se goeie wense:


Mag jy altyd onthou
om die positiewe te kies
in elke situasie waarin jy jou bevind. 

Monday 25 December 2023

Maandagmotivering


Kersfees is 'n tyd van geskenke, liefde en omgee. Ons almal ervaar dit in oorvloed in hierdie tyd. Mense lag, gesels en is vriendelik. Die moeilike deel is om elke dag goed te doen, om te gee en vir jou medemens lief te wees en om daarna te streef om elke dag beter te wees as die vorige dag. Mense wat so lewe is gelukkiger mense. En gelukkige mense is ook gesonder mense. Ons redaksie se wens vir elke leser is om hierdie Kersfeesgevoel elke dag in 2024 uit te leef.

Merry Christmas


We told Santa you were good this year. Merry Christmas to you and enjoy your day!

Thursday 21 December 2023

KJSS-vakansieprogram


Lang warm dae in Kimberley tydens die lang Desember-skoolvakansie vra vir 'n vakansieprogram. 

Christelle Hattingh sê dat die program nie net lekker gaan wees en groot pret aan die kinders verskaf nie, maar dit gaan ook goed wees vir hulle groot en klein motoriese vaardighede. Met Kersfees net om die draai, het die entoesiastiese deelnemers vandag elkeen hul eie kartonkeël gekry om sy of haar eie Kersboompie te maak. Dit het almal se belangstelling geprikkel, want hulle het die afgelope naweek vir Kersvader in lewende lywe ontmoet en met die besoek van nog 'n Kersvader in die pyplyn, het hulle kreatiwiteit nie perke geken nie. 

Hulle voltooide Kersboompies gaan as tafelversierings in die eetsaal dien. 


Voordat die deelnemers aan die werk gespring het, het tannie Estelle gesorg dat die energievlakke op die regte hoogte is vir Kersboominspirasie. 




Foto's: Christelle Hattingh

Wednesday 20 December 2023

Rosetta se goeie wense:


Mag die Here jou altyd
in die waarheid lei, 
want Hy is die Weg,
die Waarheid en
die Lewe. 

Monday 18 December 2023

'n Salige swemdag


Somer, son en swem gaan hand aan hand. 'n Hele dag se baljaar in, om en langs die swembad het gesorg dat die hongerpyne goed knaag. Maar gelukkig was daar iemand wat solank die vuur gestook het en die vleis gebraai het ... innerlike versterking op 'n bord. Dankie, oom Sarel, dat jy ons kom bederf het met 'n braaivleisie.

Foto's: Christelle Hattingh

Maandagmotivering

Saturday 16 December 2023

O, kindjie

O, kindjie
klein onskuldig en rein,
jy wat dra aan soveel pyn,
jou vuil gesiggie grootoog bang,
O, grootmensboelie
hoekom ontneem jy 'n kind sy blye kindergesang,
hoor jy nie jou kind se huil,
kan daar soveel wraak in jou skuil,
O waarom slaan jy nie eerder jou vuis teen 'n muur,
hoekom moet jou kind soveel verduur,
O, Here, gee ons kinders krag,
vul hul met U getroue liefde elke dag,
dra elkeen wat op straat is deur die donker nag,
Here, vul ons wêreld met kinderlag,
omvou elke kindjie met u hande sag,
Vader, ek wil elke mishandelde kind aan U opdra,
Vader, u liefde is al wat ek vir hul vra.

Geskryf deur Kala Williams © Kala Williams
[Besoek gerus die digter se FB]

Dankie, Anoniem, dat jy hierdie gebed met ons deel.

Kimberley Bakkie Centre loop of liewer ry die ekstra myl


26 inwoners kon hulle oë nie glo toe kersvader se bakkie voor die koshuis stop nie. Dit is beslis die grootste en lekkerste verrassing van 2023. 'n Ekstra groot dankie aan Bakkie Centre wat vir Kersvader vervoer het en wat ook gesorg het dat al die geskenke, eetgoed en pizza hul eindbestemming veilig bereik het. Kersvader het sommer aan Bakkie Centre se deur geklop vir assistente om hom te help - elke inwonertjie se gesig is met Kersvaderverf ingekleur - wat hierdie verf so spesiaal en uniek maak, is dat dit gemeng word met baie liefde, klomp laggies en vakansievrolikheid. Almal is bly, lag baie en maklik en elke keer as jy aan hierdie spesiale dag dink, sorg hierdie verf  dat daar dadelik 'n groot glimlag op jou gesig verskyn.

Bakkie Centre, ons wense vir julle vir hierdie feesseisoen is dat elkeen oorvloediglik geseën sal word, dat die vreugde van Kersfees wat julle so mildelik uitdeel, deel sal word van 'n voorspoedige 2024. Dankie vir die voetspore wat julle in mense en kinders se lewe laat.

Wednesday 13 December 2023

Dankie, Meneer en dankie juffrou!



'n Dankie-boodskap so uit die hart van hulle wat nie altyd 'n maklike pad het om te loop nie. Dankie vir elke onderwyser wat in 2023 'n glimlag, 'n drukkie en 'n helpende hand uitgesteek het. Dit is dinge wat 'n verskil maak in mense en veral kinders se lewens.

Ons kinders sê dankie vir hul onderwysers met hul eie kunswerk aan die een kant en 'n boodskap aan die ander kant op 'n botteltjie met die mini-koekies. 

Boodskap: "Net 'n ietsie kleins om 'n 1000 dankies te sê dat u my in 2023 help groei en ontwikkel het."

Hierdie boodskappie kom uit die hart. Die kinders het die afgelope Saterdag aan hulle kunswerke en geskenkies spandeer. 

Foto: Christelle Hattingh

Rosetta se goeie wense:


Mag ons elkeen besef
dat ons Jesus nodiger het,
as die bloed in ons are
en die suurstof in ons longe.

Saturday 9 December 2023

Kuruman: Werkswinkel vir veiligheidsouers


Christelle Hattingh, Areabestuurder van Kindersorg SA Noord-Kaap, het vanaf 5 tot 8 Desember nege veiligheidsouers en twee maatskaplike werkers van die John Taolo Gaetsewe Distrik in Kuruman opgelei. Deelnemers is bemagtig met basiese kennis van relevante artikels van die Kinderwet 38 van 2005, verantwoordelikhede van veiligheidsouers, ouerskapstyle, persoonlikheidstipes van kinders, en hantering van spesiale behoeftes, gevoelens en gedragsuitdagings, asook kommunikasievaardighede met kinders en aanleer van beskermende gedrag. 

Elke dag is met 'n inspirasie, gebed en sang begin.

Opleidingslokaal




Die deelnemers hard aan die werk. Hierdie geleentheid vir kuns was baie terapeuties en die deelnemers het hul kreatiwiteit uitgeleef.











Die maatskaplike werksters, Tsolo en Dimakatso, met hulle kunswerke wat hulle tydens die interessante en leersame werkswinkel gedoen het.










Deelnemers het elkeen 'n bederfbotteltjie ontvang wat elke oggend met snoepgoedjies gevul is. 'n Soet gedagte om die dag mee te begin. 



Die mooi omgewing het tot die positiwiteit en verryking bygedra. 






Foto's: Christelle Hattingh

Klik HIER vir nog foto's.