Showing posts with label Gesindheid. Show all posts
Showing posts with label Gesindheid. Show all posts

Tuesday, 18 February 2025

Ruben sê dankie vir sy verjaardagboodskappe


Liewe Maats 

Hierdie is net 'n kort briefie om vir julle dankie te sê vir die goeie verjaardagwense. Ek is skoon verras met die stortvloed van boodskappe. Dankie vir al die WA's wat ek op my mensma se foon gekry het. Elke een wat my op die stoep of in die tuin raakgeloop het, het vir my 'n kloppie op die rug gegee of my tussen die ore gevryf. Die belangstelling was verstommend. En dadelik het dit my getref: GESINDHEID! Wedersydse gesindheid teenoor mekaar maak die verskil. Julle goeie gesindheid teenoor my maak 'n verskil in my lewe.

Ek het werklik geliefd gevoel en om die dag af te kon hê, was al klaar vir my 'n groot present. Ek het egter nie my waaksaamheid verslap nie. Dis mos deel van my DNA en ek het nog steeds met gespitste ore deur die dag gegaan. 

Ek het vir tannie Christelle gevra om my verjaardagpartytjie klein te hou en 'n bietjie uit te stel. Na almal se vreugde, opgewondenheid en uitgelatenheid met Valentynsdag, gaan julle nie my verjaardagpartytjie met dieselfde entoesiasme benader nie. My verjaardag-in-aksie lê nog voor. Intussen suurdeeg ek sekere gedagtes by die inwoners wat met my kom hartsake gesels.

Ek het besluit my verjaardagpartytjie se tema moet gesindheid of gesindhede wees. Ek het besef hoe belangrik gesindheid is, veral in 'n koshuis soos hier by ons. Ons is een groot familie, elkeen met sy eie drome, probleme, agtergrond en aanpassingshekkies wat ons moet leer om te oorkom. Daarom moet ons ook mekaar help en dit vir mekaar makliker maak, al moet ons ook van ons kant af opoffferinge doen. Dink julle maats dat dit 'n goeie tema is? Julle moet weet in Petrusburg, my geboorteplek, is goeie karaktereienskappe by ons ingedril. My ouma Annie het gereeld gesê dat die dag wanneer ons die huis verlaat, word ons 'n lopende, blaffende en knorrende advertensie vir ons ouerhuis. My en Tommie se optrede op ander plekke weerspieël wat die wêreld van die jongmense van Petrusburg gaan dink.

As dinge in jou lewe sleg gaan, of die lewe se probleme en ongelukkigheid druk swaar op jou hart, kom praat met my. As ek nie op en af draf langs die heining om die pad te inspekteer nie, kan ons lekker op die gras onder die koelteboom sit en kuier. Ek is 'n baie goeie luisteraar en ek blaf nie mense se geheime uit nie. As van die kinders jou wegstoot, baklei of sleg behandel, skok hulle met jou gesindheid. Dis nie maklik nie, maar ek kan jou daarmee help en vir jou 'n bietjie van raad bedien. Onthou, ek het ook maar probleme gehad, ek was dikwels my blaf belet, ek was ook geboelie, maar my ondersteuningstruktuur het my deur hierdie kniehalterende probleme gedra. Wees mekaar se ondersteuningstruktuur.   

Maats, ek wil nie vir julle preek nie, maar ek is besig om vir Tommie die belangrikheid van goeie gesindheid te leer. En as julle my daarmee kan help, sodat Tommie kan sien hoe praat, speel en ondersteun outjies mekaar wat 'n positiewe gesindheid het, sal dit my werk ook makliker maak. Dis juis Tommie se opvoeding, die deel waarvoor ek verantwoordelik is, wat my aan die dink gesit het.

Op hierdie punt, my liewe maats, vra ek voorstelle vir my verjaardaggeselligheid. Hoe kan ek my tema gebruik dat ons hope pret en plesier kan hê, maar terselftertyd ook die Ruben-lewenslesse vir altyd sal onthou???    

Dankie, Petrusburg, vir die lekker koubene wat Courier Guy vir my afgelewer het. Tannie Christelle bêre dit vir my in die vrieskas en as ek op 'n Saterdag of Sondag wil herkou aan dinge wat my pla, dan kan ek dit al kouende aan 'n been doen.    

Maats, mag julle positiewe gesindheid die res van die week blom.

Ruben-groete tot 'n volgende keer!


Thursday, 21 September 2023

Die skoene

Ek was vars gestort en netjies geskeer. Ek het my mooi das nog een keer reggetrek en toe vertrek. Ek kon darem betyds by die kerkbank inskuif en wou net my oë toemaak in gebed toe ek uit die hoek van my oog 'n paar skoene sien wat langs my kom inskuif het.  

Ek het gesug ... was dit nou nodig om so naby aan my te kom sit dat ons skoene aan mekaar geraak het.  

Ek het my oë gesluit ... ONSE VADER ... toe onthou ek dat die Here ook sy Vader is ... Maar nog steeds ontsteld wonder ek of hy nie net sy skoene kon skoongemaak het nie. Die skoene se punte was afgekrap ... 'n dik laag stof het op die skoene gelê en sowaar daar was nog  'n gat ook aan die kant van die een skoen.

Sekerlik het die man geen skaamte of trots nie ... 

DANKIE VIR U SEëNINGE ... het my gebed aangegaan.  

"Amen!" het die paar skoene langs my hardop gesê.

Ek het so hard probeer om op die gebed te konsentreer, maar elke keer het my oë gedwaal na die paar skoene langs myne. Sekerlik moet ons altyd probeer om op ons beste te lyk wanneer ons by die kerkdeure instap? Wel, sekerlik het hierdie paar skoene langs my nie baie moeite gedoen nie.

Die gebed het geëindig en die lofsange het begin ...

Die paar skoene langs my het met volle oorgawe saamgesing. Met oë gesluit en hande omhoog het die skoene uit volle bors en met diep oortuiging die lofliedere aan ons Skepper geoffer.

Ek was seker dat nie net die Here nie, maar die hele dorp hierdie man se lofliedere gehoor het.  

En toe kom die tyd vir die offerhande. Ek het 'n stewige bydrae ingegooi, en toe die bordjie aangegee na die skoene langs my. Daar was diep in die sakke gegrawe ... eers in die een sak en toe in die ander een en diep onder in die tweede sak is sy bydrae uitgekrap en met 'n helder geklingel het die muntstukkie in die pragtige silwer bord geval.  

Ek het gesteurd na die skoene langs my gekyk, maar hy het só n salige uitdrukking op sy gesig gehad. So dankbaar dat hy wel iets gehad het om te gee.

Toe was dit tyd vir die Woord. En laat ek nou maar eerlik wees: dit het my tot in my siel verveel ... totdat ek na die  skoene langs my se gesig gekyk het. Groot trane het by sy wange afgerol ... Hy  het met diep aandag geluister ... en ek?

Ek het gewonder wat ek dan gemis het.

Ek was só besig met die skoene en die oordeel in my hart, dat ek die seëninge van die Woord totaal en al gemis het.  

Sy hart was vol ... sy honger was gestil ... en ek? Ek het gewonder waarom ek dan nog só leeg gevoel het.

Toe besef ek: Ek het nie, soos die skoene langs my,  met 'n verwagting kerk toe gekom nie, daarom het ek niks ontvang nie, terwyl sy beker oorgeloop het. Golwe van skuldgevoelens het oor my gespoel en ek het geweet dat die stukkende skoene my vandag 'n baie duur les geleer het.

Oudergewoonte was dit tyd om ná die diens enige vreemdelinge te laat welkom voel ... en na die slotgebed het ek toe maar my hand na die skoene uitgesteek. Die gesig was oud en verrimpeld van baie son en wind en weer en die hand wat myne vasgevat het, was vol eelte.

Die skoene het na my gekyk en gesê: "My naam is Charlie en ek is so bly om jou te ontmoet!" Sy oë was vol hartseer en pyn. "Ek kom al 'n paar maande hierheen, maar jy is die eerste een wat my groet ... Ek weet my kleredrag is nie op standaard nie, maar ek probeer baie hard om altyd op my beste te lyk en ek politoer gereeld my skoene, maar ná die lang stap hierheen op die stofpad, word dit altyd weer vuil en vol stof."

My hart het begin pyn en ek het swaar gesluk aan die groot knop in my keel. Ek was stil, want ek het geweet as ek iets sou sê, sou my woorde leeg en blikkerig klink, in vergelyking met die opregtheid van die stukkende skoene.

Ek het weer sy vereëlte hand gedruk en toe met trane bely: "Jy het my siel aangeraak en vandag het jy my 'n groot les geleer ... dat die mooi van die mens in sy hart lê en nie in sy blink nuwe skoene nie."

Dankie, Charlie, dat jou skoene vandag vir my 'n groot les geleer het - dat daardie vuil stukkende skoene my geleer het om anders te sing ... om meer intens te luister en om altyd met 'n verwagting te kom, sodat ek vol en tevrede kan uitstap.  

Ons sorg dat ons uiterlik getooi is, maar innerlik is ons brandarm en uitgehonger.

[Dankie, Rosetta Venter, vir hierdie tasbare lewensles wat jy met ons gedeel het.]