Showing posts with label Christina Kiddie. Show all posts
Showing posts with label Christina Kiddie. Show all posts

Wednesday, 19 August 2026

Statistiek: Mattewis hou 'n wakende oog oor die e-lesers


Mattewis: "Voordat iemand my weer beskuldig dat ek 
nie my werk doen nie, wil ek net die kykertal met julle deel. 
Daarna gaan ek 'n vinnige uiltjie tydens my etensuur knip, 
voordat ek weer katlewendig die res van die middag aanpak. 
Klik HIER en gaan kyk dat ons 5000 e-besoeke in 5 dae gehad het. 
Geen wonder ek is uitgepoot nie!"

Friday, 7 August 2026

Statistiek: Ons wil nie slapende honde (katte?) wakkermaak nie, maar ...


Na aanleiding van die berig vroeër vandag, wil die redaksie net 'n regstelling maak. Dit blyk dat sommige mense ook werk kan verrig terwyl hulle slaap.

Miskien moet daar nie na Mattewis as kantoorassistent gekyk word nie, maar moet hy dalk 'n nuwe posbeskrywing kry - eerder iets in die bemarkingsafdeling??

Die afgelope week het 3000 e-lesers die blad besoek en vandag het baie vinnig die 229 000-kerf gehaal na Mattewis se berig verskyn het.

Miskien het hy nie net nege lewens nie, maar dalk ook 'n negende sintuig wat hy inspan terwyl hy slaap. 

Nuwe besems vee altyd skoon - selfs in die diereryk


Foto's spreek baie luider as wat woorde ooit kan doen. En hier is 'n bewys daarvan. Mattewis was met sy aankoms by Christina Kiddie baie betrokke by alle kantooraktiwiteite. Dit was asof hy verantwoordelik gevoel het vir alles wat in die kantoorblok gebeur het. Hy het op die lessenaar gesit om die groenstrikkiedag se kaartjies deur te lees om te kyk of daar enige spelfoute is (foto dien as bewys.) Alle fotostate wat gemaak is, is deeglik gekontroleer, geverifieer, geïnspekteer voordat dit gebruik kon word (weer 'n foto as bewys.)

Mattewis se betrokkenheid het egter drasties afgeneem en daarvoor is daar ook bewyse. Die aktiewe betrokkenheid het geleidelik verander na 'n heelwat stadiger pas. Daar is meer gesit en gelê en deesdae is die hoofaktiwiteit slaaaap!

Die stoel vir gaste is nou geannekseer vir slaap - enige tyd van die dag is 'n goeie tyd vir dié gunsteling aktiwiteit. 

En wat doen hy as daar wel gaste in die kantoor instap? 

Hy loer so met die een oog na hulle, gee 'n groot gaap, draai hom om en ... slaap ongestoord verder.

Is dit nie wat ons mense ook doen nie?

Hou maar gerus 'n nuwe besem dop - en kyk hoe laissez-faire daardie selfde mens word met verloop van tyd ...

Foto's: Christelle Hattingh
 

Tuesday, 4 August 2026

Lente 2026 is in die lug ...

Die voëltjies sing soggens vroeër en luider. Ruben en Tommie kruip nie meer onder die dikste komberse in vir 'n snoesige warm winterslaap nie en Matewis mag hulle maar pla as hulle vir 'n wyle wegdommel. 

Daar gaan bepaald nog 'n koue naweek of twee opduik, net om die lentevreugde so 'n bietjie te temper, maar dit gaan ons nie verhoed om solank ons groen vingers in die blombeddings te druk en aan 'n plant of tien, nuwe lentelewe te gee nie.

Hier by Christina Kiddie is die tuin besig om lentelewe te kry. Kom maak gerus oor 'n rukkie 'n draai hier, om self die blomverandering te sien.

Nog planne om sprankel aan die tuin te gee, is in die pyplyn.

Dankie, vir al die blomplantjies wat hulle weg hierheen gevind het - dit is meer as welkom.

'n Noord-Kaapse tuin vra vir vetplante - hulle huiwer nie om hulle mooiste kant in die warm somermaande te bring nie. Bring gerus met 'n volgende besoek 'n steggie saam. 

Blomvreugde vir 2026 se lente! 

Foto's: Christelle Hattingh

Thursday, 23 July 2026

Advertensie: Vakante versorgerspos


POSBESKRYWING: 
* Versorging van en toesig oor 27 kinders tussen 4-18 jaar.
* Werksure: 19h00 tot 07h00

VEREISTES: 
* Graad 10-kwalifikasie en vaardig in Afrikaans.
* Bereid om nagskof te werk (4 nafte werk en 4 nagte af).
* Emosioneel volwasse met 'n gesonde leefstyl en goeie morele waardes.
* Moet selfstandig en as deel van 'n span kan werk.
* In staat wees om positiewe dissipline toe te pas.
* ONDERVINDING IN DIE VERSORGING VAN KINDERS IN 'N KINDER- EN JEUGSORGSENTRUM OF 'N KOSHUIS SAL TOT JOU VOORDEEL STREK.
* Moet selfhandhawend wees en onder druk kan funksioneer.

RIG AANSOEKE AAN:
* christinakiddie@lantic.net
* Volledige CV met minstens DRIE verwysing.
* Gesertifiseerde afskrifte van ID en kwalifikasies.
* Vorm 30 uitkoms (Register vir Seksuele Oortreders)

NAVRAE:
Christelle Hattingh - Tel. 053 831 2413
christinakiddie@lantic.net

VERGOEDING:
Salaris sal ooreenkomstig die NML (Nasionale Minimum Loon) bepaal word.

SLUITINGSDATUM:
07 Augustus 2026

Indien jy teen 14 Augustus geen terugvoering ontvang het nie, 
kan jy aanvaar dat jou aansoek onsuksesvol was.

[Klik op advertensie vir 'n duideliker beeld.]

Friday, 17 July 2026

Die gestuurde engele op ons pad

Talentkonsert - sien jou daar!!


WAT: 'n Talentvertoning soos min
WAAR: Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum
WANNEER: 18 Julie 2026 om 15:00

Kom ondersteun hierdie eerste talentkonsert - uitstekende talent, pret, plesier, 'n heerlike atmosfeer en talle lekker pryse is op die spel! 

Kom ontspan gerus terwyl die kinders jou gemoed 
'n Saterdag-hupstoot gee!! 

Friday, 10 July 2026

'n KJSS-interkuier

Die inwoners is kliphard besig om voor te berei vir vandag 
se pretdag saam met Sinothando Kinder- en Jeugsorgsentrum.
Dis uitknip, inkleur, vasplak en toedraai! 
Elke Sinothando KJSS-inwoner se snack pack is gemerk.
Elke Sinothando-kind kry 'n sagte speelding van ons Kiddies af.
Daar is ook 'n klein sagte speelding vir die Sinothando-tannies!

Foto's: Christelle Hattingh

Thursday, 9 July 2026

Vandag was dit koekiebakdag

Met groot entoesiasme en ywer is die koekiebakprojek aangepak.
Party het ongevraagd raad uitgedeel en 
ander het nie gehuiwer om raad te vra nie.
Konsentrasie het konsternasie verhoed!
Die resultaat was dat elkeen sy/haar eie bakkie koekies het, 
netjies verpak soos in 'n winkel. 
 Die personeel het ook elkeen deeg gekry om vir hulle kinders 
koekies te maak. 'n Heerlike dag met bakkies vol soet resultate!

Foto's: Christelle Hattingh 

Monday, 6 July 2026

'n Hartsbriefie van die Kerk van die Nasarener

Liewe Christelle en al jou pragtige hande. 

Hoé sê ons dankie vir die honderde, tuisgebakte, heerlike koekies waarmee julle die kinders en personeel by die Kinderfees geseën het. Dis weereens so professioneel verpak en boonop verseël met die tema van die Kinderfees. Dit was en is 'n vreugde om julle kindertjies te ontvang en te bedien. 

Die HERE JESUS gaan voort met Sy werking in elkeen se lewe. 

Mag Hy julle ryklik seën en versorg. 

Baie liefde Johan, Annelie, personeel en al die kinders.

Friday, 3 July 2026

Bybelskool: Tree vir tree met Jesus

Soos elke jaar het die Kerk van die Nasarener 'n Vakansie Bybelskool Kinderfees aangebied vir 4- tot 13-jariges. 'n Fees van lekker sing, lekker lag, speletjies, movies, Bybelverhale en heerlike kos het kleur aan die vakansie verleen. Met Tree vir tree met Jesus is die belangrikheid om Jesus elke dag aan jou sy te hê, onderstreep.

'n Uit-die-hart-Kiddies-dankie aan ds. Johan Bothma, Annelie, die personeel en die Bybelfeesleiers van 2026 se Kinderfees vir die beleggings met Ewigheidswaarde wat julle in die Bybelskool-kinders belê.


Kiddies KJSS wil met 320-dankie-sê-koekies vir elkeen wat betrokke was
by die Bybelskool, 'n harts-dankie gee. 
Dankie dat julle altyd aan ons dink.
Dankie dat julle ons elke jaar uitnooi en met ope arms ontvang.
Dankie dat julle ons elke jaar gratis akkommodeer.
Dankie dat die ekstra myle nie te veel gevra is nie.
Mag julle baie seën ontvang.

Thursday, 2 July 2026

Tuesday, 30 June 2026

Die ideale oplossing vir 'n besige vrou

Wildspasteie @ R30
Hoenderpasteie @ R30
6 klein hoenderpasteie @ R40
Worsrolle met wilds- & varkmaalvleis @ R30
Ten bate van Christina Kiddie KJSS

Thursday, 18 June 2026

Christina Kiddie KJSS se senior jeug

Jeugdag in Christina Kiddie is gekenmerk deur
wonderlike geesdrif en aansteeklike spangees!!
Dankie dat julle ons daagliks inspireer 
om die lewe voluit te leef, 
ongeag ons ouderdom. Ons het Jeugdag geniet!
Lede van die personeel wat nie 16 Junie 2026 met hulle
"skooldrag" by die werk opgedaag het nie, 
moes R5 betaal om die dag 
"civvies" te kon aantrek!!
Foto's: Christelle Hattingh