Showing posts with label Leer. Show all posts
Showing posts with label Leer. Show all posts

Monday, 29 December 2025

Vakansie-idees: Probeer dit!

* Leer om 'n analoog-horlosie te lees.

* Doen vrywillige werk by die DBV of 'n diereskuiling.

* Leer 'n paar kaarttruuks aan en vermaak jou maats as julle verveeld is. Los 'n slag die selfone uit.

* Leer om die blombeddings te bemes en potplante uit te plant. Jy het dalk groenvingers en jy weet dit nie eens nie.

* Vra vir Tannie Mittah om jou te leer konfyt kook. Jy kan nie vir 'n beter leermeester vra nie.

Monday, 22 December 2025

Vakansie-idees: Probeer dit!

* Wees gaaf met die kelner wat jou bedien.

* Gee jou brakkiesakkie van die restaurant vir 'n hawelose persoon. (Jy het te veel kos geniet en hy sit en wag vir iets om die hongerpyne te stil - plaas jou in sy posisie!)   

* Elke keer as jy nuwe klere kry, gee van jou ou kledingstukke weg.

* Groet jou bure vriendelik as jy hulle in die straat sien. 

* Glimlag sommer vir iemand wat verby jou loop. (Baie gou raak hierdie 'n gewoonte wat nie net vir jou beter laat voel nie, maar ook die persoon wat die opregte glimlag gekry het.)

* Samel toiletware en ander noodsaaklikhede in vir 'n skuiling vir haweloses.

*  Sê gereeld dankie as iemand jou help.

Dankie vir AL bogenoemde voorstelle. Julle outjies kook as dit by idees kom. Sommige voorstelle is regtig van lesers met 'n hart vir uitreik. Uitreiking het gewoonlik verrykende gevolge en ons sal dit graag hier met ander wil deel!

Monday, 15 December 2025

Vakansie-idees: Probeer dit!

* Skryf 'n briefie, kaartjie of e-pos aan 'n onderwyser wat 'n verskil in jou lewe gemaak het. (Leef altyd dankbaar!)

* As jy iets in die kombuis mors, maak dit dadelik skoon voordat iemand daarop gly en seerkry. (Bied sommer vir jou ma aan dat jy die hele kombuis vir haar van hoek tot kant sal skoonmaak vir 'n Kerspresent.)

* Leen of gee vir iemand 'n inspirerende boek. (Die groot lekkerte lê daarin dat julle die boek kan bespreek.)

* Bring vir iemand 'n klein aandenking wanneer jy 'n nuwe plek besoek, om te wys jy het aan hom of haar gedink.

* As 'n groep mense oor iemand skinder, onderbreek die gesprek deur iets moois van die betrokke persoon te sê. (Doen dit net hierdie vakansie en voordat jy jou oë uitvee, is dit 'n gewoonte wat aansteeklik inwerk.)

* Vra jou ouers of julle as gesin 'n troeteldier kan aanneem wat nie 'n huis het nie.

* Indien jou ouers NEE sê vir bogenoemde idee, gaan werk dan by die DBV/SPCA. 'n Ekstra paar hande om hokke skoon te maak of diere te bad, is nooit te versmaai nie.  

* Pas 'n enkelma se kind gratis op sodat sy 'n aand uit kan geniet.

* Bied aan om die trollie vir iemand terug te vat nadat hulle hul inkopies in die kar gelaai het.

Dankie vir AL bogenoemde voorstelle. Julle outjies kook as dit by idees kom. Sommige voorstelle is regtig van lesers met 'n hart vir uitreik. Uitreiking het gewoonlik verrykende gevolge en ons sal dit graag hier met ander wil deel!

Friday, 28 November 2025

Vakansie-idees: Probeer dit!

* Kweek groente van saad in julle tuin.

* Weet jy hoe om 'n vuur te pak? Vra jou pa/oom/meneer as julle volgende keer gaan braai of jy die vuur kan pak.

* Skerp jou kennis van geskiedenis op, al hou nie daarvan nie. Google net wie die uitvinders is van 'n spesifieke item en hoe dit gebeur het en jy sal verbaas wees oor hoe interessant dit is. 'n Voorbeeld: Wie het die eerste uitveër gemaak? Wat is die oudste tydskryf op aarde?  Hoe verskil vakansies in verskillende lande en hoekom?

* Leer hoe om die grassnyer te gebruik en ook sommer om die randte mooi te knip. 

* Leer om 'n paar klimtoltoertjies te doen.

* Kan jy jou eie klere stryk? Leer hoe om te stryk voordat jy eendag jou eie nes gaan skrop.

* Leer om 'n landkaart te lees, al is daar tegnologiese hulpmiddels. Nie almal kan 'n landkaart, selfs 'n stadskaart lees nie. 

Monday, 14 April 2025

Wat ma my geleer het ...

Sy het my geleer om WERK WAT GOED GEDOEN IS TE WAARDEER:
"As julle mekaar wil doodmaak, doen dit buite - ek het nou net klaar skoon gemaak."
Sy het my van GODSDIENS geleer:
"Jy beter begin bid dat die kol uit die mat kom."
Sy het my geleer OM IN TYD TE REIS:
"As jy nie opruim nie, foeter ek jou tot in volgende week in."
Sy het my LOGIKA geleer:
"Want ek sê so, dis hoekom."
Sy het my geleer om VOORBEREID te wees:
"Trek skoon onderklere aan vir in geval jy in 'n ongeluk kom."
Sy het my IRONIE geleer:
"Hou aan lag en ek gee jou iets om oor te huil."
Sy het my van die WETENSKAP van osmose geleer:
"Maak toe jou mond en eet jou kos!"
Sy het my van UITHOUVERMOË geleer:
"Jy sal by daardie tafel sit totdat jy jou groente opgeëet het!"
Sy het my geleer van sintuie:
"Kinders word gesien en nie gehoor nie!"
Sy het my van die WEER geleer:
"Dit lyk asof 'n tornado deur jou kamer is."
Sy het my geleer om FISIKAPROBLEME op te los:
"As ek skree daar is 'n komeet op pad, sal jy dan luister?"
Sy het my van SKYNHEILIGHEID geleer:
"Het ek nie al 'n duisend maal gesê moenie oordryf nie!"  
Sy het my van die LEWENSKRINGLOOP geleer:
"Ek het jou in hierdie wêreld ingebring, ek kan jou weer daaruit haal."
Sy het my van GEDRAGSVERANDERING geleer:
"Hou op om soos jou pa op te tree."
Sy het my van JALOESIE geleer:
"Daar is duisende minderbevoorregte kinders op die aarde wat enige iets sou gee om ouers soos jy te hê."

[Geneem uit Die Poortgenoot - November 2000]

Wednesday, 4 December 2024

Rosetta se goeie wense:


Leer my vandag opnuut
dat u Seun nie gesterf het
om ons van lyding te verlos nie,
maar van onsself en
van onregverdige dade. 

Sunday, 16 June 2024

Binnekringnuus: Ons huisbiblioteek in wording


Bibspreekbuis: "Ons klomp is super opgewonde omdat ons 'n huisbiblioteek in die ware sin van die woord gaan hê. Ons is besig om die boeke te sorteer. Daarna gaan ons dit groepeer, klassifiseer, sodat ons dit net makliker kan beheer. Iets wat elkeen sal moet aanleer, is hoe om boeke te waardeer, want dit sal definitief ons brein stimuleer, sodat ons makliker kan leer en wie van ons sal dit nie waardeer? Spikkels het hoeka gesê dat sy vir ons gaan help met spelwoorde en sinsbou en dalk 'n studiemetode of twee, maar eers moet ons begin lees. Hou hierdie ruimte met 'n arendsoog dop vir die na-foto's."

Wednesday, 3 January 2024

'n Kind leer dit waarmee hy saamleef

As 'n kind met kritiek saamleef, leer dit hom om te veroordeel.
As 'n kind met vyandigheid saamleef, leer dit hom om te baklei.
As 'n kind met bespotting saamleef, leer dit hom om skugter te wees.
As 'n kind met skaamte saamleef, leer dit hom om skuldig te voel.
As 'n kind met verdraagsaamheid saamleef, leer dit hom om geduldig te wees.
As 'n kind met bemoediging saamleef, leer dit hom om vertroue in homself te hê.
As 'n kind met prys saamleef, leer dit hom om te waardeer.
As 'n kind met billikheid saamleef, leer dit hom om regverdig te wees.
As 'n kind met sekuriteit saamleef, leer dit hom om geloof te hê.
As 'n kind met goedkeuring saamleef, leer dit hom om van homself te hou.
As 'n kind met aanvaarding en vriendskap saamleef, leer dit hom om liefde in die wêreld om hom raak te sien!