Showing posts with label Biologiese pa. Show all posts
Showing posts with label Biologiese pa. Show all posts

Sunday, 16 March 2025

As 1 Korintiërs 13 net vir Pappas geskryf was:

'n Pa verbly hom nie oor 'n kind se foute met:
"Ek het jou gewaarsku, maar jy wou nie luister nie."
Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat.
Daarom wil hy sy kinders se skandes met liefde bedek.
In hulle glo,
die beste vir hulle hoop,
en hulle kleredrag, klaery en kritiek verdra.
'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek
van 'n ouer bly lank in 'n kinderhart ...
Maar die preek of toespraak wat hy liewer in die tyd wou skryf - 
sal oormôre weer vergete wees.
Toe ek 'n jong man was, 
was ek gesteld op my voorkoms,
my motor 
en my geleerdheid ...
Maar noudat ek pa geword het,
wil ek graag my kinders met liefde,
balans en geloof grootmaak.
Nou kyk ek nog vas teen rebelse klein gesiggies,
maar eendag as hulle groot is,
sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer,
en wat God ons almal leer.
En nou: Geduld, aanmoediging en liefde bly.
Maar die waardevolste hiervan is 
ONVOORWAARDELIKE LIEFDE!!!

[Dankie, Anoniem, vir die deel hiervan.] 

Tuesday, 11 June 2024

Is bloed dikker as water?

['n Pre-Vadersdaggedagte]

'n Stiefpa in my geval is beter as 'n pa. 

'n Stiefpa het 'n keuse om jou lief te hê, om jou te aanvaar soos sy eie.

Ek en my stiefpa het ons verskille. Ons kan baklei soos enige ander pa en dogter, alhoewel hy nie my biologiese pa is nie, is hy in my hart my biologiese pa en die enigste pa wat ek het. Hy is die manlike figuur in my lewe. Die man wat my groot gemaak het soos sy eie.

Hy het ingestaan wanneer die een wat daar moes wees, nie wou nie. Hy het my al embarress soos ons jong klomp sou sê. Hy het my by die skool afgelaai met musiek wat kliphard speel en nie enige musiek nie, BOEREMUSIEK! Hy het my al gelos sodat ek in die skuifdeur vasloop en glo my, hy het dit gesien kom.

Ek is trots om te sê my pa het ingestap toe die ander man uitstap. Dit beteken die wêreld vir my en ek sal hom altyd liefhê. Hoop net nie hy trip my op my troudag as pa en dogter saam moet inloop nie.

Bloed is dalk dikker as water, maar in my oë is die water nou my bloed!

[Dankie, vir die een wat dit gestuur het en baie dankie ook vir die een wat dit geskryf het. Ek plaas dit omdat dit in soveel huisgesinne die situasie is. En daar dikwels nie die erkenning aan die bloed-stiefpa's gegee word nie.]