Showing posts with label Inwoner. Show all posts
Showing posts with label Inwoner. Show all posts

Thursday, 13 November 2025

Ruben se breinbrekers

1. Mnr. Johnson is 45 jaar oud en sy seun 13. Oor hoeveel jaar sal mnr. Johnson 3 keer so oud soos sy seun wees?

2. Lerato en Ken het albei hamsters. As Ken een van sy hamsters vir Lerato gee, het hulle albei dieselfde aantal hamsters. Maar as Lerato een van haar hamsters aan Ken gee, het hy tweemaal soveel hamsters as sy. Hoeveel hamsters het elkeen?

3. Kan jy deur slegs die syfer 8 te gebruik, 'n som maak met die antwoord van 1 000.  

Probeer eers self die antwoorde uitwerk voordat jy na die antwoorde hieronder kyk.

ANTWOORDE

1. Oor 3 jaar. Mnr. Johnson sal dan 48 wees en sy seun 16.

2. Lerato het 5 hamsters en Ken het 7. As Ken een van sy hamsters aan Lerato gee, het sy ses. Gee Lerato een aan Ken, het Ken 8, dus dubbeld soveel as Lerato wat net 4 oor het.

3. 888 + 88 + 8 + 8 + 8 = 1 000

Tuesday, 17 June 2025

Statistiek: 16 & 17 Junie

Klik op die skermgreep vir 'n duidelik beeld.
Die afgelope twee dae het die twee Petrusburgers die telbord verander.

Sewe van die top 10 berigte behoort aan die twee viervoetiges. Hulle oortref hulleself en die beste van alles is dat hulle dit só stil-stil doen. Hulle beweeg voortdurend tussen die inwoners met gespitste ore sonder om 'n oog te knip en soos wafferse spioene verbind hulle die kolletjies en maak hulle hul eie
afleidings.

Dit is hoekom Ruben die hoof van sekuriteit is - 'n pos wat hy baie ernstig opneem. 'n Pos wat hom baie na aan die hart lê. Sy werk is beslis sy passie. 
 
Sondag (15 Junie) was Vadersdag en dit verklaar waarom die Vadersdagwense in die nr. 1-posisie is. Ruben se jeugboodskap het nogal 'n statistieke opskudding veroorsaak. Duidelik is terugvoering baie gewild onder die lesers. 

Dan is daar drie van Ruben se Een minuut stories onder die top 10. Dit sê iets van die gewildheid van Ruben se stories. En as jy nog nie een van hulle gelees het nie, soek dit op en gaan lees dit gerus - dis die ou-ou gunstelinge waarmee almal grootgeword het voor die dae van TV. 

Verder is daar 'n Tommie-voëlfluit in die wandelgange gehoor - hou gerus die blad dop vir enige nuwe verwikkelinge. 

Monday, 16 June 2025

Binnekringnuus: Cave Canem - eerste reaksies van ons lesers

* Ruben en Tommie het Vrydagmiddag tydens die storie-uur doodstil sit en luister na die storie van die Drie Varkies wat groot byval by die kinders gevind het. Met die nodige rekwisiete het die drie varkies elkeen 'n lewe van hulle eie gekry. Die moontlikheid bestaan dus dat Ruben en Tommie ook 'n huis wou bou soos die drie slim varkies en dat hulle besef het dat 'n mens geen werk kan aanpak, as jy nie beskerm is teen die aanslae van die uitdagings nie.

** 'n Ander leser meen dat die twee manne 007 van Kimberley in wording is. Maar dis natuurlik 'n groot geheim en daarom is almal aan die raai. 

[Klik HIER vir die oorspronklike berig.]

Binnekringnuus: Cave Canem

Korrespondent: Verlede week het die geheime fotograaf* van Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum op 'n interessante verskynsel afgekom. Ruben, die hoof van sekuriteit, en sy regterpoot, Tommie, is afgeneem met geel veiligheidshoede op. Die fotograaf was baie gelukkig om hierdie rare verskynsel in beeld vas te vang. Dié foto's het op my tafel beland, maar die rede agter hierdie foto's kon nog nie uitgesnuffel word nie. Dus wend ek my nou tot die lesers vir moontlike verklarings. Die twee se kom en gaan word egter nou met valkoë dopgehou.  

Allerhande stories en moontlike verklarings vir hierdie drag en gedrag word in die koshuisgange gefluister. Die volgende stories het my ore bereik wat ek graag met julle deel, maar as een van julle lesers meer weet,  laat weet ons, asseblief.  
  • Daar is 'n moontlikheid dat die twee op 'n geheime sending was om die speurders te help om saam met die polisiehonde belangrike leidrade uit te snuffel.
  • Hulle kan ook besig wees met nagopleiding om saam met die honde-eenheid te werk wat deur bourommel snuffel.
  • Ruben en Tommie is buitengewoon intelligent wat goeie geselskap, liefde en lojaliteit aan mense bied. Hulle sal dus uitstekende diens- of gidshonde wees. (Weet net nie hoe dit die geel harde hoede verklaar nie. Red.) 
  • Ten slotte kon hulle bloot net deur die speelkamer op hul rondtes geloop het en hierdie hoede waarmee die seuntjies só graag speel, sien lê het en die kind (of liewer ... klein hondjie) se spelerige aard in hulle wakkergemaak is.
* Die geheime fotograaf en die geheime korrespondent werk saam. Soms is dit die foto wat aanleiding gee tot die berig en ander kere is die berig eerste en moet die fotograaf  'n foto kry wat die berig onderstreep. Die vrou agter die lens is eintlik 'n kommersiële fotograaf wat spesialiseer in dokumentêre fotografie. Koester Karos is baie dankbaar dat hulle met 'n omweg die dienste van hierdie professionele kunstenaar kon bekom.

Volgens die geheime fotograaf het die baie bekende Diane Arbus die kuns van fotografie raak opgesom in haar bekende woorde: "Fotografie is 'n geheim van 'n geheim." 

[Klik HIER vir die eerste reaksies.]

Friday, 13 June 2025

Nog 'n Ruben-bewonderaar skryf ...


Liewe Liz
Dit is darem nou 'n lekker WA-boodskap. Dankie vir hierdie besondere kompliment. Ek waardeer dit uit my hart uit. Dis nie maklik om altyd op die regte spoor te bly nie, nog moeiliker om altyd die regte voorbeeld te stel - daar is só baie oë op my en ek wil nie graag onthou word as 'n "messing" in plaas van 'n "blessing" nie.
Geniet jou naweek en lekker lees aan Koester Karos - die warmste leesstof vir hierdie koue dae!
Ruben-groete

Die stille luisteraars met hul omgeeharte en harige drukkies

Tommie, die rustige man met die gewillige ore! 

Liewe Yvonne, was ons nou verras om 'n WA-boodskap van jou te kry. Ons twee het soos uitgelate kinders mekaar gehigh five, want dis vir ons heerlik as ons vir iemand iets kan beteken. 'n Hond moet mos blom waar hy geplant is en blaf wanneer hy kan. Jy moet jou naweek geniet en onthou altyd: ons is enige tyd beskikbaar vir 'n lekker kuier. 
Sonskyn-groete!
Ruben en Tommie

Ruben se Junie-jeugboodskap vanuit 'n koue Kimberley


Liewe Maats

Ek skryf hierdie briefie uit 'n baie koue Kimberley. Die temperature het die laaste paar dae drasties geval en ek het so in my enigheid gehoop dat dit hier by ons sou sneeu. Dan was al die gebibber en gebeef die moeite werd en kon ons met foto's van sneeumanne en sneeuballe by julle spog. Maar op hierdie stadium is daar geen glansryke foto's van my en Tommie nie. Ons twee kruip saans met ons teddies styf teenaan ons in die bed vir 'n bietjie teddiehitte. Bedags as die sonnetjie floutjies agter die horison uitkruip, dan is ons egter gereed vir die dag se take. Ons draf so 'n paar keer op en af langs die heining, blaf uit volle bors vir die verkluimde voetgangers en as jy jou oë uitvee, lyk ons nie meer soos twee Koue Bokkeveld vierpotiges nie.  

Kom ek begin by gister se klein kringetjie vergadering (KKV) wat Tommie ongenooid bygewoon het. Maats, julle weet mos sekuriteit is my afdeling en Tommie is my ekstra paar oë en ore. Dit blyk dat dié klompie 'n verrassingsverjaardagpiekniek vir een van hulle maats beplan. Almal kon sinvolle kommentaar op die voorstelle lewer. Tommie se bek werk vinniger as sy brein, gevolglik blaf hy eers en dan dink hy. Hy blaf in geen onduidelike taal dat dit
'n doodgebore idee is. Die koue saam met die aktiewe westewind, is piekniek langs die swembad nie in die winter haalbaar nie. Hy is egter sy blaf belet, gevolglik het hy in stilte verder na die sinlose voorstelle geluister. 

Die klompie het toe besluit om oor die voorstel te gaan slaap en die volgende dag terug te kom. Ek weet nie of Tommie toegelaat sal word om die volgende KKV by te woon nie.

Terwyl ek nou so flink aan die skryf is, gaan ek sommer met julle my gedagtes oor Vadersdag en Jeugdag deel. Dié twee dae lê my naby aan die hart. Eintlik is dit die ironie wat hierdie twee dae verteenwoordig, wat 'n yslike bekommernis vir my is en ek wonder ook of hierdie twee dae vir julle dinkdae is en of die betekenis van dié spesifieke dae by julle verbygaan.

Dit is ‘n mooi gedagte om een spesifieke dag te gebruik om spesiaal vir pa's dankie te sê vir al hul liefde en opofferings deur die jaar vir ons. Maar my gevoel is dat elke dag eintlik Vadersdag behoort te wees. Ons moet elke dag vir ons pa's dankie sê vir alles wat hulle vir ons doen. Hulle is nie net daar om 'n salaristjek huis toe te bring en in die gesin se finansiële behoeftes te voorsien nie. Hulle het 'n belangriker doel - hulle verteenwoordig die Hemelse Vader hier op aarde. 
Ek en pa - jare terug op Petrusburg

Dit is egter net hier wat al my hare op my rug orent staan. As ons een vir een in die eetsaal moet opstaan en sê wat ons van ons pa's weet, gehoor het, ervaar het of waardeer, hoeveel van ons kan dit met vreugde doen?

Ons almal kan boekdele vol skryf oor afwesige pa's. Pa's wat nie omgee of daar vanaand kos op die tafel is en of ons skoolgeld betaal word nie. Pa's wat nie vir ons gelukwens met ons verjaardae nie en pa's wat naweke saam met sy pêlle by die kuierplekke rondhang omdat die verantwoordelikheid van pa-wees lankal vir hulle geskiedenis geword het. Outjies, niks wat ek sê kan of gaan julle situasie verbeter nie, maar onthou dit: Leer uit jou pa se foute, maar die heel belangrikste is - wees jý 'n beter pa vir jou kinders as wat jou pa vir jou is. En meisies, kies vir julle eendag 'n lewensmaat wat in alle opsigte 'n goeie pa vir sy kinders sal wees - dit is my hartswens vir elkeen van julle hierdie Vadersdag. Ons kyk vorentoe en nie agtertoe nie, want dis nie waarheen ons op pad is nie. 

Pa en Tommie in 2024
En vir julle wat 'n prima-pa het: bederf hom, waardeer hom, leer van hom en koester hom, want hy is een uit 'n miljoen. Loop in sy voetspore en volg sy voorbeeld. 

Dit bring my by Jeugdag ... 'n dag wat so belangrik is, dat dit 'n nasionale vakansiedag is. Hoe belangrik is Jeugdag vir jou? Dink jy oor die jeug, jou eie jeug en oor jou toekoms? 

Ek wil regtig nie soos my ouma Annie van Petrusburg klink nie, maar as ek elke aand die nuus kyk, verstaan ek hoekom sy met elke foonoproep vir my en Tommie preek. Die nuus oor ons jeug skok my tot in my kleintoontjie. Bendegeweld, dwelms, misdaad en opstande is aan die orde van die dag. Jeugdag is vir my die dag waarop ons as Suid-Afrika ons toekoms vier. Maar hoe kan ons ons toekoms vier as ons klaar verkeerde keuses gemaak het?

My Kiddie-maats, onthou altyd: 'n mens kry elke dag keuses om te maak tussen reg en verkeerd. Tussen lig en donker. Tussen lewe en dood. Moenie hierdie kans om die regte keuse te maak, verbrou nie. En as jy sukkel met jou keuses, kom maak 'n draai by my of Tommie, tannie Christelle of jou huisma. 

Ons hartsbegeerte vir elkeen van julle is om doelgerig verantwoordelikheid te neem vir jou toekoms. Wees vasberade dat die verkeerde besluite wat jou pa gemaak het, nie jou keuse gaan wees nie. Onthou, daar is GEEN beperking op wat jy kan bereik nie.

Maats, op hierdie noot van hoop en moontlikhede, wil ek vir julle 'n heerlike jeugdag toewens! 

Warm groete tot 'n volgende keer!
Ruben

 
 

Sunday, 11 May 2025

Ruben sê dankie vir ma's, oumas en tannies langs sy lewenspad

Liewe Maats

Julle weet dat dit vandag Moedersdag is. Moedersdag is die één spesiale dag van die jaar waarop ons opreg kan dankie sê vir daardie mens in jou lewe. Dié persoon wat jou nog altyd mildelik met liefde, deernis, trots en wysheid hanteer en omarm het.

Die tweede en belangrikste Ruben-rede hoekom ons Moedersdag moet vier is om ons daaraan te herinner dat elke dag eintlik 'n Moedersdag behoort te wees.

Die ma-figure in ons lewens kan verskillend wees, óf dit biologies, aanneem, instaan óf geestelik is, hulle is die sout van die aarde en ook in ons lewens. En daarom is dit vir hulle moontlik om die beste geure in ons na vore te bring.

Hier in Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum hoor ek dikwels hoe van julle outjies met en oor julle ma's praat. Somtyds swel my ou hondehart sommer van trots en gee ek 'n vreugdesblaf omdat ek saamstem en ander kere is ek so ontsteld dat ek sommer onder my geliefkoosde dinkbank gaan lê.

In ons familie (ons oupas, oumas en ouers) in Petrusburg, weet ons dat die deurlopende dryfkrag wat ons almal op die regte pad hou, by ons ouma begin het. My ma se grootste vreugde is as sy al daardie eienskappe van deernis, intelligensie en integriteit in haar kinders en selfs kleinkinders sien reflekteer.

Ek wil graag vir die ma's wat my stukkie lees, dankie sê dat julle ons veilige vangnet is, maar dat julle ook vlerke aan ons drome gee.

Liewe Maats, Moedersdag beteken vir ons elkeen iets anders, want ons omstandighede verskil. Daarom wens ek namens my en Tommie vir elke tannie hier by Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum geluk met Moedersdag, en sê ons twee dankie vir al die goeie waardes wat julle in elkeen van ons belê. Dankie dat julle tannies tyd maak vir ons, ons met liefde omring en die regte pad vir ons wys in hierdie moeilike en uitdagende tyd waarin ons leef. 

Liewe hartsma's ... tannie Christelle, tannie Katrien, tannie Sanette, tannie Meloni, tannie Elsie, tannie Mittah, tannie Dorah, tannie Maria, tannie Stella en tannie Mpho, saam met ons maatskaplike ma, tannie Chrizelna, dankie vir die juwele wat julle in ons almal se lewenstassie van herinneringe sit. In hierdie onthoutassie sit ons die waardevolle lesse wat ons by julle leer, julle navolgingswaardige voorbeeld en eendag kan ons ook soos my ma in Petrusburg van vreugde blom omdat waardevolle lesse deel van ons lewens geword het. 

Namens ons almal wil ek ook vir Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum se bestuur 'n besondere Moedersdag toewens. Met apologie aan Sophia Loren weet ek dat tannie Raedun, tannie Melanie, tannie Philda, tannie Natasha en tannie Anja nooit alleen is met hulle eie gedagtes nie. Hulle moet altyd twee keer dink, een keer vir hulself en een keer vir Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum.

Dankie vir al die tyd wat ongevraagd, direk en indirek aan elke inwoner afgestaan word. 

Vreugde vir hierdie besondere dag.

Ruben-groete tot 'n volgende keer.

Maats, gaan lees asb. my storie oor ma's HIER!!

Monday, 5 May 2025

Ruben skryf spesiale verjaardagwense vir tannie Christelle


Liewe Maats

Ek skryf net 'n baie kort briefie om ons tannie Christelle terug te verwelkom by die werk. Ek het die laaste ruk aanmekaar vir julle geskryf en ek besef dat te veel van 'n goeie ding, nie goed is nie. Tog wil ek nie hierdie kans deur my vingers laat glip om vir tannie Christelle duidelik te laat verstaan dat ons haar gemis het en dat haar plek in die kantoor en in ons harte leeg was nie.

Ek, in my hoedanigheid as hoof van sekuriteit, het haar regtig gemis. Daar is so baie dinge wat ek graag met haar sou wou bespreek, veral as ek hond se gedagtes gekry het, maar dan het ek maar op my instinkte staatgemaak. Ek het hierdie afgelope week ook agtergekom dat jy nie slapende honde moet wakker maak nie, want jou eie honde byt die seerste.

Dankie, tannie Sanette, dat jy nie tannie Christelle se verjaardag vergeet het nie en dat jy vir haar haar gunstelingkoek gebak het. Ek, Tommie en ouma Annie het koppe bymekaar gesit om vir jou spesiale wense te skryf. Tannie Sanette het ons gehelp met al die byvoeglike naamwoorde.

'n Verjaardag is 'n sprankeling
wat jý alleen kan voel ...
'n Verjaardag is 'n warmte
wat jý alleen gewaar ...
'n Verjaardag is genoeglikheid
wat jý alleen verstaan ...
'n verjaardag is 'n dag,
net 'n bietjie sonniger,
en helderder,
'n bietjie liefliker
en baie gelukkiger
as 'n gewone dag ...
en die beste van alles ...
dis alles joune!

Liewe tannie Christelle, ons hoop dat jou verjaardag saam met jou familie baie spesiaal was en dat jy met ons definisie van 'n verjaardag saamstem.

Ruben-groete tot volgende keer!

Monday, 26 August 2024

Ruben dink hardop oor die waarde van speel


My liewe Maats 

Speel is 'n saak wat vir my baie naby aan die hart lê. Ek dink dis omdat ons wat in die platteland grootgeword het, speel as 'n werkwoord ken. Daar was nie 'n klomp winkels waar ons allerhande speelgoed kon koop nie. Verder het my ma-hulle nie geld gehad vir speelgoed nie - ons was 'n klomp kinders en ons moes buite speel waar daar genoeg ruimte was vir hardloop, wegkruip en boomklim. As jy en jou broer of suster argumenteer of  baklei, is dit so goed of ons meld ons aan vir huiswerk. My ma het dan gereken as ons nie lus is vir speel nie, dan moet ons haar help om die huis se netheidsvlak tot nuwe hoogtes te voer.Vloere vee en was of selfs vensters was, was die eerste op haar lysie van werk uitdeel. Ons het niks daarvan gehou nie, so ons het ons speeltyd ten volle gebruik en geniet. Dit het weer ander probleme veroorsaak - ons wou nooit ophou speel nie. My arme ma moes sukkel om ons voor donker in die huis te kry. Maar sy het nie nonsens gevat nie en ons het vinnig geleer om te luister ... goed te luister.

Dis eers later dat ek besef het hoe belangrik speeltyd eintlik is. Al daardie kruip, hardloop, swaai, klim en klouter, balspeletjies, klippies optel, modderkoekies bak en albaster speel, is alles aktiwiteite wat nodig is om jou groot- en fynmotoriese ontwikkeling te ondersteun. Dit vorm die fondasie vir jou skoolloopbaan en alles wat jy later gaan leer.

Maats, dink net hoeveel keer hoor ons nie van spelterapie nie? En dan dink ons dat dit nie ons probleme gaan oplos nie - dit klink heeltemal te eenvoudig om jou probleem speel-speel op te los en tog sê navorsers dat die eerste 7 jaar eintlik net speeltyd moet wees, want dis die laaste kans wat 'n kind het om vry te speel en sy of haar kreatiwiteit spontaan te laat ontwikkel. Nou dink ek mos aan 'n belangrike ding - dié van ons wat spelterapie nodig het, het dan mos te min gespeel en te veel voor die TV gesit. Dan moet ons dit dadelik regstel. Eerder te laat as nooit.

Dit was vir my baie lekker toe julle van die kerk af kom en sommer agterop die bakkie klim. Ek sien party van julle klim baie vinniger op as ander - ons sal 'n bietjie daaraan moet werk. Intussen bearbei ek solank die eienaar van die bakkie om ons net so 'n draaitjie om die blok te laat ry - maar ek het nog nie 'n definitiewe ja gekry nie. Dis asof ek my ma se stem hoor: "Klim dadelik daar af. Netnou kry iemand seer. Julle weet na lekker lag kom lekker huil." 

Ek sal maar voor sit, want dan kan ek 'n beter oog oor julle hou. As ek agter sit, skrik die kind in my wakker en stel ek dalk nie so 'n goeie voorbeeld nie.

Terwyl ek daar in die bakkie gesit het, het ek besef dat 'n kind se werk eintlik speel is. En watter heerlike werk is dit nie. Ek wil op 'n stadium met julle praat oor skermtyd - dit behoort eintlik nie in ons woordeskat te wees nie - maar dis 'n gesprek vir 'n ander dag. 

Ek sal op 'n latere stadium vir julle meer vertel van die voordele van speel, maar ek wil julle regtig nie vandag verveel met feite nie. Nou wonder julle seker hoekom ek in elk geval vir julle dan wil bemoei daarmee. Die antwoord is doodeenvoudig: Dis belangrik dat ons nie die foute van ons ouers herhaal nie. En as ons nie genoeg speeltyd gehad het nie, moet ons sorg dat ons kinders eendag genoeg speel sodat hulle lewenswenners kan word.

Een van die waardes van speel is dat 'n mens vaardighede leer wat weer bydra tot ons selfvertroue - dink maar aan ons Springbokspan wat die Australiërs so lekker die loef afgesteek het - daardie spelers het as kinders graag met 'n bal gespeel - geskop, geslaan en gedribbel en so speel-speel het hulle sportvaardighede ontwikkel. Kyk gerus na die spelers as hulle weer 'n wedstryd speel - is etiese en morele waardes deel van hulle wedstrydplan? En waar dink julle leer 'n mens dit?

Met hierdie vraag, groet ek eers vir julle tot 'n volgende keer. 
Ruben-groete!


Saturday, 10 August 2024

Ruben groet hartsmense


Liewe Maats

Ek het regtig lank laas vir julle geskryf, maar ek is nogal besig, as nie-amptelike sekuriteitsbeampte het ek nie regtig baie tyd op pote nie. Ek blaf so af en toe vir julle van my gedagtes of as ek sien dat julle nou 'n reël of twee oortree, maar al my blaffery val op dowe ore. Daarom het ek maar besluit om weer die pen op te neem om vir julle te skryf wat ek op my hart het.

31 Julie, het oom Kleinbooi sy laaste dag by ons gewerk en nou is hy met pensioen. 17 jaar is 'n lang tyd en hy het baie mense en kinders sien kom en gaan. Baie van hulle het, terwyl oom Kleinbooi onkruid uit die akkers getrek het, vir hom vertel van die onkruid in hulle lewens. Dan het oom Kleinbooi op sy stil manier geluister en met die wysheid wat ouderdom meebring, vir hulle gesê wat hy dink. Ek weet dat op sy manier het hy baie goeie raad vir die outjies uitgedeel. Oom Kleinbooi het egter net een raad vir onkruid gehad en dit is om dit met wortel en tak uit te roei. Ek is maar 'n paar maande hier, en my lekkerste kuierplek is in die tuin. Ek en oom Kleinbooi het al kopstukke gesels en ek het ook al gehoor hoe julle outjies met hom praat. 

Oom Kleinbooi, ek gaan ons geselsies mis, maar ek gun vir Oom die rustiger tempo. Geen gejaag om betyds by die werk te kom nie en ook nie 'n gesukkel met die fiets in die koue nie. Maar lank stilsit is ook nie so lekker soos wat dit klink nie - as dinge te stil en eensaam by die huis word, kom kuier gerus vir ons. 

Buiten oom Kleinbooi, moes ons ook vir tannie Kagi groet. 'n Vrou van goeie deugde. Sy is al 20 jaar deel van die personeel. 'n Ywerige en flukse tannie wat nie staan en gesels en allerhande praatjies maak nie. Sy was taakgerig en het gesorg dat elke kind se klere skoon gewas, gestryk en netjies opgevou is. Dis 'n groot werk, maar tannie Kagi het elke dag, vir 20 jaar lank, haar werk met nuwe ywer en 'n glimlag op haar gesig aangepak. Ek hoor my ma stem as ek aan haar volgende woorde dink: Sy is nog van die ou soort, hulle word nie meer gemaak nie. Vandag se jongmense weet nie wat harde werk is nie.

Maats, julle kan dan net dink hoe skuldig ek voel, want ek val mos onder die groep wat sy reken nie meer hard kan werk nie. Ai, dis dan wanneer ek sommer so 'n ekstra rondte op die terrein doen, my stem verhef en so 'n paar harde blawwe gee dat almal in die omgewing kan hoor ek is op my pos. 

Terug by tannie Kagi - sy was altyd so trots op haar kinders as hulle in die oggend skool toe gaan, en hulle so netjies uitgevat is in hulle kraakskoon skoolklere. Sy het hulle met 'n tevrede kopknik agterna gekyk en dan die strykyster met mening vasgevat. Sy het allerhande rate geken hoe om kolle uit klere te kry - jy kan maar sê sy was 'n kol-uithaal-deskundige.    

Dit is so jammer dat tannie Kagi se gesondheid nie meer na wense is nie. Tannie Kagi, gaan rus nou goed, makeer die pas en gee aandag aan tannie se gesondheid. O ja, en luister mooi na wat die dokter sê - hy weet wat help en wat help nie. Hy is mos die gesond-word-deskundige. Kom kuier gerus vir ons as die verlange te veel word.

Die Bybel sê mos daar is 'n tyd om te kom en 'n tyd om te gaan en Donderdag het ons klomp oom Kleinbooi en tannie Kagi op 'n gepaste wyse gegroet en hulle verras met hulle geskenke!

Daar is egter ook 'n ander minder aangename manier om te groet en dit is om afskeid te neem van iemand wat nie meer met ons is nie. Ons liewe tannie Sanette, ons huisma, se man is gedurende die vakansie oorlede. Baie van die inwoners het nie geweet hoe om hierdie nuus te hanteer nie en het by my in die tuin kom sit en my kop gevryf terwyl die trane oor hul wange geloop het. Die diens is by ons in die saal gehou en daar het die boodskap tot ons deurgedring dat die oom Mike Hanssen, ons huispa, die handyman van Christina Kiddie, se lewensirkel voltooi is. Nooit weer sou ons hom met 'n tang of saag of stuk gereedskap dinge sien heelmaak en regmaak nie. Party dinge in die lewe kan eenvoudig nie met gereedskap reggemaak word nie - verlange, hartseer, gemis, is maar enkele daarvan. 

As ek aan oom Mike dink, dan staan sy sin vir humor uit - die kreukellagplooitjies langs sy oë verklap dit. Hy was 'n goeie storieverteller en 'n mens het heimlik gewens dat as jy hom raakloop, hy vir jou 'n storie gaan vertel - daar was humor, maar ook weggesteekte lewenslesse in sy stories. 

Tish was oom Mike se skaduwee, sy bruin labrador wat die appel van sy oog was - ek ken die tekens, ek weet, ek is mos tannie Christelle se oogappel!

Oom Mike, jou sagte hart, jou heerlike humor en jou raakvat en regvat, word reeds gemis en gaan nog meer gemis word.    

Maats, party van ons se lewensirkel gaan klein wees en ander s'n gaan groter wees, dit hang van ons groetouderdom af.    

En daar tydens die diens het ek besef dat 'n mens jou lewe betekenisvol moet maak. Leef 'n lewe van betekenis, sodat jy eendag met 'n voltooide lewe kan sterf. Dit is tog die sin van die lewe. En dit, liewe Maats, is my boodskap vir elkeen van ons - pak die lewe aan, met al sy opdraandes en afdraandes, bou aan jou lewensirkel - meet jou lewe aan die lewe van hulle wat jy aangeraak het en 'n verskil gemaak het.

Op hierdie ernstige noot groet ek eers tot 'n volgende keer.
Ruben-groete!

    


Friday, 12 July 2024

Ruben se nuwe rolmodel

Liewe Maats

Hierdie is sommer 'n vinnige gedagtebriefie wat ek tussen my weeklikse briewe aan julle gaan indruk. Partykeer voel dit vir my ek wil gou 'n gedagte met julle wissel, maar vandat die skole weer begin het, is dit nie altyd moontlik om 'n daaglikse kuiertydjie in te pas nie. Dus wend ek my tot die ou staatmakers - pen en papier. Julle weet, ek het gister een van die indrukwekkendste mense volgens my beskeie mening ontmoet. Juffrou Hettie! Energie straal behoorlik uit haar, haar lewenslus werk aansteeklik in op almal wat haar pad kruis en verder loop sy met 'n kopvol omgeeplanne.  
Foto: Helena Barnard
My hondehart bokspring van dankbaarheid dat Helena Barnard van Noordkaap Bulletin met haar 'n onderhoud gevoer het en al haar planne in die nuutste uitgawe van die koerant geskryf het. Sy en tannie Christelle het heerlik gesels oor hoe 'n mens kan uitreik. Nou hoop ek uit my hondehart dat Kimberley en die res van Noord-Kaap se inwoners haar hande gaan sterk ter wille van die groter prentjie.

Die eintlike rede hoekom ek skryf, is om my mening kortliks oor rolmodelle te gee. 'n Mens word baie keer gevra wie jou rolmodel is. Baie moet hard dink oor dié vraag, terwyl ander sê hulle het nie 'n rolmodel in hulle lewe nodig nie. Dikwels kies jongmense die een of ander sanger of akteur of sportman wat hulle dan slaafs navolg. Kleredrag, handgebare, manier van praat of vloek word skielik ons eie en ek word 'n kloon van hierdie onrolmodelmens. Ek dink dit is nie die moeite, datageld of tyd werd nie. Die eerste vraag wat ek myself afvra is of daardie persoon van my 'n beter mens kan maak. Jou eerlike antwoord moet jou lei!  

Ek dateer gereeld my rolmodelle op. Ek het 'n hele lysie en eendag sal ek vir julle vertel wie my rolmodelle is en waarom ek op hulle besluit het. Maar gister het juffrou Hettie onmiddellik in my hart ingeklim en my rolmodel geword. Onthou net, Maats, ouderdom het niks met 'n rolmodel te doen nie. Juffrou Hettie is liefdevol, sy gee om en is só hulpvaardig, sy maak planne en reik uit en sy is baie baie lief vir kinders. Sy laat hartsafdrukke so ver soos wat sy gaan en sy maak mense gelukkig. Nou wie van ons wil nie so wees nie?

As sy weer vir ons kom kuier, kyk mooi na haar optrede, hoe sy lag, praat en help - en probeer een van daardie karaktereienskappe jou eie maak. Ons dikwels moeilike en slegte verlede en omstandighede hoef nie ons toekoms te definieer nie. Ons kan verander en ons kan 'n verskil maak.

Viva keuses!

Ruben-groete!


 

Tuesday, 9 July 2024

Ruben se vakansie-oorsig

Liewe Maats

Ek moet bieg, hierdie koue vakansie was ek werklik besiger as die hele tweede kwartaal. Daar het so baie dinge gebeur dat dit vir my voel asof ek nog steeds aan die hardloop is. Die derde kwartaal het vandag begin, maar voordat ek daaraan aandag kan gee, wil ek net vir julle so 'n neutedopopsomming gee van wat alles gedurende die vakansie plaasgevind het.

Ek begin sommer by die Bybelskool, met die kinderfeestema, wat regtig 'n besondere ervaring was. Drie van ons inwoners is tydens die eerste week opgelei as kringleiers en die tweede week was ons kniediep by alles betrokke wat die fees gebied het. Daarna het ons heerlike dankie-sê-koekies gebak vir die Bybelskoolorganiseerders en -deelnemers.

Tussendeur het ons 'n heerlike bederfbesoek van Dirk en Tinike gekry - gaan kyk asseblief na die artikels wat oor hulle kuier handel. Daarna het WOW 'n spesiale pretdag saam met ons deurgebring en het ons baie uit die kognitiewe speletjies geleer wat ons deur die loop van die dag gespeel het. Gaan lees gerus my briefie van 21 Junie 2024 waar ek breedvoerig oor die dag uitbrei. En dan het ons 'n verrassingsbesoek van Timney Greyling en Ben Burger gekry.

Ons klomp het 'n besoek aan die DBV gebring, maar ek moes by die Jeugsorgsentrum agterbly om die plek op te pas. Was ek nou spyt dat ek die enigste manspersoneellid daardie dag aan diens was. Ek sou so graag 'n draai by die DBV wou maak om te kyk wat hulle alles daar doen. En so 'n bietjie skinder tussen ons vierpotiges is mos nie te versmaai nie. Ek kan egter met trots sê dat Christina Kiddie nie met leë hande daar opgedaag het nie, maar kat- en hondekos saamgeneem het. Hou gerus ons webwerf dop, daar gaan nog foto's van hierdie besoek geplaas word.

Koekies bak een Saterdagmiddag was ook op ons lang vakansielys van doendinge en die versiering van kolwyntjies het ons kreatiewe kant na vore laat kom. 

En dan was daar speeltye ... sommer in hoofletters! Die seuns het paaie gebou, lughawens opgerig en plase uitgelê, terwyl die dogters heerlik pop gespeel het. Hulle babas is omtrent bederf. Elke ma moes met die hulp van tannie Christelle die bababedjies van karton met lap oortrek en vir elke bedjie was daar 'n matras, 'n kussing en 'n warm kombersie. Elke baba het ook 'n naam gekry en so al spelende is daar ook waarhede van kindergrootmaak onder die ma's uitgeruil. 'n Paar dae later het elkeen ook 'n bababottel gekry wat nuwe dimensie aan die spelery gegee het. Al spelende het ure van die vakansie net onder ons uitgeglip.

'n Groot verrassing was die besoek van Matilda Tandemuis. Ons het nie eens geweet dat sy by ons Jeugsorgsentrum ingetrek het nie. Die eerste sigbare tekens was toe sy vir haar boumateriaal betaal het en sommer 'n dankie-briefie in die skoen gelos het.

Gister het ons vrolike geraamde Portchie-skilderye opgedaag. 'n Hartskenking van die kunstenaar homself. Ek sou nie vir een oomblik kon dink dat hierdie wêreldberoemde man van Stellenbosch van ons klompie hier in die Noord-Kaap bewus is nie. Sy kleurvolle werke het my so geïnspireer dat ek lus voel om self 'n poot op papier te sit.

Ons het 'n begin gemaak met ons huisbiblioteek, en sal deur die loop van hierdie kwartaal daaraan aandag gee. My groot ideaal is om lesers van elke leerder te maak en ons weet almal dat lesers leiers is. Ek het so 'n paar planne gemaak, maar na hierdie vakansie sien ek duidelik dat ek my leesplanne sal moet hersien.

Die ACVV het ons bederf met 'n klomp kindertafeltjies en -stoeltjies, speletjies en 'n trampolien. Dit voel asof die seëninge hierdie vakansie op ons gereën het. Ons is regtig so dankbaar daaroor.

Die hoogtepunt aan die einde van die vakansie en die begin van die nuwe kwartaal is die jungle gym wat besig is om uit die grond te verrys. Ons klomp hou die grawery, plantery en aanmekaarsittery van hierdie klouterraam met valkoë dop. Binnekort is die oefenvoordele wat hierdie nuwe gym inhou, ons s'n. 'n GROOOOOT dankie aan Dirk en Tinike vir 'n langtermynbelegging in ons speeltoekoms. Julle is twee ware ysters. Ek gee sommer 'n ekstra blaf vir julle!! Binnekort gaan die foto's van hierdie aanmekaarsittery van die klouterraam op die web verskyn.   

Ek is seker ek het 'n aktiwiteit of drie uitgelos. Om so aan die gang te wees, het sy eie uitdagings aan my gestel. Ek dink ek moet in die aande as almal slaap, die jungle gym tot my fiksheidsvoordeel gebruik. 

Ek skryf binnekort weer vir julle oor 'n ander saak wat my na aan die hart lê, maar wat ek nie in my hoogtepuntbriefie wil aanraak nie.

Tot 'n volgende keer.

Ruben-groete!

             

Friday, 21 June 2024

Ruben bewonder WOW se vier vennote


Liewe Alida, Diané, Melaine en Wynand
 
Gewoonlik skryf ek direk vir my maats 'n brief (ek probeer dit op 'n weeklikse basis doen) en dan wys ek hulle op voorregte en omgeeliefde wat ons so van die gemeenskap kry. Dinge wat wys dat die wêreld nog bemoeienis met ons maak, want glo my, ons het ons kwota probleme en bekommernisse, maar ons vreugdespoedmeter se naald huiwer party dae sommer gevaarlik in die rooi. Ons bespreek ook probleme, persoonlikhede, uitdagings en toekomsdrome, maar vandag rig ek hierdie brief direk aan julle vier met WOW-harte van goud.

Dit was vir ons só lekker dat ons ons hande in die kombuis kon taai mors met die kolwyntjieversierings wat stroop-stroopsoet op ons tong 'n lêplek gekry het. Party van ons se kreatiewe kombuistalente is nie vergelykbaar met ander nie, maar gelukkig het ons 'n nissie gevind by die vaardigheidseise wat die speletjies aan ons gestel het.

Dankie dat julle saam met ons op die grond gesit het en op julle knieë gekruip het om saam met ons hierdie speletjies te speel. Dit was regtig lekker om tyd saam met julle deur te bring en te weet julle geniet dit net soveel as ons.

Dankie vir al die persoonlike geskenke wat volgens elkeen se ouderdom gekoop is. Saam-saam is elkeen se geskenk oopgemaak, bewonder en mee gespeel. Dis só spesiaal - ons is as individue raakgesien. Dankie vir al die ander speelgoed wat vir die speelkamer geskenk is. Speeltye het voorwaar 'n nuwe blaadjie omgeslaan. 

Dankie dat julle die dogtertjies se naels geverf het en toe sommer ons almal se hare so 'n bietjie kleur gegee het. Was ek nou verras om te sien 'n mens kry kryt om hare te kleur? My mond het letterlik oopgehang. Ek moet sê ek is verstom oor wat 'n mens deesdae kry - ek wil nou regtig nie klink soos 'n ou hond nie, maar ek het baie anders grootgeword. Ek besef ons het ure buite gespeel - gehardloop, gespring, geklim en geval!!  

Hierdie is een van die oggende wat ons op ons onthoukalender afgemerk het. Die dag het sommer vinnig korter geword. Speeltyd is ons lekkerste tye hier by die koshuis en hierdie vakansie wil ons geen kans verspeel om ons speeltye sinvol te gebruik nie. Daar het soveel lekker dinge gebeur en ons sien uit na 'n derde kwartaal waar ons hierdie dinge met ons skoolmaats gaan deel. Lemoenkegelbal is nie almal se forté nie, maar ons gaan aan ons tegniek werk. Met julle volgende kuier gaan ons spanne beter wees - hou ons maar dop. 

Ek glo nie my speelmaats besef wat die diepte van so 'n oggend behels nie, maar ek weet dat dit belangrik is vir ons groot- en fynmotoriese ontwikkeling, ook die fisiese, kognitiewe, sosiale en emosionele ontwikkeling wat speel-speel baatvind by sulke aktiwiteite.

Soos julle duidelik uit hierdie brief van my kan agterkom, help ek deur speelterapie om dinge weer in plek te kry. Daarom dat ek uit my hondehart vir julle wil bedank, maar ook uitnooi om gereeld te kom kuier, al is dit net om op die bankie te sit en gesels en mekaar beter te leer ken. Simpatie en empatie is twee begrippe waaraan ons nog hard sal moet werk.

Vreugde en baie voorspoed met julle WOW-projek. Mag dit net van krag tot krag gaan.

Ruben-groete tot 'n volgende keer.

Wednesday, 19 June 2024

Ruben se dankie-sê-briefie vir Dirk en Tinike

Liewe Maats

Ek het my hierdie week maar skaars gehou. My speeltyd is effens ingekort, omdat ek die meeste van die tyd op hekdiens was. Ek is natuurlik baie trots daarop dat die inwoners veilig voel as ek by die hoofingang diens doen. (Julle onthou mos laas week se brief wat my 'n nuwe perspektief op my werksaamhede hier gegee het.)

Wel, die verstommendste vir my is al die welwillendheidsbesoeke wat ons die afgelope week gekry het. Ons beker loop oor van dankbaarheid. Om eerlik te wees, ons is sommer baie lekker bederf en om nou na normaal toe terug te keer, gaan vir my persoonlik baie moeilik wees en ek is seker vir julle ook. Dis nou net hier wat ons sterk sal moet staan en onthou dat ons mense geen regte het nie, maar wel baie voorregte. En om so baie besoeke en geskenkies te kry, was 'n reuse voorreg. Ek het 'n hele klomp sopbene gaan begrawe, want ek weet baie goed dat dit nie elke dag Kersfees is nie en dat die regte Kersfees nog baie ver in die verskiet lê.

Hierdie briefie is om vir Dirk en Tinike spesiaal baie dankie sê vir hulle onvermoeide ywer en hardwerkenheid om ons te oorlaai met hul goedheid.  Heel eerste wil ek dankie sê vir die jungle gym - dis 'n yslike present wat 'n baie groot hap uit julle begroting gevat het, ek weet ... ek sit mos heeldag met gespitste ore voor die hek en tel belangrike gesprekke so in die verbygaan op. Maar hierdie is 'n speelbelegging wat vir baie baie jare nog vir vreugde in baie kinderharte gaan sorg. Hierdie langtermyngeskenk gaan nog baie dividende oplewer. Julle twee het skerp gedink.

Dankie dat julle saam met 'n spesiaal gereëlde Junie-instaan-kersvader en -moeder ons reeds vroeg bederf het met Kersgeskenke, pretpakkies en lewensnoodsaaklike middele wat julle so ywerig bymekaar gemaak het. Dis duidelik dat nié almal julle pas kan volhou nie. Ek haal my hoed af vir julle wat eksamen geskryf het, terwyl julle nog al hierdie ekstras moes doen - julle is twee baie spesiale mense en ek salueer julle. Mag al julle drome waar word en mag julle toekomspaaie gelyk wees. Hierdie is my wense vir julle so reg uit my hondehart.  

Ek skryf spoedig nog 'n briefie, maar hierdie een wil ek in die pos kry, voor die horlosie twaalfuur slaan.  

Dankbaarheidsgroete tot 'n volgende keer.


 








Klik HIER vir die vooraf foto's van die jungle gym. 

Klik HIER vir die bakkievrag benodigdhede en klik HIER vir die heerlike verrassingskuier.

Saturday, 15 June 2024

Ruben herkou, besin en dink oor sy posisie en kom tot 'n belangrike gevolgtrekking

Liewe Maats

Ek gaan sommer met die deur in die huis val, want ek was Woensdagmiddag vir 'n oomblik so van stryk af, dat ek amper my naam met 'n plank geslaan het. Dis net my ingebore ewewigtigheid wat gemaak het dat ek nie onmiddellik op my perdjie geklim het nie en wat van 'n voorbeeld sou ek dan vir julle gewees het?

Julle sien, toe ek hoor dat ons Woensdagmiddag kaartjies gaan maak, was ek sommer dadelik baie opgewonde en slaggereed vir aksie, want ek het 'n kunsstreep in my wat al geslagte lank in ons familie loop. Ek soek eintlik geleenthede om my kuns te beoefen, maar dit is maar min. As ek net my poot op papier kan sit ...

En toe ek so opgewonde na die vierkant aangehuppel kom, moes ek by tannie Christelle hoor dat ek buite by die hek moet gaan waghou, want ek is die enigste sekuriteitsman wat op daardie oomblik kan diens doen. Ek het onmiddellik uitgesluit gevoel en het met 'n langlip voor dáárdie hek stelling ingeneem. Ek het myself jammer gekry en nooit eers aan die belangrikheid van my opdrag gedink nie. My taak was tweeledig. Ek moes kyk dat geen ongemagtigde inkom nie en dat geen kaartjiemaker uitgaan nie.  

Ek het toe natuurlik baie dinktyd terwyl ek daar voor die hek sit en skielik tref dit my - ek sit mos op 'n hele paar stoele hier by Christina Kiddie Sentrum - sielkundige, speelmaat, waghond, mentor, onderwyser, skrywer, motiveerder, inspireerder, fotograaf en nog 'n hele paar ander dinge ook - ek moet tevrede wees as ek nie elke keer die lekker deel kry om te doen nie. Ek moet mos die beste ek wees wat ek kan wees en net daar praat ek myself aan. Ek vertel so graag vir ander wat om te doen, maar sukkel partymaal om dit self te doen.

Net daar besluit ek om met 'n lied in my hart na julle te kyk. Julle was so vrolik en het so lekker gelag dat ek besef het 'n mens klink net so sorgeloos as jy veilig voel en op daardie stadium was ek die rede vir julle veiligheid. 

Ek het natuurlik weer 'n paar lesse geleer: Jy moet 'n aktiewe wag voor jou mond hê, wat daagliks op sy pos is, sodat jy nie ander met jou woorde seermaak nie. Moenie altyd dadelik reg wees om te stry en te argumenteer nie, oordink eers die saak en skep 'n atmosfeer van gemoedelikheid. Mense hou nie van beterweterige mense nie. Doen altyd goed aan ander, al moet jy nou die slegte werk doen.

Maats, hierdie is so 'n mondvol dat ek dit binne my klerekas se deur gaan plak, sodat ek dit elke dag kan sien en myself herinner om eers te dink en dan te praat.

Ruben-groete tot 'n volgende keer.

 


Thursday, 13 June 2024

'n Luilekker kreatiewe Woensdagmiddag



Min dinge is so lekker soos om af te wen na die eksamen en dit het ons gistermiddag gedoen. Ons het ons kunstenks 'n bietjie volgemaak en ons breins op hold gesit.

Vir 'n wintersdag was dit heerlik warm en daarom het ons meisiekinders besluit om kaartjies te maak. Tafels en stoele is in die son uitgedra en ons kon ons inleef in kaartjiesmaak. Terwyl ons so lekker ontspan het, het ons gelag, gegiggel en gesels en besluit dat daar oupas is wat voetspore in ons harte gelos het en dat hulle 'n mooi kaartjie vir Vadersdag verdien en dan het party van ons sommer ons hartstannie met 'n kaartjie bederf. Die middag het gevlieg - daar is mos nie brieke as dit by kreatiewe denke kom nie. 

Ruben kon egter nie saam met ons ontspan nie, want hy het 'n meer aktiewe idee van ontspan gehad as wat ons gehad het. Dus het hy gelukkig agter die heining ons aktiwiteite gade geslaan. Ek hoop nie hy het alles verstaan wat ons gesê het nie, want ons het heerlike getjirp, gekwetter en gekwinkeleer.

[Ingestuur deur een van die kaartjiemakers.]