Showing posts with label Noord-Kaap. Show all posts
Showing posts with label Noord-Kaap. Show all posts

Tuesday, 29 July 2025

Begrotingsrede


Die LUR van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in die Noord-Kaap, die agbare me. Nontobeko Vilikazi, het vandag haar begrotingstoespraak in Kimberley gelewer. Christelle Hattingh, bestuurder van die Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum, het die insiggewende geleentheid op uitnodiging bygewoon.

Vir me. Vilikazi is die jeug van ons land en in die besonder die jongmense van die Noord-Kaap belangrik en ons elkeen moet hulle help en ontwikkel om die beste weergawe van hulself te kan word en om vir hulle 'n toekoms te help bou. Dis belangrik dat al die partye hande moet vat om hierdie ideaal te verwesenlik.

Op die foto verskyn 'n verteenwoordiger van FAMSA, die agbare me. Vilikazi en Christelle Hattingh.

Sunday, 27 July 2025

Binnekringnuus: FNB-verrassing op 'n sonskyn Saterdag


Interne korrespondent: FNB-vrywilligers weet net wat klein handjies nodig het om 'n Saterdagoggend korter te maak - emmertjies en grafies ... dit klink mos nou soos 'n seevakansie in Kimberley. Die kombinasie van son, sand en speel is die perfekte skakelaar om gedagtes te verplaas na 'n vrolike en onvergeetlike strand-aktiwiteit. 


Emmertjies en grafies vorm al jare deel van eendag se ontelbare kinderjare-onthou. Dankie, FNB-vrywilligers, dat julle ons Saterdag en ook sommer die Saterdae wat kom, speellekker maak.


Die dogters het onmiddellik die moontlikhede van modderkoekies raakgesien, terwyl die seuns grootskaalse grondverskuiwingsmoontlikhede met grafies en emmertjies kon raaksien. Daar is niks soos vars lug, son, sand en verbeelding om van al die skoolkommernisse te vergeet nie. 


Tannie Maria het skil-skil gesorg dat al die bakkers, bouers en brouers genoegsame vitamine C (by die "see") inkry, terwyl Tommie 'n wakende oog oor al die gebeure hou.

Foto's: Christelle Hattingh

Saturday, 26 July 2025

Binnekringnuus: Saterdagmiddag in die Noord-Kaapse winterson


Interne korrespondent: Wat 'n heerlike Saterdagmiddag het die klomp nie gehad nie. Die wintersonnetjie het warm geskyn en die kleinspan het besluit om modderkoekies te bak - die eindresultaat het die voorkoms van sjokoladekoekies gehad. Nie almal was so ingenome om hul hande vuil te mors nie, gevolglik het hulle die spyseniering in die hande van die jongeres gelos. Dié was glad nie onwillig om dit te doen nie, want die afgelope week het 3 van die maats verjaar en daar is eenparig onder die kleinspan besluit dat tuisgebakte modderkoekies die kersie op hulle verjaardagkoek sou wees.

Die groter dogters het besluit dat papierpoppe 'n meer kreatiewe manier is om hul oggend in die wintersonnetjie deur te bring en het die koekbakkery so op 'n afstand dopgehou ... en dan was daar ander wat net in die son gesit en bak het en af en toe gedink het! 

Aanbod: Daar kan op spesiale aanvraag modderkoekies gebak word. Dit kan egter net op 'n Saterdag gebeur aangesien skoolwerk al die vrye tyd in die week opslurp.      

Sunday, 27 April 2025

Ruben praat oor Vryheidsdag


Liewe Maats

Vandag wil ek graag vir elkeen van julle 'n gelukkige Vryheidsdag toewens. Dis regtig 'n spesiale dag in ons geskiedenis.

Ons word regtig in opwindende tye groot. Ons kan ons sterte waai van opwinding. Maar Maats, vryheid beteken elkeen van ons het 'n groot verantwoordelikheid. Ons gewone outjies hier op grondvlak moet net kyk dat ons almal ordentlik behandel en verdraagsaam teenoor mekaar optree. Ken julle die groot, maar kort woord ETIEK?  Moenie jou etiek verkwansel in 'n kliek van rebelse honde en oneerlike mense nie. Dis belangrik dat ons op hoë vlakke van ordentlikheid funksioneer.  

Julle leer mos presies hoe belangrik 27 April is. Vryheidsdag is 'n openbare vakansiedag wat ons jaarliks herdenk ter herinnering aan die land se eerste demokratiese verkiesing wat op dié dag in 1994 begin en die dag daarna geëindig het. 

Maats, ek kan nog die opwinding onthou. Ons almal het vasgenael voor die televisie in my ouma Annie se huis in Petrusburg gesit. Opgewondenheid is nie net 'n menslike emosie nie. Ons klomp kinders en kleinkinders het in verskillende tale geblaf, en ouma moes ons meer as een keer maan om stil te bly, want sy kon nie hoor wat die televisie-aanbieder sê nie.

Maar wat beteken vryheid vandag vir ons??

Die mag of reg om op te tree, te praat of te dink soos ’n mens wil, maar nie sonder verantwoordelikheid nie. 

Julle sien, daar is verskillende vorms van vryheid wat ons tot ons beskikking het. Onthou, ons kan en moet vir onsself doelwitte binne hierdie grense van vryheid skep. Moenie dat ander inwoners in die koshuis hulle vryheid misbruik om jou vreugde te steel nie. Daar is baie vreugdestelers in ons land, ons skool, ons familie ... Almal wat jaloers is op jou, gebruik hulle ongelukkigheid om jou reg tot vreugde te steel. Onthou, jy het die vryheid tot keuse. Kies in hierdie deurmekaar wêreld dinge wat vir jou goed en heilsaam is.

Daar is egter 'n groot bekommernis wat swaar op my hart lê. Hierdie baie vakansiedae kan lei tot luiheid. En nou wonder ek hoe hanteer jy die klomp vakansiedae? Gooi jy darem 'n oog in jou boeke? Goeie punte is 'n vorm van vryheid wat vir jou deure oopmaak tot verdere vryheid. Het jy dit geweet?  

Mag jy 2025 se Vryheidsdag jou persoonlike vryheid en vreugde geniet, want jy mag!

En op hierdie hoë noot, blaf ek vir elkeen van julle 'n heerlike dag toe.

Ruben-groete tot 'n volgende keer!

Friday, 21 February 2025

Ruben praat oor Wêreldmoedertaaldag


Liewe Maats

Hierdie is net 'n kort ou briefietjie om julle te herinner aan Wêreldmoedertaaldag. Dit maak nie saak hoeveel tale jy kan praat nie, jou moedertaal bly die basis en wegspringplek van al die ander tale.

'n Onlangse berig wat ek gelees het, beskryf die term moedertaal as volg: Jou identiteit spreek uit die woorde wat jy geken het lank voordat jy jouself geken het!

Maats, hierdie is 'n mondvol. Ek moes self hierdie stukkie twee keer lees, sodat die waarde van die sin by my kon insink. En ek weet ek stem saam, want blaffiaans kom sonder dink by my op. 
 
Dis in my moedertaal waar ek tuis voel ... die taal waarin ek kwaad word ... die taal waarin ek omgee ... die taal waarin ek droom! Vier vandag jou moedertaal saam met ons klomp hier by Christina Kiddie!
 
Dankie dat julle so goed gereageer het op my uitnodiging vir oorspronklike moedertaalgedigte. Ek het die gedigte teen die kennisgewingbord vasgespeld. Gaan lees gerus die oulike pogings. Julle klomp is regtig oorspronklik. Ek plaas die eerste drie gedigte wat ek gekry het:

* Die beste woord
in my moedertaal is brood
Die tweede beste een
is beslis been
alhoewel ek been bo brood verkies
sê ek dit sommer tong in die kies!

* Ruben is ons geliefde huishond
deesdae is Tommie ook hier rond
ons is baie lief vir albei
en maak seker dat hulle ons nie vermy.

* Бехтарин сухан
ба забони модарии ман нон аст
Дуюм беҳтарин
бешубҳа устухон аст
гарчанде ки ман устухонро аз нон афзалтар медонам
Ман инро бо забон мегӯям!

En op hierdie hoë noot, blaf ek vir elkeen van julle 'n heerlike naweek toe.

Ruben-groete tot 'n volgende keer!

   

Sunday, 2 February 2025

Ruben is warm op die spoor van Februariemaand se doen en late


Liewe Maats

Januarie, die maand van nuwe dinge, lê op sy rug. Ons het reeds die deur vir Februarie oopgemaak - 'n maand propvol aktiwiteite. 

Februarie blaas mos die beuel as dit kom by watter maand die rekord hou vir die hoogste temperature. Mensig maats, ons bak uit hier in die Noord-Kaap. Gelukkig is Februarie ook die kortste maand en is dit die grensmaand tussen somer en herfs. Ek moet erken ek wens vanjaar dat herfs en winter gouer sal kom. Maar tipies van ons spesie, sal ons weer iets anders kry om oor te kla.

Vandag wil ek met julle praat oor 'n ander aspek van Februarie. Februarie is mos Moedertaalmaand. Toe ek dit in die koerant lees dat Unesco dit op 17 November 1999 aangekondig het om onder andere veeltaligheid te bevorder, het ek dadelik aan my oupa Willie gedink. Kyk, oupa Willie was 'n man wat enige tyd vir die Valke kon werk of as 'n tolk in die hof sy woord gestand kon doen. Blafiaans is die amptelike taal van Petrusburg, maar oupa kan verskeie streekstale verstaan en praat. Ek is spyt dat ek nie na oupa Willie geluister het toe hy sê dat 'n mens nie net jou moedertaal moet kan praat nie. Geen hond kan van hom skinder nie, Toypommees, Labradees, Maltees, Pekinees en enige variant van Terriaans val goed op oupa se oor.

Op 21 Februarie gaan die hele wêreld Wêreldmoedertaaldag vier. Maar ons hier by Christina Kiddie gaan dit anders doen. Ek wil hê dat jy wat hier lees, vir my 'n gedig in jou moedertaal moet skryf. Julle kan dit onderdeur tannie Christelle se deur skuif. Ek sal dit met haar reël. Of e-pos dit sommer vir my of skryf jou gediggie by die kommentaarafdeling. Ek sal gereeld daar gaan loer.

Tommie blaf hier van die kantlyn af dat julle groot moet gaan met julle gedigte. Ek sien hy raak deesdae baie hans.

Ek wonder wie van julle luister nog radio. Ek het netnou gou vir ouma Annie gebel, om te hoor hoe dit met die Vrystaters gaan. Toe vra sy my om 'n bietjie later te bel, want sy en oupa luister na RSG se boekvoorlesing en hulle wil niks mis nie. Dit was vir my nuus. Ek gaan Google toe die belangstelling in radio en val amper op my rug. Besef julle maats dat daar wêreldwyd ongeveer 44 000 radiostasies is. In Suid-Afrika is daar 248 gemeenskapstasies en 40 kommersiële uitsaaistasies. Ek dink ons staar ons so blind teen die vierkantige kassie in die speelkamer en die klein skermpie in ons hand, dat ons vergeet dat daar 'n wêreld vol kennis op lug is. Hoekom soveel prysgesange vir die radio?

13 Februarie is Wêreldradiodag. Nog iets wat ek eers vandag geleer het. Ek het net geweet van Valentynsdag toe ek op skool was. 

Wel, Februarie is vir eeue die maand van liefde, omgee en spesiale dankies. Kom ons maak vanjaar deeglik daarvan gebruik. Valentynsdag in aksie hoef nie vir jou 'n sent uit die sak te jaag nie. Sê dankie met 'n drukkie vir julle huisouers en omgeepersoneel wat dinge vir julle soveel makliker probeer maak. 'n Briefie of kaartjie in eg Valentynse styl kan anoniem by die tafelsitplek gesit word en 'n mooi hartsgediggie is nie te versmaai nie. (Ek bied met liefde my digterlike hulp aan!!) 

En onthou, wat jy ookal doen op 14 Februarie, doen dit in ROOI!!

Rooi Ruben-groete tot 'n volgende keer!



Thursday, 25 July 2024

Terugflits: Elke dag kans op 'n nuwe begin

Almal beleef trauma. Sommige mense op 'n gereelde grondslag, ander mense dalk slegs een of twee keer in 'n leeftyd. Sommige mense se graad van trauma is draaglik, ander s'n dalk so intens dat dit vir hulle onhanteerbaar voel.

Lindie Stander, of soos mense haar beter ken - grootbek Elize van Binnelanders - het voor die kruispad in haar lewe te staan gekom nadat sy op 'n vroeë ouderdom aan geweldige trauma blootgestel is.

Sy was onlangs die gasspreker op 'n geselligheid van die Jeneka-vroue-instansie in Kimberley.

Om Stander te hoor gesels is 'n belewenis. Tussen haar uitbundige lag en onderdrukte trane deur handhaaf sy 'n vreemde soort balans wat haar luisteraars vasgevang hou terwyl sy haar lewensverhaal vertel: 'n verhaal van seerkry en wanhoop, maar ook 'n verhaal van vergifnis en nuwe kanse.

Stander het die lewe met die camino in Santiago vergelyk. Dit is 'n pelgrimstog van 807 km wat sy twee keer in haar lewe gestap het. Die eerste keer was voor haar poging om haar eie lewe te neem, die tweede keer 'n jaar daarna. Elke mens durf sy of haar lewe op hul trant met besonderse uitdagings, berge en dale en rusposes aan. Almal op pad na een spesifieke eindpunt in hul lewe.

Nie net getuig Stander se verhaal van 'n tweede kans in die lewe nie, maar ook van vergifnis - nie net om vergewe te word en ander mense te vergewe nie, maar om jouself te vergewe. Ons almal maak foute. Ons almal maak die verkeerde keuses. Ons almal kan dit in 'n meerdere of mindere mate regmaak.

Stander se verhaal laat 'n mens besef elke dag is 'n kans op 'n nuwe begin.

En dit gee die hoop wat nodig is vir 'n mens se pelgrimstog.

[Noordkaap Bulletin - Lesersjoernalis - Karin Muller - gaan maak gerus 'n draai by dié koerant]

Thursday, 2 May 2024

Maak vrede met jou foute

'n Kommentator op 'n internasionale tennistoernooi het gesê dat dit twee weke neem om 'n tennistoernooi te wen, maar net 'n uur om dit te verloor. Dit is waar van die meeste sportsoorte, maar ook van ons eie lewe.

Dit neem dalk jare om 'n goeie reputasie op te bou, goeie verhoudings te vestig en jou in jou werk te bewys, maar dit is ook moontlik dat al hierdie harde werk binne oomblikke in duie kan stort. Dit is nie noodwendig weens iets wat jy gedoen of besluit het nie. Soms is dit omstandighede wat so iets tot gevolg het en soms is dit wel te danke aan jou eie handewerk.

'n Mens kan redeneer dat dit onregverdig is, maar dit is wat die lewe is - onregverdig. Die gehalte van jou werk en jou toewyding word nie altyd raakgesien nie, maar die enkele fout wat jy begaan, sal baie lank onthou word. Jy sou wou redeneer dat die 100 dinge wat jy reg gedoen het sekerlik gewig moet dra en darem ten minste moet vergoed vir die fout wat jy begaan het, maar die situasie is gewoonlik nie oop vir redenasie nie. 'n Fout is 'n fout. Jy moes twee keer gedink het, beter opgelet het, verder geredeneer het. Dat almal foute maak, is op daardie oomblik ook nie van belang nie.

Ons probeer hard. Ons almal maak foute. Die enigste manier om te verhoed dat jare se goeie werk tot niet gemaak word, is om toe te sien dat die fout wat jy maak nie van so 'n aard is dat dit op die lang termyn 'n negatiewe impak op ander se lewe het nie. Vergewe as daar vergewe moet word, want binnekort het jy dalk iemand ander se vergifnis nodig.

[Bron: Noord-Kaap: Potpourri - Karin Muller]    

Wednesday, 31 January 2024

Bekendstelling van "Maalkolk van gevoelens"


'n Heerlike bederf-geleentheid in die hartjie van die Noord-Kaap. 'n Digbundel uit die stal van Turksvy Uitgewers word eerskomende Woensdag bekendgestel.

Vriende en belangstellendes kan Ina van Vuuren se digbundel, Maalkolk van gevoelens, warm van die pers af, by hierdie geleentheid aanskaf. 

Poësie is só verrykend en 'n kans om saam met die digter te kuier, is 'n bonus. Digters sê dikwels dat die skryf van gedigte  'n emosionele proses is. 'n Stukkie van die digter se siel word met die leser gedeel.

Klik op die program om die oggendgebeure duidelik te sien.

Klik HIER om een van die gedigte uit die bundel, Maalkolk van gevoelens, te lees.

Klik HIER om meer van Turksvy Publikasies te wete te kom.

Friday, 19 January 2024

Ina van Vuuren



Soos ’n ryp vrug, reg om gepluk te word wag hierdie digbundel sy leser in.
Begeer hy om te onthul skatte van eers, kosbaarhede van nou.

Pak sy woorde, sy sinne en verse,
binne-in jou hart
se tas.

[Met apologie aan die digter: lees die gedig, Namibië, waaruit hierdie aanhaling kom, HIER!

Hierdie bundel, uit die hart van die warm Noord-Kaap, wag om gelees te word en herlees te word. Bietjie-bietjie en proe-proe totdat die woorde soos 'n vaal karos 'n lêplek in jou hart kan vind.  

Digter: Ina van Vuuren
Kontaknommer: +27 78 918 7388 en +27 82 789 9276

Bestel die boek direk van die digter by bogenoemde nommers.