Showing posts with label Kat. Show all posts
Showing posts with label Kat. Show all posts

Wednesday, 19 August 2026

Statistiek: Mattewis hou 'n wakende oog oor die e-lesers


Mattewis: "Voordat iemand my weer beskuldig dat ek 
nie my werk doen nie, wil ek net die kykertal met julle deel. 
Daarna gaan ek 'n vinnige uiltjie tydens my etensuur knip, 
voordat ek weer katlewendig die res van die middag aanpak. 
Klik HIER en gaan kyk dat ons 5000 e-besoeke in 5 dae gehad het. 
Geen wonder ek is uitgepoot nie!"

Sunday, 9 August 2026

Mattewis bly in voeling met sy werk


Mattewis kan hierdie werk toe-oë doen en foto-bewyse 
dat hy sy vinger (poot) op die pols het, onderstreep die feit
dat 'n mens-assistent nie 'n kat se kans teen Mattewis het nie! 

Foto: Christelle Hattingh

Friday, 7 August 2026

Statistiek: Ons wil nie slapende honde (katte?) wakkermaak nie, maar ...


Na aanleiding van die berig vroeër vandag, wil die redaksie net 'n regstelling maak. Dit blyk dat sommige mense ook werk kan verrig terwyl hulle slaap.

Miskien moet daar nie na Mattewis as kantoorassistent gekyk word nie, maar moet hy dalk 'n nuwe posbeskrywing kry - eerder iets in die bemarkingsafdeling??

Die afgelope week het 3000 e-lesers die blad besoek en vandag het baie vinnig die 229 000-kerf gehaal na Mattewis se berig verskyn het.

Miskien het hy nie net nege lewens nie, maar dalk ook 'n negende sintuig wat hy inspan terwyl hy slaap. 

Nuwe besems vee altyd skoon - selfs in die diereryk


Foto's spreek baie luider as wat woorde ooit kan doen. En hier is 'n bewys daarvan. Mattewis was met sy aankoms by Christina Kiddie baie betrokke by alle kantooraktiwiteite. Dit was asof hy verantwoordelik gevoel het vir alles wat in die kantoorblok gebeur het. Hy het op die lessenaar gesit om die groenstrikkiedag se kaartjies deur te lees om te kyk of daar enige spelfoute is (foto dien as bewys.) Alle fotostate wat gemaak is, is deeglik gekontroleer, geverifieer, geïnspekteer voordat dit gebruik kon word (weer 'n foto as bewys.)

Mattewis se betrokkenheid het egter drasties afgeneem en daarvoor is daar ook bewyse. Die aktiewe betrokkenheid het geleidelik verander na 'n heelwat stadiger pas. Daar is meer gesit en gelê en deesdae is die hoofaktiwiteit slaaaap!

Die stoel vir gaste is nou geannekseer vir slaap - enige tyd van die dag is 'n goeie tyd vir dié gunsteling aktiwiteit. 

En wat doen hy as daar wel gaste in die kantoor instap? 

Hy loer so met die een oog na hulle, gee 'n groot gaap, draai hom om en ... slaap ongestoord verder.

Is dit nie wat ons mense ook doen nie?

Hou maar gerus 'n nuwe besem dop - en kyk hoe laissez-faire daardie selfde mens word met verloop van tyd ...

Foto's: Christelle Hattingh
 

Tuesday, 20 May 2025

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep - Rice Crispy en BarOne blokkies

My vinnige resep van verlede maand, het die meeste van Koester Karos se jong lesers aan die rol gesit. Die feit dat hulle nie naby 'n stoof hoef te kom nie, was 'n bonus en daar was verskeie versoeke vir nog sulke maklike lekkernye. Ek het die lyne Petrusburg toe geslaan en ouma Annie het vir my hierdie gunsteling gestuur. Jy moet ongelukkig van die bestanddele oor lae hitte smelt, maar dan is die grootste deel van die werk agter die blad. 

Ouma het laat weet dat sy deur haar resepteboek sal blaai om te kyk of sy nog vinnige kulkoekieresepte het. Sy het egter gevra dat ek volgende keer weer 'n opregte koekieresep sal plaas. Dis nou ons oumas se oumas se oumas se resepte. En as ek dit op Koester Karos publiseer, is dit 'n manier om die koekieresepte te bewaar. Ek het poot en bek belowe dat ek dit sal doen, ek kan nie waag om in ouma Annie se slegte boekies te kom nie. Julle weet mos dat die pad na 'n kleinkind se hart loop deur sy ouma se koekieblikke of het ek nou die kat aan die stert beet?? 

Van katte gepraat ...

Tannie Christelle het 'n steelfoto van my geneem waar ek Krummels se pad versper - hy was mos reguit op pad na my koekieblik toe en sonder om slapende honde wakker te maak, het ek net eenvoudig met 'n uitgestrekte lyf op die vloer gaan lê - ek wou soort van 'n stelling gemaak het - skoon vergeet van tannie Christelle se skerp kameraoog ..!

Volgens Krummels is die Petrusburg-koekies baie lekkerder as Friskies of Whiskas s'n, maar dit kan 'n mens nou nie loop en verkondig nie.

Rice Crispy en BarOne blokkiesresep van ouma Annie 

Bestanddele:
1 BarOne
60 ml botter
80 ml suiker
15 ml goue stroop
500 ml Rice Crispy

Metode:
Smelt BarOne en botter saam oor lae hitte. 
* Voeg suiker en stroop by en roer tot suiker opgelos is. 
* Verwyder van hitte en voeg Rice Crispies by. 
* Meng vinnig deur en skep in voorbereide gesmeerde pan.
* Druk stewig vas en verkoel tot hard.
* Sny in blokkies.
Geniet dit en gaan groot!!!

Thursday, 29 February 2024

Kinderverhaal: Eers vyande, nou vriende ...

Hy het gesê dat ons vriende sal wees wanneer varke kan vlooi ...

Dit is nou al twee jaar dat ek in Kerkstraat Plettenberg woon. Ek woon saam met my gesinnetjie in 'n pragtige huis, in die mooiste straat in die dorp. Maar ongelukkig bly my grootste vyand, die kat Cesar ook daar. Cesar is eintlik 'n wildekat - hy is groot en vinnig en het baie skerp kloue. Hy mag met liefde in hierdie groot huis bly, want anders as ek, is hy 'n werkende inwoner.

Ek is die pa van twee meisiemuise en die wyfie in my lewe, is ook die moeder van my kinders. Ek moet vir my gesin sorg ... 'n muis moet doen wat 'n muis moet doen. Elke oggend, sommer baie vroeg gaan lê ek 'n vinnige besoek aan mev. Iris, die eienaar van die pragtige huis, se kombuis af. Ek gaan kos soek, meer spesifiek - kaas!

Elke keer stap ek vinnig by my klein deurtjie uit nadat ek links en regs en weer links en regs gekyk het. 'n Mens kan nie te versigtig wees nie. Hoor ek die onheilspellende miaaaau, dan weet ek dat ek vandag moet hardloop dat my rug hol word, want Cesar is in die onmiddellike omgewing. Somtyds is ek gelukkig en kry ek kos in die hande, en somtyds nie ... My vrou en kinders sit elke oggend doodbenoud om die tafel en wag op my veilige terugkoms.

Verlede Sondag het ons Carte Blanche gekyk en een sinnetjie wat ek baie nuttige gevind het, is die feit dat een van die polisiemanne gesê het dat 'n mens nie elke dag dieselfde roetine moet hê nie. Kriminele hou jou dop ... verander jou roete werk toe en moenie elke dag jou huis op presies dieselfde tyd verlaat nie. En skielik het ek lig gesien. Cesar hou my dop! Ek moenie elke oggend my huis om 06:00 verlaat nie. Ek moet my uitgaantye afwissel. En baie belangrik, ek moenie altyd na die kaas mik nie, brood is net so vullend. Lekkerbekkigheid gaan my nog my lewe kos en wie gaan dan na my gesin omsien? 

Een wintersoggend het my hele lewe verander ... Ek sal daardie dag nooit vergeet solank ek lewe nie. Ek het by my huisie uitgesluip en Cesar was soos gewoonlik kort op my hakke. Skielik hoor ek net: "Eina!" Cesar het op 'n naald getrap. Ek kyk vinnig om, bang dat dit 'n nuwe vangmetode van sy kant af is, maar daar sit die wilde dapper kat en huil. Ek moes 'n belangrike besluit in sekondes maak. Ek besluit om die kos te los en hom te help. Ek het die naald met my tande uitgetrek. Ek was die hele tyd doodbang, want ek is 'n hap ver van sy bek af, maar sy gesig het skielik verander. "Dankie, en baie jammer vir al die ander tye wat ek jou lewe so mislik gemaak het."

Hierdie was 'n wonderwerk.

Nou maak ons twee eertydse vyande of hy my agtervolg as ek uitglip om te gaan kos soek ... maar hy laat my toe om die kos te kry en huis toe te bring ... elke keer.

En dit is hoe my vyand my vriend geword het. 

Die wiel het gedraai!

[Rethabile Molelekoa 2015]