Monday 9 December 2019

Die ervare bakkiepakker ...

Afrika Mokhosi
So een keer 'n maand wys die bakkie se neus in die rigting van die Noord-Kaap. En daar is altyd iets wat iewers afgelaai moet word. Op hierdie stadium is dit die NK se terug-skool-toe-projek waaraan Afrika en Shaun kliphard gewerk het. Boekies, uitveërs, inkleurprente en potlode is maar van die items wat hulle na die kleuterskole in die Noord-Kaap stuur.

En dan is daar ook nog so 'n bietjie Kersfees tussendeur vir die senior burgers van Ons Huis. Hierdie twee, saam met Karin Herbst en Alda Welman het hierdie Kersfees gekonsentreer op die afdeling vir die verswakte bejaardes. So dikwels vergeet 'n mens dat hierdie mense ook flinke, hardwerkende jong mense was en dat as hulle 'n keuse sou gehad het, sou hulle nie in hierdie afdeling wou wees nie... Maar die lewe loop soms ongemaklike draaie met 'n mens en daarom het hierdie spannetjie besluit om hierdie afdeling te bederf.

En so half weggesteek aan die agterkant, is 100 kg mieliemeel wat deur 'n Goudveldse weldoener met liefde geskenk word. Baie dankie hiervoor en dankie aan Francois Crauwcamp wat as tussenganger optree. Hierdie mieliemeel is dikwels die verskil tussen honger gaan slaap of nie.

Sunday 1 December 2019

Projek: Terug-skool-toe-2020

Afrika Mokhosi
Afrika Mokhosi en Shaun Mmutsi is twee ou hande as dit by liefdadigheids- en uitreikprojekte kom.

Hulle weet presies hoe om te herwin en wat om te herwin, sodat dit tot voordeel van ander kan strek. Hulle praat en dink al net soos lede van die Groen Party wat die aarde wil red.

Hier teen die einde van 'n skooljaar, is daar baie blaaie wat herbruik kan word, en dit is net hier waar die twee groenes besluit het om nie net te herwin nie (save the tree), maar ook om uit te reik. 'n Goeie 246 boekies is al aanmekaar geslaan. 347 potlode is skerpgemaak, afgetel, verpak en wag vir gretige handjies om te leer skryf. En moenie bang wees om foute te maak nie, die 117 uitveërs kan hierdie sakie regstel. 

Hulle twee se wens is dat daar leerders op die eerste skryftreë van die lewe suksesvol sal wees as mense.
Shaun Mmutsi