Thursday 5 May 2022

Donderdag: Dink hieroor ... Dis my boetie se beurt ...

'n Verhaal word vertel van 'n matriekklas by 'n sekere skool wat geregeer is deur die belhamel-element. Die klas het haas onregeerbaar geword en een ná die ander onderwyser het sy of haar goed gevat en geloop omdat dit nie vir hulle enigsins moontlik was om dissipline en orde te handhaaf nie. Daar is advertensies in al die koerante geplaas, maar soos wat die onderwysers aangestel is, so het hulle 'n paar weke later maar weer hul goed gevat en geloop.

Maar een oggend was daar 'n ligte kloppie aan die skoolhoof se deur en n tingerig geboude man het daar gestaan. Die skoolhoof het gegroet en toe stel die man homself voor: Ek is Mnr Buys en ek het kom aansoek doen vir die pos van matriekonderwyser. Die skoolhoof het die man op en af gekyk en toe vir hom gesê: Dankie Mnr Buys, maar groter en sterker manne as jy het al aansoek gedoen en het maar weer stert tussen die bene 'n paar weke later weggesluip.

Mnr Buys het die skoolhoof in die oë gekyk en toe gesê: Dan het jy mos niks om te verloor deur my 'n geleentheid te gee nie. Ek sien kans vir hierdie klas. Die skoolhoof het sy bedenkinge gehad, maar het te sleg gevoel om vir hierdie man te sê dat hy heeltemal te klein en maer is vir hierdie klomp belhamels en het hom toe aangestel.

Die volgende oggend was die matriekklas op hul beste, die geraas is deur die hele skool gehoor. Daar was 'n vreeslike rumoer wat deur die gange ge-eggo het. Die klasdeur het oopgegaan en mnr Buys het stadig by die deur ingeloop terwyl hy die hele spul so op en af bekyk, hy het agter sy tafel gaan staan en net gekyk, nie 'n woord gesê nie.

Daar het skielik 'n doodse stilte oor die matriekklas neergedaal. Of dit verbasing was omdat so 'n klein verpiepte mannetjie die mannemoed gehad het om by hulle klas in te stap, en of dit net die atmosfeer was wat die man omvou het - wat ook al die rede - die stilte was voelbaar.

Mnr Buys het van die geleentheid gebruik gemaak om die klas te groet, homself voor te stel en hulle te vra om asb hulle plekke in te neem. Hy verduidelik toe vir hulle dat hy orde en dissipline gaan toepas, maar met die verskil, dat hulle die reëls en die straf sal bepaal. Hy gaan staan toe voor die swartbord en vra hulle watter reëls hulle wil instel. Die een groot belhamel met die naam van Jakobus spring toe op en skree:"Daar mag geen diefstal wees nie", en mnr Buys skryf toe GEEN DIEFSTAL.

Die volgende ou spring toe op en sê daar mag geen vloekery wees nie, en mnr Buys skryf GEEN VUIL TAAL, en so het die klomp hul totaal en al oorgegee aan die genot van die maak van die reëls. Toe staan mnr Buys eenkant en sê dit is nou goed so, maar wat van die straf as een van hierdie reëls verbreek word. O dit is maklik skree ou Jakobus weer, 10 van die bestes met die rottang. Goed sê mnr Buys, so sal dit wees en skryf toe die straf ook op die bord.

Die dag het redelik vlot verloop en die pouse het aangebreek.

Na pouse storm Jakobus die klas binne en sê vir mnr Buys, "My toebroodjies is gesteel, en die reëls sê daar mag nie gesteel word nie, so die skuldige moet asb gestraf word". Mnr Buys vra toe of hy weet wie die brood gesteel het, Ja, sê Jakobus, dit was Klaas. Mnr Buys vra toe wie Klaas is, en agter in die klas staan 'n maer, verwaarloosde seun stadig op. Mnr Buys vra hom toe of hy die brood geneem het en hy sê toe ja, hy het. Mnr Buys kyk toe vir die kind en sien dadelik die hongerpyne op die seun se gesig raak, maar hy het ook besef as hy nie die nodige disipline toepas nie, gaan hy ook druipstert die skool verlaat. Hy versoek toe vir Klaas om vorentoe te kom.

Klaas was die toonbeeld van armoede, die skoene was stukkend, en oor sy skoolbroek het hy 'n oorgrote baadjie gedra wat hy styf voor toegevou het. "Klaas trek uit jou baadjie en kom buk". Klaas kom toe vorentoe en buk met die baadjiepante nog steeds styf vasgehou. "Nee Klaas, die baadjie is te lank en dit hang oor jou boude, jy moet dit asb uittrek". "Ag meneer", smeek Klaas, "ek sal buk want ek is skuldig, maar asb meneer, net nie my baadjie nie".

Mnr Buys voel hoe sy binneste ruk, want hy weet hier is groot behoefte, maar ter wille van die dissipline van die klas moet die seun gestraf word. Hy versoek toe weer vir Klaas om sy baadjie uit te trek, en weer smeek hierdie maer verwaarloosde kind: "Meneer, ek sal enigiets doen, maar asb meneer, ek kan nie die baadjie uittrek nie".

Mnr Buys kon ook nie toegee nie, en sê weer: "Kom Klaas, uit met die baadjie" en toe Klaas sien hy gaan die baadjie moet uittrek, maak hy dit oop en laat dit stadig grond toe gly en staan voor die onderwyser met net die broek aan sy lyf.

"Klaas waar is jou hemp" vra mnr Buys. "Meneer, in ons huis is daar net een hemp en een baadjie en dit was vandag my boetie se beurt om die hemp te dra. En meneer ek het nie bedoel om die brood te neem nie, ek het gedink Jakobus gaan dit net weer in die asblik gooi soos elke dag, en ek was so honger, toe dink ek hy sal nie eens agterkom dat die brood weg is nie".

Mnr Buys het gemaak of hy na iets op die bord kyk om hom geleentheid te gee om sy emosies onder beheer te kry. Toe draai hy om en sê: "Klaas, jy verstaan dat ek wel die dissipline moet toepas. Jy verstaan dat ek nie 'n uitsondering kan maak nie", en Klaas kyk hom in die oë en sê: "Ja meneer, ek verstaan" en toe buk hy, en Mnr Buys tel die rottang op om die eerste hou te slaan, toe breek Jacobus se stem die stilte in die klas, "Wag Meneer moenie hom slaan nie." Mnr Buys kyk na Jacobus en sê: "Nee die straf moet toegepas word vir die oortreding van die reëls". "Nee meneer, moenie hom slaan nie, hy was honger, los hom ek sal in sy plek kom buk om die straf te kry."

Daar was nie n droë oog daardie dag in daardie klas nie. Maar net so het daar Iemand ook voor die Vader gestaan en gesê, Asseblief Vader moenie hulle straf nie, Ek sal in hulle plek die straf neem. Kom ons maak 'n punt daarvan om in hierdie nuwe dag, hierdie nuwe week opnuut vir Jesus dankie te sê vir die straf wat Hy namens ons verduur het. Laat mens dink, dink voor jy praat en doen aan andere wat jy graag wil hê gedoen moet word aan jou.

Sien ook die nood raak van die ander met wie jy 'n pad kruis.

JY KAN 'N VERSKIL MAAK! MAG GOD JOU SEEN!

[Dankie, Carine Lubbe, wat dit met ons deel.]