Thursday 25 July 2024

Terugflits: Elke dag kans op 'n nuwe begin

Almal beleef trauma. Sommige mense op 'n gereelde grondslag, ander mense dalk slegs een of twee keer in 'n leeftyd. Sommige mense se graad van trauma is draaglik, ander s'n dalk so intens dat dit vir hulle onhanteerbaar voel.

Lindie Stander, of soos mense haar beter ken - grootbek Elize van Binnelanders - het voor die kruispad in haar lewe te staan gekom nadat sy op 'n vroeë ouderdom aan geweldige trauma blootgestel is.

Sy was onlangs die gasspreker op 'n geselligheid van die Jeneka-vroue-instansie in Kimberley.

Om Stander te hoor gesels is 'n belewenis. Tussen haar uitbundige lag en onderdrukte trane deur handhaaf sy 'n vreemde soort balans wat haar luisteraars vasgevang hou terwyl sy haar lewensverhaal vertel: 'n verhaal van seerkry en wanhoop, maar ook 'n verhaal van vergifnis en nuwe kanse.

Stander het die lewe met die camino in Santiago vergelyk. Dit is 'n pelgrimstog van 807 km wat sy twee keer in haar lewe gestap het. Die eerste keer was voor haar poging om haar eie lewe te neem, die tweede keer 'n jaar daarna. Elke mens durf sy of haar lewe op hul trant met besonderse uitdagings, berge en dale en rusposes aan. Almal op pad na een spesifieke eindpunt in hul lewe.

Nie net getuig Stander se verhaal van 'n tweede kans in die lewe nie, maar ook van vergifnis - nie net om vergewe te word en ander mense te vergewe nie, maar om jouself te vergewe. Ons almal maak foute. Ons almal maak die verkeerde keuses. Ons almal kan dit in 'n meerdere of mindere mate regmaak.

Stander se verhaal laat 'n mens besef elke dag is 'n kans op 'n nuwe begin.

En dit gee die hoop wat nodig is vir 'n mens se pelgrimstog.

[Noordkaap Bulletin - Lesersjoernalis - Karin Muller - gaan maak gerus 'n draai by dié koerant]

No comments:

Post a Comment