Showing posts with label Ruben. Show all posts
Showing posts with label Ruben. Show all posts

Thursday, 28 August 2025

Ruben se een minuut storie: Ek is 'n gewone mens. Ek kan net nie sien nie!


Maats, vandag plaas ek Morné se storie wat ek in hulle tydskrif, InFokus, raakgelees het. Hierdie merkwaardige verhaal moet met ander gedeel word en daarom plaas ek dit in sy direkte woorde.

My naam is Morné van der Merwe en ek is op Donderdag, 13 Augustus 1981, in Welkom in die Vrystaat gebore.  

Aanvanklik kon ons nie agterkom dat ek wel blind is nie. Eers op drie maande het 'n dokter bevestig dat ek aan 'n oogtoestand bekend as RETINALE DISPLASIE, ly. Dit beteken dat die retinas nie ten volle ontwikkel het nie. Vir my ouers was dit natuurlik 'n groot skok. In daardie jare was die persepsie taamlik algemeen dat blinde persone nie iewers in die wêreld sal kom nie.

'n Blinde fisioterapeut (ook 'n oudskolier van Pionierskool) van Welkom, Stafie Pelser, het ons in kontak gebring met die Pionierskool op Worcester en ek is in 1985 daar toegelaat.

My skoolloopbaan was een suiwer plesier; gekenmerk deur vreugde, hartseer en blydskap. In 1986 het ek die voorste lid van my regterwysvinger in 'n ongeluk verloor. Dit het beteken dat ek Braille moes lees met die middelvinger. Dit was 'n groot aanpassing. My vader is in 1989 oorlede en die verlies was (en is steeds) baie groot.

In 1999 het ek matriek geskryf en in 2000 begin studeer by die Pionierskool se afdeling vir loopbaanontwikkeling. My vakke was N4, N5, telefonie en kantoorpraktyk. In hierdie stadium kry ek ook vir Rabat, my gidshond. Ek het hom met gemengde gevoelens ontvang. Ek was skepties om my kierie te ruil vir 'n hond, maar na gereelde oefensessies deur die dorp met hom, erken ek nou dat ek vir Rabat met my lewe kan vertrou.

In 2001 het ek begin studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Ek was 'n bietjie op my senuwees vir die nuwe omgewing, maar met Rabat en my mobiliteitsintrukteur aan my sy het ons twee weke voor die klasse begin het die omgewing verken. Na slegs vier ure toe weet ek en Rabat reeds hoe om by my klasse uit te kom! Ek het baie vriende gemaak en bly in Huis De Villiers. Ek volg 'n BA Taal- en Kultuurkursus met vakke Afrikaans, Duits, Geskiedenis, Sielkunde en Musiek. Ek is baie lief vir musiek, veral my viool. Ek het reeds in graad 5 begin met lesse. Musiek bekoor my nog steeds.

Ek is trots om te bevestig dat ek en my blinde vriende die persepsie dat blinde persone nêrens in die wêreld sal kom nie, verkeerd bewys het!  

[Bron: InFokus, Nuus van die Instituut vir Blindes, Augustus 2001]

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Mense wat nie kan sien nie, is gewone mense.
* Daar is in elkeen se lewe ontelbare genade, ten spyte van 'n klomp struikelblokke.
* Dat blinde persone wel êrens in die lewe kan kom.
* Moenie mense oordeel nie - loop eers in hulle skoene voordat jy 'n opinie uitspreek.

Thursday, 14 August 2025

Ruben se een minuut storie: Seun sonder 'n hemp


Dis stil in dié klas. Mnr. Buys voel hoe sy binneste ruk, want hy weet hier is groot behoefte, maar ter wille van die dissipline van die klas moet die seun gestraf word. Hy versoek toe weer vir Klaas om sy baadjie uit te trek, en weer smeek hierdie maer verwaarloosde kind: "Meneer, ek sal enigiets doen, maar asseblief, Meneer, ek kan nie die baadjie uittrek nie."

Mnr. Buys kon ook nie toegee nie, en sê weer: "Kom, Klaas, uit met die baadjie" en toe Klaas sien hy gaan die baadjie moet uittrek, maak hy dit oop en laat dit stadig grond toe gly en staan voor die onderwyser met net die verflenterde ou broek aan sy lyf."
 
"Klaas, waar is jou hemp?" vra mnr Buys."Meneer, in ons huis is daar net een hemp en een baadjie en dit was vandag my boetie se beurt om die hemp te dra. En Meneer, ek het nie bedoel om die brood te neem nie, ek het gedink Jakobus gaan dit net weer in die asblik gooi soos elke dag, en ek was baie honger, en ek weet my boeties en sussie by die huis is ook so honger soos ek, toe dink ek hy sal nie eens agterkom dat die brood weg is nie. Hier is dit, Meneer." Hy plaas die oorblywende broodjies op die tafel.

Mnr. Buys het gemaak of hy na iets op die bord kyk om hom geleentheid te gee om sy emosies onder beheer te kry.
 
Toe draai hy om en sê: "Klaas, jy verstaan dat ek wel die dissipline moet toepas. Jy verstaan dat ek nie 'n uitsondering kan maak nie," en Klaas kyk hom in die oë en sê: "Ja, Meneer, ek verstaan" en toe buk hy. Mnr. Buys tel die rottang op om die eerste hou te slaan, toe breek Jacobus se stem die stilte in die klas: "Wag, Meneer, moenie hom slaan nie." 

Mnr Buys kyk na Jacobus en sê: "Nee, Jacobus, jy weet dat die straf moet toegepas word vir die oortreding van julle reëls."

"Ja, Meneer, maar moenie hom slaan nie, hy was baie honger en het aan sy boeties en sussie by die huis gedink. Ek sal liewer in sy plek kom buk om sy straf wat hy moet kry, te vat."

Jacobus staan op en stap vorentoe. Daar was nie 'n droë oog daardie dag in daardie klas nie.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Jesus het voor die VADER gestaan en gesê: "Asseblief, VADER, moenie hulle straf nie. EK sal in hulle plek die straf op MY neem.
* Kom ons maak 'n punt daarvan om elke nuwe dag vir God dankie te sê vir die straf wat HY namens ons gedra het. 
* Moenie kos mors nie - daar is te veel mense wat nie kos het nie.
* Dink voor jy praat.
* Doen aan andere wat jy graag wil hê aan jou gedoen moet word.

[Dankie, Rosetta, vir die aanstuur van hierdie verhaal.]

Thursday, 7 August 2025

Ruben se een minuut storie: Die padda en die muis


Hierdie kort-kortverhaal handel oor 'n muis wat hulp van 'n padda soek om van die een kant van die stroom na die ander te kom.

Muis moes baie dringend aan die oorkant van 'n stewige stroom kom. Sy familie aan die oorkant is siek en Muis wil hulle gaan help. Omdat Muis nie kan swem nie, het hy allerhande planne gemaak om aan die oorkant te kom, maar die een plan was meer gevaarlik as die ander plan. Gelukkig sien hy 'n padda op 'n klip in die son sit en bak en besluit om hom te nader vir hulp. Hy ken nie dié padda nie en na heelwat mooi praatjies en beloftes stem die padda in om die muis te help. Muis maak homself aan die padda vas, want hy wil nie in die water val nie. Padda het egter ander planne gehad en duik in die water in net nadat Muis homself stewig op Padda se rug vasgemaak het. Padda bly lank genoeg onder water totdat hy seker is die muis op sy rug het verdrink.

Padda swem met 'n groot glimlag op sy gesig na bo en spring op sy gunstelingklip. Hy kan nie glo dat die muis hom so maklik geglo het nie en sonder enige moeite het hy 'n kitsmiddagete op sy rug. Hy was nog besig om die toue los te maak waarmee Muis homself vasgemaak het, toe word hy deur meneer Valk opgetel. Meneer Valk is op sy beurt baie in sy skik dat hy twee porsies kos kry met net een poging.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Moenie iemand vertrou wat jy moet smeek om jou te help nie.
* Moenie vreemdelinge vir hulp vra nie.
* Moenie iemand wat jou hulp nodig het, te na kom nie.
* Jy kry van jou eie medisyne terug, as jy vir ander lieg.

Thursday, 31 July 2025

Ruben se een minuut storie: Die lewe van 'n blommeverkoper


Dadija Israel, 'n blommeverkoper van Kaapstad, volg in haar ouers se voetspore. Haar ma het jare lank buite 'n winkelsentrum onder 'n boom met haar blomme gesit. Haar pa het oral in die Kaap, tot so ver as Upington, proteas en rose verkoop.
 
Dadija en haar broer het altyd saam met hul ouers gegaan. Toe haar ma siek word, moes Dadija op 15-jarige ouderdom skool verlaat om haar ma te help blomme verkoop. Eers wou sy graag haar skoolloopbaan voltooi en iets anders met haar lewe doen, maar nie nou meer nie. Vanjaar is dit al 16 jaar dat Dadija dit doen. Dit wys dat sy lief is vir blomme.

Sy is getroud en het drie kinders. Omdat haar man nie werk nie, is die blommegeld die gesin se enigste inkomste. Dis nie maklik om só jou geld te verdien nie, maar daar is nooit 'n dag wat sy leë hande huis toe gaan nie. Die minste wat sy al op 'n dag verdien het, was R100 en die meeste R3 000.

Dadija sit onder dieselfde boom as waar haar ma met haar blomme gesit het - al reën dit of al waai die wind. Sy sit van nege-uur in die oggend tot saans halfsewe onder die boom. Op belangrike dae soos Valentynsdag of Kersfees, kry sy toestemming om haar blomme in die sentrum te verkoop. Sy moet egter betaal om dit te mag doen.

Maandae en Dinsdae gaan haal sy vars blomme en pak dit vir die week. Sy kry die blomme van verskillende plekke af - proteas van Grabouw en lelies van 'n plaas naby Philippi. Party blomme kom van ver en word by die lughawe afgelaai waar sy dit dan kry.

Dadija ry met 'n stokou bakkie. Elke oggend sit sy die emmers uit, kry die mat reg, sit die blomme in die emmers, gooi water in en sorg dat alles mooi lyk. Saans pak sy alles weer op die bakkie en vat dit sentrum toe, waar sy dit oornag los tot die volgende dag.

Blommeverkopers moet hulle sake goed beplan, want blomme is duur. As die blomme doodgaan, moet hulle dit weggooi, maar steeds daarvoor betaal. Wanneer Dadija hieroor kla, vertel haar ma hoe húlle destyds gesukkel het. Hulle moes die blomme in die bosse op die berg gaan pluk en ver loop om dit te
verkoop. Dan besef sy dat dit vandag eintlik makliker is om 'n blommeverkoper te wees as in haar ma se dae.

Dadija se hele familie verkoop blomme, maar elkeen werk vir homself of haarself. Die blommegeld help om vir party van die kinders se studies te betaal. Haar een neef is 'n rekenmeester en die ander een is 'n onderwyser - al hulle studies is met blommegeld betaal. 

Dadija is 'n gelukkige blommeverkoper. Soms is haar lewe moeilik, maar sy verkies om positief te bly. Haar enigste begeerte is om vir haar kinders alles te gee wat hulle nodig het. Sy sê: "Ek sal nooit my plek onder dié boom opgee nie. Hierdie plek is vol herinneringe." 
                                                                                       
[Verwerk uit Huisgenoot, 8 Februarie 2019]

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Dit maak nie saak watter soort werk jy doen nie. Jy moet altyd jou beste gee.

* Elke ouer wil die beste vir sy of haar kind gee, al is die omstandighede moeilik. Waardeer dit en wees dieselfde omgee-ouer vir jou kinders.

* Dink 'n bietjie oor jou ouers se lewe. Gaan jy ook 'n storie soos Dadija hê om te vertel?

Maats, ons volg almal in ons ouers se spore. Ons, ek en Tommie, is in die eerste plek waghonde en dan troeteldiere, soos ons ouers, grootouers en groot-grootouers voor ons. En ons moet die beste daarvan maak wat ons kan - ons moet steeds positief bly as daar moeilike dae is - hulle sal ook verby gaan.

Tuesday, 29 July 2025

Resep: Tommie deel vandag meer as net 'n Ouma Annie-resep

My nuuskierigheid strek baie verder as net koekies en koekierespte! Met Ruben as my mentor het ek geleer om wyd te lees.

Ek kom toe op 'n artikel af: REDES OM SJOKOLADE TE EET. Dit is wel 'n ou artikel, maar dit het my aan die dink gesit. Ek deel graag hierdie dinkstukkie met julle - dit kan dalk net goeie nuus vir party van julle wees. Ons is mos almal lief vir sjokolade!

"Die meeste van ons het geen aanmoediging nodig om aan ʼn sensuele, romerige happie sjokolade weg te lê nie. En nou dui al meer navorsing dat jy maar gerus kan.

Ons verbind sjokolade met liefde. As jy sjokolade eet, stimuleer dit jou goedvoelhormone en dit laat jou emosioneel beter voel. Sjokolade bevat baie magnesium wat help met die beheer van die goedvoelstowwe serotonien en dopamien.

As jy in die oggend ʼn stafie bittersjokolade eet nadat jy heelnag gevas het, kan dit jou selfs help om gewig te verloor, het navorsers aan die Universiteit van Kopenhagen bevind. Mans wat dit gedoen het, het die res van die dag 15% minder geëet as dié wat dit nie gedoen het nie.

Wetenskaplikes ondersoek die verband tussen sjokolade en hart- en bloedvatgesondheid nou al meer as ʼn dekade en al hul navorsing dui daarop dat donkersjokolade hoë bloeddruk help verlaag en so hart- en ander siektes help voorkom.

Die vermoë van sjokolade om bloedvate te verwyd, kan ook komplikasies van lewersirrose help voorkom. Mense met lewersirrose het harde lewerweefsel wat die vloei van bloed na en deur dié lewensbelangrike orgaan belemmer."

En op hierdie sjokoladenoot, gaan ek 'n vinnige sjokoladeresep met julle deel.

Ouma Annie se sjokoladesplinterkoekies (chocolate chip cookie)
 
Bestanddele:
125 g (135 ml) botter
100 g (125 ml) suiker
100 g (125 ml) bruinsuiker
2 ml vanieljegeursel
1 eier, effens geklits
184 g (330 ml) bruismeel
1 ml sout
125 g sjokoladesplinters
60 g okkerneute, grofgekap (opsioneel)

Metode:
* Verhit jou oond tot 180 ºC. 
* Room die botter en albei suikers met jou elektriese menger saam tot lig en romerig. 
* Gooi die vanieljegeursel by en meng. 
* Voeg die geklitste eier geleidelik by en klits goed ná elke byvoeging. 
* Sif die bruismeel en sout saam. 
* Voeg dit by die suikermengsel. 
* Voeg die sjokoladesplinters en (okkerneute) by en meng goed. 
* Skep teelepelsvol van die mengsel en vorm in balletjies. 
* Plaas balletjies op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer en goed gesmeer is, sowat 5 cm van mekaar. 
* Bak vir 15-20 minute.

[Hierdie resep lewer sowat 20 koekies.]

Geniet dit en gaan groot!!!

Sunday, 27 July 2025

'n Besige verjaardagweek


Die afgelope week was 'n bedrywige verjaardagweek by Christina Kiddie. Die verjaardagwense was soet in die mond van hulle wat verjaar het.


'n Groot DANKIE aan Charlotte van die *Sandwich Shop wat aan elkeen die verjaardagkoek van sy of haar drome gebak het. Jy sit daardie ekstra onthou in 2025 se verjaardae en maak dit só spesiaal vir elke verjaardagmaatjie.

Thursday, 24 July 2025

Ruben se een minuut storie: Jan en die boontjierank


Die verhaal van Jan en die boontjierank is baie bekend en almal van ons het dit een of ander tyd by die skool gehoor. Onthou julle dat Jan se ma hom dorp toe gestuur het om 'n koei in die dorp te verkoop in ruil vir geld sodat hulle kos kan koop. Ja, maats, dis so sleg soos wat dit met Jan-hulle gegaan het.

Toe Jan in die dorp aankom, word hy aan sy neus gelei. Jan weet nie hoeveel geld hy vir die koei kan kry nie, al wat hy weet is dat hy vir hom en sy ma kos moet koop met die koei se geld. Jan vra vir die eerste man wat hy langs die pad raakloop of hy nie weet van iemand wat 'n koei sal koop nie. Die onbekende man sê toe vir hom dat hy nie geld het nie, maar dat hy die koei vir towerbone sal ruil. 

Toe Jan by die huis aankom met die towerbone was sy ma woedend. Sy kan nie glo wat Jan gedoen het nie en sy vat die bone en gooi dit by die venster uit.

Nie lank daarna nie, groei 'n groot boontjierank tot in die wolke. Uit pure nuuskierigheid klim Jan eendag teen die boontjierank op in die hoop om kos êrens bo te vind. Die koper het per slot van rekening gesê dat dit wonderbone is.

Tot sy verbasing kom hy op 'n dorp in die wolke af en ontmoet hy die reus wat sy pa vermoor het.

Jan besluit dit is nou sy kans om die skade wat hulle aangedoen is, reg te stel en hy steel uiteindelik 'n wonderhen en goue muntstukke van die reus. Jan probeer ook om 'n harp te steel, maar die reus word wakker uit sy slaap. Hy besef wat is besig om te gebeur en jaag vir Jan. Jan besef dat hy baie vinnig sal moet wegkom of die reus sal hom ook doodmaak. Jan hardloop teen die boontjierank af en toe hy onder kom, gryp hy die byl waarmee hulle hout kap en kap die boontjierank af. Die reus val en tref die aarde met 'n allemintige slag en sterf oombliklik.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Die goeie triomfeer oor die boosheid van die reus. 
* Doen wat reg is - die leuen word altyd deur die waarheid aan die kaak gestel.  
* Vriendelikheid oorwin wreedheid.

Thursday, 17 July 2025

Ruben se een minuut storie: Tee uit 'n besondere teepot


Eendag was daar ‘n mooi blou teepot, die heel beste teepot in die hele wêreld. Sy eienares was baie lief vir die teepot en dit is gereeld gebruik as besoekers kom tee drink het. Dan het die mooi blou teepot op ‘n pragtige wit tafeldoek op die teetafel gestaan, of op die tuintafeltjie wanneer hulle buite tee gedrink het. Teepot het dit geniet om dan reg in die middel op die oulike tuintafel te staan onder ‘n fraai, helderkleurige tuinsambreel in die skadu van die groot ou eikeboom. Die besoekers kon nie uitgepraat raak oor die besondere teepot nie en die heerlike geurige tee wat uit die tuit geskink word nie. Dit het die teepot baie trots laat voel. Wanneer die gaste weg is, is teepot met groot liefde gewas en afgedroog - en mooi skoon en blink - op die kombuiskas gesit waar almal dit kon raaksien en bewonder.

Op ‘n dag, na ‘n teepartytjie, het 'n hulpvaardige, maar onhandige gas aangebied om die breekgoed te help indra. Die blou teepot het uit haar hand gegly en sy tuit het gebreek. Die eienares van dié besondere teepot was baie kwaad. 

 “Ag nee,” het sy gesê, “kyk wat het jy nou aangevang! Ek sal van nou af nie meer hierdie juweel kan gebruik nie, ek sal nou een van my ander teepotte, miskien die pienke, moet gebruik. Ag tog, dis jammer. Hierdie een was my geliefkoosde teepot!”

Die blou teepot was baie, baie hartseer. Sy glorieryke dae het so skielik tot 'n einde gekom. Toe teepot se eienaar se vriendinne weer kom tee drink, is die pienk teepot uitgehaal. Treurig en vergete het die blou teepot op die vensterbank gestaan en kyk hoe die pienk teepot die teepartytjie buite in die tuin geniet. Hy het baie, baie eensaam gevoel, verlate en vergete.

Op ‘n dag kom daar ‘n gawe vrou wat skilder daar tee drink. Sy sien vir teepot waar hy op die vensterbank staan en sê: “Wat ‘n mooi blou teepot!”
 
“Dit was my geliefkoosde teepot,” sê teepot se eienaar, “maar hy het geval en gebreek en die tuit het afgebreek en ek kan hom nie meer gebruik nie.” 
“Kan ek die teepot leen?” vra die kunstenares.
“Ek wil ‘n skildery maak.” Toe vat die kunstenares die teepot saam huis toe en sit hom daar op ‘n mooi geel tafeldoek neer en begin ‘n skildery van hom maak. Die aandag wat hy kry, laat teepot sommer baie beter voel. Dis vir om lekker om op die geel tafeldoek te staan, terwyl die kunstenares hom skilder.
 
Uiteindelik is sy klaar. Sy neem vir teepot terug huis toe. “Ek wil die blou teepot graag weer eendag vir ‘n skildery leen,” sê sy vir die eienares. “Waarom rangskik jy nie intussen blomme in hom en sit hom op die tafel nie? Hy sal so mooi lyk daar!” “Dis ‘n gawe plan!” sê die eienares.

En nou staan teepot weer trots op ‘n geel tafeldoek op die tafel in die woonkamer waar hy altyd gestaan het, terwyl die gaste tee gedrink het. Almal sê dat hy die fraaiste teepot is wat hulle ooit gesien het. Met die blomme lyk hy alte fraai - baie mooier as die pienk teepot!

Wat het ek uit hierdie storie geleer?

* Dinge werk nie altyd uit soos wat jy gehoop, gewens of beplan het nie. Aanvaar dit en beweeg aan.
* Soos die blou teepot, moet jy ook aanpassings in jou lewe maak, maar onthou altyd, dat jy nog steeds bruikbaar is. Op 'n ander manier kan jy nog steeds 'n bydrae maak.
* Sien jou potensiaal raak, lewer jou beste, maar moet nooit dink jy is beter as die pienk teepot nie. Julle werk is albei ewe belangrik.

[Indien enige leser weet wie die skepper van die storie is, laat weet asb. dat ons erkenning kan gee.]

Thursday, 10 July 2025

Ruben se een minuut storie: Jessica se "groot" besluit


Jessica, 5 jaar oud, het met haar eie geld ‘n string wit pêrels van R30 gekoop. Die pêrels het haar tog só groot en mooi laat voel en sy het dit baie gedra. Sy was só trots op haar pêrels.
Jessica se pa was baie lief vir haar, en een aand na storietyd vra hy: “Jessica, is jy lief vir my?”
“Ja, Pappa, baie!” antwoord sy.
“Nou gee dan jou pêrels vir my, toe?”
“Nee, Pappa, nie my pêrels nie! Maar Pappa kan my pop op die bedkassie kry ...”
“Nee, dis oukei, skat. Lekker slaap. Onthou, Pappa is lief vir jou!”
‘n Week later na storietyd vra hy vir haar dieselfde vraag. Haar antwoord is dieselfde, en weer wil sy nie haar pêrels vir haar pa gee nie.
“Pappa kan my teddiebeer met die pienk strik kry.”
“Toemaar, skat. Ek sal nie jou teddie vat nie. Lief vir jou! Lekker slaap.”
‘n Paar aande later stap hy by Jessica se kamer in. Sy sit kruisbeen op haar bed. Toe hy nader kom, sien hy haar kennetjie bewe en ‘n groot traan rol oor haar wang.
“Wat is verkeerd, Jessica?” vra haar pa besorgd.
Sy steek haar handjie uit en gee die boksie met die pêrels daarin vir hom.
“Hierso, Pappa, dit is vir jou,” sê sy met ’n bewerige stemmetjie.
Met trane in sy oë vat Jessica se pa die goedkoop string pêrels. Met sy ander hand haal hy ‘n fluweelboksie met ‘n string egte pêrels uit en sit dit vir haar aan. Hy het dit al die tyd gehad, maar hy het gewag dat sy die goedkoop pêrels vir hom gee, sodat hy vir haar die ware skat kon gee.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* God is soos Jessica se pa. Hy wag GEDULDIG vir ons om die goedkoop dinge in ons lewe prys te gee, sodat Hy vir ons geskenke van onskatbare waarde kan gee.
* Dink bietjie: Hou jy vas aan dinge wat God wil hê jy moet los, aan skadelike maats, vriende en gewoontes wat jy dink onmoontlik is om te laat gaan?
* Onthou altyd: Dis soms moeilik om te sien wat in God se hand is, maar glo een ding: Hy sal niks van ons af wegneem sonder om vir ons iets beters te gee nie!

[Maats, ek lees baie en probeer oral vir julle oulike stories in die hande kry. As jy 'n mooi storie het wat jy met ons wil deel, stuur dit gerus. Dankie vir al die maats wat so gereeld stories soos hierdie instuur. Liefde!! Ruben]

Sunday, 6 July 2025

Ruben se ma se blombrief ...

Liewe Ruben

Ek lees jou briewe met nederige dankbaarheid, want ek kan sien hoeveel lewenslesse wat jy hier in Petrusburg geleer het, jy met jou saamdra.

Ek deel graag met jou een van ouma Annie se lewenswaarhede wat my nog elke dag aanspoor om my beste te doen. 

Blom waar jy geplant is, was een van jou ouma Annie se gunsteling sêgoed. Ek het dit as my lewensmotto oorgeneem en ek deel dit met almal wat my pad kruis. Moenie dink dit is altyd maklik nie. Ek moes al baie keer op my tande kners en in my gedagtes sê: Jammer, Ouma, maar nie vandag nie. En dan pak die skuldgevoel my in dubbele slae ...

Wat beteken: Blom waar jy geplant is, eintlik?

Ruben, dit beteken wees die beste jy wat jy kan wees in enige en alle omstandighede. Jou beste is altyd genoeg, selfs vir God. Ek hoor jou dadelik sê: Dit is moeilik om die BESTE jy te wees in die alledaagse bestaan van jou lewe. Daar gaan dae om wat so eentonig is - dieselfde storie oor en oor. Dan is daar dae wat besaai is met hobbels in die pad en ander probleme. En dan is daar dae waarin die rugstekers se dade triomfeer oor hulle wat hul bes probeer doen. Hierdie is nie die tipiese dae wat jy voel dat jy net jou beste wil gee nie.

Ek praat dikwels met ouma Annie in my kop: Hoe vind ek vreugde, ouma Annie, as die moeilike dae net moeiliker word, die eentonige dae sieldodend, die probleemdae onhanteerbaar ... Hoe kan ek blom, as ek nie eens die krag het om net regop te bly nie?

Die antwoord: Wat jy ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.  

God het aan elkeen van ons ‘n spesifieke, unieke stel talente gegee. Jy, liewe Ruben, is gelukkig om op die regte plek te wees. Jy gebruik reeds jou talente na die beste van jou vermoë.

Dis belangrik vir elkeen om jou gawes en talente te ontdek en dan sal God se droom en plan vir jou lewe soveel meer sin maak ... en die bonus ... jy sal 'n sielsgelukkige hond of mens wees, want die hobbels en probleme op jou pad, kan jy met Sy hulp, oorkom en blom. Gee jouself oor aan God se plan vir jou lewe. 

Soms is die vreugde wat ons daagliks ervaar in iets so kleins soos 'n glimlag van iemand, 'n mooi skoenlapper wat voor jou verbyvlieg of iemand wat vir jou 'n kompliment gee. Moenie iets vir iemand anders doen om raakgesien te word nie. Nee, as jy iets vir ander doen of gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie. Doen dit stilletjies, ongemerk, anoniem, dan kan net God die krediet daarvoor kry. 

Ek luister gereeld na wat jy en Tommie vir my oor julle doen en late vertel en ek weet dat julle op jul stil manier baie beteken:

Ek hoor dat julle ...
* die terrein se veiligheidsbelange op julle hart dra.
* saam met die kinders speel, hardloop en uitbundig die speeltyd na studie geniet.
* nie bang is om saam in die swembad te spring en te speel nie.
* die kinders aanmoedig om hulle huiswerk te doen.
* net daar is vir elkeen wat 'n oor en 'n skouer nodig het.
* drukkies en stertswaaie uitdeel waar dit nodig is.
* geheime bewaar en saam na oplossings soek. 

Hoe kan julle inwoners en maats iets vir iemand beteken? Ek skryf vir jou 'n paar gedagtes wat jy met hulle kan deel - dalk in jou volgende brief.
* Help jou kamermaat met haar wiskunde of Engels.
* Deel jou pousekos met iemand wat minder as jy het.
* Dek die tafel sonder dat iemand jou vra om dit te doen.
* Pluk 'n blommetjie en gaan gee dit vir jou ma, huisma, juffrou of buurvrou.
* Groet elkeen met 'n glimlag wat jou pad vandag kruis.
* Moenie altyd kla nie. 
* Wees positief en nie negatief nie - al voel jy lus om eerder iemand se oë uit te krap.
* Sê altyd asseblief en dankie - twee towerwoorde wat aan die uitsterf is.
 
Klein gebare het groot impak. Onthou: ‘n Glimlag teenoor ‘n vreemdeling is verniet! Deel dit uit.

Besef jy, Ruben, jy is soms die enigste straaltjie lig tussen mense in ‘n andersins pikdonker wêreld?

Tree dan soos 'n kind van Jesus op. God het nie geheime agente nodig nie. 

Vreugde vir jou dag. Ek is trots op my hondekinders!

Baie liefde
Mamma

Thursday, 3 July 2025

Ruben se een minuut storie: Dialoog tussen 'n potlood en 'n uitveër


[Ek deel graag die storie wat Anoniem vir my gestuur het.]

POTLOOD: Ek is jammer.

UITVEëR: Waarvoor? Jy’t nie iets verkeerd gedoen nie.

POTLOOD: Ek is so jammer dat jy as gevolg van my seerkry. As ek ‘n fout maak, is jy altyd daar om dit reg te maak. Maar namate jy my foute laat verdwyn, verloor jy ‘n deel van jouself. Jy word net al hoe kleiner ...

UITVEëR: Dis waar, maar ek gee nie regtig om nie. Ek is mos gemaak om dit te doen. Ek is gemaak om jou te help wanneer en waar jy ookal iets verkeerd doen. Ek sal tevrede wees met die wete as ek eendag nie meer daar is nie en jy my met ‘n ander een vervang het, dat ek my absolute bes gedoen het. Onthou, ek is eintlik baie gelukkig in my werk. Hou nou op om bekommerd wees. Ek haat dit as jy hartseer is.

Hierdie gesprek tussen die potlood en die uitveër is so op ouers en kinders van toepassing. Dink so daaraan maats: Ouers is die uitveërs en die kinders is die potlote. Ouers is altyd daar vir hulle kinders. Hulle hanteer die foute wat die kinders maak en somtyds kry hulle selfs as gevolg daarvan, baie seer. In die proses word hulle "kleiner"en ouer en uiteindelik is hulle nie meer daar nie. Die kinders vind mettertyd iemand in hulle ouers se plek, bv. 'n  huweliksmaat, maar ouers is nog steeds daar vir hulle kinders en sal altyd alles in hulle vermoë doen om hul kinders se kommer en hartseer minder te maak of te laat verdwyn. 

Ek was nog my hele lewe lank ‘n potlood en dit maak my baie seer om my ouers, wat my uitveër is, onder my oë sien wegkrimp. Ek besef baie goed dat ek eendag net met die uitveërkrummels en herinneringe van wat ek gehad het, sal sit.

[Skrywer: Onbekend]

Tuesday, 24 June 2025

Binnekringnuus: Dankie, Koester Karos-lesers vir julle boodskappe!


Liewe Lesers en Maats, 
Ek moet net keer of my stert  waai 'n volle omwenteling om my aarde - 'n volle 360 grade!! Ek plaas net 'n paar van my terugvoerboodskappe - die ander het ek op die kennisgewingbord geplak waar ons elke dag 'n inspirerende gedagte vassit om 'n bietjie kleur aan ons dag te gee.

Dankie, Yvonne, vir hierdie baie mooi foto's. Ek het nie eens geweet jy het foto's van my nie. Ek het dit dadelik vir my ma aangestuur. Sy het 'n hele muur waar sy al ons familiefoto's hang. Jy kan net dink hoeveel foto's teen daardie muur hang!! Ek en Tommie is in die gelukkige posisie dat ons baie mense ontmoet, deel is van verskeie projekte en geliefd is in ons omgewing. As die vrouens so kom tee drink by my ma en ouma Annie, dan wys sy met moederlike trots ons foto's en las sommer sulke lang stertjies by elke storie. Jy kan net dink, liewe Yvonne, dat ons omtrent soos helde in die oë van die Petrusburgers is. 

Kennisgewingbord in die agtergrond!

Sunday, 22 June 2025

Ruben praat oor kinderjare-onthou


Liewe Maats

Ek is só opgewonde, ek moet net die nuus met iemand deel. Ek het die afgelope week regtig 'n lekker verrassing gekry. Skielik het ek sommer verlang na my kinderjare, my maats, my skooljare en sommer net na die hele Petrusburg. Sal iemand vir my 'n foto kan stuur van Petrusburg? Is die strate nog so skoon en netjies? En kuier die kinders nog na skool by Uncle Charlie se kafeestoep? Op daardie stoep is groot drome gedroom, versugtinge uitgespreek en met verlange gepraat oor die groot stede met die mooi huise, duur karre en baie werksgeleenthede wat nie in Petrusburg bestaan het nie. Ek lê vanmiddag onder my dinkbank en ek wonder wat van al daardie kinders geword het. Kon hulle hul kinderdrome verwesenlik en leef hulle hul kinderdrome uit of  beleef hulle 'n nagmerrie op die stoep van die lewe.

Terug na my verrassing. Tannie Charlotte het verlede week die verjaardagmaatjie se koek kom aflewer. Nooit het ek geweet dat *Ruzanne se droomverjaardagkoek 'n kinderfoto van my sou ophê nie. Maats, daardie foto het my gedagtes met 'n spoed terug in tyd gestuur en soos 'n rolprent het my grootwordjare op Petrusburg voor my afgespeel. Ek het Ruzanne sommer net daar 'n leksoen teen die wang gegee, drie draaie om haar gehardloop, my stert amper afgeswaai en uitbundig van vreugde geblaf. Nie lank nie, of die buurt se honde het teruggeblaf! Wat 'n heerlike warm gevoel het in my binneste kom nesmaak.

Maats, tannie Charlotte se koekpresent vir Ruzanne was my herinneringsgeskenk. En op daardie oomblik het ek besef dat 'n mens onthou-oomblikke moet skep. Kinders moet speel, rondhardloop, boomklim, eenbeentjie spring (miskien ken julle dit as Hopscotch), kat-en-muis speel, kennetjie, aan-aan en so kan ek aangaan. Die speletjie waarvan ek die minste gehou het, was kennetjie - heeltemal te veel reëls vir 'n hond wat hou van hardloop. Speel julle nog hierdie speletjies of is julle vasgeplak aan julle fone? En by die huis is dit seker die TV of X-box? Weet julle daar is 'n opwindende lewe weg van die skerms?

Kinders kom die lewe in met bondels energie, baie idees en planne en 'n oop gemoed om te leer. Moenie dit voor 'n skerm deurbring nie. Kyk om jou en spring, lag en gesels. As jy eendag werk of te oud is vir speel, is dit die lekker herinneringe wat 'n reg-rondom-glimlag op jou gesig sit.

Weet julle outjies, ek het ook op Uncle Charlie se kafeestoep gestaan - elke dag - en oopmond geluister na kinderdrome. En ek het gewonder hoe my lewe na Petrusburg gaan uitdraai. En al wat ek in my geestesoog kon sien, was om iemand se waghond te wees. Die lewe het my tienvoudig geseën met 'n ongelooflike sinvolle lewe. Natuurlik is sekuriteit my hoofaktiwiteit, en ek doen dit met soveel liefde, want ek is vir baie meer as net my veiligheid verantwoordelik.

Ek is in Yvonne se woorde: 'n glimlagmaker, 'n trooster en 'n beste vriend. Dit is die lekkerste deel van my werk. Met my fyn ingestelde sesde sintuig weet ek sommer wie het 'n oor of 'n drukkie of net stilte nodig. Ek loop met bondels geheime in my binneste rond, ek herkou aan elkeen en probeer sover as moontlik die regte leiding gee.    

Ek (jare terug) tussen ouma
Annie se blomme. 
Die lewe gaan so vinnig verby - bou aan julle kinderherinneringe. Dankie, tannie Charlotte, dat jy ons verjaardae só spesiaal maak. Dat jy vir ons die genot gee om ons droomkoek te kan beskryf en jy ons koekprentjie in 'n werklikheid omskep.

Dankie, Ruzanne, dat jy my kinderprentjie gekies het - ek wonder wie jou gehelp het.

Dankie, tannie Christelle, dat jy elke vakansie met speelherinneringe vul wat eendag die rede vir ons reg-rondom-glimlag sal wees.

Speelgroete uit Kimberley tot 'n volgende keer!
Ruben

(* Naam verander.)






Thursday, 19 June 2025

Ruben se een minuut storie: Olifante gee hulle vryheid prys


'n  Man stap eendag verby ‘n trop olifante wat vasgebind staan. Hy stop skielik en is verbaas dat hierdie enorme diere deur so ‘n dun tou aan die voorpoot vasgehou kan word. Daar is geen kettings, geen hokke nie, behalwe die dun tou aan die voorpoot en ‘n pen in die grond.

Dit was duidelik dat die olifante, indien hulle wou, maklik kon losbreek van die tou wat hul vashou, maar om een of ander duistere rede, het hulle nie losgebreek nie.

Ek is verbaas oor die hele situasie en vra vir een van die olifant-afrigters wat daar naby staan hoekom die olifante geen poging aanwend om los te breek van die toue nie.

“Wel” sê die afrigter, “toe hulle baie jonk en heelwat kleiner was, het ons presies dieselfde dikte tou gebruik as nou en dit was voldoende om hulle so vas te hou dat hulle nie kon losbreek nie. Soos wat hul groter geword het, was hulle so gekondisioneer dat hulle nog steeds glo dat hulle nie kan losbreek nie. Hulle glo die tou kan hulle steeds vashou en daarom probeer hulle nie eens meer om los te breek nie.”

Die man was verstom. Hierdie diere kan enige oomblik loskom van die bande wat hulle vashou, maar omdat hulle glo hulle kan nie, is hulle presies waar hulle nou is.

Maats, soos die olifante, gaan ons deur die lewe en glo ons dat ons sekere goed nie kan doen nie, slegs omdat ons eenkeer onsuksesvol was toe ons dit probeer het.

Soms het die toue vir ons ‘n verskoning geword sodat ons nie weer hoef te probeer nie en ons skuil agter die verskoning van die toue om onsself nie bloot te stel aan moontlike mislukking nie.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Mislukking is deel van leer. 
* Moenie mislukking as 'n gerieflike verskoning gebruik om nie iets te wil doen nie.
* Jy misluk nie omdat jy bestem is om te misluk nie, maar daar is lesse wat jy nodig het om te leer om aan te gaan in die lewe.

Tuesday, 17 June 2025

Statistiek: 16 & 17 Junie

Klik op die skermgreep vir 'n duidelik beeld.
Die afgelope twee dae het die twee Petrusburgers die telbord verander.

Sewe van die top 10 berigte behoort aan die twee viervoetiges. Hulle oortref hulleself en die beste van alles is dat hulle dit só stil-stil doen. Hulle beweeg voortdurend tussen die inwoners met gespitste ore sonder om 'n oog te knip en soos wafferse spioene verbind hulle die kolletjies en maak hulle hul eie
afleidings.

Dit is hoekom Ruben die hoof van sekuriteit is - 'n pos wat hy baie ernstig opneem. 'n Pos wat hom baie na aan die hart lê. Sy werk is beslis sy passie. 
 
Sondag (15 Junie) was Vadersdag en dit verklaar waarom die Vadersdagwense in die nr. 1-posisie is. Ruben se jeugboodskap het nogal 'n statistieke opskudding veroorsaak. Duidelik is terugvoering baie gewild onder die lesers. 

Dan is daar drie van Ruben se Een minuut stories onder die top 10. Dit sê iets van die gewildheid van Ruben se stories. En as jy nog nie een van hulle gelees het nie, soek dit op en gaan lees dit gerus - dis die ou-ou gunstelinge waarmee almal grootgeword het voor die dae van TV. 

Verder is daar 'n Tommie-voëlfluit in die wandelgange gehoor - hou gerus die blad dop vir enige nuwe verwikkelinge. 

Monday, 16 June 2025

Binnekringnuus: Cave Canem - eerste reaksies van ons lesers

* Ruben en Tommie het Vrydagmiddag tydens die storie-uur doodstil sit en luister na die storie van die Drie Varkies wat groot byval by die kinders gevind het. Met die nodige rekwisiete het die drie varkies elkeen 'n lewe van hulle eie gekry. Die moontlikheid bestaan dus dat Ruben en Tommie ook 'n huis wou bou soos die drie slim varkies en dat hulle besef het dat 'n mens geen werk kan aanpak, as jy nie beskerm is teen die aanslae van die uitdagings nie.

** 'n Ander leser meen dat die twee manne 007 van Kimberley in wording is. Maar dis natuurlik 'n groot geheim en daarom is almal aan die raai. 

[Klik HIER vir die oorspronklike berig.]

Binnekringnuus: Cave Canem

Korrespondent: Verlede week het die geheime fotograaf* van Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum op 'n interessante verskynsel afgekom. Ruben, die hoof van sekuriteit, en sy regterpoot, Tommie, is afgeneem met geel veiligheidshoede op. Die fotograaf was baie gelukkig om hierdie rare verskynsel in beeld vas te vang. Dié foto's het op my tafel beland, maar die rede agter hierdie foto's kon nog nie uitgesnuffel word nie. Dus wend ek my nou tot die lesers vir moontlike verklarings. Die twee se kom en gaan word egter nou met valkoë dopgehou.  

Allerhande stories en moontlike verklarings vir hierdie drag en gedrag word in die koshuisgange gefluister. Die volgende stories het my ore bereik wat ek graag met julle deel, maar as een van julle lesers meer weet,  laat weet ons, asseblief.  
  • Daar is 'n moontlikheid dat die twee op 'n geheime sending was om die speurders te help om saam met die polisiehonde belangrike leidrade uit te snuffel.
  • Hulle kan ook besig wees met nagopleiding om saam met die honde-eenheid te werk wat deur bourommel snuffel.
  • Ruben en Tommie is buitengewoon intelligent wat goeie geselskap, liefde en lojaliteit aan mense bied. Hulle sal dus uitstekende diens- of gidshonde wees. (Weet net nie hoe dit die geel harde hoede verklaar nie. Red.) 
  • Ten slotte kon hulle bloot net deur die speelkamer op hul rondtes geloop het en hierdie hoede waarmee die seuntjies só graag speel, sien lê het en die kind (of liewer ... klein hondjie) se spelerige aard in hulle wakkergemaak is.
* Die geheime fotograaf en die geheime korrespondent werk saam. Soms is dit die foto wat aanleiding gee tot die berig en ander kere is die berig eerste en moet die fotograaf  'n foto kry wat die berig onderstreep. Die vrou agter die lens is eintlik 'n kommersiële fotograaf wat spesialiseer in dokumentêre fotografie. Koester Karos is baie dankbaar dat hulle met 'n omweg die dienste van hierdie professionele kunstenaar kon bekom.

Volgens die geheime fotograaf het die baie bekende Diane Arbus die kuns van fotografie raak opgesom in haar bekende woorde: "Fotografie is 'n geheim van 'n geheim." 

[Klik HIER vir die eerste reaksies.]

Friday, 13 June 2025

Nog 'n Ruben-bewonderaar skryf ...


Liewe Liz
Dit is darem nou 'n lekker WA-boodskap. Dankie vir hierdie besondere kompliment. Ek waardeer dit uit my hart uit. Dis nie maklik om altyd op die regte spoor te bly nie, nog moeiliker om altyd die regte voorbeeld te stel - daar is só baie oë op my en ek wil nie graag onthou word as 'n "messing" in plaas van 'n "blessing" nie.
Geniet jou naweek en lekker lees aan Koester Karos - die warmste leesstof vir hierdie koue dae!
Ruben-groete

Die stille luisteraars met hul omgeeharte en harige drukkies

Tommie, die rustige man met die gewillige ore! 

Liewe Yvonne, was ons nou verras om 'n WA-boodskap van jou te kry. Ons twee het soos uitgelate kinders mekaar gehigh five, want dis vir ons heerlik as ons vir iemand iets kan beteken. 'n Hond moet mos blom waar hy geplant is en blaf wanneer hy kan. Jy moet jou naweek geniet en onthou altyd: ons is enige tyd beskikbaar vir 'n lekker kuier. 
Sonskyn-groete!
Ruben en Tommie

Ruben se Junie-jeugboodskap vanuit 'n koue Kimberley


Liewe Maats

Ek skryf hierdie briefie uit 'n baie koue Kimberley. Die temperature het die laaste paar dae drasties geval en ek het so in my enigheid gehoop dat dit hier by ons sou sneeu. Dan was al die gebibber en gebeef die moeite werd en kon ons met foto's van sneeumanne en sneeuballe by julle spog. Maar op hierdie stadium is daar geen glansryke foto's van my en Tommie nie. Ons twee kruip saans met ons teddies styf teenaan ons in die bed vir 'n bietjie teddiehitte. Bedags as die sonnetjie floutjies agter die horison uitkruip, dan is ons egter gereed vir die dag se take. Ons draf so 'n paar keer op en af langs die heining, blaf uit volle bors vir die verkluimde voetgangers en as jy jou oë uitvee, lyk ons nie meer soos twee Koue Bokkeveld vierpotiges nie.  

Kom ek begin by gister se klein kringetjie vergadering (KKV) wat Tommie ongenooid bygewoon het. Maats, julle weet mos sekuriteit is my afdeling en Tommie is my ekstra paar oë en ore. Dit blyk dat dié klompie 'n verrassingsverjaardagpiekniek vir een van hulle maats beplan. Almal kon sinvolle kommentaar op die voorstelle lewer. Tommie se bek werk vinniger as sy brein, gevolglik blaf hy eers en dan dink hy. Hy blaf in geen onduidelike taal dat dit
'n doodgebore idee is. Die koue saam met die aktiewe westewind, is piekniek langs die swembad nie in die winter haalbaar nie. Hy is egter sy blaf belet, gevolglik het hy in stilte verder na die sinlose voorstelle geluister. 

Die klompie het toe besluit om oor die voorstel te gaan slaap en die volgende dag terug te kom. Ek weet nie of Tommie toegelaat sal word om die volgende KKV by te woon nie.

Terwyl ek nou so flink aan die skryf is, gaan ek sommer met julle my gedagtes oor Vadersdag en Jeugdag deel. Dié twee dae lê my naby aan die hart. Eintlik is dit die ironie wat hierdie twee dae verteenwoordig, wat 'n yslike bekommernis vir my is en ek wonder ook of hierdie twee dae vir julle dinkdae is en of die betekenis van dié spesifieke dae by julle verbygaan.

Dit is ‘n mooi gedagte om een spesifieke dag te gebruik om spesiaal vir pa's dankie te sê vir al hul liefde en opofferings deur die jaar vir ons. Maar my gevoel is dat elke dag eintlik Vadersdag behoort te wees. Ons moet elke dag vir ons pa's dankie sê vir alles wat hulle vir ons doen. Hulle is nie net daar om 'n salaristjek huis toe te bring en in die gesin se finansiële behoeftes te voorsien nie. Hulle het 'n belangriker doel - hulle verteenwoordig die Hemelse Vader hier op aarde. 
Ek en pa - jare terug op Petrusburg

Dit is egter net hier wat al my hare op my rug orent staan. As ons een vir een in die eetsaal moet opstaan en sê wat ons van ons pa's weet, gehoor het, ervaar het of waardeer, hoeveel van ons kan dit met vreugde doen?

Ons almal kan boekdele vol skryf oor afwesige pa's. Pa's wat nie omgee of daar vanaand kos op die tafel is en of ons skoolgeld betaal word nie. Pa's wat nie vir ons gelukwens met ons verjaardae nie en pa's wat naweke saam met sy pêlle by die kuierplekke rondhang omdat die verantwoordelikheid van pa-wees lankal vir hulle geskiedenis geword het. Outjies, niks wat ek sê kan of gaan julle situasie verbeter nie, maar onthou dit: Leer uit jou pa se foute, maar die heel belangrikste is - wees jý 'n beter pa vir jou kinders as wat jou pa vir jou is. En meisies, kies vir julle eendag 'n lewensmaat wat in alle opsigte 'n goeie pa vir sy kinders sal wees - dit is my hartswens vir elkeen van julle hierdie Vadersdag. Ons kyk vorentoe en nie agtertoe nie, want dis nie waarheen ons op pad is nie. 

Pa en Tommie in 2024
En vir julle wat 'n prima-pa het: bederf hom, waardeer hom, leer van hom en koester hom, want hy is een uit 'n miljoen. Loop in sy voetspore en volg sy voorbeeld. 

Dit bring my by Jeugdag ... 'n dag wat so belangrik is, dat dit 'n nasionale vakansiedag is. Hoe belangrik is Jeugdag vir jou? Dink jy oor die jeug, jou eie jeug en oor jou toekoms? 

Ek wil regtig nie soos my ouma Annie van Petrusburg klink nie, maar as ek elke aand die nuus kyk, verstaan ek hoekom sy met elke foonoproep vir my en Tommie preek. Die nuus oor ons jeug skok my tot in my kleintoontjie. Bendegeweld, dwelms, misdaad en opstande is aan die orde van die dag. Jeugdag is vir my die dag waarop ons as Suid-Afrika ons toekoms vier. Maar hoe kan ons ons toekoms vier as ons klaar verkeerde keuses gemaak het?

My Kiddie-maats, onthou altyd: 'n mens kry elke dag keuses om te maak tussen reg en verkeerd. Tussen lig en donker. Tussen lewe en dood. Moenie hierdie kans om die regte keuse te maak, verbrou nie. En as jy sukkel met jou keuses, kom maak 'n draai by my of Tommie, tannie Christelle of jou huisma. 

Ons hartsbegeerte vir elkeen van julle is om doelgerig verantwoordelikheid te neem vir jou toekoms. Wees vasberade dat die verkeerde besluite wat jou pa gemaak het, nie jou keuse gaan wees nie. Onthou, daar is GEEN beperking op wat jy kan bereik nie.

Maats, op hierdie noot van hoop en moontlikhede, wil ek vir julle 'n heerlike jeugdag toewens! 

Warm groete tot 'n volgende keer!
Ruben