Showing posts with label Rice Crispies. Show all posts
Showing posts with label Rice Crispies. Show all posts

Tuesday, 7 October 2025

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep - Rice Crispy

Mensig, maats, ek is goed oor die kole gehaal en deur niemand anders as my eie ouma Annie waarvoor ek so lief is nie. Die korterige vakansie is só volgeprop met aktiwiteite dat ek en Ruben net gou so 'n vinnige draai by ouma Annie gemaak het. Petrusburg is per slot van rekening die plek waar ons wortels lê. En daar lees ouma Annie vir my die leviete baie deeglik voor. Dag en datum is voor my kop gegooi toe haar laaste resep op Koester Karos verskyn het. Die ergste verwyt van haar kant af is dat ek poot en bek belowe het om dit te plaas en op hierdie manier ons familieresepte vir die nageslag te bewaar en ek het nie woord gehou nie. Kyk, ek voel so sleg dat ek en Ruben besluit het om ons kuiertjie maar kort te knip, want ons sal ons agteroor moet buig om weer in haar goeie boekies te kom.

Voordat ek die resep plaas, 'n waardevolle stukkie ongevraagde advies van my en Ruben.
* Moet nooit iets vir jou ouma of oupa belowe en dit dan nie nakom nie.
* As jy iets belowe het en dit nog nie gedoen het nie, stel dit dadelik reg.
* As jy drooggemaak het, vra verskoning en verander die situasie. Verskoning sonder onmiddellike aksie, is vals en toon duidelik dat jy nie respek vir jou ouma of oupa het nie.
* As kleinkinders het ons sekere voorregte in oupa en ouma se huis. Ongehoorsaamheid laat ons sekere voorregte verbeur.
ONTHOU: Ons preek nie net vir julle nie - ons is self in die moeilikheid en ons deel maar net ons gedagtes met julle.        
SKRYF vir ons - dalk kan ons mekaar motiveer om beter kleinkinders te word!

Hier volg my ouma Annie se resep wat sy nog by haar ouma gekry het.
(Die oorspronklike resep sê: Sit die pot op die vuur en gebruik 1 pond dadels! Ek het die resep bietjie aangepas!) 
 
Bestanddele:
7 koppies Rice Crispies
2 koppies suiker
450 g dadels
4 eiers
2 eetlepels botter
Klapper soos nodig

Metode:
Sny dadels fyn.
Gooi botter, suiker en geklitste eiers by.
Roer in pot vir ongeveer 10 minute.
Haal af, gooi Rice Crispies by en roer goed.
Maak bolletjies en rol dit in die klapper. 

Wenk:
Fyn klapper werk beter as die growwe klapper.
Geniet dit en gaan groot!!!

Ek gebruik my ouma Annie se gunstelingfoto - al lyk ek lankal nie meer so nie!!

Tuesday, 20 May 2025

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep - Rice Crispy en BarOne blokkies

My vinnige resep van verlede maand, het die meeste van Koester Karos se jong lesers aan die rol gesit. Die feit dat hulle nie naby 'n stoof hoef te kom nie, was 'n bonus en daar was verskeie versoeke vir nog sulke maklike lekkernye. Ek het die lyne Petrusburg toe geslaan en ouma Annie het vir my hierdie gunsteling gestuur. Jy moet ongelukkig van die bestanddele oor lae hitte smelt, maar dan is die grootste deel van die werk agter die blad. 

Ouma het laat weet dat sy deur haar resepteboek sal blaai om te kyk of sy nog vinnige kulkoekieresepte het. Sy het egter gevra dat ek volgende keer weer 'n opregte koekieresep sal plaas. Dis nou ons oumas se oumas se oumas se resepte. En as ek dit op Koester Karos publiseer, is dit 'n manier om die koekieresepte te bewaar. Ek het poot en bek belowe dat ek dit sal doen, ek kan nie waag om in ouma Annie se slegte boekies te kom nie. Julle weet mos dat die pad na 'n kleinkind se hart loop deur sy ouma se koekieblikke of het ek nou die kat aan die stert beet?? 

Van katte gepraat ...

Tannie Christelle het 'n steelfoto van my geneem waar ek Krummels se pad versper - hy was mos reguit op pad na my koekieblik toe en sonder om slapende honde wakker te maak, het ek net eenvoudig met 'n uitgestrekte lyf op die vloer gaan lê - ek wou soort van 'n stelling gemaak het - skoon vergeet van tannie Christelle se skerp kameraoog ..!

Volgens Krummels is die Petrusburg-koekies baie lekkerder as Friskies of Whiskas s'n, maar dit kan 'n mens nou nie loop en verkondig nie.

Rice Crispy en BarOne blokkiesresep van ouma Annie 

Bestanddele:
1 BarOne
60 ml botter
80 ml suiker
15 ml goue stroop
500 ml Rice Crispy

Metode:
* Smelt BarOne en botter saam oor lae hitte. 
* Voeg suiker en stroop by en roer tot suiker opgelos is. 
* Verwyder van hitte en voeg Rice Crispies by. 
* Meng vinnig deur en skep in voorbereide gesmeerde pan.
* Druk stewig vas en verkoel tot hard.
* Sny in blokkies.
Geniet dit en gaan groot!!!