Showing posts with label Onderwysers. Show all posts
Showing posts with label Onderwysers. Show all posts

Sunday, 9 November 2025

Ekstra klasse voor die eindeksamen!


Skoolhoof van Christina Kiddie Primêre Skool aan die woord:
"Ons het besluit om d
ie skool toe te rus met 'n alarmstelsel en CCTV-kamerastelsel voor die skool se formele opening. Sekuriteitskameras in skole en publieke areas het die hedendaagse norm geword. Leerders voel veiliger en ons het lankal aanvaar dat kameras deel van ons daaglikse lewe is. Dit is met groot genoegdoening dat ons kan sê dat op dag 2 het die leerders reeds vroeg al ekstra klasse bygewoon om hulle punte vir hierdie eksamen 'n hupstoot te gee. Sommer hope sterkte vir julle eksamen en mag julle die vrugte van julle harde werk pluk."  

Foto's: Christelle Hattingh

Nuwe skool in Kimberley: Die Christina Kiddie Primêre Skool

Ontmoet die skoolhoof en adjunkhoof van Christina Kiddie Primêre Skool
Die veelsydige sekretaresse en van die leerders!
Een van die onderwyseresse en kinders hard aan die werk!
Die kinders hard (en minder hard) aan die werk!

Foto's: Christelle Hattingh

Thursday, 2 October 2025

Waarderingsboodskappe betyds afgelewer vir Sondag se onderwyserdag


Sondag is Wêreld-onderwysersdag en omdat dit in die kort Septembervakansie val, het Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum besluit om hul waarderingsboodskappe vandag aan die ses skole te gee waar KJSS-leerders betrokke is.


Skool is nie altyd lekker vir leerders nie, maar elke dag staan daar 'n onderwyser voor sy of haar klas en dra by tot die drome van ons land se kinders. Goeie onderwysers is die rede waarom gewone leerders buitengewone dinge kan en wil doen. Waardering skop dikwels eers in as die voorreg van mense wat omgee jou nie meer beskore is nie.

Daarom dat die 450 verpakte koekies saam met die mint-boodskap hul weg na die personeellede van Newton Laerskool, Eureka Laerskool, Elizabeth Conradie Skool, NJ Heyns Spesiale Skool, Adamantia Hoërskool en Noord-Kaap Hoërskool gevind het.

Fotograaf en bakker: Christelle Hattingh

Monday, 30 December 2024

Ruben sê: "Ouboetwees is nie maklik nie."


Liewe Maats

Die dinamika hier op die CK-werf het drasties verander. Almal se sintuie is nou Tommie-skerp. 

Tommie is 'n boompie wat gebuig moet word, voordat slegte gewoontes kan kans kry om pos te vat. Ons moet kyk dat hy nie verdwaal nie, dat hy nie wegloop nie, dat hy nie baklei of ander terg nie, dat hy nie onnodig blaf nie, dat hy sy maats reg sal kies, dat hy besef wat is die gevare in en om die huis en nog hope ander dinge. Dis 'n verskriklike groot verantwoordelikheid om 'n ouboet te wees. En dan moet ek onthou dat ek eintlik die oë en ore van Tannie Christelle is, dat die sekuriteit van CK nog my belangrikste taak is en dan wil-wil my knieë knak onder die verantwoordelikheidsbesef.

Tommie se lekkerste tydverdryf is gate grawe. Baie gate. Orals. Daarom moet hy 24/7 dopgehou word, want om 'n gat onderdeur die heining te grawe, en stil-stil tussen neus en oë te verdwyn, is nie moeilik nie. En Tommie besef nie die gevare in die stad nie. Hy kan so maklik raakgery word, of ontvoer word of in 'n hondegeveg betrokke raak met die rondloper skolliehonde en die onderspit delf. Onthou, hy kom van Petrusburg af waar almal na almal se kinders, katte en honde kyk. En as jy jou dáár op 'n verkeerde plek bevind, word jy aangepraat, die lyne warm gebel en is jy spoedig terug onder jou ma se dak waar jy hoort. 

Nie in die stad nie. Hier raak 'n mens onsigbaar en verdwyn baie maklik tussen die skare. Hier moet jy 'n doelbewuste besluit neem om nie die hoofstroom te volg nie. Dit is dus noodsaaklik om 'n mentor of  'n "voorloper" te hê. Ek wil nie net Tommie se ouboet wees nie, ek wil 'n voorbeeld vir hom stel. Ek wil nie vir hom vertel wat reg of verkeerd is nie, hy moet dit in my lewe sien ... in my elke dag se doen en late.  

2025 gaan sy eie uitdagings aan my stel en Tannie Christelle se standaarde is hoog. Vir haar wil ek nooit teleurstel nie. Daarom is my grootste doel vir hierdie nuwe jaar om met soveel entoesiasme en blydskap te lewe dat ander jaloers gaan wees op my lewensvreugde, 'n voorbeeld vir Tommie te stel, en die beste sekuriteitsbeampte te wees wat ek kan wees. 

Ek kan nog baie byvoeg en ook vir julle maats 'n paar wenke en gedagtes gee om julle aan die dink te sit, maar dit moet so 'n dag of drie oorstaan. 'n Mens moet besin oor wat jy met jou lewe wil doen en op watter manier 'n mens 'n positiewe bydrae kan maak. Daar is genoeg moeilikheid en probleme in die wêreld. 2025 kan nie net 'n herhaling van 2024 wees nie, dan het 'n mens mos niks geleer nie en ook nie emosioneel gegroei nie.  

Ek groet eers - gaan 'n paar balle saam met Tommie skop en vir hom saamneem op my heininginspeksierondte. Hy moet sommer vroeg-vroeg al leer wat verantwoordelikheid is.  

Ruben-groete tot 2025!

Wednesday, 25 December 2024

Ruben se blink Kersfeesster


Liewe Maats

Hier is my beloofde brief waarin ek my superduper goeie nuus met julle wil deel. Geeneen van vanjaar se hoogtepunte (en daar was baie) kan kers vashou by Vrydag, die 13e Desember nie. Eers kon ek my oë nie glo nie en baie versigtig dog ek dis 'n kuiergas, want kuiergaste kom en gaan, maar toe Tannie Christelle vir my kyk en knik, toe weet ek hierdie kuiergas het gekom om te bly. 

Met drie bokspringe, wou ek dit aan die wêreld uitblaf, maar Tannie Christelle het gesê dat dit eintlik my Kerspresent is wat 'n bietjie vroeër gekom het, sodat ons kan sien of  hy sal aanpas. Maar ek moet nie nou al vir almal vertel dat ek my Kerspresent gekry het nie - dit kan dalk groot ongelukkigheid tot gevolg hê! So my verstand het my tot stilswye gemaan, as my hart wou hand uitruk.

Maats, my borskas het dubbeld die grootte geswel van vreugde en trots. Ek kon glad nie my kraaghemde dra nie, want 'n trotse man, sukkel om sy hemp se knope toe te kry. Ek voel asof ek sweef en geen werk was die afgelope twee weke moeite nie!

Ja, Tommie het Vrydag, die 13e, in my lewe en in my hart ingestap!

Bitter groot was my blydskap toe ek hoor dat ons nie net van dieselfde dorp af kom nie, maar dat ons bloedfamilie is. Ons is volbloed Vrystaters, Petrusburgers, maar word in die Noord-Kaap getoë.

Ek is nou 'n ouboet! Tommie is my eerste prioriteit. Genugtig maats, skielik het my verantwoordelikheidsmeter die hoogte ingeskiet. Besef julle dat ons mekaar se prioriteite is? Dat ons moet uitkyk vir mekaar, mekaar moet bemoedig, mekaar moet aanmoedig en sorg dat ons die spieël is waarin die ander een na sy of haar weerkaatsing kan kyk? 

My eerste gedagtes in die oggend is Tommie en in die aand as ek my moeë oë toemaak, is dit met 'n glimlag, want Tommie was deel van my besige dag!

Tommie was vreemd en onseker en ek onthou my eerste dag by Christina Kiddie soos gister. Bangerig - vreemd - alleen en half verlore - en julle outjies het my dadelik ingetrek, en my 'n volbloed Christina Kiddie-inwoner gemaak - want elkeen van julle onthou julle eerste dag soos gister! 

Ons is die Christina Kiddie-familie - ongeag - en met hierdie wete het ek Tommie se skaduwee geword. Voorwaarts ontdek hy sy nuwe wêreld, nuuskierig toets hy grense en tandeknersend laat ek alles net tot op 'n punt toe voordat ek voel ek moet ingryp. Saam met vryheid, kom verantwoordelikheid. So het julle outjies my leer ken. Ons moet mekaar voortdurend motiveer, aktiveer, en werklik inspireer, maar beslis ook dissiplineer.

Die wêreld lê oop voor Tommie, daar is soveel leergeleenthede en dis ons elkeen se plig om goeie spore in Tommie se lewe te trap. 

Ons praat gou weer. En intussen moet ons seker maak dat ons gekalibreer is vir 2025.

Ruben-groete!

Sunday, 15 December 2024

Ruben is nie skaam om sy tekortkominge in die oë te kyk nie. Hy gaan daaraan werk!


Liewe Maats

Ek het regtig baie lank terug vir julle geskryf. Ek voel skoon skuldig, maar met al my verpligtinge hier op die terrein en die eindeksamen, het ek werklik my pote volgehad met ongesiene toesig en natuurlik veiligheidswerk.

Gelukkig kan ek darem rapporteer dat ons almal kan asemhaal na 'n spanningsvolle en vinnige vierde kwartaal en dat ons nou net kan vakansie hou.

Ek was Donderdag so opgewonde dat jy met my kan toor. My rede was die blou swembad, voor die hoof se kantoor. Die een wat toegegrendel is en waaroor 'n mens nie eens kan klim vir 'n vinnige afkoelswem nie. Ek hou hierdie swembad al 'n hele klompie maande dop en wonder hoe dit sal voel om my pote nat te maak. Maar ek het nog nooit die geleentheid gekry nie. As die kinders swem, is ek gewoonlik op hekdiens en dan hoor ek net hoe almal gil en jil en ek wonder of ek ook só plesierig sal voel.

Wel, Donderdag, die 12e, was my kalenderkringetjiedag! Tannie Christelle het besluit dat ek saam met die kinders kan speel, baljaar en swem. Ek dink die hittegolf het die swembad se hek oopgedwing en onder die wakende oog van ons ma, kon ek nie wag om in te spring nie. En daar moet ek tot my bittere skande uitvind dat ek effens versigtig vir die water is. Ek kan nie spontaan swem soos wat ek verwag het nie. 

Miskien het dit iets met my grootwordjare te doen. Julle moet weet ek kom van Petrusburg se omgewing en het my verstand in die dorre Noord-Kaap gekry. Dit beteken water is nie iets waarmee of waarin jy speel nie. Dit is kosbaarder as korale in hierdie droë areas. En dan moet ek verder bieg: Die veearts het vir Tannie Christelle gesê ek doen duidelik te min oefeninge en as ek volgende keer vir my verpligte besoek by haar 'n draai maak, wil sy 'n verskil op die skaal sien. My veerkragtigheid waarmee ek laas somer so kon spog, het hierdie somer verander in 'n hoop minder beweeglike spiere. En treetjie vir treetjie is ek die swembad in - my verskoning - ek wil nie golwe in die water maak terwyl die kleintjies so lekker baljaar nie. Ek het my eerste draaie in die koel blou waters gemaak, maar dit het nie die bekoring ingehou wat ek verwag het nie. Ek het gedink ek sal soos Eno's borrel en bruis, maar helaas was ek eintlik 'n besadigde Ruben wat net sy lyf so effens natgemaak het. Net daar op die swembadtrappie het ek besluit om minder onder die koeltebome te lê, minder draaie by die kombuis te maak, terwyl ek so uitbundig vir die personeel knipoog en my stert swaai en met groter ywer my patrolliewerk te doen - dubbeld die hoeveelheid, want dit gaan sommer ook nou my fiksheidsoefeninge wees. Fiksheid van been, kan dalk net my swempogings verbeter.  

Ek het gelukkig 'n video waarop my historiese wateroomblik vasgevang is. Ek gaan dit nie op FB sit nie. As 'n lewenscoach is ek voortdurend op soek na temas waaroor ek met die jongmense kan praat en as ek self 'n VOOR- en 'n NA-ervaring het, kan ek mos uit ondervinding praat. Ek gaan die video volgende jaar vir julle wys, want Donderdag was wel my eerste swem, maar nie my laaste swem nie.

Die kringetjie op my kalender is om te herinner aan my opgewondenheid, my intense teleurstelling en my vasberade voorneme dat swem my nie gaan wen nie. Ek sal julle op hoogte hou van my vordering.

Ek groet tot volgende week, wanneer ek my breë-bors-nuus met julle gaan deel. En daarvan het ek heelwat foto's. Raai gerus! Ons praat weer.

Ruben-groete!

  

Friday, 18 October 2024

Ruben dink terug aan sy matriekjaar en gee padlangs raad vir die graad 12's


Liewe Maats en al my graad 12-vriende

Ek het besluit om my goeie wense vandag, julle amptelike laaste dag by die skool, oor te dra. Ek het 'n paar van julle raakgeloop in julle getekende hemde en groot smiles. By 'n paar het ek stilgestaan, my stert geswaai en 'n paar lekker uitbundige blawwe gegee sodat julle weet ek dink aan julle. Ek verstaan julle gesplete gevoelens op hierdie stadium. Julle is só bly en opgewonde, want amptelik is skool iets van die verlede - vir altyd, maar die oomblik as julle aan Maandag se twee vraestelle dink is julle aan die eenkant bly dat dit nie wiskunde is nie en aan die anderkant is 6 ure se vraestelle 'n dodelike sit wat bepaald in die nie-eksamen-fiks-gebeentes gaan inklim.

Op 'n ernstiger noot - die jaar is verby, nog net die laaste hekkie van julle graad 12-wedloop en dan is julle in die pylvak. 15 Januarie word die lint gebreek as julle uitslae bekend gemaak word. Dan is dit jy en die grootmenswêreld daar buite.

Ek kan nie help om aan my matriekjaar terug te dink nie. My matriekjaar was vir my 'n heerlike ondervinding. Ek het geleer om baie leerwerk in 'n kort rukkie baas te raak, goed op te let in die klas - die enigste rede was dat my leerwerk by die huis dan die helfte minder was. Ons was so baie kinders by die huis en ons moes elke dag ons kant bring - tuinwerk, gras sny, hout kap, ens. Teen die aand as alles rustig geword het, was die tyd vir huiswerk relatief min - ons almal moes om die kombuistafel sit met die kers in die middel van die tafel onder ma se wakende oog aan die onderpunt van die tafel. En as jy nou vir ma die bont hond wou inmaak, moes jy onderlangs knor of blaf.
Ek het by die skool geleer om leiding te neem by die ACSV en die skaakklasse en al hierdie ondervindings en vaardighede wat ek geleer het, het ek my eie gemaak en in my hart gebêre vir later. Ai, Maats, by die huis kon ek nie waag om leiding te probeer neem nie, my twee ouer broers het my dadelik met die grond gelyk gemaak en dan het Maggie, my ousus - my g r o o t ousus - sommer die vloer met my gevee. Met my eerste werk kon ek nog naweke by my ma-hulle gaan kuier, want ek het net tydelik by tannie Ethel, die afgetrede kostertannie gaan bly. Daar het ek besef hoe goed my onderwysers my vir die toekoms voorberei het.   

Weet julle wat vir my ironies is? Hierdie tyd van die jaar is niemand meer lus vir leer nie. Ons is opgeleer en al die ekstra klasse het die laaste druppel energie uit jou lyf getap. En nou moet jy die belangrikste eksamen van jou lewe aanpak. Jy voel amper asof jy op outomaties is: reageer soos van jou verwag word sonder om te dink. Om te voel of jy alles wat jy klaar geleer het, vergeet het, is normaal. Om te voel asof die eksamen nooit gaan begin of ophou nie, is ook normaal. Om te voel asof almal en alles jou irriteer (veral by die huis), is beslis ook normaal. (Veral as ma kort-kort oor jou skouer loer om te sien of jy nog steeds op dieselfde bladsy sit. Ek het baie later eers besef dis ma-liefde, 'Skuus, Ma.) Hou net kop, bly gefokus en moenie iemand se kop afbyt nie. Dit verg selfdissipline.

Die einde is in sig, en al waaraan jy op die stadium wil dink, is wat alles volgende jaar voorlê. Exciting dinge! Nie boring goed soos bepaal x as y ..., of skryf ‘n opstel oor sinvolle kommunikasie in die hedendaagse families nie.

Om gespanne te voel is normaal. Matriek is 'n jaar vol spanningsfaktore en aan die einde van die jaar kan dit nogal oorweldigend raak. Praat met iemand wat jy kan vertrou. Klou aan jou drome vas, moenie dat spanning, stres en huiskonflik jou droom steel nie. Jy is amper by die wenpaal.

Wat moet jy nou doen?

Gaan sit en leer ... gaan skryf ... rus ... ontspan en begin weer leer. Herhaal hierdie roetine vir die volgende 4 weke. Jy sal oorleef ... ek het!!

Spesiale Ruben-groete!


Saturday, 5 October 2024

Ruben dink aan sy kinderjare en waardeer sy oudonderwysers


Liewe Maats

Die laaste kwartaal van 2024 is reeds 'n week oud. Nou stoomroller die jaar einde se kant toe en oor minder as 8 weke is julle klaar met eksamen en is die skrif aan die muur en die punte op die rapporte!

En terwyl ons nou op die onderwerp van skool en rapporte is, ek hoop nie julle het vergeet dat dit vandag Wêreld-Onderwysersdag is nie. Ek hoop julle het Vrydag vir elke juffrou 'n dankiedrukkie gegee. Hulle doen soveel moeite, help ons, ondersteun ons en bid vir ons. By die skool is die onderwysers mos ons ouers. 

Ek in die laerskool
En eintlik is die enigste manier hoe ons regtig vir hulle kan dankie sê, is om ons huiswerk gereeld te doen, hard te leer vir ons toetse en vir die eksamen en op te let in die klas, sonder om te praat of erger nog, terug te praat.

Het julle al mooi daaroor nagedink - onderwysers is ons kinders se toekoms. Hulle maak ons gereed vir die wêreld daar buite. Baie dankie aan al die onderwysers vir jul liefde, wysheid en toewyding vir die kinders van ons land.

Ek wil graag vir my oudonderwysers in Petrusburg uit my hart uit dankie sê dat julle ons geleer het om selfstandig te dink en te handel. Dat omgee, naasteliefde en dissipline drie woorde is wat sommer in een sin gebruik kan word. Dankie vir al die ekstra klasse oor naweke toe ons vir ons belangrikste eksamen voorberei het. Vandag kan ek met trots my matrieksertifikaat vir enige werkgewer wys, want daar is nie een skaamkrypunt op daardie rapport nie.  

Dan wil ek sommer ook vir tannie Christelle dankie sê dat sy deur harde werk en daadwerklike handeling vir ons 'n voorbeeld stel. Tannie Christelle het 330 koekies in die laat ure van die aand gebak en met liefde verpak, kaartjies gemaak en geknip - amper 'n week lank - ek weet, want ek wou nie gaan slaap het, voordat tannie Christelle nie klaar was nie. Volg hierdie voorbeeld na, ook as julle die ouers van kinders is - ons leer waardevolle dankielesse!!!
 
Terug by die eksamen - daar is geen tyd meer oor om te speel nie, behalwe ... miskien ... dalk ... moontlik ... op 'n Saterdagmiddag. Maar dit gaan die uitsondering wees.

Ons moet nou handevat en mekaar help. Ons wat in dieselfde graad is, moet vir mekaar die werk verduidelik of beter nog, as jy klaar geleer het, vra jy vir jou maat vrae om te toets of hy sy werk ken. Ek onthou so goed dat ek en my suster vir mekaar vrae gevra het om te kyk of die ander een werklik geleer het. Sy het altyd vir my die moeilikste vrae gevra en as ek die derde vraag verkeerd geantwoord het, het my ma na my kant toe geblaf dat ek my werk ordentlik moet gaan leer, want ek mors almal in die huis se tyd. 

My (slim) suster
Ai, julle, dan het ek maar my boeke gevat en ekstra hard geleer. Twee dinge het vir my gehelp om die feite van die leervakke te onthou: Ek het die werk hardop gelees, sodat ek meer gefokus kon bly en die ander belangrike hulpmiddel was opsommings - ek het my werk goed opgesom in Blaffiaans en dan het ek op en af in die gang geloop en dit hardop gelees. As ek te lank op een plek stilgesit het, het ek sulke lang gape gegee en as ek my kom kry, was ek vas aan die slaap - en in groot moeilikheid. 

As ek hierdie twee riglyne gevolg het, kon my suster my nie uitvang met enige van haar moeilike vrae nie. En dan knik my ma haar kop goedkeurend en vra vir my hoekom het ek nie in die eerste plek ordentlik geleer nie, maar ai julle outjies, julle weet self dat 'n hond maar altyd kort pad wil vat en altyd
My (streng) ma
hoop vir die beste. My ma het altyd na ons huiswerk gekyk en gesorg dat ons altyd ons skryfwerk en leerwerk goed doen. Vir haar was 'n matrieksertifikaat belangriker as kos. Wat jy daarna gaan studeer, was vir jou eie rekening.  

Ek dink spesiaal aan julle met hierdie uiters kort kwartaal - mag dit net goedgaan. Druk gerus op my knoppie as ek julle kan help. My ma stuur groete en sê dat 'n goeie sessie swoeg en sweet nog niemand skade gedoen het nie.

Ruben-groete tot 'n volgende keer.

Dankie aan elke engelmens wat ons kinders onderrig


Ruben sê: "Ek dink vandag terug aan al die onderwysers wat my lewe, maar ook elke kind in Christina Kiddie se lewe verander het, in ons geglo het, en vir ons geleer het hoe om die onbekende toekoms binne te gaan. Dankie vir elke bousteen wat ons kan gebruik om ons toekomsfondasie te kan lê. Ons eer elke hoof en elke onderwyser en sal vir altyd dankbaar teenoor julle wees. Gelukkige onderwysersdag aan elkeen van ons ongelooflike onderwysers!"

Ns. *Hierdie foto van my is geneem toe ek in die laerskool in Petrusburg was - baie jare terug. 

Friday, 4 October 2024

'n Choc chip-koekie met 'n hartsboodskap


'n Hartlike goeiemôre aan elke opvoeder, admin beampte en ondersteuningspersoneellid by die vier skole en een kleuterskool waar Chrsitina Kiddie se kinders ingeskryf is. Môre is Wêreld-Onderwysersdag en al die moeite en die ekstra myle wat geloop word, word raakgesien en waardeer. 

Chrsitina Kiddie sê vandag DANKIE met 'n choc chip-koekie en 'n hartsboodskap vir alle onderwysers:
  Wat jy by die leerders in jou klas los is meer as net jou woorde - dit is wat jy doen en wie jy is!

Sunday, 11 February 2024

Gedig: Is dit jou vriend?

Is jou vriend die breker in die skool wat
nie tyd het vir die klein outjies nie,
met die onderwysers bots en daaroor lag
en altyd iets gewaags aanvang?

Is jou vriend die voorbok wat jou aanpor
om 'n dop of 'n skyf of 'n pot te neem en
jou uitlag as jy nee sê?

Is jou vriend die ou met die gladde mond
wat op ander skree en vloek
hulle met woorde afknou en verneder,
en sy pad deur die wêreld ooplieg?

Is jou vriend 'n spotter
wat fout vind met jou ouers en
julle huisreëls belaglik laat lyk?

*****

'n Wyse mens kies sy vriende versigtig.
Hy kies nie vriende wat hom die afgrond
in sleep nie,
maar vriende wat saam met hom
die regte lewenspad loop!! 

Tuesday, 30 January 2024

“MÔRE KLAS!”


Hierdie brief is spesiaal vir alle onderwysers en opvoeders regoor die wêreld wat motivering verloor het en soms nie waardeer word nieEk hoop dat dit jou sal bemoedig om met die groot en belangrike werk wat jy doen, voort te gaan!

“MÔRE KLAS!”

As dít die manier is waarop jy mense by jou werksplek groet, is dié spesiaal vir jou geskryf. Volgende week begin die skole weer. Hoekom gaan jy terug? “Want dis my werk!” Is dit jou antwoord? Jy is die juffrou of meneer wat ander mense se stoute kinders of tieners deur nog ‘n jaar moet help, met baie moeite en min waardering. So ja, dis jou werk. Jy’t dit mos gekies.

Ek glo dat baie dinge in ons lewens beter kan word as ons net sou stilstaan vir ‘n oomblik en onsself ‘n paar vrae vra. So om terug te kom na my eerste vraag: Hoekom gaan jy terug? Of eerder, hoekom het jy onderwys gekies? Wat het jou gemotiveer om ‘n onderwyser te word? Kom ons wees eerlik, geen tiener maak klaar met hoërskool en dink ‘ek kan nie wag om terug te kom nie’! So wat is dit wat jou lewe in hierdie rigting gestuur het? Ons almal weet dit was nie oor geld nie… Miskien vier vakansies? Of was dit ‘n liefde vir kinders, vir mense…?

Jy sien, motivering speel ‘n baie groot rol in ons lewens. Hoekom ons sekere dinge doen sal uiteindelik bepaal hóé ons dit doen. As jou motivering baie laag is, sal jy tog nie jou beste insit in ‘n les wat jy al twintig keer aangebied het nie. En as jou motivering baie hoog is, sal jy daardie selfde les vir ‘n een-en-twintigste keer aanbied asof dit die eerste keer is wat jy dit vir enige iemand leer. Dis hoekom motivering verskriklik belangrik is.

Ek hoor jou – en al die ander onnies (kan ek julle maar so noem?) – wat met teleurstelling sug en sê dat motivering saam met dissipline by die deur uit is. Daarna is dit doodgedruk deur ander onderwysers wat kompeteer vir posisie en leierskap wat geen simpatie en belangstelling toon nie.

Maar hierdie realiteite was nie daar toe jy jou lewe gekies het nie. En niks van hierdie probleme behoort invloed te hê op jou motivering nie.

Ek wil jou uitdaag om terug te gaan na die tyd toe jy opgewonde was om skool te hou. Die motivering, my liewe juffrou en meneer, was binne-in jou – nie buite nie. Jy was opgewonde. Jy het liefgehad. Jy het hoop gehad. Ek wil jou uitdaag om hierdie jaar anders te begin as vorige jare. Begin met ‘n hart vol verwagting en opgewondenheid. Miskien sal die volgende paar punte jou moed gee vir hierdie nuwe skooljaar.

  • Jy het net sowat 200 skooldae om ‘n groep mense se lewens te verryk. Ja, daardie klomp wesens wat nie kan spel nie en heeldag na elektroniese toestelle in hulle hande staar, is die volgende generasie – en JY het 200 dae van hulle lewe in jou hande! Hou op om jou vak aan te bied. Leer mense. Dink aan jou gunsteling onderwyser toe jy op skool was. Wens jy nie daardie onnie kon al jou vakke aanbied nie? En wat het daardie onderwyser spesiaal gemaak? Jy kan vir die kinders en tieners in jou klas, ‘n “gunsteling onnie” word. Aan die einde van elke dag, vra jouself of jou leerders beter af is omdat hulle vandag met jou tyd spandeer het. Die antwoord sal jou sê of jy lewens verander het of net tyd laat verby gaan het.
  • Moenie vergeet dat daardie leerder wat voor jou sit dalk die enigste liefde van ‘n volwassene by jou as onnie gaan kry nie. Jou woorde en jou dade gaan ‘n lewenslange uitwerking op daardie kind se lewe hê. Ja, hulle kan jou mal maak en jou moed het dalk in jou skoene gesak toe jy uitvind ‘n sekere mannetjie is hierdie jaar in jou klas! Maar dis juis daardie kind wat jou nodig het. Doen bietjie moeite met onmoontlike kinders. Gee ekstra aandag en liefde. Die grootste verandering kom net as gevolg van groot liefde. Jou woede en kwaai woorde gaan geen verskil maak nie. Dit gaan waarskynlik net die seer wat alreeds diep gewortel is, verskerp. Jy kan die kwaai onnie wees vir wie almal bang is of jy kan die onnie wees wat lewens verander.
  • Elke leerder wat voor jou sit, het potensiaal. Hulle besef dit dalk nie eens self nie. Maak ‘n keuse om elkeen se potensiaal raak te sien, maak nie saak hoe stil of hoe stout die kind is nie. Jou geloof in hulle is dalk al wat hulle nodig het om suksesvolle volwassenes te word. Die beste en mooiste geskenk wat jy vir jou leerders kan gee is om in hulle te glo wanneer hulle nie eens in hulself glo nie. Moenie net in die 80% en 90% leerders glo nie. Kyk vir daardie outjie wat 50% kry en sê vir hom julle gaan saam werk om dit 55% te maak!
  • JY HET POTENSIAAL! Potensiaal is ‘n saad wat nooit doodgaan nie en dis binne-in ons almal geplant. Wat is jou potensiaal? As jy dieselfde mens is as wat jy laas jaar was, het jy nie gegroei nie. Verandering is nodig! Jy moet groei. Jy moet jou potensiaal najaag! Jy moet ‘n beter mens en onderwyser word! Jou potensiaal eindig die dag wanneer jy jou laaste asem uitblaas. Moenie dat dit vroeër eindig nie. Gee jou alles – vir jou man of vrou; vir jou eie kinders; vir jou leerders; vir jou kollegas; vir jou hoof; vir jouself. Moet niks terughou nie. Leef voluit!
  • En dan laastens, hou passie lewendig in jou hart. Ek ontmoet onderwysers op ‘n daaglikse basis wie se passie-vlam lankal geblus is. Ek besef dat daar baie redes is, maar passie is ‘n hartsaak. Wanneer jy passie het vir wat jy doen, het jy nie motivering nodig nie – jou passie motiveer jou. Steek weer daardie vuurtjie aan die brand en raak opgewonde oor die invloed wat jy op mense se lewens kan hê! Jy is SO NODIG in ons samelewing! Ons het jou nodig! Die wêreld het jou nodig!

Ek wil graag eindig met ‘n ietsie oor myself. Ek het jare gelede ‘n woord gekies wat ek dink my as mens 100% beskryf. Sonder om vir iemand daarvan te vertel het ek toe vir my man, my ma en vir ‘n vriendin ook gevra om vir my ‘n woord te kies. Ek het nie woorde om vir julle te sê hoe opgewonde ek was toe hulle almal dieselfde woord as ek gekies het nie. My woord is “teacher”. Ek gee nie skool nie, maar dis WIE ek is. Ek IS ‘n “TEACHER”. Daar is nie ‘n dag in my lewe wat ek nie vir iemand iets wil leer of self iets wil leer nie. Dis asof dit my hartklop is. En dit is die rede vir hierdie brief aan jou. Ek het ‘n passie vir onderwysers en ek wil jou graag help om jou passie lewendig te hou.

Teen die muur in my studeerkamer regoor my lessenaar staan geskryf:

“I WAS BORN TO SERVE SPECIFIC PEOPLE! I HAVE GOT TO FIND THEM!”

Ek wil jou uitdaag om elkeen wat jou pad langs kom te sien as iemand vir wie jy gebore is. Jy is veronderstel om in hulle lewens te wees. Maak dit die beste tyd van hulle lewens en dit sál jou beste tyd wees.

Onnie-groete!

Debbie de Jager 

Klik HIER vir FB-inligting en ook HIER!

Klik HIER vir die verhaal oor die potlood! 

“GOOD MORNING CLASS!”


This letter is to all teachers and educators around the globe who might feel demotivated or unappreciated.  I hope that this letter will encourage you to continue the great work you are doing in educating the next generation of leaders throughout the world!

“GOOD MORNING CLASS!”

If this is the way you greet people at your workplace, this letter is especially for you.  Next week the bells will ring at our schools again.  Why are you going back?  “Because it’s my job!”  Is that your answer?  You are a teacher to other people’s naughty kids or teens and have to get them yet again through another year with a lot of effort and little appreciation.  But it’s your job.  You’ve chosen this path.

I believe that many things in our lives could improve if we would just stop for a moment and ask ourselves a few tough questions.  So to get back to my first question:  Why are you going back?  Or rather, why did you choose to become a teacher?  What was your motivation?  Let’s be honest, no teenager leaves high school thinking ‘I can’t wait to come back’!  So what propelled your life in this direction?  We all know it was not about the money…  Maybe four holidays?  Or could it be a love for children, for people…?

You see, motivation plays a major role in our lives.  Why we do certain things will ultimately determine how we do it.  If your motivation is very low, you will not put your best effort into a lesson that you have given twenty times already.  If your motivation is very high, you will take that same lesson and present it for the twenty-first time as if it was the first time that you were teaching it to someone.  That’s why motivation is extremely important.

I hear you and all the other teachers out there who sigh with disappointment and say that motivation left when discipline walked out the door.  And life is sucked out of the little motivation left by teachers who compete for position and leadership that shows little or no sympathy and interest.  But these realities were not there when you chose this life.  And none of these problems should have an influence on your motivation right now.

I want to challenge you to go back to the time when you were excited to teach.  The motivation, my dear teacher friend, was inside of you – not outside.  You were excited.  You loved the idea of standing in front of a class filled with kids.  You had high hopes for everyone sitting in front of you.  I want to challenge you to start this year with a difference.  Start with a heart full of hope and excitement.  Perhaps the following might inspire you for this new school year.

  • You only have about 200 school days to enrich the lives of a specific group of people.  Yes, those human beings who can’t spell and stare at electronic devices in their hands all day long are the next generation – and YOU have 200 days of their lives in your hands!  Stop teaching your subject.  Start teaching people.  Think of your favorite teacher when you were at school.  Don’t you wish that he or she could teach all your subjects?  What made them your favorite teacher?  You can become the “favorite teacher” to so many children and teenagers.  At the end of each day, ask yourself if your students are better off because they have spent some time in your class today.  The answer will tell you whether you are changing lives or just passing time with a career.
  • You don’t know your students’ circumstances.  You might be the only adult who truly loves them.  Your words and actions will have a lifelong impact on their lives.  Yes, they can make you mad and you might have felt like running away when you learned that a certain young man was to be in your class this year!  But it’s exactly that child that needs you.  Put some effort into changing those “problem” children’s lives.  Pay extra attention and give some love.  When you truly love them, it will change their lives.  Your anger and angry words will make no difference.  It will probably only intensify their hurt.  You can be the strict teacher who everyone is scared of or you can be the teacher who changes lives.
  • Each student in front of you has potential.  They might not even realize it.  Make a conscious decision to see everyone’s potential, no matter how quiet or how loud the child.  Your faith in them may be all that they need to become successful adults.  The best and most precious gift you can give them is to believe in them when they don’t believe in themselves.  Don’t just believe in the 80% and 90% students.  Look at your 50% student and tell him you are going to work together to make it 55%!
  • YOU HAVE POTENTIAL!  Potential is a seed that will never die and it’s within all of us.  What is your potential?  If you are the same person you were last year, you have not grown.  Change is needed!  You need to grow.  You must go after your potential!  You must be a better person and teacher!  Your potential should die when you do.  Not a minute before.  Give your all – to your spouse; to your own children; to your students; to your colleagues; to your headmaster; to yourself.  Don’t hold back.  Live fully.
  • And lastly, keep passion alive in your heart.  I meet teachers on a daily basis whose passion was smothered long time ago.  I realize that there are many reasons, but passion is a heart issue.  When you have passion for what you do, you don’t need to be motivated – your passion motivates you.  In fact, it pushes you.  Ignite your passion again and get excited about the opportunity you have to change lives!  You are SO NEEDED in our society!  We need you!  The world needs you!

I would like to end with a little story about myself.  Years ago I chose a word that I thought completely describes me as a person.  Without telling anyone I asked my husband, my mother and a friend to describe me in one word as well.  I was ecstatic when they all picked the exact same word I chose for myself!  My word is “TEACHER”.  I don’t teach kids at a school, but it’s who I am.  I AM a teacher!  There is not a day in my life that I don’t teach someone something or learn something new myself.  As cliche as it might sound – it’s in my blood and that’s the reason why I wrote this letter to you.  My heart beats with passion for teachers and I would love to help you keep your passion alive.

On the wall in my study just above my desk I have a quote that inspires me daily:

“I WAS BORN TO SERVE SPECIFIC PEOPLE!  I HAVE GOT TO FIND THEM!”

I want to challenge you to change the way you see every single person in your life.  If their paths cross yours, you were born to touch their lives and to serve them.  Make it the best moments of their lives and it will inevitably be your greatest.

Teacher greetings!

Debbie De Jager 

If you were inspired by this letter and would like to help us inspire every teacher possible, please share it on your social media pages, using the #ITouchTheFutureITeach and the link https://debbiedejager.com/the-extraordinary-teacher/i-am-a-teacher 

Click HERE for FB-info.

Monday, 19 July 2021

Vir die ouers en onderwysers ...

Dié wat heelmaak, laat gedy
Maretha Maartens

Medies en regte is natuurlik prestige-studierigtings. Geseënd is die ouer met 'n slim kind wie se kop net in één rigting staan: 'n eie mediese of regspraktyk. En so-so status van studente wat in hierdie millennium waarin almal veronderstel is om na die sterre te reik, kies om onderwysers te word.

Onderwys, vermoed ons mos, is maar 'n valerige joppie vir vaalsiele. Met hierdie voorveronderstelling gaan jy deur die lewe totdat jy op 'n grys dag in jou eie lewe begin bid vir die regte onderwyser vir 'n kind wat jou hart uit jou liggaam geruk het.

Eers het jou hart ook mos maar net gesit waar harte gewoonlik sit: stil en pynloos, onwaarneembaar en heel in die middel van jou borskas. Dan tref die spesiale kind jou lewe: 'n Kind wat jou hart laat bloei en breek - 'n kind wat wil-wil ontspoor of reeds ontspoor het, 'n kind met emosionele probleme, 'n sukkelkind, 'n pynlike skaam kind, 'n kind met letsels en beletsels, 'n kind wat moeilik verstaan, 'n huilkind en naelkoukind, 'n rolstoelkind, 'n kind wat elke seisoen van meet af aan moet leer swem, 'n wiskunde-verskrikte kind, 'n hartuitrukkind.

Skielik is jou hart buite jou borskas: rou en kloppend, seer en woedend en bewend. En dan, as jou gebede verhoor word, beland die kind wat jou hart uit sy plek geruk het, in die reënboog-aura van 'n gebore onderwyser, die merkwaardige individu wat sy of haar plek tussen die heiliges kan inneem. Hierdie heilige onderskryf die woorde van Ina Huges:

Ons (die onderwyser) aanvaar verantwoordelikheid vir kinders wat dit geniet om gekielie te word, wat met skoolskoene en al in die waterplasse sal rondplas, hul nuwe skoolklere bemors, kort voor aandete 'n verbode versnapering sal eet en nooit hul skoene kan opspoor nie.

Ons aanvaar ook verantwoordelikheid vir kinders wat nie nuwe skoene besit nie, wat in plekke gebore is waarin ons vir geen geld ter wêreld sou wou rondloop nie; wat nooit sirkus toe gaan nie en wat grootword in 'n milieu wat 'n X-gradering gehoort te dra.

Ons aanvaar ook verantwoordelikheid vir dié soort kind wat nooit nagereg kry nie, wat nie 'n kamer het wat opgeruim moet word nie wie se foto nêrens op enigiemand se lessenaar staan nie. Ons aanvaar verantwoordelikheid vir kinders wat tussen werklike monsters leef.

Ons aanvaar verantwoordelikheid vir kinders wat al hulle sakgeld voor Dinsdag uitmors, tantrums in die supermark gooi, vol fiemies oor kos is, nie in die kerk stilsit nie.

Maar ons aanvaar ook verantwoordelikheid vir dié soort kind wie se nagmerries in helder daglig na hulle toe aankom; kinders wat enigiets sal eet, nog nooit 'n tandarts besoek het nie, wat honger ken soos wat ander fynproewerskos ken, wat hulleself aan die slaap huil.

Ons aanvaar verantwoordelikheid vir kinders wat rondgedra wil word en vir dié wat rondgedra móét word; vir kleintjies met wie ons die stryd net nooit gewonne gee nie en vir dié vir wie niemand 'n tweede kans gee nie.

Ons aanvaar verantwoordelikheid vir kinders vir wie ons kan stukkend druk, so oulik is hulle en vir 'n ander soort kind wat enigiemand wat genadige oogkontak maak, se hand sal gryp.
- Ina Huges, uit Engels vertaal, met aanpassings.

Op 'n onderwyssimposium in New York is gevra: "Watter eienskappe onderskei suksesvolle onderwysers van minder suksesvolle leerkragte?" Steve Rivkin van Amherst het gesê dat dit min of meer onmoontlik is om by die aanstelling van onderwysers waarborge vir sukses te identifiseer. Gevorderde opleidingskwalifikasies of werksonderwinding is dit nie. Eric Hanushek van die Universiteit van Stanford beweer dat die antwoord op hierdie vraag soos die Heilige Graal - die beker waaruit Jesus by die laaste Awendmaal gedrink en waarin Josef van Arimatéa sy bloed volgens die oorlewering van die kruis sou opgevang het - is. "Dit is die moeite werd om die antwoord te probeer vind,"sê Hanushek, "maar ek twyfel of dit ooit gevind sal word. Miskien het ons met oorerflikheid te doen. Miskien word sekere individue gebore om uitsonderlike onderwysers te wees."

As so 'n onderwyser eers jou en jou kind se hart heel gemaak het, as so 'n onderwyser jou kind lank gelede gehelp het om te glo hy kan 'n dokter of 'n regsgeleerde word, 'n suksesvolle entrepreneur of die beste tromspeler wat enige orkes kan begeer, salueer elke toegewyde onderwyser wat môre elke soort kind onder die son in die klaskamer gaan ontvang.

Bron: Goeiemôre, Volksblad