Showing posts with label Speel. Show all posts
Showing posts with label Speel. Show all posts

Monday, 29 December 2025

Vakansie-idees: Probeer dit!

* Leer om 'n analoog-horlosie te lees.

* Doen vrywillige werk by die DBV of 'n diereskuiling.

* Leer 'n paar kaarttruuks aan en vermaak jou maats as julle verveeld is. Los 'n slag die selfone uit.

* Leer om die blombeddings te bemes en potplante uit te plant. Jy het dalk groenvingers en jy weet dit nie eens nie.

* Vra vir Tannie Mittah om jou te leer konfyt kook. Jy kan nie vir 'n beter leermeester vra nie.

Monday, 22 December 2025

Vakansie-idees: Probeer dit!

* Wees gaaf met die kelner wat jou bedien.

* Gee jou brakkiesakkie van die restaurant vir 'n hawelose persoon. (Jy het te veel kos geniet en hy sit en wag vir iets om die hongerpyne te stil - plaas jou in sy posisie!)   

* Elke keer as jy nuwe klere kry, gee van jou ou kledingstukke weg.

* Groet jou bure vriendelik as jy hulle in die straat sien. 

* Glimlag sommer vir iemand wat verby jou loop. (Baie gou raak hierdie 'n gewoonte wat nie net vir jou beter laat voel nie, maar ook die persoon wat die opregte glimlag gekry het.)

* Samel toiletware en ander noodsaaklikhede in vir 'n skuiling vir haweloses.

*  Sê gereeld dankie as iemand jou help.

Dankie vir AL bogenoemde voorstelle. Julle outjies kook as dit by idees kom. Sommige voorstelle is regtig van lesers met 'n hart vir uitreik. Uitreiking het gewoonlik verrykende gevolge en ons sal dit graag hier met ander wil deel!

Monday, 15 December 2025

Vakansie-idees: Probeer dit!

* Skryf 'n briefie, kaartjie of e-pos aan 'n onderwyser wat 'n verskil in jou lewe gemaak het. (Leef altyd dankbaar!)

* As jy iets in die kombuis mors, maak dit dadelik skoon voordat iemand daarop gly en seerkry. (Bied sommer vir jou ma aan dat jy die hele kombuis vir haar van hoek tot kant sal skoonmaak vir 'n Kerspresent.)

* Leen of gee vir iemand 'n inspirerende boek. (Die groot lekkerte lê daarin dat julle die boek kan bespreek.)

* Bring vir iemand 'n klein aandenking wanneer jy 'n nuwe plek besoek, om te wys jy het aan hom of haar gedink.

* As 'n groep mense oor iemand skinder, onderbreek die gesprek deur iets moois van die betrokke persoon te sê. (Doen dit net hierdie vakansie en voordat jy jou oë uitvee, is dit 'n gewoonte wat aansteeklik inwerk.)

* Vra jou ouers of julle as gesin 'n troeteldier kan aanneem wat nie 'n huis het nie.

* Indien jou ouers NEE sê vir bogenoemde idee, gaan werk dan by die DBV/SPCA. 'n Ekstra paar hande om hokke skoon te maak of diere te bad, is nooit te versmaai nie.  

* Pas 'n enkelma se kind gratis op sodat sy 'n aand uit kan geniet.

* Bied aan om die trollie vir iemand terug te vat nadat hulle hul inkopies in die kar gelaai het.

Dankie vir AL bogenoemde voorstelle. Julle outjies kook as dit by idees kom. Sommige voorstelle is regtig van lesers met 'n hart vir uitreik. Uitreiking het gewoonlik verrykende gevolge en ons sal dit graag hier met ander wil deel!

Monday, 8 December 2025

Vakansie-idees: Probeer dit!

Na aanleiding van, Maandag - 6 Oktober 2025, se vakansie-idees, word die volgende idees geplaas wat so broksgewys per e-pos aangestuur is.

* Bak kolwyntjies of muffins vir iemand wat deur 'n moeilike tyd gaan.

* Skenk jou boeke wat jy nie meer lees nie, vir die biblioteek, ouetehuis of liefdadigheid. 

* Skenk kinderboeke vir 'n kinderhuis.

* Begin 'n spaarbussie vir liefdadigheid en skenk die geld na 'n jaar vir hulle. (Verstommend is die hoeveelheid geld wat 'n mens in 'n jaar gefokus bymekaar maak.)

* Reël 'n insameling van speelgoed vir minderbevoorregte kinders.

* As jy iemand is wat van tuinwerk hou en jou oupa se groenvingers geërf het, gaan bied jou hulp aan by 'n ouetehuis, kerk of jou skool om vir die liefde van die saak in die tuin te werk. Niemand sal dit glo dat enige een so hulpvaardig wil wees nie. Sleep sommer jou beste maat saam om jou te help. 

* Iets wat nie sommer gaan byval vind nie, maar wat voorgestel is: Gaan was die venster van julle polisiestasie.  

Stuur asseblief foto's vir ons hier by Koester Karos dat ons vir die lesers kan wys dat julle voorstelle nie net op papier geskryf is nie, maar dat julle tieners is wat die daad by die woord voeg!

Friday, 28 November 2025

Vakansie-idees: Probeer dit!

* Kweek groente van saad in julle tuin.

* Weet jy hoe om 'n vuur te pak? Vra jou pa/oom/meneer as julle volgende keer gaan braai of jy die vuur kan pak.

* Skerp jou kennis van geskiedenis op, al hou nie daarvan nie. Google net wie die uitvinders is van 'n spesifieke item en hoe dit gebeur het en jy sal verbaas wees oor hoe interessant dit is. 'n Voorbeeld: Wie het die eerste uitveër gemaak? Wat is die oudste tydskryf op aarde?  Hoe verskil vakansies in verskillende lande en hoekom?

* Leer hoe om die grassnyer te gebruik en ook sommer om die randte mooi te knip. 

* Leer om 'n paar klimtoltoertjies te doen.

* Kan jy jou eie klere stryk? Leer hoe om te stryk voordat jy eendag jou eie nes gaan skrop.

* Leer om 'n landkaart te lees, al is daar tegnologiese hulpmiddels. Nie almal kan 'n landkaart, selfs 'n stadskaart lees nie. 

Sunday, 9 November 2025

Ekstra klasse voor die eindeksamen!


Skoolhoof van Christina Kiddie Primêre Skool aan die woord:
"Ons het besluit om d
ie skool toe te rus met 'n alarmstelsel en CCTV-kamerastelsel voor die skool se formele opening. Sekuriteitskameras in skole en publieke areas het die hedendaagse norm geword. Leerders voel veiliger en ons het lankal aanvaar dat kameras deel van ons daaglikse lewe is. Dit is met groot genoegdoening dat ons kan sê dat op dag 2 het die leerders reeds vroeg al ekstra klasse bygewoon om hulle punte vir hierdie eksamen 'n hupstoot te gee. Sommer hope sterkte vir julle eksamen en mag julle die vrugte van julle harde werk pluk."  

Foto's: Christelle Hattingh

Nuwe skool in Kimberley: Die Christina Kiddie Primêre Skool

Ontmoet die skoolhoof en adjunkhoof van Christina Kiddie Primêre Skool
Die veelsydige sekretaresse en van die leerders!
Een van die onderwyseresse en kinders hard aan die werk!
Die kinders hard (en minder hard) aan die werk!

Foto's: Christelle Hattingh

Monday, 6 October 2025

Vakansie-idees: Probeer dit!

* Leer hoe om papiervliegtuigies of papierbote te vou.

* Leer hoe om skaak te speel. Dit is uitstekende oefening as jy jou geheue wil verbeter (en sommer jou wiskundepunte ook!)

* Daag jou kamermaat uit vir 'n skaakwedstryd.

* Leer hoe om 'n knoop aan te werk.

* Ken jy die geskiedenis van die dorp waarin jy bly? Gaan doen bietjie navorsing oor Kimberley.
(Het jy geweet daar is 'n spooktoer in jou stad?)

* Leer die name van voëls wat gereeld julle tuin besoek en sommer ook van hulle gewoontes.

* Maak jou eie vlieër en laat dit in 'n park daar naby julle vlieg of op die skool se rugbyveld.

* Sit 'n bietjie hand by met die huiswerk. 

* Reël 'n ballongeveg tussen jou vriende op 'n baie warm dag.

* Sluit die dag af met 'n vinnige paar rondtes in die swembad.

Stuur gerus enige ander voorstelle in, verkieslik geen selfoonaktiwiteite nie. Ons wag vir julle reaksie! 

Saturday, 27 September 2025

'n Salige Saterdag waar die poppe dans

'n Foto het 'n manier om hierdie reënerige Saterdag vinnig op te som. Terwyl die druppels op die sinkdak val, vra 'n reëndag in Kimberley dat poppe vandag 'n beurt moet kry om uitgehaal en bederf te word. 

Monday, 7 July 2025

Binnekringnuus: Speel is op die Maandag-menu


Korrespondent: 'n Sonskyndag wat kinders uitnooi om hulle vaardighede as padmakers, stadsbeplanners en reisigers buite uit te leef.

Juwele van papier, geskenkpapier, materiaal, linte, papierdoilies en nog vele ander dinge is in die speelkamer ontdek. Maandag is heeltemal te kort vir die meisies om met al hierdie skatte te speel.  

Al hierdie speelvreugdes is soos bemesting vir die verbeelding van kinders.

Tuesday, 25 February 2025

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep - koffiekoekies

Na my gesprek met ons jeugkorrespondent, is ek toegegooi onder die vrae. Dit lyk my die meeste van Koester Karos-lesers het 'n passie vir bak. Party wil my ouma Annie ontmoet en ander wou by my weet of ek weet van enige spesifieke wenke of bakgeheime van lid 74. Ek het ook 'n hele paar gemmerkoekieresepte gekry met die uitdruklike versoek dat ek dit vir my ouma moet gee. Ek stuur dit sommer hierdie naweek nog vir haar. Ek sê solank dankie vir al die resepte.

Vandag deel ek graag my oupa Willie se gunsteling. Ouma Annie sorg dat daar altyd genoeg koekies in die koffiekoekiekoekblik is. Kyk, met 'n koppie kondensmelkkoffie in die een hand en 'n koffiekoekie in die ander hand, is my oupa in die sewende hemel.

Koffiekoekieresep van ouma Annie (vleismeul)

Bestanddele:
8 koppies koekmeel
3 teelepels koeksoda
½ koppie stroop
500 g margarien of botter
2 koppies suiker
½ koppie baie sterk koffie
½ teelepel sout (na smak)
1 teelepel vanilla

Metode:
* Meng margarien en suiker
* Voeg stroop by
* Maak koeksoda aan met koffie
* Gooi vanilla by
* Meng alles met gesifte koekmeel
* Bak vir ongeveer 20 min @ 180ºC

Wenk: Maak mengsel styf genoeg aan om deur die vleismeul te gaan. 

Bestanddele vir vulsel:
½ pak versiersuiker
2 e hoogvol margarien of botter
1 t vanilla
2 e baie sterk koffie
knippie sout

Metode:
* Meng alles goed
* Sit die koffievloeistof laaste by
* Plak 2-2 koekies opmekaar met hierdie vulsel

Geniet dit en gaan groot!!!

Tuesday, 4 February 2025

Binnekringnuus: Masels maak moles


Interne korrespondent:
As 'n mens masels het en skool en maatjies is op die taboemenu, dan skryf jy so 'n briefie wat jy onder die deur van tannie Christelle stoot, want dis die tannie in jou lewe met antwoorde en oplossings.

Tuesday, 28 January 2025

Binnekringnuus: Tommie se eerste onderhoud met die pers

Interne korrespondent:
 Tommie is die nuutste toevoeging tot die Christina Kiddie Sentrum. Hy is nie net die nuutste en die jongste nie, hy is loshande ook die oulikste. Hy doen mee met oorgawe. Hy speel saam totdat hy van moegheid sommer in rat doodruk en omval. En dan slaap Tommie die slaap van dooies, want as hy daar opstaan, is daar nie tyd vir lamlendig wees nie. Die lewe moet geleef word en so kruip Tommie onder ons vel in en met sy lomp peuterpote trap hy 'n yslike modderpad in jou hart. Ongenooid, ongevraagd, maar tog só welkom.

Christina Kiddie se junior korrespondent het met Tommie 'n onderhoud gevoer, sodat ons lesers ook so 'n proesel van die klein Tommie kan kry, voordat die tienerjare inskop.

CK junior korrespondent: Ons het in een van Ruben se briewe gelees dat jy van Petrusburg af kom. Vertel ons meer van jou geboorteplek.

Tommie: Petrusburg is so 'n klein dorpie tussen Bloemfontein en Kimberley, met vriendelike, gasvrye, plat op die aarde mense wat altyd bereid is om die ekstra myl te loop. Almal ken almal. En op so 'n klein plekkie moet jy jou eie besigwees skep. My ouma Annie het altyd gesê dat die duiwel orals leeglê, maar die jongetjies van Petrusburg het niksdoen vervolmaak. 

CK junior korrespondent: Nou wat doen julle Petrusburgers om besig te bly?

Tommie: Wel, die grootmense beoefen natuurlik 'n stokperdjie of leef hulle passie uit. My tannie Tilla maak vetplantjies bymekaar. Sy is sowaar die vetplantkoningin van die dorp. Sy het 'n aardige versameling. Kan jy glo dat die TV-mense dit kom afneem het en 'n hele onderhoud met haar gevoer het? Daarna is tannie Tilla die bekendste mens op die dorp. Daardie program het haar nou eers aangespoor en vir elkeen wat by haar kom kuier, stop sy 'n plantjie in die hand. 

CK junior korrespondent: Tommie, waarmee het jy jouself besig gehou op daardie klein dorpie?

Tommie:
 Jy sien, ek en ouma Annie het 'n besondere verhouding. Ek het bedags by haar gebly as my ouers gaan werk het. Ouma Annie het resepte versamel - meer spesifiek - kleinkoekieresepte! Sy het lêers en lêers ennn lêers vol resepte. Ouma Annie bak vir 'n tuisnywerheid in Bloemfontein en my werk was om koekies te proe. Ai en ek het só daarvan gehou om ook die mengbakke uit te lek - dit was my skelm bederfie en ons twee se geheim. My ma sou die piep kry as ek dit durf waag doen by die huis. Ouma Annie is lid 74. En dit is die lid wie se koekies die heel eerste van die rakke afvlie. Ek dink dis omdat ek so 'n goeie proeër is. 

CK junior korrespondent: Tommie, noudat jy hier by Christina Kiddie is, het jou lewe totaal verander. Wat mis jy die heel meeste van jou geboorteplek?

Tommie: Ek mis my maats die heel meeste. Jy weet, Saterdae was ons kaskardag. Dan het ons almal by Willem se huis bymekaar gekom en gery dat die stof so staan. Daar het elke Saterdag 'n stofwolk oor daardie klein dorpie gehang. En dan mis ek ouma Annie se koekies ... daar sit mos baie liefde en omgee in elke koekie wat sy bak.

CK junior korrespondent: Ek hoor in die wandelgange dat jy 'n spesiale Kersgeskenk van jou ouma gekry het. Vertel 'n bietjie vir die lesers daarvan.

Tommie: Ek het een van my ouma se reseptelêers gekry, met die uitdruklike opdrag om dit met boetie Ruben se lesers te deel. Ek sal by tannie Christelle uitvind hoeveel resepte ek op haar blog mag sit, maar so een 'n maand is op hierdie stadium in die pyplyn.  

CK junior korrespondent: Wat is jou gunsteling koekie?
 
Tommie: Ek dink die lekkerste koekies suid van die ewenaar is gemmerkoekies. Ek gaan sommer ouma Annie se gemmerkoekieresep vir jou gee en dan kan jy dit met die lesers deel.

CK junior korrespondent: Dankie, Tommie, dis nou 'n heerlike manier om 'n onderhoud af te sluit. Mag jy wonderlike jare in die sentrum beleef. Miskien moet jy 'n resep of twee insmokkel kombuis toe.

Gemmerkoekieresep van Ouma Annie
Hierdie is ‘n vinnige gemmerkoekieresep vir ma's met min tyd!

Bestanddele:
Bruismeel: 500 ml (240 g)
Suiker: 250 ml (200 g)
Koeksoda: 3 ml
Fyn kaneel: 5ml
Fyn gemmer: ±20 ml (indien jou gesin van 'n gemmerkoekie met 'n byt hou, moenie spaarsamig met die gemmer werk nie.)
Margarien: 150 g
Gouestroop: 15 ml
Eier: 1 - geklits
Metode:
* Sif bruismeel, suiker, gemmer, kaneel en koeksoda saam en meng goed.
* Smelt die margarien en stroop saam. Roer in by meelmengsel. (Voorkoms: Lyk asof te droog)
* Roer geklitste eier in.
* Skep teelepelsvol op gesmeerde bakplaat. Dit sit uit, so nie te naby mekaar nie.
* Bak by 180°C tot goudbruin (ongeveer 15 min).
* Laat effens afkoel voordat van plaat verwyder.
En as jou gesin van hierdie lekker gemmerkoekieresep hou - gaan groot!!!

Thursday, 5 December 2024

Binnelandse nuus: Black Friday (Deel 2)




Die winkels was vanmiddag verlate. Gelukkig was dit nie omdat die polisie toegeslaan het nie ... die klok vir swemtyd het gelui. 'n Heerlike koel aktiwiteit na 'n warm dag agter die kasregisters. Die eienaars keer blykbaar môreoggend vroeg terug om hul winkels netjies te kry voor oopmaaktyd. (Dis soos die winkels lyk nadat 1000de tevrede en soms ook ontevrede klante deur die rakke met die spoed van lig beweeg het.) 

Foto's: Christelle Hattingh

Wednesday, 4 December 2024

Binnelandse nuus: Black Friday (Deel 1)


Winkels het soos paddastoele opgeskiet om te deel in die koopkrag van Black Friday. Twee sakke met "recycled" items het vir ure se lekker speel gesorg - winkel-winkel was heel boaan die speellys, aangesien Black Friday op almal se lippe was. Daar is ook speserye en kruie geplant met die oog op toekomstige verkope, selfs (modder)koekies is vir die naweek gebak en medisyne is gebrou. 'n Baie produktiewe oggend.


Fotograaf: Christelle Hattingh

Tuesday, 8 October 2024

Binnekringnuus: Speel is die boustene vir gevorderde funksies

Ons STEEL! Ons steel op groot skaal van ons kinders! 

Elkeen van ons wat kinders nie blootstel aan speel nie, steel speeltyd by kinders. Skermtyd en TV-kyk is nie deel van speeltyd nie! Speel maak juis deel uit van 'n kind se ontwikkeling.

Hier by Christina Kiddie word die geleentheid geskep om speel-speel aan belangrike vaardighede te werk. Speel bied die geleentheid vir die ontwikkeling van die boustene wat nodig is vir hierdie meer gevorderde funksies, soos lees, skryf en wiskunde. 

Sunday, 8 September 2024

'n Saterdagskool is stimulerend, maar ook ontspannend!

Die skoolhoof  hard aan die werk ... sy kla net dat die kinders haar pla as sy vergadering hou.

Die adjunkhoof het haar goed kreatief en netjies georganiseer.

Die leerders lyk darem rustig en hardwerkend.

Rolspel help kinders om sosiale rolle en norme te verstaan en leer hulle om oplossings vir alledaagse probleme te vind deur die karakter wat hulle voorstel. Speletjies prikkel die begrip en al spelende ontwikkel kinders 'n verstaan van die wêreld rondom hulle.  

Thursday, 5 September 2024

Maak tyd ...

Maak tyd om te werk - dit is die prys van sukses.
Maak tyd om te dink - dit is die bron van krag.
Maak tyd om te speel - dit is die geheim van ewige jeug.
Maak tyd om te lees - dit is die fontein van wysheid.
Maak tyd om vriendelik te wees - dit is die pad na geluk.
Maak tyd om lief te hê en liefde te kan ontvang - dit is die voorreg van verlostes.
Maak tyd om te lag - dit is musiek vir die siel.
Maak tyd vir God - dit is die enigste standhoudende belegging.

Monday, 26 August 2024

Ruben dink hardop oor die waarde van speel


My liewe Maats 

Speel is 'n saak wat vir my baie naby aan die hart lê. Ek dink dis omdat ons wat in die platteland grootgeword het, speel as 'n werkwoord ken. Daar was nie 'n klomp winkels waar ons allerhande speelgoed kon koop nie. Verder het my ma-hulle nie geld gehad vir speelgoed nie - ons was 'n klomp kinders en ons moes buite speel waar daar genoeg ruimte was vir hardloop, wegkruip en boomklim. As jy en jou broer of suster argumenteer of  baklei, is dit so goed of ons meld ons aan vir huiswerk. My ma het dan gereken as ons nie lus is vir speel nie, dan moet ons haar help om die huis se netheidsvlak tot nuwe hoogtes te voer.Vloere vee en was of selfs vensters was, was die eerste op haar lysie van werk uitdeel. Ons het niks daarvan gehou nie, so ons het ons speeltyd ten volle gebruik en geniet. Dit het weer ander probleme veroorsaak - ons wou nooit ophou speel nie. My arme ma moes sukkel om ons voor donker in die huis te kry. Maar sy het nie nonsens gevat nie en ons het vinnig geleer om te luister ... goed te luister.

Dis eers later dat ek besef het hoe belangrik speeltyd eintlik is. Al daardie kruip, hardloop, swaai, klim en klouter, balspeletjies, klippies optel, modderkoekies bak en albaster speel, is alles aktiwiteite wat nodig is om jou groot- en fynmotoriese ontwikkeling te ondersteun. Dit vorm die fondasie vir jou skoolloopbaan en alles wat jy later gaan leer.

Maats, dink net hoeveel keer hoor ons nie van spelterapie nie? En dan dink ons dat dit nie ons probleme gaan oplos nie - dit klink heeltemal te eenvoudig om jou probleem speel-speel op te los en tog sê navorsers dat die eerste 7 jaar eintlik net speeltyd moet wees, want dis die laaste kans wat 'n kind het om vry te speel en sy of haar kreatiwiteit spontaan te laat ontwikkel. Nou dink ek mos aan 'n belangrike ding - dié van ons wat spelterapie nodig het, het dan mos te min gespeel en te veel voor die TV gesit. Dan moet ons dit dadelik regstel. Eerder te laat as nooit.

Dit was vir my baie lekker toe julle van die kerk af kom en sommer agterop die bakkie klim. Ek sien party van julle klim baie vinniger op as ander - ons sal 'n bietjie daaraan moet werk. Intussen bearbei ek solank die eienaar van die bakkie om ons net so 'n draaitjie om die blok te laat ry - maar ek het nog nie 'n definitiewe ja gekry nie. Dis asof ek my ma se stem hoor: "Klim dadelik daar af. Netnou kry iemand seer. Julle weet na lekker lag kom lekker huil." 

Ek sal maar voor sit, want dan kan ek 'n beter oog oor julle hou. As ek agter sit, skrik die kind in my wakker en stel ek dalk nie so 'n goeie voorbeeld nie.

Terwyl ek daar in die bakkie gesit het, het ek besef dat 'n kind se werk eintlik speel is. En watter heerlike werk is dit nie. Ek wil op 'n stadium met julle praat oor skermtyd - dit behoort eintlik nie in ons woordeskat te wees nie - maar dis 'n gesprek vir 'n ander dag. 

Ek sal op 'n latere stadium vir julle meer vertel van die voordele van speel, maar ek wil julle regtig nie vandag verveel met feite nie. Nou wonder julle seker hoekom ek in elk geval vir julle dan wil bemoei daarmee. Die antwoord is doodeenvoudig: Dis belangrik dat ons nie die foute van ons ouers herhaal nie. En as ons nie genoeg speeltyd gehad het nie, moet ons sorg dat ons kinders eendag genoeg speel sodat hulle lewenswenners kan word.

Een van die waardes van speel is dat 'n mens vaardighede leer wat weer bydra tot ons selfvertroue - dink maar aan ons Springbokspan wat die Australiërs so lekker die loef afgesteek het - daardie spelers het as kinders graag met 'n bal gespeel - geskop, geslaan en gedribbel en so speel-speel het hulle sportvaardighede ontwikkel. Kyk gerus na die spelers as hulle weer 'n wedstryd speel - is etiese en morele waardes deel van hulle wedstrydplan? En waar dink julle leer 'n mens dit?

Met hierdie vraag, groet ek eers vir julle tot 'n volgende keer. 
Ruben-groete!


Monday, 1 July 2024

Binnekringnuus: 'n Oorsese vlug op 'n nie-blou Maandag!

Korrespondent: Net somtyds doen 'n geleentheid hom voor wat jy nie deur jou vingers kan laat glip nie. 'n Vlug oorsee is nie almal beskore nie, maar vandag het die vliegtuig 'n wye draai oor Kimberley gegooi en toe onderdak by KJSS geland. 'n Heerlike verrassing reg voor hulle deur. Die passasiers van Amerika het afgeklim en die Kimberley-passasiers het opgeklim. Twee van die passasiers het egter gou die kleedkamers besoek, terwyl die lugwaardin vir almal tee gemaak het.  

Die vliegtuig het van KJSS se tegniese dienssentrum gebruik gemaak wat in hulle werkswinkels na die meeste soorte vliegtuie wat hier aandoen, kan omsien. Brandstof is ingegooi en nadat die beheertoring vir hulle die groen lig gegee het, kon hulle opstyg. 

Veilige reis - onthou net - die skool begin volgende week! Julle moet betyds terugkom!!!