Showing posts with label muis. Show all posts
Showing posts with label muis. Show all posts

Thursday, 7 August 2025

Ruben se een minuut storie: Die padda en die muis


Hierdie kort-kortverhaal handel oor 'n muis wat hulp van 'n padda soek om van die een kant van die stroom na die ander te kom.

Muis moes baie dringend aan die oorkant van 'n stewige stroom kom. Sy familie aan die oorkant is siek en Muis wil hulle gaan help. Omdat Muis nie kan swem nie, het hy allerhande planne gemaak om aan die oorkant te kom, maar die een plan was meer gevaarlik as die ander plan. Gelukkig sien hy 'n padda op 'n klip in die son sit en bak en besluit om hom te nader vir hulp. Hy ken nie dié padda nie en na heelwat mooi praatjies en beloftes stem die padda in om die muis te help. Muis maak homself aan die padda vas, want hy wil nie in die water val nie. Padda het egter ander planne gehad en duik in die water in net nadat Muis homself stewig op Padda se rug vasgemaak het. Padda bly lank genoeg onder water totdat hy seker is die muis op sy rug het verdrink.

Padda swem met 'n groot glimlag op sy gesig na bo en spring op sy gunstelingklip. Hy kan nie glo dat die muis hom so maklik geglo het nie en sonder enige moeite het hy 'n kitsmiddagete op sy rug. Hy was nog besig om die toue los te maak waarmee Muis homself vasgemaak het, toe word hy deur meneer Valk opgetel. Meneer Valk is op sy beurt baie in sy skik dat hy twee porsies kos kry met net een poging.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Moenie iemand vertrou wat jy moet smeek om jou te help nie.
* Moenie vreemdelinge vir hulp vra nie.
* Moenie iemand wat jou hulp nodig het, te na kom nie.
* Jy kry van jou eie medisyne terug, as jy vir ander lieg.

Thursday, 30 January 2025

Een minuut storie: Die Leeu en die Muis - ‘n tradisionele fabel


Eendag beland daar ‘n piepklein muisie in die poot van ‘n yslike groot leeu. “Ek het jou gevang, Meneer Muisie, jy is myne!” brul die yslike groot leeu.

”Asseblief, Grote Leeu, koning van die diere, ek respekteer jou, moet my net nie seermaak nie. Laat my asseblief los. My kinders wag vir my en die son sak al laag. As jy my loslaat, sal ek vir jou ook eendag ‘n guns bewys”, pleit die muisie.

”Jy weet,” brul die yslike groot leeu, “ek dink nie jy sal enige nut vir my wees nie. Jy is glads te klein om vir my enige gunste te kan bewys. Maar loop maar, ek sal jou lewe spaar ter wille van jou kinders. Toe, loop nou, voor ek van plan verander.”

Die piepklein muisie skarrel vinnig weg en verdwyn in die bosse.’n Paar dae later word die Grote Leeu in ‘n strik gevang. Hy is vas en kan nie roer nie. Hy brul en brul, maar kan nie loskom nie. Hy raak verboureerd, want hy weet dat dit die einde van sy lewe kan beteken soos hy dit ken. Skielik hoor hy ‘n fyn piep-piep hier naby hom. Sowaar, dit is dieselfde muisie wat hy ‘n paar dae tevore gevang het.

”Lê doodstil,” piep die muisie, “Ek sal gou-gou die toue deurknaag, dan sal jy los wees.”

”Ag, ou Muisie,” kla Grote Leeu moedeloos, "Die toue is so dik en jou tandjies is so klein. Hoe sal jy dit regkry?”

Maar die muisie praat nie en hou net aan met knaag en sowaar, kort voor lank is daar ‘n yslike gat waardeur Grote Leeu kan kruip.

”Baie baie dankie, Kleine Muisie. Jy het vandag my lewe gered. Iets wat ek nie in my wildste drome kon dink nie.  Al is jy só baie klein, het jy my gered, toe ek magteloos was. Ek is jammer dat ek gedink het dat jy te klein is om my te help. Ek sal vir jou en jou kindertjies ‘n groot geskenk gee.” 

Grote Leeu en Kleine Muisie is tot vandag nog vriende. En hulle maak seker dat hulle hierdie storie van geslag tot geslag oordra, want groot-groot-groot-grootoupa leeu het 'n belofte gemaak.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
Jy is nooit te klein om iemand te help nie.