Showing posts with label Vergifnis. Show all posts
Showing posts with label Vergifnis. Show all posts

Sunday, 18 August 2024

Ek wil vir jou die storie van Robbie vertel.

Robbie kom uit ’n baie moeilike huis ... 

Mens kan sê ’n slegte huis, ’n huis sonder ’n pa, met ’n ma wat die meeste van haar lewe onder die invloed van drank was. Sy het vir Robbie baie sleg behandel, het hom soms genadeloos geslaan, hy het dikwels nie veel gekry om te eet nie, want daar was nie geld nie. Robbie het egter gewonder hoe sy die drank en sigarette kon gekoop het. Hy het vir ’n paar jaar skool toe gegaan, maar hy is altyd gespot en sleg gesê en het uiteindelik begin stokkiesdraai en wegbly van die skool af. Daar was dikwels mans by sy ma, maar hy het nie geweet of een van hulle dalk sy pa was nie.

Toe hy sy ma eendag vra waar sy pa was, het sy gesê dat rubbish soos hy nie ’n pa kan hê nie. So het die een oom hom Robbie Robbish begin noem en lustig deelgeneem aan die mishandeling. Een dag kon Robbie net nie meer nie, toe loop hy weg. Hy het homself belowe dat hy nooit weer sal terugkom nie en hy het op die straat begin lewe. Met bedel, kos soek op vullishope en soms iets uit ’n winkel steel, het hy aan die lewe gebly.

Hy was vry ... so het hy gedink. Robbie het baie van Jesus gehoor. By die skool het hulle ’n Bybel-periode gehad, maar by die huis het hy die naam Jesus ook gereeld gehoor, wanneer sy ma kwaad was en dit uitgeskree het. Dit het hom verwar, want by die skool het hy gehoor van Jesus se liefde, maar by die huis het hy gedink dis ’n vloekwoord. Nadat Robbie weggeloop het, het hy soms gewonder of iemand na hom soek. Hy het nooit weer huis toe gegaan nie en op die straat gelewe.

Robbie het in ’n stegie geslaap onder goed wat hy op ashope opgetel het. Diep in sy hart was iets goeds geskryf wat hy nooit verstaan het nie. Hy het probeer om niemand skade aan te doen nie. En toe, op een goeie dag, kom daar mense van ’n kerk en hy kry die grootste geskenk van sy lewe: ’n splinternuwe kombers en ’n sakbybeltjie. Omdat hy nie goed kon lees nie, het hy maar saans net so bietjie daarin rondgeblaai. Die een naam wat heeltyd opgeduik het, was Jesus. Hy het meer en meer begin wonder wie dit was. Daar was ’n ouer man wat ook in die stegie geslaap het. Sy naam was Dave. Dave het vir hom vertel dat hy ’n geleerde ou is en op universiteit was, maar die lewe het sy rug op Dave gedraai en hy is uit sy gesin uit en het ook ’n boemelaar geword. Maar Dave was slim en het geweet van die Bybel. Hy het dit ook gereeld gelees en soms met Robbie oor Jesus gepraat. Hy het gewens Dave was sy pa. Eendag het Robbie verby ’n kerk geloop en daar was ’n groot bord met die woorde: “Jesus is die antwoord” Maar hoe goed hy ook al op die bord gelees het, het hy nie geweet wat die vraag is nie. As Jesus dan die antwoord is, wat is die vraag? Dit het hom verwar.

Een Sondagoggend het hy buite die kerk gestaan en luister na die prediker wat gepraat het oor liefde. Maar hy het nie geweet wat liefde is nie. Dié aand het hy vir Dave gevra wat liefde is. Dave het gesê: “Jesus is liefde”. Toe is hy nog meer verward oor die vraag. Hy het ’n antwoord, maar nie ’n vraag nie. Hy het gedink hy kan seker nie weet nie, want hy is mos ’n rubbish. Een aand het Robbie vir Dave gevra hoekom mense vir Jesus ken en hy wat Robbie is, nie. Hy het ook nie verstaan hoekom dit net ryk mense is wat vir Jesus ken nie. Eendag het hy weer buite die kerk gaan luister en gehoor die pastoor praat oor die wet.
 
Dié aand het hy vir Dave gevra om dit vir hom te lees. Eks 20:1-17 Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie. Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig. Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee. Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Jy mag nie steel nie. Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie. Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.

Dit was egter vir Robbie die spyker in die doodskis. Hy het nie sy ouers geëer nie, hy het sy ma gehaat. Hy het soms iets gesteel; hy het nie God geëer nie, hy het dikwels gelieg as hy gebedel het. En hy het begeer - veral as hy gesien het hoe iemand smul aan iets lekker. Toe sê hy vir Dave: “Ek kan nie hierdie goed doen nie. Ek is te sleg. Ek is ’n Robbish. Dit is nie vir my nie.” Dave het toe hierdie woorde gesê: “Robbie, Jesus is die antwoord.” Robbie het amper omgeval, want toe kry hy die vraag van die antwoord. Dave het verder vir hom verduidelik: “Omdat jy nie kan nie, kan Jesus. Jesus is die antwoord op alles.” Robbie het besluit hy gaan hierdie pad probeer. Daardie aand het Robbie sy ma vergewe, onvoorwaardelik.
 
Dave het vir hom die Onse Vader-gebed gelees en hy het verstaan waar sy daaglikse brood vandaan kom. Die volgende oggend het Robbie nie wakker geword nie. Dave het hom gekry met ’n salige trek op sy gesig. Yskoud. Hy het in sy slaap gesterf. Dave het besef dat daar geen teleurstelling vir Robbie is nie. Hy het dit gemaak. Dave het by homself gedink, Robbie was geen rubbish nie, want God maak nie rubbish nie, al het Robbie dit in sy kort lewe geglo. Hy het ook geweet Robbie glo nou anders. Hy het gewonder hoekom die Here vir Robbie so vroeg in sy lewe kom haal het. Hy het egter vertroosting gekry in Johannes 14:1-3.
 
Robbie was nie ’n Robbish nie. Jy is ook nie, weet jy? Want die Here maak nie robbish nie. Dis teen die aard van Sy liefde. Ten spyte van swaarkry en moeilikheid, bly Hy steeds die antwoord, ongeag wat jou vraag is. Hy bly altyd die antwoord op alles. Die probleme gaan nie noodwendig altyd weg nie, maar Jesus is steeds die antwoord. Altyd. En of ek en jy ons lewe lank die Here dien, of net-net betyds die Here vind, soos Robbie, is ons uiteinde dieselfde. Ons sal vir Robbie sien by Jesus se wederkoms.

[Dankie, Anoniem, wat hierdie met ons deel.]

Sunday, 11 August 2024

Die las van aartappels

‘n Laerskooljuffrou vra haar klas om die volgende oggend aartappels in ‘n sakkie, saam te bring skool toe - een vir elke persoon wat hulle haat en hulle kan sommer die name op die aartappels skryf.

Almal het aartappels gebring. Sommige net een, maar daar was kinders met twee, drie en selfs meer aartappels in hul sakkies. Hul opdrag was om die sakkie met aartappels vir die hele week saam met hulle te dra, oral waar hulle gaan. Hulle mag glad nie sonder die aartappels wees nie, of hulle nou winkels toe of skool toe of kerk toe gaan, die sak moet saam.
Soos die tyd verby gegaan het, het van die aartappels snaaks begin ruik. Van die aartappels het begin vrot en van die kinders het daaroor begin kla. Van die kinders met meer aartappels, het ook gekla dat hul sakkies swaar raak en dat hulle moeg is om dit rond te dra.
Juffrou het hul egter aangemoedig om die taak te voltooi en almal was baie bly toe die week uiteindelik verby is.
Juffrou gee toe vir elkeen die geleentheid om te vertel hoe hulle die taak gevind het en hoor toe weereens hoe almal kla oor die verrotte aartappels se reuk wat hulle orals agtervolg het en die feit dat die sakkie swaar begin raak het. Hulle het glad nie van die taak gehou nie.
Die juffrou sê toe aan haar klas: “Die situasie is presies dieselfde as die swaar gevoel wat mens in jou hart dra as jy nie van sekere mense hou nie. Die haatgevoelens is nie goed vir jou hart nie en jy dra al daardie negatiewe emosies orals met jou saam waar jy ook al gaan. Julle het die aartappels vir ‘n week gedra, dink net hoe moeilik dit sal wees om sulke gevoelens vir ‘n leeftyd met jou saam te dra. Ons harte is baie sensitief en dit kort mooi gevoelens en gedagtes oor ander mense, om ons (en hulle) te laat glimlag en goed te laat voel oor onsself en die lewe.
Vergewe die mense wat jou iets aandoen, en laat al die negatiewe gedagtes oor hulle vry, sodat jou hart en siel met oorgawe kan glimlag vir die lewe. So maak mens meer plek vir mooi gedagtes om in jou hart pos te vat.
Here, vandag bring ek my sakkie aartappels na U toe, Vader hulle het vir my te swaar geraak en die reuk is meer as wat ek kan verduur. Verwyder asseblief hierdie haatgevoelens, verwyder my gevoelens teenoor ander wat my kwaad aangedoen het, help my om hulle te vergewe en hulle vry te spreek.
[Dankie, Rosetta vir die aanstuur. Kliek HIER vir nog gedagtes.]

Thursday, 2 May 2024

Maak vrede met jou foute

'n Kommentator op 'n internasionale tennistoernooi het gesê dat dit twee weke neem om 'n tennistoernooi te wen, maar net 'n uur om dit te verloor. Dit is waar van die meeste sportsoorte, maar ook van ons eie lewe.

Dit neem dalk jare om 'n goeie reputasie op te bou, goeie verhoudings te vestig en jou in jou werk te bewys, maar dit is ook moontlik dat al hierdie harde werk binne oomblikke in duie kan stort. Dit is nie noodwendig weens iets wat jy gedoen of besluit het nie. Soms is dit omstandighede wat so iets tot gevolg het en soms is dit wel te danke aan jou eie handewerk.

'n Mens kan redeneer dat dit onregverdig is, maar dit is wat die lewe is - onregverdig. Die gehalte van jou werk en jou toewyding word nie altyd raakgesien nie, maar die enkele fout wat jy begaan, sal baie lank onthou word. Jy sou wou redeneer dat die 100 dinge wat jy reg gedoen het sekerlik gewig moet dra en darem ten minste moet vergoed vir die fout wat jy begaan het, maar die situasie is gewoonlik nie oop vir redenasie nie. 'n Fout is 'n fout. Jy moes twee keer gedink het, beter opgelet het, verder geredeneer het. Dat almal foute maak, is op daardie oomblik ook nie van belang nie.

Ons probeer hard. Ons almal maak foute. Die enigste manier om te verhoed dat jare se goeie werk tot niet gemaak word, is om toe te sien dat die fout wat jy maak nie van so 'n aard is dat dit op die lang termyn 'n negatiewe impak op ander se lewe het nie. Vergewe as daar vergewe moet word, want binnekort het jy dalk iemand ander se vergifnis nodig.

[Bron: Noord-Kaap: Potpourri - Karin Muller]    

Sunday, 22 October 2023

En as ... ?

Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, watn Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan. (Josua 1:9)

Vader, U ken al die vrese van my gemoed.
Toe ek klein ws, was ek bang
vir die onbekende van die donker.
Nou worstel, twyfel en vrees ek
so baie dinge wat kan gebeur.
Tóg weet ek dat die meeste vreesdinge
nóóit sal gebeur nie;
dat vrees 'n verlammende en onnodige emosie is
wat geen waarde toevoeg tot my bestaan nie.

Vergewe my menslikheid en klein geloof, Vader.
Help my om U onvoorwaardelik te vertriy
in dié wete dat my eie lewe en die van ander
in U veilige, alomvattende hande is.
Laat U vrede my vrees oorspoel
sodat ek kalm my pad kan loop.

Help my doen wat U van my verwag:
vreesloos ...
in dié wete dat môre
vir homself sal sorg 

Bron: Woorde wat leef - Mini Bybeldagboek - Milanie Vosloo

[Dankie, Marguerite, dat jy sulke kragtige boodskappe met die personeel voor werk gedeel het.]

Sunday, 15 October 2023

Banghartmense

Aan julle, my vriende, sê Ek: Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. (Lukas 12:4)

Ons het vreesmense geword:
Ons vrees ons gisters,
vandags en môres.
En ons het rede daarvoor:
Die lewe wys ons dikwels
sy slegte kant.
Ongevraag. Onverwags. Onbeman.

Nou loop ons met ons bang harte
en leef net skuifel-skuifel
soos bietjies-bietjies mense,
té bang om voluit te lewe,
want sê nou net?

Vergewe ons ons vreesgelooflewens, Here, en help ons onthou:
Daar's 'n God - 'n almagtige God -
wat álles onderhou. My en jou!

Bron: Woorde wat leef - Mini Bybeldagboek - Milanie Vosloo

[Dankie, Marguerite, dat jy sulke kragtige boodskappe met die personeel voor werk gedeel het.] 

Monday, 8 October 2018

Terugflits: "Pa was my pa, dis hoekom"

Ek weet nie wie van julle kan ds. Hannes Noëth se stukkie in Twyfelhoekie van Woensdag, 26 September 2012 onthou nie, maar omdat dit só treffend is en só relevant, deel ek dit baie graag met julle.

"Sy was twee maande in die moederskoot toe haar pa en ma se verhouding verbreek is. Sy was twee dae oud toe hy aangedring het op vaderskaptoetse. Sy was drie jaar oud toe haar ma die onderhoudshof moes vra om te help met onderhoudsgeld. Selfs met die hulp van die hof het die hulp nooit werklik geword nie.

Op ses jaar het sy begin agterkom hy wil nie kontak maak nie, al kan hy. Op tien jaar het dit ál minder begin seermaak. Toe sy 13 jaar oud geword het, het sy self probeer om hom te bel. Hy wou nie met haar praat nie.

Lankal al het sy van beter geweet as om 'n geskenk van hom te verwag. Hy het nie eens die naweke gebruik wat hy haar kon sien nie, al was dit vir hom moontlik. Op 14 jaar het sy vir almal vertel sy het nie 'n pa nie. Op 18 jaar het sy heimlik gewens hy kon haar in die rok vir haar matriekafskeidgeselligheid sien. Die dag toe sy haar universiteitsgraad ontvang het, het sy opsetlike gereël vir 'n oop stoel en het sy hom in haar gedagtes daar sien sit.

Dit was haar halfbroer wat haar op haar troue ingebring en afgegee het.

Op haar 40ste verjaardag het hulle gebel en gevra of sy hom kan versorg. Hy is terminaal siek. Hy het niemand anders nie. Sy het ja gesê. Sy het dit gedoen. By sy graf was dit sy wat gehuil het. Oor 'n pa wat sy sou wou hê al wou hy haar nie hê nie.

Voor sy dood het hy gevra: "Hoekom doen jy dit vir my?" Sy het nie geantwoord nie. Vandag hier by die graf, nou antwoord sy: "Pa was my pa. Dis hoekom. Pa het my ontken, ek het Pa nooit ontken nie."

[Uit: Noordkaap 26 September 2012]