Showing posts with label Ds. Hannes Noëth. Show all posts
Showing posts with label Ds. Hannes Noëth. Show all posts

Saturday, 1 June 2024

Terugflits: Hoekom vol seerkry?

As daar een vraag is waarop ek geen antwoord het nie, is dit dié van 'n vader en moeder oor hoekom hul kinders gekies het om 'n sekere pad te loop. Daardie vraag is maar soms 'n seer en bitter vraag.

So begin ek eenkeer met 'n ma gesels en haar heel eerste sin is: "Ek verstaan nie hoekom het hy daardie pad gevat nie."

Ons sou daarna baie gesels en baie wonder, baie spekuleer, dinge ontleed en analiseer, maar keer op keer moes ons erken dat ons nie die antwoord hierop gehad het nie. Ons kon nie verstaan dat 'n kind wat so mooi geleer het van die pad waarop hy moes loop, so anders gekies het nie.

Dit was vir ons onverklaarbaar dat iemand wat die ander weë ken, juis doelbewus daarteen geprotesteer het. Nie omdat pa of ma kwaai was nie, nie omdat daar 'n tekort aan iets was nie, nie omdat iemand of iets die skuld kon kry nie. Doodgewoon omdat hy gekies het om op die pad te loop.

Wat die hartseer in so 'n geval vererger, is wanneer ouers hul kinders teen die verkeerde pad en die slegte keuses gewaarsku het.

Wanneer die gevolge van die verkeerde keuse uitgespeel het, moet 'n mens maar oor begin. Sommige kies daarna reg, ander kies om weer dieselfde pad te loop.

Die ma wat bogenoemde openingswoorde so gesug het, was al moedeloos. Vir 'n hoeveelste keer moes ek haar oplaai, en met hom 'n gesprek probeer voer. Sy antwoord was egter altyd: "Dit is my keuse."

Toe ek die dag sy begrafnisdiens lei, ná sy dood weens 'n oordosis dwelms, het ek aan sy woorde gedink: "Dit is my keuse."

Ek het ook gedink aan sy ma se woorde: "Ek verstaan nie hoekom my kind hierdie pad gevat het nie." 

[Uit: Hannes Noëth, Twyfelhoekie, Noordkaap]

Sunday, 19 May 2024

Terugflits: Geniet dit om te lééf

Hoe skryf ek 'n Twyfelhoekie ná só 'n week?

Kyk, in 'n nuwe werksomgewing van my het die week beproewing op ons losgesak wat 'n mens nie vir jouself beplan of vooruit op jou dagboek inskryf nie.

Ek het die voorreg om by onderwysontwikkeling betrokke te wees. Dit behels dat ons 'n onderwysersnetwerk oor die land vestig van onderwysers wat ondersteuning en advies nodig het.

Daarmee saam is ek uitvoerende hoof van die Gereformeerde Skool Dirk Postma. Die skool se 353 leerlinge kom uit Gereformeerde Kerk-ouerhuise wat glo dit is nie die staat se verantwoordelikheid om jou kinders op te voed nie, maar dat jy dit self moet doen.

Maar die week begin toe agterstevoor en onderstebo - 'n 12-jarige seun (lees seuntjie) in ons skool is aan selfdood dood.

'n Hele skool en 'n hele gemeenskap staan verdwaas en verslae.

So 'n jong lewetjie met wie ek so baie en so lank gewerk het - vir hóm het die lewe net te moeilik geword. Hy was bipolêr. Hy het so met die lewe geworstel. Ons doen maar almal, né?

By tye worstel ons met so baie vrae oor die dinge rondom ons. Die lewe maak nie altyd sin nie. Daar kom tye dat daar nie sin in dinge is nie. 

Gelukkig hoef dit nie vir ons sin te maak nie. Ons moet doen wat ons geroep is om te doen en ons moet die voorreg van lewe geniet en beleef. Ek kan nie hierdie week 'n Twyfelhoekie skryf nie - ek kan wel enkele dinge van jou vra: Waardeer jou geliefdes. Geniet die lewe terwyl dit daar is.

Moenie ons kinders met verantwoordelikhede oorlaai nie. Leer hulle waaroor die lewe werklik gaan - in die proses onthou jy dalk weer self.

Maak tyd vir mekaar. Gee vir jou huismense vandag 'n drukkie, net omdat hulle daar is en jy vir hulle lief is.

Onderskei die dinge wat regtig belangrik is van die dinge wat nie belangrik is nie. Fokus op positiewe dinge. Bid vir hulle wat swaarkry.

Leef roepingsgetrou. Dien en lééf!

[Uit: Hannes Noëth, Twyfelhoekie, Noordkaap]

Monday, 11 March 2024

Die verskil tussen 'n "job" en 'n roeping

'n Mens het al dikwels die opskrif in vraagvorm gehoor en baie keer ook 'n afgewaterde antwoord. Maar op die heel onwaarskynlikste plek van alle plekke, word hierdie stelling duidelik beantwoord.  

Klik HIER vir die antwoord - 30 Maart 2023.

Monday, 8 October 2018

Terugflits: "Pa was my pa, dis hoekom"

Ek weet nie wie van julle kan ds. Hannes Noëth se stukkie in Twyfelhoekie van Woensdag, 26 September 2012 onthou nie, maar omdat dit só treffend is en só relevant, deel ek dit baie graag met julle.

"Sy was twee maande in die moederskoot toe haar pa en ma se verhouding verbreek is. Sy was twee dae oud toe hy aangedring het op vaderskaptoetse. Sy was drie jaar oud toe haar ma die onderhoudshof moes vra om te help met onderhoudsgeld. Selfs met die hulp van die hof het die hulp nooit werklik geword nie.

Op ses jaar het sy begin agterkom hy wil nie kontak maak nie, al kan hy. Op tien jaar het dit ál minder begin seermaak. Toe sy 13 jaar oud geword het, het sy self probeer om hom te bel. Hy wou nie met haar praat nie.

Lankal al het sy van beter geweet as om 'n geskenk van hom te verwag. Hy het nie eens die naweke gebruik wat hy haar kon sien nie, al was dit vir hom moontlik. Op 14 jaar het sy vir almal vertel sy het nie 'n pa nie. Op 18 jaar het sy heimlik gewens hy kon haar in die rok vir haar matriekafskeidgeselligheid sien. Die dag toe sy haar universiteitsgraad ontvang het, het sy opsetlike gereël vir 'n oop stoel en het sy hom in haar gedagtes daar sien sit.

Dit was haar halfbroer wat haar op haar troue ingebring en afgegee het.

Op haar 40ste verjaardag het hulle gebel en gevra of sy hom kan versorg. Hy is terminaal siek. Hy het niemand anders nie. Sy het ja gesê. Sy het dit gedoen. By sy graf was dit sy wat gehuil het. Oor 'n pa wat sy sou wou hê al wou hy haar nie hê nie.

Voor sy dood het hy gevra: "Hoekom doen jy dit vir my?" Sy het nie geantwoord nie. Vandag hier by die graf, nou antwoord sy: "Pa was my pa. Dis hoekom. Pa het my ontken, ek het Pa nooit ontken nie."

[Uit: Noordkaap 26 September 2012]