Showing posts with label Hardwerkend. Show all posts
Showing posts with label Hardwerkend. Show all posts

Friday, 7 August 2026

Statistiek: Ons wil nie slapende honde (katte?) wakkermaak nie, maar ...


Na aanleiding van die berig vroeër vandag, wil die redaksie net 'n regstelling maak. Dit blyk dat sommige mense ook werk kan verrig terwyl hulle slaap.

Miskien moet daar nie na Mattewis as kantoorassistent gekyk word nie, maar moet hy dalk 'n nuwe posbeskrywing kry - eerder iets in die bemarkingsafdeling??

Die afgelope week het 3000 e-lesers die blad besoek en vandag het baie vinnig die 229 000-kerf gehaal na Mattewis se berig verskyn het.

Miskien het hy nie net nege lewens nie, maar dalk ook 'n negende sintuig wat hy inspan terwyl hy slaap. 

Nuwe besems vee altyd skoon - selfs in die diereryk


Foto's spreek baie luider as wat woorde ooit kan doen. En hier is 'n bewys daarvan. Mattewis was met sy aankoms by Christina Kiddie baie betrokke by alle kantooraktiwiteite. Dit was asof hy verantwoordelik gevoel het vir alles wat in die kantoorblok gebeur het. Hy het op die lessenaar gesit om die groenstrikkiedag se kaartjies deur te lees om te kyk of daar enige spelfoute is (foto dien as bewys.) Alle fotostate wat gemaak is, is deeglik gekontroleer, geverifieer, geïnspekteer voordat dit gebruik kon word (weer 'n foto as bewys.)

Mattewis se betrokkenheid het egter drasties afgeneem en daarvoor is daar ook bewyse. Die aktiewe betrokkenheid het geleidelik verander na 'n heelwat stadiger pas. Daar is meer gesit en gelê en deesdae is die hoofaktiwiteit slaaaap!

Die stoel vir gaste is nou geannekseer vir slaap - enige tyd van die dag is 'n goeie tyd vir dié gunsteling aktiwiteit. 

En wat doen hy as daar wel gaste in die kantoor instap? 

Hy loer so met die een oog na hulle, gee 'n groot gaap, draai hom om en ... slaap ongestoord verder.

Is dit nie wat ons mense ook doen nie?

Hou maar gerus 'n nuwe besem dop - en kyk hoe laissez-faire daardie selfde mens word met verloop van tyd ...

Foto's: Christelle Hattingh
 

Thursday, 27 February 2025

Een minuut storie: Die miere en die sprinkaan


'n Gesin miere was besig om die graan wat hulle gedurende die somer gestoor het, uit te droog. Almal was kliphard aan die werk, selfs die kinders het ywerig saamgewerk. Daar was nie tyd vir speel nie. Oupa Mier het altyd gesê as jy wil eet, moet jy werk. 

'n Doodhonger sprinkaan hou die werkende miere van 'n afstand dop en sien die berge kos en besluit om hulle vir kos te vra. Oupa Mier, wat nie van ledigheid hou nie, wil by sprinkaan weet hoekom hy nie kos vir die winter gebêre het nie. Die sprinkaan het gesê hy en sy vriende was te besig om musiek te maak gedurende die somer dat hy nie nog kos kon spaar nie. Daar was eenvoudig nie tyd vir kos insamel nie. Die miere het geen simpatie met die sprinkaan gehad nie en het net aangegaan met hulle werk. 

Kan jy die boodskap van mier en sprinkaan raai?
* Daar is 'n tyd om te werk en 'n tyd om te speel.
* Kry jou prioriteite reg.
* Leer uit ander se voorbeeld.