Showing posts with label Lewe. Show all posts
Showing posts with label Lewe. Show all posts

Friday, 1 May 2026

Gedig vir Werkersdag: Die Hande

Met hande wat bou en werk en vorm,
staan werkers vas in elke storm.
Van vroeg tot laat, met moed en krag,
word daar gedink aan 'n beter dag.
Dankie vir die sweet en die bloed,
julle werk is onskatbaar goed.
Veilige en geseënde Werkersdag! 

[KI-gedig]

Wednesday, 11 June 2025

Rosetta se goeie wense: Lewe goed


God werk op vreemde wyses.
Sy wil is nie ons wil nie.
Sy gedagtes is nie ons gedagtes nie.
Sy tyd is nie ons tyd nie.
Daarom moet jy:
* Diep dink
* Saggies praat
* Baie liefhê
* Vriendelik wees
* Gereeld lag
* Blymoedig gee
* Opreg bid
* Hard werk
* Voluit lewe.
Want elkeen wat goed lewe,
lewe lank want ons lewenstyd
word nie bereken in jare, dae of ure nie.

Monday, 14 April 2025

Wat ma my geleer het ...

Sy het my geleer om WERK WAT GOED GEDOEN IS TE WAARDEER:
"As julle mekaar wil doodmaak, doen dit buite - ek het nou net klaar skoon gemaak."
Sy het my van GODSDIENS geleer:
"Jy beter begin bid dat die kol uit die mat kom."
Sy het my geleer OM IN TYD TE REIS:
"As jy nie opruim nie, foeter ek jou tot in volgende week in."
Sy het my LOGIKA geleer:
"Want ek sê so, dis hoekom."
Sy het my geleer om VOORBEREID te wees:
"Trek skoon onderklere aan vir in geval jy in 'n ongeluk kom."
Sy het my IRONIE geleer:
"Hou aan lag en ek gee jou iets om oor te huil."
Sy het my van die WETENSKAP van osmose geleer:
"Maak toe jou mond en eet jou kos!"
Sy het my van UITHOUVERMOË geleer:
"Jy sal by daardie tafel sit totdat jy jou groente opgeëet het!"
Sy het my geleer van sintuie:
"Kinders word gesien en nie gehoor nie!"
Sy het my van die WEER geleer:
"Dit lyk asof 'n tornado deur jou kamer is."
Sy het my geleer om FISIKAPROBLEME op te los:
"As ek skree daar is 'n komeet op pad, sal jy dan luister?"
Sy het my van SKYNHEILIGHEID geleer:
"Het ek nie al 'n duisend maal gesê moenie oordryf nie!"  
Sy het my van die LEWENSKRINGLOOP geleer:
"Ek het jou in hierdie wêreld ingebring, ek kan jou weer daaruit haal."
Sy het my van GEDRAGSVERANDERING geleer:
"Hou op om soos jou pa op te tree."
Sy het my van JALOESIE geleer:
"Daar is duisende minderbevoorregte kinders op die aarde wat enige iets sou gee om ouers soos jy te hê."

[Geneem uit Die Poortgenoot - November 2000]

Wednesday, 5 March 2025

Rosetta se goeie wense: Die spoed van een dag


God stap saam met ons
teen die spoed van
een dag op 'n slag.
Hy gee jou vandag se lewe.
Jy het vandag -
nog net vandag ...
net Hy weet van môre.
Gryp vandag aan!
Maak dit vol met vreugde
en dankbaarheid in die Here! 

Wednesday, 5 February 2025

Rosetta se goeie wense: Die Bron


Jesus is die bron
van die lewe,
van blydskap
en van vriendskap.
Hy is ons wysheid.
Hy beskik oor alle mag.
Hy kan ons alles gee
wat ons nodig het,
wanneer ons dit nodig het.
Moenie die lewe alleen probeer aanpak nie.

Wednesday, 13 November 2024

Rosetta se goeie wense:


Mag ons vandag entoesiasties uitreik
en omgeeliefde versprei.
Mag ons ons van 'n nuttelose
bestaan weerhou.

Wednesday, 6 November 2024

Wednesday, 30 October 2024

Rosetta se goeie wense:


mag ons ons vandag daarop toespits
om optimisties te wees en nie pessimities nie.

Wednesday, 16 October 2024

Rosetta se goeie wense:


Mag ons besef en onthou
dat elkeen van ons uniek is.
dat ons verskille die lewe interessant maak,
en dat ons mekaar aanvul,
al voel dit nie altyd so nie.

Wednesday, 9 October 2024

Rosetta se goeie wense:


Mag ons die daaglikse uitdagings
wat oor ons pad kom,
sien as 'n geleentheid om te groei.

Wednesday, 2 October 2024

Rosetta se goeie wense:


Francis Bacon het gesê dat die mens
moet weet dat in hierdie verhoogstuk
van die lewe dit slegs vir God en
die engele bestem is om toeskouers te wees.
Mag ons elke dag aktief werk aan
ons lewensverhoogstuk. 

Tuesday, 30 July 2024

Die anatomie van 'n tiener

My ouers konfronteer my daagliks. Ek klem my lippe saam in daardie nagemaakte glimlag waarvan hulle nou reeds leer hou het, en wag vir die spervuur van ondervraging. "En wat is sy naam?' "Wat doen sy ouers?" "Wat is sy identiteitsnommer?" Verreweg my gunstelingvraag is: "Hoe laat is hy gebore." Dis geen oordrywing nie, hoor! My ma is 'n leerling-astroloog; sy beskou dit as haar verantwoordelikheid om in die lewens van vreemdelinge rond te grawe. Voor sy nog sy adres ken, weet sy alles omtrent sy familiegeskiedenis. Ja, ek het 'n snaakse gesin Nie juis die soort snaaks wat jou laat lag nie, maar eerder vinger-in-die-keel-steek-snaaks.   

My ouers se sadistiese denke het hulle laat besluit dat ek eensaam sou wees in my eie kamer, toe gun hulle my die plesier om dit met my sustertjie te deel. Hoe bevoorreg was ek om deur puberteit te gaan in die geselskap van 'n laerskoolkleintjie.

'n Kêrel in my kamer is 'n doodsonde. Dink my ouers miskien ek sal saam met 'n seun tussen my suster se opgestopte diere en prenteboeke wil kuier?

Sarkasme is 'n effektiewe masker vir my. Die gevolg is dat jy my selde sal kry waar ek tuis saam met my gesin kuier. Ek verset my teen intieme geselsies soos: "Ons-raak-so-verwyderd-van-mekaar."

Maar volgende maand trek ek in my eie kamer in. Triomf. Eindelik kan ek my innerlike probleme en sarkasme in 'n meer produktiewe rigting probeer stuur.
Kloustrofobie ... Xenofobie ... Wat is dit waarvoor ek bang is? Daar is nie tyd vir introspeksie nie, want elke keer wanneer ek myself probeer verstaan, doen 'n volwasse ondervraer dit reeds vir my. Miskien moet ek tog my ouers gaan vra hieromtrent. Ja, ek is seker hulle sal die antwoord hê.

So moenie my vra nie: dis maar net my lewe.

[A Milner, Op met die af roltrap, samest. Linda Rode en Hans Bodenstein, Uitgewer, 2000: FAT 7/11,Vraestel 2, letterkunde]

Wednesday, 10 July 2024

Rosetta se goeie wense:


Vind jou vreugde in Hom.
Geniet en vier die lewe as geskenk uit Sy hand.
Lewe voluit en maak die beste en mooiste van elke dag wat Hy vir jou gee.
En maak die lewe ook goed en mooi vir almal om jou.

Thursday, 2 May 2024

Maak vrede met jou foute

'n Kommentator op 'n internasionale tennistoernooi het gesê dat dit twee weke neem om 'n tennistoernooi te wen, maar net 'n uur om dit te verloor. Dit is waar van die meeste sportsoorte, maar ook van ons eie lewe.

Dit neem dalk jare om 'n goeie reputasie op te bou, goeie verhoudings te vestig en jou in jou werk te bewys, maar dit is ook moontlik dat al hierdie harde werk binne oomblikke in duie kan stort. Dit is nie noodwendig weens iets wat jy gedoen of besluit het nie. Soms is dit omstandighede wat so iets tot gevolg het en soms is dit wel te danke aan jou eie handewerk.

'n Mens kan redeneer dat dit onregverdig is, maar dit is wat die lewe is - onregverdig. Die gehalte van jou werk en jou toewyding word nie altyd raakgesien nie, maar die enkele fout wat jy begaan, sal baie lank onthou word. Jy sou wou redeneer dat die 100 dinge wat jy reg gedoen het sekerlik gewig moet dra en darem ten minste moet vergoed vir die fout wat jy begaan het, maar die situasie is gewoonlik nie oop vir redenasie nie. 'n Fout is 'n fout. Jy moes twee keer gedink het, beter opgelet het, verder geredeneer het. Dat almal foute maak, is op daardie oomblik ook nie van belang nie.

Ons probeer hard. Ons almal maak foute. Die enigste manier om te verhoed dat jare se goeie werk tot niet gemaak word, is om toe te sien dat die fout wat jy maak nie van so 'n aard is dat dit op die lang termyn 'n negatiewe impak op ander se lewe het nie. Vergewe as daar vergewe moet word, want binnekort het jy dalk iemand ander se vergifnis nodig.

[Bron: Noord-Kaap: Potpourri - Karin Muller]    

Wednesday, 10 April 2024

Rosetta se goeie wense:


Onthou altyd:
Om te lewe is 'n voorreg,
nie 'n reg nie.
Maak die meeste daarvan.

Thursday, 29 February 2024

Kinderverhaal: Eers vyande, nou vriende ...

Hy het gesê dat ons vriende sal wees wanneer varke kan vlooi ...

Dit is nou al twee jaar dat ek in Kerkstraat Plettenberg woon. Ek woon saam met my gesinnetjie in 'n pragtige huis, in die mooiste straat in die dorp. Maar ongelukkig bly my grootste vyand, die kat Cesar ook daar. Cesar is eintlik 'n wildekat - hy is groot en vinnig en het baie skerp kloue. Hy mag met liefde in hierdie groot huis bly, want anders as ek, is hy 'n werkende inwoner.

Ek is die pa van twee meisiemuise en die wyfie in my lewe, is ook die moeder van my kinders. Ek moet vir my gesin sorg ... 'n muis moet doen wat 'n muis moet doen. Elke oggend, sommer baie vroeg gaan lê ek 'n vinnige besoek aan mev. Iris, die eienaar van die pragtige huis, se kombuis af. Ek gaan kos soek, meer spesifiek - kaas!

Elke keer stap ek vinnig by my klein deurtjie uit nadat ek links en regs en weer links en regs gekyk het. 'n Mens kan nie te versigtig wees nie. Hoor ek die onheilspellende miaaaau, dan weet ek dat ek vandag moet hardloop dat my rug hol word, want Cesar is in die onmiddellike omgewing. Somtyds is ek gelukkig en kry ek kos in die hande, en somtyds nie ... My vrou en kinders sit elke oggend doodbenoud om die tafel en wag op my veilige terugkoms.

Verlede Sondag het ons Carte Blanche gekyk en een sinnetjie wat ek baie nuttige gevind het, is die feit dat een van die polisiemanne gesê het dat 'n mens nie elke dag dieselfde roetine moet hê nie. Kriminele hou jou dop ... verander jou roete werk toe en moenie elke dag jou huis op presies dieselfde tyd verlaat nie. En skielik het ek lig gesien. Cesar hou my dop! Ek moenie elke oggend my huis om 06:00 verlaat nie. Ek moet my uitgaantye afwissel. En baie belangrik, ek moenie altyd na die kaas mik nie, brood is net so vullend. Lekkerbekkigheid gaan my nog my lewe kos en wie gaan dan na my gesin omsien? 

Een wintersoggend het my hele lewe verander ... Ek sal daardie dag nooit vergeet solank ek lewe nie. Ek het by my huisie uitgesluip en Cesar was soos gewoonlik kort op my hakke. Skielik hoor ek net: "Eina!" Cesar het op 'n naald getrap. Ek kyk vinnig om, bang dat dit 'n nuwe vangmetode van sy kant af is, maar daar sit die wilde dapper kat en huil. Ek moes 'n belangrike besluit in sekondes maak. Ek besluit om die kos te los en hom te help. Ek het die naald met my tande uitgetrek. Ek was die hele tyd doodbang, want ek is 'n hap ver van sy bek af, maar sy gesig het skielik verander. "Dankie, en baie jammer vir al die ander tye wat ek jou lewe so mislik gemaak het."

Hierdie was 'n wonderwerk.

Nou maak ons twee eertydse vyande of hy my agtervolg as ek uitglip om te gaan kos soek ... maar hy laat my toe om die kos te kry en huis toe te bring ... elke keer.

En dit is hoe my vyand my vriend geword het. 

Die wiel het gedraai!

[Rethabile Molelekoa 2015]   

Thursday, 15 February 2024

Verhaal: My lewe sal beter wees ...

Ek het alles gehad ... 'n Huis, karre en duur klere. Ek was ryk ... baie ryk ... skatryk! Almal wou my vriend wees ... tot die dag waarop ek alles verloor het.

Die mense wat ek gedink het my ware vriende was, het my in die donkerste uur van my lewe op die heel donkerste plek van my lewe gelos. Op daardie stadium was ek nie net brandarm nie, maar ook skielik  stoksielalleen. En ek het tot die besef gekom dat hoe donkerder jou dae word, hoe minder word jou vriende.

Ek het van die heel beste deel van die stad getrek na die heel slegste buurt in die stad ... mense het na die krotbuurt verwys. Dit het gestink. Die reuk het oral om die geboue gehang ... Die reuk van riool, papier en plastiek wat brand, dagga, ou kos en kool ... sommer net een groot bedompige wolk wat die woonbuurt omgewe. Kakkerlakke was orals. Rotte het tussen die swart sakke rondgeskarrel, maar ek was te moeg om regtig aandag hieraan te gee.

Ek het nie geld nie. Niks. Nie 'n sent op my naam nie. Ek het besef dat ek iewers 'n los werkie sal moet kry. Nie een mens wat ek in my dae van oorvloed gehelp het, gaan my help nie. Dit is die rede hoekom ek by die kinderhuis gaan werk het, want hulle het 'n gratis bord kos gegee en 'n klein donasie vir die werkers. Ek het geen geld of kos gehad nie, dit beteken ek het geen keuse gehad nie.

Ek het die hoof van die kinderhuis ontmoet. Melissa ... 'n lang, skraal en mooi meisie, met groen oë wat eerder in die modewêreld hoort as hier.

Ek het elke dag teruggegaan om in die kombuis te werk en die skottelgoed te was. Elke dag voel ek ellendiger as die vorige dag, moeg na siel en liggaam. Ek sal nie vir lank hier kan werk nie, daar is geen kans vir vooruitgang nie en ek het sekuriteit so dringend nodig dat ek ander planne kan maak vir vorentoe. Die krotwoonbuurt is die eerste ding op my lysie wat moet verander.

Ek het vir Melissa dopgehou. Sy het altyd geglimlag as sy een van die kinders sien of met hulle 'n gesprek aanknoop. Sy het die kinderhuis haar roeping genoem - maar ek het haar nie geglo nie.

Een Saterdagaand, nadat ek al die skottelgoed gewas het en die kombuis aan die kant gemaak het, sit ek vir 'n wyle met haar en gesels. Ek wou by haar weet hoekom sy nie iets anders met haar lewe doen nie. Daar is 'n hele wêreld wat lê en wag vir jou talente. Hoekom is hierdie kinders só belangrik vir jou? Jy is 'n mooi mens, wat baie geld in die modewêreld kan maak. Hoekom kies jy hierdie plek om jou lewe weg te gooi? 

Na 'n paar oomblikke van stilte het sy die volgende gesê: "Elke mens maak op 'n stadium in sy lewe 'n keuse. Vir 'n loopbaan verdien jy 'n salaris, maar nie noodwendig geluk nie. 'n Roeping is die keuse wat jou gelukkig maak. Nie alles in die lewe gaan oor geld en roem nie."

Daardie aand het ek die grootste les geleer. Ek was ongelukkig, want ek het gedink dat geld geluk kan koop.

My lewe sal beter wees ... as ek ander se lewe beter kan maak!

[Lefa Mofokeng 2015]

Wednesday, 20 December 2023

Rosetta se goeie wense:


Mag die Here jou altyd
in die waarheid lei, 
want Hy is die Weg,
die Waarheid en
die Lewe.