Showing posts with label Skrywer. Show all posts
Showing posts with label Skrywer. Show all posts

Sunday, 17 November 2024

My gedagtes: Vriendskap

Daar is nie iemand wat alles weet nie ... Alhoewel daar baie mense is wat dink hulle weet alles.

As jy vir iemand sou vra wat 'n vriend is, sal jy baie subjektiewe antwoorde kry. Die objektiewe antwoord waarna 'n mens soek, is dat 'n vriend iemand is wat vir jou lief is (net dit) ... sonder voorwaardes.

Mense weet nie meer wat liefde is nie. Kyk maar net 'n slag om jou rond, kyk na die nuus en lees die koerante. Ons het 'n liefdelose generasie geword, wat na kitsoplossings soek.  

Is liefde dan 'n emosie?

Nee! Liefde is jou aksies. Wat jy doen, nie wat jy voel nie.

'n Vriend is iemand wat nie vir jou kan of wil lieg nie. Iemand wat te alle tye vir jou die waarheid en niks anders as die waarheid vertel nie. 'n Vriend is iemand wat aan jou glo en wat ook in jou lewensdroom glo. 'n Vriend is iemand wat dankbaar is dat jy sy of haar pad gekruis het en iemand wat jou op die regte pad hou.

Jou vriend is 'n rots.

Jou vriend is altyd daar vir jou as jy in die storms van die lewe beland. Hy of sy staan saam met jou teen die aanslae van die suidewind. 

'n Vriend is altyd daar vir jou.

'n Vriend is betroubaar.

Maar ek is ook hartseer as ek aan vriende dink, want daar is baie vals vriende wat hulle eie geheime agenda het. Hulle is die spreekwoordelike houtkappers van die lewe. Hulle kap ongevraagd jou hout.

Hulle is daar in jou lewe vir wat hulle wil hê en wat hulle uit die vriendskap kan kry ... nie vir jou as persoon nie, maar daar is altyd hoop ... hoop dat die wêreld van 'n liefdelose wêreld kan verander na 'n liefdevolle wêreld. 

Wees dankbaar as jy 'n ware vriend het, hulle is skaars ... dis die vals vriende wat volop is.    

Thursday, 3 October 2024

Poem: Think about this!


Gaan kuier gerus HIER op The Poem Farm (Children's author and & writing teacher: Amy Ludwig VanDerwater) Hierdie skrywer is lief vir kinders, woorde, gedigte en besoek graag skole om leerders te help met hulle skryfwerk. Die wat duisende myle van haar af bly, kan al die voordele op haar blog kry.
Klik HIER om meer te wete te kom oor hierdie talentvolle skrywer. Geniet elke geskrewe woord. Gaan lees gerus waarvan sy hou en waarvan sy nie hou nie.

Thursday, 26 September 2024

Poem: It's ok


Gaan kuier gerus HIER op The Poem Farm (Children's author and & writing teacher: Amy Ludwig VanDerwater) Hierdie skrywer is lief vir kinders, woorde, gedigte en besoek graag skole om leerders te help met hulle skryfwerk. Die wat duisende myle van haar af bly, kan al die voordele op haar blog kry.
Klik HIER om meer te wete te kom oor hierdie talentvolle skrywer. Geniet elke geskrewe woord. Gaan lees gerus waarvan sy hou en waarvan sy nie hou nie.

Sunday, 16 June 2024

Verhaal: My pa

My pilaar  ...

Was ons pa-seun-verhouding ooit goed genoeg? 

My pa was die sterkste man wat ek geken het. Hy het 'n diep stem gehad ... mense het nogal geluister as hy gepraat het. Hy was die enigste mens wat iemand 'n gat in die kop kon praat, sonder dat jy dit besef het. Ek was bang vir hom ... Ek was as klein seuntjie sommer baie bang vir hom! Eintlik was ek doodbang vir hom.

My pa was ten alle tye die pilaar in ons familie.

My pa se goeie eienskappe was regtig wat hom die pilaar van sy gesin gemaak het. Hy was vriendelik. Hy het ons elke aand vir sy Here God geoffer. Ons kon hoor hoe hy vir elkeen van ons op ons naam bid. Dit het ons spesiaal laat voel. Elke keer as ek iets verkeerd gedoen het, het hy my gestraf. Ek het nie altyd met die straf saamgestem nie, maar hy het gesê ek sal dit eendag verstaan. Ons het soms baklei, maar hy het nooit vir my kwaad gebly nie, want my punte was elke kwartaal besonder goed. Solank ek onder die top 10 was, was my pa in sy element.

Toe word ek 14 jaar oud en my pa sterf onverwags. Ek was ontsteld, geskok,van die spoor af ... my rigtingwyser was skielik nie meer daar nie. Al het ons soms baklei en baie keer verskillende sienswyses gehad, was ons soos twee koppe in een mus. As hy hier was, sou ek duidelik geweet het of hy tevrede was met my lewe. Hy sou vir my gesê het dat ek nou groot genoeg is om te leer motor bestuur, en dan sou hy my geleer het, soos my beste vriend, Thabo, se pa hom nou leer.

'Skuus, Pappa ... ek was nie altyd die seun wat ek graag vir jou wou wees nie. Ek het opgehou bid - eintlik bid ek nooit meer nie. Maar ek belowe dat ek sal verander. Ek kyk nou met meer respek na mamma. Sy sukkel regtig sonder jou ... ek sal haar beslis meer help.

Ek is nou die grootmenskind in die huis ... maar ek is nog steeds jou kind.
Ek het nou 'n diep manstem ... want ek is mos pa se kind.    
Ek bid byna nooit nie ... soos die dogter in Ma van Antjie Krog.
Ek mis my pa ... maar vir pa sal ek nooit vergeet nie.

Pa se voetspore is duidelik in my lewe, en vandat ek ouer is, besef ek dit meer. Tienerwees is om rebels te wees en om verkeerdelik te dink jy is slim.

Ek weet dat ek eendag vir pa sal sien, miskien in die paradys ... Ons verhouding was goed genoeg ... Dit kon beter gewees het, as ek net altyd na pa se raad wou luister ... want pa was die beste vader wat enige kind voor kon vra!

Ek besef vandag, noudat dit te laat is om dit vir pa te sê, dat pa my hero is.

Dankie, Pa!

[Bongani Khambule - graad 12-leerder 2015]

Wednesday, 5 June 2024

Die gedagtes van 'n tiener: Wysheid waar is jy?

Wysheid is die ma van groot nasies ...

Die bymekaarmaker van ons wêreld. Jy is ons vreugde ... ons ... jou kinders. 

Jy is die rede dat ons glo ons kan enige iets doen. Met jou aan ons sy, is daar nie iets soos 'n verlore siel nie. Jy is 'n vredemaker. 'n Boekmerk vir al ons probleme ...

Jy is nederig ... elkeen weet van jou en is bewus van jou, maar jy beweeg graag anoniem. Jy is die oorsaak en die beginpunt van baie gedagtes en gesprekke. Met jou nie in ons midde nie, is ons taamlik stomgeslaan, en vang ons allerhande stommiteite aan. Daar is selfs mense wat na ons as stommerike verwys. Vrae maalkolk deur my moeë brein ...

In alles is daar wysheid, maar alles het nie wysheid nie. 'n Mossie het mossie-wysheid, maar hy het nie die wysheid van 'n arend nie. Elkeen het die potensiaal om jou te hê, maar kla en ontevredenheid is nie is nie vriende van wysheid nie. En die meeste van ons is uitstekende klaers. Ons is ontevrede oor alles. Niks is volgens ons nukke en grille nie. 

Ouer mense sit met 'n klomp wysheid, maar ons wil nie daarna luister nie - ons noem dit oumenspraatjies - en ons is tog mos jonk en modern. Hierdie is die vrae wat deur my kop maal en wat ek nie durf waag om my maats te vra nie - hulle sal dink dat ek iewers 'n skroef los het.

Ek kom agter dat wysheid nie meer so logies deel is van mense nie. Met jou nie deel van die mensdom nie, kan baie min hul eie probleme oplos. Probleme word net al meer, maar ook al minder oplosbaar. Het die mensdom die insig om met wysheid na 'n probleem te kyk, verloor?

Die wêreld is sonder 'n boekmerk. Die melancholiese eentonigheid van 'n wêreld sonder jou is duidelik sigbaar. Jy is belangrik in ons lewe. Ons hoop maar dat ons ook belangrik is in joune ... Maar waar is jy?

Die wêreld is sonder insig en eentonig kleurloos. Mense weet niks nie. Hulle ploeter voort sonder 'n rots waarop hul kan staan. Hulle is 'n ankerlose bootjies in die suidewind van die lewe. 

Depressief is die wêreld waarbinne ek staan. 'n Wêreld waar elkeen jou nie wil hê as metgesel nie. Baie is bang vir jou ... bang vir die waarheid, bang om hierdie wêreld se ballades in die oë te kyk. 

Die wêreld is bittersoet vir hulle wat nou daarin leef. Elkeen sien die soet raak, maar soet is nie die waarheid nie ...        

Thursday, 25 April 2024

Verhaal: My lewensplan

My lewe sou goed kon wees ...
My lewe sou dalk beter kon wees ...
My lewe sou die beste kon wees as ek maar net 'n vriend in my klas kon hê ... iemand met wie ek kon praat en my vrese kon deel vir die kere wat my oupa nie daar was nie.

Ek was vyf jaar oud. My ouers het vir my 'n verjaardagpartytjie by my oupa se huis gereël en terwyl ek lekker met my nuwe maatjies gespeel het, het my ouers net verdwyn. Ek kan dit nie regtig onthou nie, maar dit is wat my oupa my vertel het. Hulle was glo baie arm, en hulle kon nie vir my sorg nie, toe word ek maar my oupa se verantwoordelikheid.

Hy het gesê dat 'n mens se lewe soos 'n huis is en die manier waarop jy aan hierdie huis bou, bepaal hoe jou huis op storms gaan reageer. Ek het dit nie so goed verstaan nie, maar my oupa het voortdurende en geduldig vir my vertel dat ons elke dag aan my huis bou.

My oupa was glad nie ryk nie. Hy het in 'n baie klein huisie langs die rivier gebly. Daar was nie elektrisiteit nie, maar daar was hope liefde in die huisie. My oupa was 'n baie sterk man met 'n baie sterk persoonlikheid. Almal het respek vir my oupa gehad. En die lekkerste van alles is dat ek vir my oupa belangrik was. Ek het nooit soos 'n las gevoel nie. Ek was só trots op my oupa ...

Eendag was hy in 'n taxi-ongeluk. Hy het sleg seergekry en moes vir twee maande in die hospitaal bly.

In daardie twee maande het my bekommernisse begin ... Wie sal vir my sorg as my oupa sterf? Ek was verskriklik bekommerd. Ek kon snags nie slaap nie. En as ek aan die slaap geraak het, het ek nagmerries gekry. Ek was alleen en daar was niemand wat vir my lief was en vir my omgegee het nie. Ek het bitter min geslaap, geëet en ek kon ook nie my huiswerk doen nie. Ek was dwalend ...

Terwyl hy in die hospitaal was, het my klasmaats my begin koggel, want ek het gesukkel met my skoolwerk ... eintlik met alles. Daar was niemand by die huis wat my kon help nie.

Ek bly alleen by die huis en ek is alleen by die skool!

Ek voel sommer soos 'n alleenplasing in een van die gedigte wat ons doen.

My hart is altyd seer en dit lyk vir my asof my moeilikheid nie einde het nie. 

Ek het vir my oupa in die hospitaal gaan kuier. Hy kon sommer op 'n distansie sien dat dinge nie goed gaan nie. Nadat hy die storie uit my geryg het, was sy kommentaar: "My Seun, ek gaan nêrens heen nie. Ek gaan by jou bly totdat jy oud is. Jy is 'n baie sterk kind. Ek weet dit. En ek glo in jou. As jou klasmaats vir jou koggel oor jou omstandighede, sê vir hulle jy gee nie om nie, want jy weet presies wie jy is en waarheen jy op pad is!"

Die volgende dag was ek baie positief en baie opgewonde om skool toe te gaan ... vir die heel eerste keer in my lewe. My lewenshuis het skielik 'n sterker fondasie gekry en die suidewind wat aanhoudend waai, kon my nie ontstel nie, want ek het geweet my lewenshuis is sterk genoeg.

Dankie, Oupa ...  

[Bongani Khambule - 2015]

Thursday, 4 April 2024

Brief: 'n Brief van een vriend aan 'n ander.

[Dink gerus hieroor en skryf jou gedagtes neer oor ware vriendskap en oppervlakkige vriendskap.] 

Liewe John

Baie keer wonder ek hoekom ons vriende is ...?

Dan onthou ek al die tye wat jy daar vir my was. Toe my ouers in daardie ernstige ongeluk was, toe ek amper graad 11 gedruip het en nog 'n ... duisend ander kere. Nog nooit was ek só jammer oor iets in my lewe nie. Woorde steek soos 'n mes in my hart en dit is hoekom ek al daardie aaklikge dinge vir jou gesê het. As ek moet kies tussen 'n vriendin en die beste vriend in die wêreld, sal ek nie 'n oomblik huiwer nie.

Só, ek vra jou, asseblief, ek weet jammer koop nie 'n brood nie, maar probeer om my te vergewe. As ek jou verloor verloor ek 'n diamant. Sonder jou is ek net 'n ou stuk steenkool. Moenie dat 'n meisie tussen twee pêlle wat mekaar al twaalf jaar ken, kom nie.

Jou beste maat
Piet

[Theano Oosthuizen - Junie 2022] 

Thursday, 21 March 2024

Verhaal: My lewe sal beter wees as ...

Ek het jou in my lewe nodig!

Liewe Pa

Ek wens dat ek Pa elke dag kon sien - van aangesig tot aangesig, maar ek hoor een maal 'n maand van Pa. Dit is al wat ek ken. Ek hoor mense sê: "'n Seun het 'n pa in sy lewe nodig." Ek het dit nooit in my lewe ervaar nie. Die soort verhouding wat ek ken, is 'n finansiële verhouding. 

Pa, ek glo in liefde, nie in geld nie. 

Mamma is die heel beste. Sy is meer as net 'n moeder vir my. Sy is elke dag aan my sy. Sy is my pa en my ma. Sy is my silwer en my goud. Weet Pa dit?

Ek droom altyd oor hoe ons verhouding moes wees. 'n Pa-seunverhouding. Die liefde, die lekker geselsies, die goeie raad en sommer net die dáár wees vir ons gesin. Maar dis net drome, ek sal nooit die voorreg hê om dit te sien nie. Pa, ons het soveel tyd gemors. Ek is jou oudste kind ... jou oudste seun, maar ons ken mekaar nie. En hiervoor, Pa, moet ek vir jou dankie sê! Jy sal op papier my vader wees tot aan die einde van tyd.

Verlede jaar toe Pa in die hospitaal was, het ek gesien hoeveel liefde daar eintlik tussen ons kon wees. Drie maande later is ek ook in die hospitaal opgeneem, ook hartprobleme, maar myne was nie so erg soos Pa s'n nie.

Ek is lief vir Pa, ek sal altyd lief bly vir Pa. Ek is dankbaar vir die finansiële bystand wat ek elke maand van Pa ontvang het. Dit het die las op ma ligter gemaak. Ek is baie dankbaar vir die R200 000 wat Pa nou vir my gegee het. Ek belowe dat ek net so 'n suksesvolle man soos Pa sal wees, maar ek wil eendag 'n baie beter pa as Pa wees ...

My lewe sou baie beter gewees het, as ... as ek net 'n pa gehad het, 'n omgee-pa, nie 'n OTM-pa nie.

Pa se dankbare seun.   

[Anoniem 9 Februarie 2015]

Sunday, 10 March 2024

My gedagtes: Die toekoms is 'n reis

Toekomsplanne is die begin van ons reis - ons lewensreis!

Matriek is baie belangrik vir jou toekoms. Jou punte sal die pad aandui wat jy gaan loop. My ma herinner my altyd: "Jou matriekpunte is die sleutel tot jou toekoms. Daardie sleutel sluit jou spesifieke deur oop. Jou toekoms is letterlik in jou eie hande."

My toekoms is belangrik ... so my fokus is op my punte. Al is ek moeg of doodmoeg ... ek sal werk. Die rede is omdat ek die beste toekoms wil hê wat ek kan kry. Ek sien te veel mense rondom my wat nie hard genoeg in hulle matriekjaar gewerk het nie.

Maar ek is bang ...

As jy nie goeie matriekpunte het nie of as jy glad nie matriek het nie, is jy werkloos. Slegte punte beteken dat jy nie baie of miskien nie die beste geleenthede gaan kry nie Jy kan nie na 'n universiteit toe gaan nie. Jy kan nie 'n goeie werk kry nie en dit alles is die gevolg omdat jy nie lus was om in matriek hard te werk nie. En hierdie een verkeerde besluit sal maak dat jy vir die res van jou lewe gaan rondval en sukkel. Niemand is bereid om jou te help as jy jouself nie op skool gehelp het nie. Terwyl jy in die skool is, is daar altyd onderwysers of sportafrigters wat bereid is om jou te help en só dikwels maak 'n leerder nie daarvan gebruik nie.

Sal my harde werk en slapelose nagte die moeite werd wees?  Het ek hard genoeg vir my eindeksamen gewerk of is ek besig om met my toekoms te speel? 

Ek weet nie, maar my PUNTE sal dit wys. Ek wil graag 'n baie stabiele en goeie werk hê, sodat ek vir my ouma kan help. Ek hunker na 'n goeie lewe, maar drome sonder aksies is net nog 'n wens. Ek moet hard werk, ek moet goeie punte kry, sodat ek die sleutel wat my toekoms gaan oopsluit, in my hande kan vashou en ek wil graag my ouma trots op my maak! Die een mens wat haar knieë vir my deurgebid het en dit nog steeds doen!

Ouma is die padaanwyser op my lewensreis. 

Hendrew Rantsie - 1 Junie 2022

Thursday, 7 March 2024

Verhaal: Sport

Ek was 'n baie goeie atleet ...

Nou is ek in die sop ...

Ek kon nie die druk hanteer nie.

Ek was deel van die Suid-Afrikaanse atletiekspan. Ek was die afgelope drie jaar die kaptein van die Vrystaatse atletiekspan. Almal ken my naam. En elke keer as ek hardloop, hoor ek hoe die skare my naam skree ...

Dit het alles binne 'n sekonde verdwyn ...

15 Mei. Sasolburg. Vrystaatse interprovinsiale byeenkoms. Seuns o/18. Ek was in baan drie. Die twee seuns langs my was gespanne. Ek kon die wen in my bloed voel ...

Thabang Zungu het ander planne gehad. Hy was in baan ses. 'n Maer seun. Hy kom van een of ander plaas af. Ek het nog nooit van hom gehoor nie.

Nou kan ek hom nie uit my kop kry nie.

My begin was goed. Ek was gefokus. Alles het egter by die 30 m-merk verander. Iets aan my linkerkant het my aandag afgetrek. 'n Seun in 'n geel trui wat kaalvoet hardloop ...

Dit is nie Thomas Kruil nie, kan dit Thabang wees ...

Die afstand tussen ons het groter geword. Die mense het opgehou skree. Daar was niks nie, net stilte ... doodse stilte ...

Toe hy by die wenpaal kom, was die afstand tussen ons so groot soos die afstand tussen Welkom en Bloemfontein. Hy was 'n hele drie sekondes voor my ...

Die kaalvoet seun - Thabang Zungu. Hy was op almal se lippe. Hy was al onderwerp by die skool. Van Maandag tot Vrydag.

Dit was asof ek nie daar was nie. Dit was kompleet asof ek nie bestaan het nie.

Die druk het te veel geword ... Ek het kortisone in my spiere gepomp. Kitsoplossing! En hard geoefen.

'n Mens kon duidelik sien hoe die son my gebrand het. Maar ek is in die moeilikheid. Groot moeilikheid. Want vanjaar gaan hulle ons toets. As hulle hierdie geheim van my uitvind, sal ek in my lewe nooit weer mag deelneem nie. Ek sal weer op die voorblad van die koerant wees, maar om die verkeerde redes.

So, vandag is ek in die sop ...   

[Tlotliso Matile - 2015] 

Thursday, 29 February 2024

Kinderverhaal: Eers vyande, nou vriende ...

Hy het gesê dat ons vriende sal wees wanneer varke kan vlooi ...

Dit is nou al twee jaar dat ek in Kerkstraat Plettenberg woon. Ek woon saam met my gesinnetjie in 'n pragtige huis, in die mooiste straat in die dorp. Maar ongelukkig bly my grootste vyand, die kat Cesar ook daar. Cesar is eintlik 'n wildekat - hy is groot en vinnig en het baie skerp kloue. Hy mag met liefde in hierdie groot huis bly, want anders as ek, is hy 'n werkende inwoner.

Ek is die pa van twee meisiemuise en die wyfie in my lewe, is ook die moeder van my kinders. Ek moet vir my gesin sorg ... 'n muis moet doen wat 'n muis moet doen. Elke oggend, sommer baie vroeg gaan lê ek 'n vinnige besoek aan mev. Iris, die eienaar van die pragtige huis, se kombuis af. Ek gaan kos soek, meer spesifiek - kaas!

Elke keer stap ek vinnig by my klein deurtjie uit nadat ek links en regs en weer links en regs gekyk het. 'n Mens kan nie te versigtig wees nie. Hoor ek die onheilspellende miaaaau, dan weet ek dat ek vandag moet hardloop dat my rug hol word, want Cesar is in die onmiddellike omgewing. Somtyds is ek gelukkig en kry ek kos in die hande, en somtyds nie ... My vrou en kinders sit elke oggend doodbenoud om die tafel en wag op my veilige terugkoms.

Verlede Sondag het ons Carte Blanche gekyk en een sinnetjie wat ek baie nuttige gevind het, is die feit dat een van die polisiemanne gesê het dat 'n mens nie elke dag dieselfde roetine moet hê nie. Kriminele hou jou dop ... verander jou roete werk toe en moenie elke dag jou huis op presies dieselfde tyd verlaat nie. En skielik het ek lig gesien. Cesar hou my dop! Ek moenie elke oggend my huis om 06:00 verlaat nie. Ek moet my uitgaantye afwissel. En baie belangrik, ek moenie altyd na die kaas mik nie, brood is net so vullend. Lekkerbekkigheid gaan my nog my lewe kos en wie gaan dan na my gesin omsien? 

Een wintersoggend het my hele lewe verander ... Ek sal daardie dag nooit vergeet solank ek lewe nie. Ek het by my huisie uitgesluip en Cesar was soos gewoonlik kort op my hakke. Skielik hoor ek net: "Eina!" Cesar het op 'n naald getrap. Ek kyk vinnig om, bang dat dit 'n nuwe vangmetode van sy kant af is, maar daar sit die wilde dapper kat en huil. Ek moes 'n belangrike besluit in sekondes maak. Ek besluit om die kos te los en hom te help. Ek het die naald met my tande uitgetrek. Ek was die hele tyd doodbang, want ek is 'n hap ver van sy bek af, maar sy gesig het skielik verander. "Dankie, en baie jammer vir al die ander tye wat ek jou lewe so mislik gemaak het."

Hierdie was 'n wonderwerk.

Nou maak ons twee eertydse vyande of hy my agtervolg as ek uitglip om te gaan kos soek ... maar hy laat my toe om die kos te kry en huis toe te bring ... elke keer.

En dit is hoe my vyand my vriend geword het. 

Die wiel het gedraai!

[Rethabile Molelekoa 2015]   

Thursday, 15 February 2024

Verhaal: My lewe sal beter wees ...

Ek het alles gehad ... 'n Huis, karre en duur klere. Ek was ryk ... baie ryk ... skatryk! Almal wou my vriend wees ... tot die dag waarop ek alles verloor het.

Die mense wat ek gedink het my ware vriende was, het my in die donkerste uur van my lewe op die heel donkerste plek van my lewe gelos. Op daardie stadium was ek nie net brandarm nie, maar ook skielik  stoksielalleen. En ek het tot die besef gekom dat hoe donkerder jou dae word, hoe minder word jou vriende.

Ek het van die heel beste deel van die stad getrek na die heel slegste buurt in die stad ... mense het na die krotbuurt verwys. Dit het gestink. Die reuk het oral om die geboue gehang ... Die reuk van riool, papier en plastiek wat brand, dagga, ou kos en kool ... sommer net een groot bedompige wolk wat die woonbuurt omgewe. Kakkerlakke was orals. Rotte het tussen die swart sakke rondgeskarrel, maar ek was te moeg om regtig aandag hieraan te gee.

Ek het nie geld nie. Niks. Nie 'n sent op my naam nie. Ek het besef dat ek iewers 'n los werkie sal moet kry. Nie een mens wat ek in my dae van oorvloed gehelp het, gaan my help nie. Dit is die rede hoekom ek by die kinderhuis gaan werk het, want hulle het 'n gratis bord kos gegee en 'n klein donasie vir die werkers. Ek het geen geld of kos gehad nie, dit beteken ek het geen keuse gehad nie.

Ek het die hoof van die kinderhuis ontmoet. Melissa ... 'n lang, skraal en mooi meisie, met groen oë wat eerder in die modewêreld hoort as hier.

Ek het elke dag teruggegaan om in die kombuis te werk en die skottelgoed te was. Elke dag voel ek ellendiger as die vorige dag, moeg na siel en liggaam. Ek sal nie vir lank hier kan werk nie, daar is geen kans vir vooruitgang nie en ek het sekuriteit so dringend nodig dat ek ander planne kan maak vir vorentoe. Die krotwoonbuurt is die eerste ding op my lysie wat moet verander.

Ek het vir Melissa dopgehou. Sy het altyd geglimlag as sy een van die kinders sien of met hulle 'n gesprek aanknoop. Sy het die kinderhuis haar roeping genoem - maar ek het haar nie geglo nie.

Een Saterdagaand, nadat ek al die skottelgoed gewas het en die kombuis aan die kant gemaak het, sit ek vir 'n wyle met haar en gesels. Ek wou by haar weet hoekom sy nie iets anders met haar lewe doen nie. Daar is 'n hele wêreld wat lê en wag vir jou talente. Hoekom is hierdie kinders só belangrik vir jou? Jy is 'n mooi mens, wat baie geld in die modewêreld kan maak. Hoekom kies jy hierdie plek om jou lewe weg te gooi? 

Na 'n paar oomblikke van stilte het sy die volgende gesê: "Elke mens maak op 'n stadium in sy lewe 'n keuse. Vir 'n loopbaan verdien jy 'n salaris, maar nie noodwendig geluk nie. 'n Roeping is die keuse wat jou gelukkig maak. Nie alles in die lewe gaan oor geld en roem nie."

Daardie aand het ek die grootste les geleer. Ek was ongelukkig, want ek het gedink dat geld geluk kan koop.

My lewe sal beter wees ... as ek ander se lewe beter kan maak!

[Lefa Mofokeng 2015]