Showing posts with label Die rol van 'n pa. Show all posts
Showing posts with label Die rol van 'n pa. Show all posts

Sunday, 24 May 2020

Hoe gaan dit met jou kinders?


James Ryle het die volgende tydens 'n konferensie van die organisasie Promise Keepers vertel. Toe hy twee was, is sy pa tronk toe gestuur. Toe hy sewe was, is hy in 'n kinderhuis geplaas. Op 19 was hy in 'n motorongeluk betrokke waarin 'n vriend gesterf het. Hy het dwelms verkoop om geld vir sy regskoste bymekaar te maak, maar is gearresteer en het tronkstraf uitgedien. James het in die gevangenis tot bekering gekom.

Na sy ontslag het hy hom tot die bediening gewend. Jare later het hy sy pa opgespoor. Sy pa het gevra, 'In watter tronk was jy?' Op James se antwoord, het sy pa gesê, 'Ek het daardie gevangenis help bou.' Hy was 'n sweiser wat aan verskeie tronke gewerk het. James het gesê, 'Ek was in die tronk wat my pa help bou het' Jou kinders sal miskien nie altyd na jou raad luister nie, maar hulle kan nooit aan jou invloed ontsnap nie. 'n Kind wat sy of haar eerste 18 tot 21 jaar saam met jou slyt, sal nie anders kan nie, as om sommige van jou misstappe te herhaal, wrewelrig te wees jeens jou, maar hopenlik ook bly te wees oor jou nalatenskap.

God het oor Abraham gesê, 'Ek het hom gekies sodat hy sy seuns en hulle gesinne kan opvoed om die Here te gehoorsaam, deur te doen wat opreg en regverdig is.' Sal God dieselfde van jou kan sê? Die evangelis Filippus het die stad Samaria bekeer, maar meer nog, hy het '...vier ongetroude dogters gehad met die gawe om te profeteer' (Handelinge 21:9). Sy kinders het moreel en geestelik goed gevaar. Hoe staan sake met jou kinders?


Wednesday, 17 October 2018

'n Pa se oë ...

In Derde Laan staan ‘n klein huisie met 'n pragtige roostuin en 'n groot populierboom. Dit is hier waar Theo en sy pa gebly het. Hulle het alleen daar gebly, want sy ma is jare gelede al oorlede.

Almal in die dorp het dié twee se verhouding bewonder. Theo se pa het nie een van sy rugbywedstryde misgeloop nie. Of dit nou mooiweer of stormweer was, jy kon verseker weet, Theo se pa was daar. Hy was sy seun se grootste aanhanger.

Ironies, Theo het nooit in ‘n wedstryd gespeel nie; hy was altyd die reserwe. Ná elke wedstryd was sy pa se woorde: “Miskien speel jy volgende keer.” Dan het sy pa altyd met sy arm om Theo se skouer daar weggestap.Sonder enige druk van sy pa se kant, het Theo aangehou oefen en het hy altyd sy beste by elke oefening gegee. Hy het egter deur sy hele hoërskoolloopbaan die reserwebank vol gesit, want - omdat die skool klein was - het hulle net een span in sy ouderdomsgroep gehad.

Maar sy pa het steeds getrou al die wedstryde bygewoon.Dit was voor een van die laaste wedstryde in sy matriekjaar dat ‘n tragedie Theo tref. Sy pa is skielik dood. Dit was vir hom ‘n baie groot skok. Hy het die afrigter gevra om dié week van die oefeninge verskoon te word. Die afrigter het vir hom gesê: “Theo, neem soveel tyd as wat jy wil, want dis ‘n groot verlies wat jou getref het.”

Die Saterdag met die wedstryd daag Theo in sy rugbyklere by die wedstryd op. Hy gaan staan voor die afrigter en pleit-vra: “Meneer, kan ek asseblief vandag speel?” Die afrigter het gevoel dat hy met so ‘n belangrike wedstryd nie kon bekostig om ‘n swak speler in te span nie, maar besluit toe tog om hom te laat speel. Hy het geredeneer: Hoeveel jare lank oefen hy nou al getrou sonder om te speel en boonop is sy pa dood. Ek sal hom ‘n kans gee.

Theo speel fantasties en druk selfs die wendrie. Na die tyd stap die afrigter na Theo: “Waar het jy al die tyd hierdie talent gebêre? Jy was briljant.” Theo het met trane in sy oë gesê: “Meneer, my pa is in die hemel. Meneer weet hy het getrou al die wedstryde bygewoon, al was hy blind. Wel, vandag was die eerste keer dat hy my kon sien speel. Ek wou vir hom wys … ek kán speel!”

Monday, 18 June 2018

Die belangrike rol van 'n pa ...

Met Vadersdag nog vars in ons geheue, gaan ons hierdie week kyk na die baie belangrike rol wat pa's in hulle kinders se lewens speel.

Om 'n pa te wees, is 'n wonderlike voorreg, maar ook 'n groot verantwoordelikheid. 'n Pa moet bereid wees om opofferinge te maak - dis die enigste manier hoe jy kan wys dat jou kind vir jou belangrik is.

Baie boeke is oor hierdie onderwerp geskryf, maar ons volstaan met net 'n paar gedagtes:

*   Die kernrol van 'n pa is om veiligheid en sekuriteit te bied in hierdie onseker wêreld waarin ons lewe ...
*   'n Pa is die gesin se geestelike begeleier, lewensafrigter en bemoediger.
*   As getroue wetstoepasser, lê hy die grondslag vir gehoorsaamheid.
*   Bou 'n verhouding met elke kind.
*   Liefde vorm die grondslag vir die pa-kind-verhouding.
*   Kinders se selfvertroue of gebrek daaraan, kan aan die voete van hul pa's gelê word.
*   Maak jou kind(ers) 'n prioriteit in jou lewe.
*   Dissiplineer jou kinders - tugtig met een hand en troos met albei hande.
*   Loop die pad as 'n pa met geloof, sodat jou kinders met kinderlike vertroue in jou voetspore kan volg.