Showing posts with label Skenking. Show all posts
Showing posts with label Skenking. Show all posts
Friday, 17 July 2026
Tuesday, 2 September 2025
Ons word daagliks herinner aan God se troue sorg
Ons wil graag vir die boer van Petrusburg baie dankie sê vir sy liefdevolle skenking - 50 sakke aartappels en 30 koolkoppe. Hierdie praktiese betrokkenheid stel ons in staat om die inwoners met gesonde groente te bederf.
Dankie, Fanie du Plooy, dat jy die belange van Christina Kiddie KJSS op jou hart dra en dat geen moeite vir jou te veel is nie.
Die betrokkenheid van ons skenkers hou ons arms omhoog om die ekstra myl vir ons kinders te loop!
Sunday, 27 July 2025
'n Besige verjaardagweek
Die afgelope week was 'n bedrywige verjaardagweek by Christina Kiddie. Die verjaardagwense was soet in die mond van hulle wat verjaar het.
'n Groot DANKIE aan Charlotte van die *Sandwich Shop wat aan elkeen die verjaardagkoek van sy of haar drome gebak het. Jy sit daardie ekstra onthou in 2025 se verjaardae en maak dit só spesiaal vir elke verjaardagmaatjie.
Binnekringnuus: FNB-verrassing op 'n sonskyn Saterdag
Interne korrespondent: FNB-vrywilligers weet net wat klein handjies nodig het om 'n Saterdagoggend korter te maak - emmertjies en grafies ... dit klink mos nou soos 'n seevakansie in Kimberley. Die kombinasie van son, sand en speel is die perfekte skakelaar om gedagtes te verplaas na 'n vrolike en onvergeetlike strand-aktiwiteit.
Emmertjies en grafies vorm al jare deel van eendag se ontelbare kinderjare-onthou. Dankie, FNB-vrywilligers, dat julle ons Saterdag en ook sommer die Saterdae wat kom, speellekker maak.
Die dogters het onmiddellik die moontlikhede van modderkoekies raakgesien, terwyl die seuns grootskaalse grondverskuiwingsmoontlikhede met grafies en emmertjies kon raaksien. Daar is niks soos vars lug, son, sand en verbeelding om van al die skoolkommernisse te vergeet nie.
Tannie Maria het skil-skil gesorg dat al die bakkers, bouers en brouers genoegsame vitamine C (by die "see") inkry, terwyl Tommie 'n wakende oog oor al die gebeure hou.
Foto's: Christelle Hattingh
Sunday, 6 July 2025
Binnekringnuus: Pre-24 September braaidag in die hartjie van die winter
Korrespondent: 'n Mens hoef nie vir 24 September te wag om te braai nie. Nee wat, by Christina Kiddie verander 'n gewone koue Sondag in Julie in 'n heerlike braaidag, danksy tannie Mittah en 'n skenking wat hierdie bederf moontlik gemaak het. Heerlike paptert het die ete afgerond. In die Noord-Kaap is braaibroodjies die inding, maar vandag het dié tert die botoon gevoer, met die liplekkerresep van tannie Mittah.
Sunday, 22 June 2025
Ruben praat oor kinderjare-onthou
Ek is só opgewonde, ek moet net die nuus met iemand deel. Ek het die afgelope week regtig 'n lekker verrassing gekry. Skielik het ek sommer verlang na my kinderjare, my maats, my skooljare en sommer net na die hele Petrusburg. Sal iemand vir my 'n foto kan stuur van Petrusburg? Is die strate nog so skoon en netjies? En kuier die kinders nog na skool by Uncle Charlie se kafeestoep? Op daardie stoep is groot drome gedroom, versugtinge uitgespreek en met verlange gepraat oor die groot stede met die mooi huise, duur karre en baie werksgeleenthede wat nie in Petrusburg bestaan het nie. Ek lê vanmiddag onder my dinkbank en ek wonder wat van al daardie kinders geword het. Kon hulle hul kinderdrome verwesenlik en leef hulle hul kinderdrome uit of beleef hulle 'n nagmerrie op die stoep van die lewe.
Terug na my verrassing. Tannie Charlotte het verlede week die verjaardagmaatjie se koek kom aflewer. Nooit het ek geweet dat *Ruzanne se droomverjaardagkoek 'n kinderfoto van my sou ophê nie. Maats, daardie foto het my gedagtes met 'n spoed terug in tyd gestuur en soos 'n rolprent het my grootwordjare op Petrusburg voor my afgespeel. Ek het Ruzanne sommer net daar 'n leksoen teen die wang gegee, drie draaie om haar gehardloop, my stert amper afgeswaai en uitbundig van vreugde geblaf. Nie lank nie, of die buurt se honde het teruggeblaf! Wat 'n heerlike warm gevoel het in my binneste kom nesmaak.
Maats, tannie Charlotte se koekpresent vir Ruzanne was my herinneringsgeskenk. En op daardie oomblik het ek besef dat 'n mens onthou-oomblikke moet skep. Kinders moet speel, rondhardloop, boomklim, eenbeentjie spring (miskien ken julle dit as Hopscotch), kat-en-muis speel, kennetjie, aan-aan en so kan ek aangaan. Die speletjie waarvan ek die minste gehou het, was kennetjie - heeltemal te veel reëls vir 'n hond wat hou van hardloop. Speel julle nog hierdie speletjies of is julle vasgeplak aan julle fone? En by die huis is dit seker die TV of X-box? Weet julle daar is 'n opwindende lewe weg van die skerms?
Kinders kom die lewe in met bondels energie, baie idees en planne en 'n oop gemoed om te leer. Moenie dit voor 'n skerm deurbring nie. Kyk om jou en spring, lag en gesels. As jy eendag werk of te oud is vir speel, is dit die lekker herinneringe wat 'n reg-rondom-glimlag op jou gesig sit.
Weet julle outjies, ek het ook op Uncle Charlie se kafeestoep gestaan - elke dag - en oopmond geluister na kinderdrome. En ek het gewonder hoe my lewe na Petrusburg gaan uitdraai. En al wat ek in my geestesoog kon sien, was om iemand se waghond te wees. Die lewe het my tienvoudig geseën met 'n ongelooflike sinvolle lewe. Natuurlik is sekuriteit my hoofaktiwiteit, en ek doen dit met soveel liefde, want ek is vir baie meer as net my veiligheid verantwoordelik.
Ek is in Yvonne se woorde: 'n glimlagmaker, 'n trooster en 'n beste vriend. Dit is die lekkerste deel van my werk. Met my fyn ingestelde sesde sintuig weet ek sommer wie het 'n oor of 'n drukkie of net stilte nodig. Ek loop met bondels geheime in my binneste rond, ek herkou aan elkeen en probeer sover as moontlik die regte leiding gee.
![]() |
| Ek (jare terug) tussen ouma Annie se blomme. |
Dankie, Ruzanne, dat jy my kinderprentjie gekies het - ek wonder wie jou gehelp het.
Dankie, tannie Christelle, dat jy elke vakansie met speelherinneringe vul wat eendag die rede vir ons reg-rondom-glimlag sal wees.
Speelgroete uit Kimberley tot 'n volgende keer!
Ruben
(* Naam verander.)
Thursday, 24 April 2025
Verjaardaglooks!!
Ruben: My ouma Annie het altyd vir haar kinders en kleinkinders gesê dat hulle nie mooi en aantreklik hoef te wees nie, maar as hulle mooi doen, dan is hulle waardevolle viervoetige burgers vir die samelewing. Die soort honde wat die land nodig het.
Ons familie is nou nie silwerdoek-materiaal nie, maar ons kan ons man staan en is die sout van die aarde honde. Groot was my verbasing toe Yvonne vir my 'n foto vra. Sy was taamlik geheimsinnig oor die rede en het net in my oor gefluister dat ek haar rolmodel is en dat sy my bewonder vir my dapperheid en waaksaamheid.
Ek het in my vier spore vasgesteek toe Charlotte Yvonne se verjaardagkoek kom aflewer het. Getrou op my pos by die voorhekkie, het ek gesien hulle sukkel om die groot koek uit die kar te laai en daar sien ek dat ek op die koek pryk ... lewensgroot! Ek kon my twee oë nie glo nie. Dankie, Charlotte, dat julle nie net Yvonne se dag spesiaal gemaak het nie, maar ook myne. Ek voel kompleet soos 'n hond met sewe sterte!
Ek het spesiaal vir tannie Christelle gevra om 'n foto te neem sodat ek dit vir ouma Annie kan stuur. Sy is mos baie lief vir my en sy is ook baie lief om koek te bak en hier is haar twee groot liefdes gekombineer in 'n raar maar waar foto!
As enige iemand my modeltalente wil bekom, kan hulle gerus vir tannie Christelle kontak, sy sal sommer ook as my agent optree.
Wednesday, 5 February 2025
Verjaardagengele bestaan regtig
Drie verjaardagengele het vandag by ons kom kuier!! Ons opgewondenheidsmeter het gevaarlik in die rooi in beweeg. 'n Yslike groot DANKIE aan Charlotte en haar twee regterhande, Mercia en Liezel, van die *Sandwich Shop. Charlotte het onderneem om 2025 spesiaal te maak deur vir elke inwoner sy of haar droomverjaardagkoek te bak. Elkeen van hierdie koeke getuig van liefde, omgee en kreatiwiteit.
* Klik HIER vir meer inligting!
Friday, 20 December 2024
Dankie, Mediclinic Gariep Hospitaal
Mediclinic is vanjaar 10 jaar oud en toe kry Christina Kiddie die hééérlikste en grootste verjaardagkoek wat hulle nog gesien het. Dit was 'n reuse koek ... vergelyk dit met grootte van die waatlemoen in die agtergrond.
Dankie, Mediclinic, dat julle Christina Kiddie-inwoners se dag gemaak het. Dit was vir hulle baie spesiaal!
CK-boodskap: "Mediclinic, baie geluk met die afgelope 10 jaar wat julle wonderlike diens aan die gemeenskap van Kimberley en die Noord-Kaap gelewer het. Mag die jare wat kom, vol voorspoed en seën wees! Ons eet 'n snytjie koek op julle voorspoed!"
Subscribe to:
Posts (Atom)















