Showing posts with label Maria Tshabala. Show all posts
Showing posts with label Maria Tshabala. Show all posts

Thursday, 8 August 2024

Personeel: Tannie Kagi en oom Kleinbooi se spesiale dag!

 

Tannie Kagi en oom Kleinbooi was vandag die rede dat die kollegas lekker gesellig om die lang tafel kon kuier, gesels en skerts, terwyl hulle gepeusel het aan allerlei lekkernye voordat hulle bederf is met 'n heerlike hoofgereg en nagereg. 

Christina Kiddie het vandag van hierdie twee kollegas afskeid geneem wat albei pensioenouderdom bereik het. As ’n mens aftree, dan kyk jy terug op al die ure wat jare geword het wat jy by jou werkplek deurgebring het en jy hoop dat die verskil wat jy gemaak het, onthou sal word. Skielik verander jou perspektief, jy kyk na jou kollegas en die kinders wat agterbly en jy hoop dat jy vir hulle iets van werksetiek en ywer geleer het.

Onthou: Moenie net gaan sit nie - probeer om elke dag 'n verskil aan een mens se lewe te maak, al is dit net met 'n vriendelike woord. Geseënde rustyd.

[Lees meer HIER en HIER oor die twee afgetredenes]

Ons groet tannie Kagi

Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum neem hierdie maand van 'n tweede personeellid afskeid, nl. tannie Maria Tshabala, beter bekend as tannie Kagi. Dis nooit maklik om iemand te groet nie.

Tannie Kagi het vanaf 2004 op haar stil manier diep spore in ons kinders se harte getrap. Sy is die een wat elke weeksdag gesorg dat 28 kinders se klere gewas en gestryk is. Vir 20 jaar het sy gesorg dat elkeen gedress en gepress by die koshuishekke uitstap - en sy was tog só trots op haar handewerk.   

Hardwerkendheid, getrouheid, stiptelikheid,werkywer en vriendelikheid is maar enkele van haar mooi karaktereienskappe. Haar liefde vir die kinders het haar werk in 'n plesier verander.

Tannie Kagi, jy was altyd getrou by die wasgoeddrade of by die strykkas - nooit het jy tyd gehad vir niksdoen of kuier gedurende werksure nie. Hierdie skaars werksetiek het jou uniek gemaak.

Dis só jammer dat Tannie se gesondheid aftrede onvermydelik maak. 

Christina Kiddie sê dankie vir al die jare se harde werk. Mag hierdie nuwe fase vir tannie Kagi baie seën en genade inhou. Dankie vir die spore wat agterbly - spore van LIEFDE en OMGEE!

Ons sal beslis die skaam glimlag en die werkywer mis.