Showing posts with label Noordkaap-koerant. Show all posts
Showing posts with label Noordkaap-koerant. Show all posts

Thursday, 25 July 2024

Terugflits: Elke dag kans op 'n nuwe begin

Almal beleef trauma. Sommige mense op 'n gereelde grondslag, ander mense dalk slegs een of twee keer in 'n leeftyd. Sommige mense se graad van trauma is draaglik, ander s'n dalk so intens dat dit vir hulle onhanteerbaar voel.

Lindie Stander, of soos mense haar beter ken - grootbek Elize van Binnelanders - het voor die kruispad in haar lewe te staan gekom nadat sy op 'n vroeë ouderdom aan geweldige trauma blootgestel is.

Sy was onlangs die gasspreker op 'n geselligheid van die Jeneka-vroue-instansie in Kimberley.

Om Stander te hoor gesels is 'n belewenis. Tussen haar uitbundige lag en onderdrukte trane deur handhaaf sy 'n vreemde soort balans wat haar luisteraars vasgevang hou terwyl sy haar lewensverhaal vertel: 'n verhaal van seerkry en wanhoop, maar ook 'n verhaal van vergifnis en nuwe kanse.

Stander het die lewe met die camino in Santiago vergelyk. Dit is 'n pelgrimstog van 807 km wat sy twee keer in haar lewe gestap het. Die eerste keer was voor haar poging om haar eie lewe te neem, die tweede keer 'n jaar daarna. Elke mens durf sy of haar lewe op hul trant met besonderse uitdagings, berge en dale en rusposes aan. Almal op pad na een spesifieke eindpunt in hul lewe.

Nie net getuig Stander se verhaal van 'n tweede kans in die lewe nie, maar ook van vergifnis - nie net om vergewe te word en ander mense te vergewe nie, maar om jouself te vergewe. Ons almal maak foute. Ons almal maak die verkeerde keuses. Ons almal kan dit in 'n meerdere of mindere mate regmaak.

Stander se verhaal laat 'n mens besef elke dag is 'n kans op 'n nuwe begin.

En dit gee die hoop wat nodig is vir 'n mens se pelgrimstog.

[Noordkaap Bulletin - Lesersjoernalis - Karin Muller - gaan maak gerus 'n draai by dié koerant]

Monday, 15 July 2024

Kommentaar op juffrou Hettie se artikel

Porkie
Baie dankie aan almal wat by 'n inisiatief soos hierdie betrokke raak. Daar is só 'n groot behoefte by kinderhuise en versorgingsoorde aan toiletware en dan vir die kinders ook speletjies, boeke, popklere vir dogtertjiepoppe, opvoedkundige speelgoed en vele meer - soos wat jy jou kinders by die huis besighou, geld ook vir die kinderhuis se kinders.  
Meinung
Wat 'n ongelooflike mooi storie. Hierdie is die soort mense wat 'n reuse verskil in ander mense, veral kinders, se lewens maak. Baie dankie en voorspoed met julle goeie werk.

 Klik HIER vir Helena Barnard se volledige artikel in NoordkaapBulletin van 11 Julie 2024

Friday, 12 July 2024

Ruben se nuwe rolmodel

Liewe Maats

Hierdie is sommer 'n vinnige gedagtebriefie wat ek tussen my weeklikse briewe aan julle gaan indruk. Partykeer voel dit vir my ek wil gou 'n gedagte met julle wissel, maar vandat die skole weer begin het, is dit nie altyd moontlik om 'n daaglikse kuiertydjie in te pas nie. Dus wend ek my tot die ou staatmakers - pen en papier. Julle weet, ek het gister een van die indrukwekkendste mense volgens my beskeie mening ontmoet. Juffrou Hettie! Energie straal behoorlik uit haar, haar lewenslus werk aansteeklik in op almal wat haar pad kruis en verder loop sy met 'n kopvol omgeeplanne.  
Foto: Helena Barnard
My hondehart bokspring van dankbaarheid dat Helena Barnard van Noordkaap Bulletin met haar 'n onderhoud gevoer het en al haar planne in die nuutste uitgawe van die koerant geskryf het. Sy en tannie Christelle het heerlik gesels oor hoe 'n mens kan uitreik. Nou hoop ek uit my hondehart dat Kimberley en die res van Noord-Kaap se inwoners haar hande gaan sterk ter wille van die groter prentjie.

Die eintlike rede hoekom ek skryf, is om my mening kortliks oor rolmodelle te gee. 'n Mens word baie keer gevra wie jou rolmodel is. Baie moet hard dink oor dié vraag, terwyl ander sê hulle het nie 'n rolmodel in hulle lewe nodig nie. Dikwels kies jongmense die een of ander sanger of akteur of sportman wat hulle dan slaafs navolg. Kleredrag, handgebare, manier van praat of vloek word skielik ons eie en ek word 'n kloon van hierdie onrolmodelmens. Ek dink dit is nie die moeite, datageld of tyd werd nie. Die eerste vraag wat ek myself afvra is of daardie persoon van my 'n beter mens kan maak. Jou eerlike antwoord moet jou lei!  

Ek dateer gereeld my rolmodelle op. Ek het 'n hele lysie en eendag sal ek vir julle vertel wie my rolmodelle is en waarom ek op hulle besluit het. Maar gister het juffrou Hettie onmiddellik in my hart ingeklim en my rolmodel geword. Onthou net, Maats, ouderdom het niks met 'n rolmodel te doen nie. Juffrou Hettie is liefdevol, sy gee om en is só hulpvaardig, sy maak planne en reik uit en sy is baie baie lief vir kinders. Sy laat hartsafdrukke so ver soos wat sy gaan en sy maak mense gelukkig. Nou wie van ons wil nie so wees nie?

As sy weer vir ons kom kuier, kyk mooi na haar optrede, hoe sy lag, praat en help - en probeer een van daardie karaktereienskappe jou eie maak. Ons dikwels moeilike en slegte verlede en omstandighede hoef nie ons toekoms te definieer nie. Ons kan verander en ons kan 'n verskil maak.

Viva keuses!

Ruben-groete!


 

Thursday, 11 July 2024

Juffrou Hettie reik uit om ander te help

Hierdie berig het in die NoordKaapBulletin verskyn van 11 Julie. Klik HIER om Helena Barnard se berig te lees. 


Klik HIER vir Helena Barnard se volledige artikel in NoordkaapBulletin van 11 Julie 2024

Thursday, 2 May 2024

Knap jou ook vir ander op

Dekades gelede aan die technicon het ons met bewondering die meisies wat skoonheidstegnologie studeer, aangestaar.

Geklee in hul sindelike uitrustings het hulle 'n ander soort beeld as die res van die studente uitgestraal - een van selfvertroue, omgee en kennis op 'n gebied waarvan ons net kon droom.

Met 'n slakkegang het ons verby hul lesingslokale gedraal en ons in die onbereikbare wêreld van lekkerruik rome en verfrissende maskers verlustig.

Vandag bestaan allerhande nuwe name en deskundigheid op die vakgebied, maar die beeld wat die meisies en vroue uitstraal, is dieselfde. 'n Onderlinge soort rustigheid in die wete hulle help mense om die beste in hulself na vore te bring. Mense wat nie omgee om aan jou figuurfoute en tekort aan kennis te werskaf nie.

Bederf jy jou deur 'n draai by 'n skoonheidsdeskundige te maak, staan jy verstom oor hul werkomgewing. Aromatiese vertrekke. Rustige musiek. Sagte handdoeke. En individue wat die werkomgewing soos 'n handskoen pas.

Die meeste mense het ongelukkig nie geld of tyd om hule gereeld so te laat bederf nie. Tog kan hulle 'n mens op 'n baie subtiele manier laat verstaan jy moet eintlik meer tyd aan jou en jou voorkoms bestee. 
Maar dit is moeilik, want tussen die eise deur van 'n mens se gesin, werk, familielede, vriende kos, skottelgoed en wasgoed was, sak jy uitgeput op die bed neer en besluit met 'n vae vasberadenheid om eerder die volgende dag die ontwykende lagie naellak en masker te probeer aanbring. Dalk is dit tyd dat ons onsself 'n bietjie meer bederf. Nie net vir ons moeë en aanmekaargeflansde selfbeelde nie, maar ook vir die mense die naaste aan ons.    

[Bron: Noordkaap - Potpurri - Karin Muller]