Showing posts with label DBV. Show all posts
Showing posts with label DBV. Show all posts

Friday, 19 July 2024

Binnekringnuus: Sluimerende breitalent


Wol, bolle wol en oorskietwol, op 'n koue Vrydagaand is verantwoordelik vir wolvrede en wolstilte in die koshuiskamers. Die vreugde van tolletjiebrei is nie uit die oude doos nie en die tolletjiebreiresultaat wat al langer en langer word, kan maklik kompeterend, intimiderend en verslawend raak.

En dan is daar diegene wat kan brei en ander wat nie kan nie. En hulle wat nie kan nie, is definitief aan die verloorkant. Hierdie vaardigheid het amper 'n wêreldwye dood gesterf, maar gelukkig is daar mense wat besef het dat 'n handgemaakte en 'n handgebreide artikel baie meer waarde het as 'n Chinese fabriekstrui wat nie opgewasse is teen die Noord-Kaap se koue nie. Nou leer hulle mekaar. Baie stadig - stekie vir stekie en rytjie vir rytjie - is die breivordering op 'n Vrydagaand sigbaar. 

Wednesday, 10 July 2024

Binnekringnuus: Ons besoek aan die DBV/SPCA


Korrespondent: Ons het hierdie vakansie-uitstappie geweldig geniet. Ons het sommer 'n piekniek by die pawiljoen gehou en dit het 'n heerlike kuiersessie tot gevolg gehad. Ons het die kans gehad om allerhande vrae te vra en ook ons dierestories met die tannies van die DBV te deel. 

Ons het kat- en hondekos vir hierdie instansie geskenk wat sulke waardevolle werk doen. Dis só lekker om iets te gee vir plekke waar daar nood is. Ons dink natuurlik om 'n huis te bied vir 'n katjie of twee. Daar moet egter nog gekoukus word oor hierdie gedagte - miskien is dit nie so 'n vergesogte idee nie en ook nie so ver in die toekoms in nie.

Die DBV het ons uitgenooi en gesê dat ons nie te lank moet wegbly nie ... Ons hoop dat ons dit nog in hierdie kwartaal sal kan inpas ...