Showing posts with label Groet. Show all posts
Showing posts with label Groet. Show all posts

Thursday, 8 August 2024

Ons groet tannie Kagi

Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum neem hierdie maand van 'n tweede personeellid afskeid, nl. tannie Maria Tshabala, beter bekend as tannie Kagi. Dis nooit maklik om iemand te groet nie.

Tannie Kagi het vanaf 2004 op haar stil manier diep spore in ons kinders se harte getrap. Sy is die een wat elke weeksdag gesorg dat 28 kinders se klere gewas en gestryk is. Vir 20 jaar het sy gesorg dat elkeen gedress en gepress by die koshuishekke uitstap - en sy was tog só trots op haar handewerk.   

Hardwerkendheid, getrouheid, stiptelikheid,werkywer en vriendelikheid is maar enkele van haar mooi karaktereienskappe. Haar liefde vir die kinders het haar werk in 'n plesier verander.

Tannie Kagi, jy was altyd getrou by die wasgoeddrade of by die strykkas - nooit het jy tyd gehad vir niksdoen of kuier gedurende werksure nie. Hierdie skaars werksetiek het jou uniek gemaak.

Dis só jammer dat Tannie se gesondheid aftrede onvermydelik maak. 

Christina Kiddie sê dankie vir al die jare se harde werk. Mag hierdie nuwe fase vir tannie Kagi baie seën en genade inhou. Dankie vir die spore wat agterbly - spore van LIEFDE en OMGEE!

Ons sal beslis die skaam glimlag en die werkywer mis.

Wednesday, 31 July 2024

Ons groet oom Kleinbooi


Daar is 'n tyd om te kom en 'n tyd om te gaan en vandag, 31 Julie 2024, is dit oom Kleinbooi se laaste dag by Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum. Vir 17 jaar was die tuin en die netjiese gronde die handewerk van oom Kleinbooi - 'n man met groen vingers.

Hy het elke dag pligsgetrou van Greenpoint af gekom om sy dag se taak te kom verrig. Die tyd het egter vir oom Kleinbooi aangebreek om rustiger te lewe.  

Christina Kiddie sê dankie vir al die jare se harde werk en wens Oom net die mooiste toe vir die jare wat nog kom. Mag gesondheid en goedheid deel wees van die nuwe fase.